Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons word soms so verblind deur ons besittings dat ons nie net die groot verskraling in ons eie sielelewe nie agterkom nie, maar ook die nood en die behoeftes óm ons nie raaksien nie. Besittings kan 'n blink swaard in die hand van Satan word.
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (18)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die kamp word te klein. Dis seker te verwagte, want al is daar geen amptelike kommunikasie meer oor nie, vertel mense vir ander, wat dit weer oor sal vertel. Net soos kos en water, is ‘n veilige skuilplek van uiterste belang en mense sal van ver af daarheen stroom. Natuurlik is daar ook ander plekke, soos dié in en naby Upington, maar nie almal kan daarheen reis nie en ook daar is die fasiliteite maar beperk.
“Dooms, ons kan nie nog meer mense huisves nie. Daar is eenvoudig nie meer plek nie, kos word te min en die jagters en boere kan nie meer byhou nie. Ons toiletgeriewe is beperk, en ons kry mense wat nie hier hoort nie en moeilikheid maak, soos met die Swardt-outjie van eergister. Ons kan eenvoudig nie almal se agtergrond nagaan nie en nie elke liegstorie klink na een nie.”
“Jy is reg, Ben, maar wat staan ons te doen? Ons kan nie sondermeer mense wegwys nie. My gewete sal my ry as ek weet so iemand word doodgemaak, bloot omdat ons nie vir hom of haar plek gehad het nie.”
“Laat ek aan ‘n plan dink, maar ek belowe niks.”
Die kamp het inderdaad sy perke begin oorskry. Die aanvanklike spasie was maar een en ‘n half hektaar groot, met nog ruimte wat verkry is deur na die ooste grond te onbos en gelyk te maak, van die huise wat afgebrand is na die weste en suide is platgeslaan en gelykgemaak, maar na die noorde het die berg hulle ingeperk en verder oos ‘n breë sloot wat voorheen ‘n spruit was. Skuins na die suid-ooste staan nog ‘n paar huise.
Om die plek nie na ‘n plakkerskamp te laat lyk nie, is die tente, woonwaens, hout en baksteenhuise netjies in rye gespasieer, met gange wat breed genoeg is dat ‘n voertuig tussendeur kan beweeg. Daar lê niks rommel of stukkende besittings rond nie.
Dis egter nie net spasie nie, maar ook toilet en sanitasiegeriewe, die volhoubaarheid van vinniger kos kweek as wat dit geëet word, en natuurlik water.
Alhoewel daar drie boorgate beskikbaar is, is die watertafel laag en een van die pompe suig al lug. Om water uit die berg te gaan haal, vereis dat sowat tien kilometer slegte pad gery moet word. Wanneer dit gereën het, kan slegs vierwieldrywe daar uitkom. Met ‘n waterkar wat net vyf duisend liter vat, dit is vyf ton, sonder die gewig van die wa self, is dit ‘n duur speletjie en brandstof is ook beperk.
Die mediese geriewe is beperk tot twee dokters, drie verpleegsters, ‘n paar gewillige helpers en ‘n lokaal wat in ‘n nabygeleë huis ingerig is as hospitaal of kliniek. Natuurlik is daar ‘n tekort aan medisyne, verbande, drups, en die instrumente is grootliks uit ander stukke gereedskap vervaardig.
Behalwe vir die destydse uitbraak van die Pes, is hulle grootliks gespaar, maar niemand kan met sekerheid sê dit sal so aanhou nie. Selfs ‘n matige uitbraak van cholera of maaggriep kan die voorraad baie dun trek. Indien daar weer ‘n ernstige skermutseling met vyandelike magte sou uitbreek en talle mense gewond word, is dit tans onseker hoe hulle behandel sal kan word. ‘n Paar manne en vroue ken iets van kruie en aftreksels wat daarvan gemaak word, maar dis nie genoeg nie. Iets sal gedoen moet word.
*
Dit raak al hoe duideliker dat die regering reeds met die hoed in die hand sit, waar hy aan die een kant vir oulaas probeer om die laaste bietjie geld op die burgers se rekening te leen en aan die ander kant om dit in te gooi, sodra daar niks meer oor is om te steel nie.
Almal is keelvol vir korrupsie, wanadministrasie en kaderontplooïing. Dis een ding om bloot van astronomiese syfers kennis te neem, dit is van miljarde wat bloot in hierdie kaders se sakke verdwyn, maar as dit aan jou lyf gevoel word, as daar nie meer water is nie, as geld so skaars onder die gewone man op straat word dat die meeste klein en mediumgrootte besighede toemaak en daarmee saam werksgeleenthede, en die res nie met hulle ondernemings kan aangaan nie, omdat kragonderbrekings produksietyd tot ‘n derde en selfs ‘n kwart sny, wanneer die asblikkrappers jou hek ses klokkie lui en raas omdat daar nie meer weggooikos in die asblikke is nie, dan is die omverwerping van die status quo nie meer ver nie.
Wanneer die president sy veelberugte plaas soetjies in ‘n Amerikaanse blad adverteer, die nuwe minister van elektrisiteit die belastingbetaler ‘n verdere nege miljoen rand per maand kos, en die beurtkrag skelm opgeskuif word na fase agt, reisigers op die nasionale hoofroete doodgemaak word vir hulle selfone en ‘n paar kontantnote, as die aantal sekuriteitsmanne die polisie en die weermag se getalle gesamentlik verdubbel, is die skrif aan die muur, maar nie almal trek hulle kop ver genoeg uit die sand om dit te kan lees nie. En dié wat dit wel kan lees word doodgeskreeu deur die te-ligbevinde aangeklaagdes.
In groot stede soos Pretoria en Kaapstad is ammunisie feitlik uitverkoop en mense ry tot vyf honderd kilometer om ‘n honderd of twee rondtes te gaan koop. Tweedehandse handwapens is te koop teen drie maal meer as waarvoor dit nuut verhandel het. By die Sentrale Vuurwapenregister is die aantal nuwe aansoeke soveel dat die gebou letterlik van die gewig daarvan kraak en as onveilig verklaar behoort te word.
Suid-Afrika is besig om homself klaar te maak vir burgerlike geweld.