Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie die waarheid verdedig, kan dit nie in eie krag doen nie, maar slegs met God s’n wat Hy beloof: “Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ek help jou, spreek die Here, en jou Losser is die Heilige van Israel” (Jes.41:14).
DIE BELEG VAN MAFEKING
Dr JP Botha
"By sy aankoms te Mafeking kon Cronjé die plan wat generaal De la Rey aan die hand gedoen het, naamlik om die dorp sonder versuim te bestorm en in te neem, deurgevoer het, of hy kon die dorpie met sy onbeduidende Britse garnisoen eenvoudig geïgnoreer het..."
In die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog het daar 'n gebeurtenis plaasgevind waaroor daar nog steeds na 'n volle eeu 'n groot mate van onkunde of misverstand bestaan. Dit gaan oor wat werklik gebeur het tydens die beleg van die dorpie Mafeking vanaf 16 Oktober 1899 tot 16 Mei 1900. Reeds meer as 'n honderd jaar lank glo almal - met uitsonderings - dat hierdie onbeduidende dorpie tydens die eerste sewe maande van die Oorlog deur 'n uiters bekwame en dapper Britse aanvoerder met sukses verdedig is teen 'n geweldige groot burgermag, wat verbete, maar tevergeefs alles in die stryd gewerp het om die Engelse garnisoen in die dorp te oorrompel en tot oorgawe te dwing. Vir hierdie misverstand was die optrede van kolonel RSS Baden-Powell, Britse bevelhebber van die troepe, en generaal PA Cronjé, aanvoerder van die Boerekommando's in Wes-Transvaal, en later generaal JP Snyman, wat Cronjé by Mafeking opgevolg het, hoofsaaklik verantwoordelik.
Baden-Powell het hierdie dorp beset met die doel om die Britse prestige onder die Bantoebevolking van dié streek te handhaaf en om die Boere van belangriker gevegsfronte af hierheen weg te lok en besig te hou. Die Boere het die dorp beleër in uitvoering van hul krygsbeleid, naamlik, om die Britse troepeversamelings op die Republikeinse grense te vernietig of te verdryf, voordat grootskaalse troepeversterkings van oorsee sou opdaag.
Die Boere se beleg van Kimberley en Ladysmith was begryplik, want hierdie twee dorpe het op roetes gelê waarlangs die vyand die Republieke kon binneval en omdat op albei plekke groot hoeveelhede militêre toerusting en sterk Britse garnisoene was wat die veiligheid van die Republieke ernstig kon bedreig indien hulle toegelaat was om die grens oor te steek. Die beleg van hierdie twee dorpe het dan ook die oorspronklike Britse aanvalsplan in 'n groot mate in die war gestuur, maar wat die beleg van Mafeking betref, was die saak egter heeltemal anders gesteld. Mafeking was, in teenstelling met Kimberley en Ladysmith, vir die Boere strategies absoluut waardeloos. Daar was geen ryk myne of enigiets anders van waarde nie en die teenwoordigheid aldaar van skaars meer as 1000 troepe wat maar swak bewapen was, het geen ernstige bedreiging vir die Republiek ingehou nie. Die Britse oogmerk met die besetting van die dorpie was om 'n indruk op die swart bevolking van dié streek te maak en om die Boere se aandag van die suide af te lei wanneer die Britse offensief teen die Republieke geloods sou word en nie om van Mafeking af die Suid-Afrikaanse Republiek te probeer binneval nie.
Generaal PA Cronjé, wat die kommando's van die westelike distrikte aangevoer het, het met onge- veer 4000 burgers teen Mafeking opgetrek om Baden-Powell tot oorgawe te probeer dwing en om die Transvaalse wes- en noordwesgrens te beskerm. Die grens is tot by Veertien Strome in die suide, van los Britse troepeversamelings gesuiwer en aan die noordwesgrens is die troepe van kolonel HCO Plumer met sukses in bedwang gehou, dog by Mafeking self, het Cronjé geen vordering in sy taak gemaak nie.
By sy aankoms te Mafeking kon Cronjé die plan wat generaal De la Rey aan die hand gedoen het, naamlik om die dorp sonder versuim te bestorm en in te neem, deurgevoer het, of hy kon die dorpie met sy onbeduidende Britse garnisoen eenvoudig geïgnoreer het en net 'n klein wag op die grens agtergelaat het om die troepe aan bande te lê en dan self met sy kommando's na die suide vertrek het.
Baden-Powell wat in Mafeking aanvanklik oor ongeveer 1200 troepe beskik het, het met sy militêre voorbereidings voor die aanvang van die oorlog, sy voorafgaande propaganda en bluftaktiek, in so 'n mate geslaag dat Cronjé geglo het dat die dorp oninneembaar sterk verskans was en dat dit te veel lewens sou kos om dit stormenderhand te verower. Daarom het hy hom uit die staanspoor ingerig om die dorp te beleër. Aanvanklik is 4000 burgers om die dorp op hierdie wyse nutteloos besig gehou. Na 18 November het die getal gekrimp tot ongeveer 1500, toe president Kruger Cronjé beveel het om met die grootste deel van sy kommando's na die suidfront te vertrek.
In Mafeking het Baden-Powell met behulp van 'n aantal Sjangaanse vlugtelinge, afkomstig van die goudmyne aan die Rand en wat dus aan delfwerk gewoond was, 'n sestigtal forte, grondskanse en loopgrawe op kort afstande van mekaar af laat aanbring. Dit het plaasgevind nog voordat die vyandelikhede 'n aanvang geneem het. Hy het uitkyktorings opgerig en 'n paar kissies dinamiet naby die dorp gestel en een van hierdie "myne" laat ontplof en honderde kassies sand rondom die dorp laat begrawe en die gerug versprei dat dit alles dodelike dinamietmyne was en dat die dorp oninneem- baar sterk verskans was. Om nagaanvalle deur die Boere te ontmoedig, het Baden-Powell 'n blink koekblik aan 'n paal geheg en 'n gaslamp daarin geplaas. Snags is hierdie "soeklig" dan by een van die forte aangesteek, 'n paar flitse daarmee gemaak, en dan weer na 'n ander fort geneem waar die proses herhaal is.
Hy het die Boere onder die indruk probeer bring dat hy oor 'n groot aantal troepe beskik het. Hy het verskeie groot poppe laat maak en by die forte opgestel om die aandag van die Boereskerpskutters af te trek en 'n aantal onbemande grondverskansings laat oprig en hulle met wapperende vlae versier, om die Boere onder 'n wanindruk aangaande die sterkte van sy garnisoen te bring. Hy het briewe opgestel waarin troepeafdelings wat gladnie bestaan het nie, genoem is en sorg gedra dat dit in die hande van die Boere val. Die Boere is daardeur werklik om die bos gelei. Hulle het tot aan die einde van die beleg geglo dat Mafeking sterker beset en verskans was as wat inderdaad die geval was.
Deur hul besetting van Mafeking en deur al die voorbereidsels ter verdediging daarvan, het die Engelse aan dié nietige klein grensdorpie 'n militêre waarde besorg waarvan die Boere noodwendig kennis moes neem, 'n militêre waarde wat die plek nooit sou besit het as dit onbeset gelaat is nie; en hulle het dit gedoen juis omdat hulle die aandag van die Boere op die plek wou vestig, 'n plek waaraan die Boere anders geen aandag sou geskenk het nie, en wel met die hoofoogmerk om soveel van die Boerestrydkragte as wat maar enigsins moontlik was, van die eintlike punte van gevaar vir die Republieke, naamlik die suide en die ooste, daarheen af te lei. Hierin het hulle uitmuntend geslaag. Die Boere het hulle deur die troepemag laat verskalk en in plaas van slegs 'n klein burgermag op die grens te plaas om hul bewegings te kontroleer, het hulle die oorrompeling van die Britse garnisoen wat in Mafeking saamgetrek was, een van hul hoofoogmerke gemaak.
Generaal Cronjé het egter geen ernstige poging aangewend om die dorp stormenderhand te verower nie. Hy het die dorp 'n maand lank beleër, gedurende welke tyd hy twee halfhartige aanvalle, wat albei misluk het, op die stellings van die Britse garnisoen gemaak het en voorts probeer het om die dorpie deur middel van bombardering met grofgeskut te verower. Hiervoor is selfs gebruik gemaak van 'n swaar vestingkanon, een van die 94-ponder Long Toms, wat met groot moeite na Mafeking vervoer is.
Na Cronjé se vertrek op 18 November na die suidfront, het generaal Snyman met sy 1800 burgers by Mafeking agtergebly om die beleg van die dorp voort te sit . Die Regering het aangedring op die spoedige onderwerping van die Britse garnisoen in die dorp, maar generaal Snyman het eweas Cronjé vir 'n stormaanval teruggedeins, omdat hy die dorp se militêre sterkte totaal oorskat het en geglo het dat die dorp oninneembaar sterk verskans was. Hy wou die troepe deur middel van uithongering en bombardering tot oorgawe dwing.
Intussen het kolonel Plumer langs die Transvaalse noord- en noordwesgrens deur die onaktiwiteit van die Boerekommando's in hierdie geweste daarin geslaag om die treinspoor wat generaal Snyman op verskeie plekke laat opbreek het, weer te herstel, sodat hy met sy troepemag en gepantserde treine vanaf Bulawayo so ver suidwaarts kon vorder dat hy die bugermag rondom Mafeking bedreig het. Hy het ook daarin geslaag om die Bantoestamme in Betsjoeanaland teen die Boere op te rui en hul bondgenoodskap vir die Engelse te verkry. In die nag van 25 November 1899 het Plumer se troepe en Linchwe se Bagatlas 'n aanval op die Boerelaertjie by Derdepoort, aan die Maricorivier gemaak. Verskeie burgers het gesneuwel, 'n aantal polisiemanne wat daar gestasioneer was, is vermoor en 17 vroue en kinders is deur die swartes na hul hoofstat, Mochudi, weggevoer. Die Boere het hierdie verraderlike aanval op 22 Desember 1899 met 'n geslaagde strafekspedisie teen die Bagatlas beant- woord.
Vier dae daarna het die Engelse troepe op 26 Desember die mees verbete aanval op die Boere se "Platboomfort" noord van Mafeking gemaak, maar 'n verpletterende neerlaag gely. Baden-Powell kon nie daarin slaag om die pad vir Plumer oop te maak om die dorp te kom ontset nie. Hy het dus maar geduldig gesit en wag totdat daar verlossing uit die suide sou opdaag.
Generaal Snyman het nog meer geduldig sit en wag op die oorgawe van die Engelse. Intussen het hy groot hoeveelhede grofgeskut-ammunisie weggeskiet. Geen bevel van Regeringskant kon hom beweeg om die dorp te verower nie. Die bombardering van die dorp het nie die gewenste uitwerking gehad nie. Die troepe en inwoners was oor die algemeen veilig beskut in hul doeltreffende bom- skuilings. Maar uiteindelik het die honger hul genoodsaak om nie 'n krieseltjie perde- en muilvleis te laat verlore gaan nie. Baden-Powell was egter vasberade om uit te hou en het sy rieme al dunner gesny. Snyman weer, was op hierdie stadium met net één ideaal besiel, naamlik om die dorp só nou in te sluit dat geen lewende wese dit sou kon binnekom of verlaat nie.
Na die oorgawe van generaal Cronjé by Paardeberg op 27 Februarie 1900, het die krygskanse finaal teen die Boere gekeer. Lord Roberts het in April 'n vliegende kolonne onder aanvoering van kolonel BT Mahon georganiseer om vanaf Barkly-Wes noordwaarts te trek om Baden-Powell met sy troepe te gaan ontset. Hy het ook 'n aantal troepe van die Rhodesian Front Force onder generaal Carrington per skip na Beira gestuur om oor Portugese gebied en deur Rhodesië per trein na Mafeking te reis om Plumer en Mahon te versterk.
Onderwyl hierdie magte na Mafeking in aantog was, het 260 Boerevrywilligers onder aanvoering van kommandant Sarel Eloff by Mafeking 'n laaste poging aangewend om die dorp te verower, dog weens gebrek aan ondersteuning van generaal Snyman, het die aanval misluk.
Die Britse ontsettingsmagte het op 15 Mei naby Mafeking saamgesluit en die volgende dag, na 'n harde geveg teen 'n Boerekommando, daarin geslaag om die dorp te bereik en generaal Snyman se burgers op die vlug te dryf.
Die reaksie wat die ontset van Mafeking in Engeland en die hele Britse Ryk teweeggebring het, was een van uitbundige vreugde en trots, wat in ongekende feesvierings van nasionale omvang uiting gevind het. In Londen se strate, op die pleine en in die teaters het die duisende Londenaars met wapperende vlae hul volksliedere luidkeels laat weerklink. Die feesvierings het aangegroei tot 'n wilde, ongetemde demonstrasie van duisende en nogmaals duisende mense wat die kluts skoon kwytgeraak het en sulke reusagtige afmetings aangeneem het dat hierdie massahisterie in sy intensiteit en omvang die grootste was wat die Britte nog ooit in hul geskiedenis beleef het.
Baden-Powell is sedertdien as 'n groot Britse held geroem, maar dit was lof wat hy geensins op grond van sy militêre prestasies verdien het nie. Indien hy teen 'n teenstander te staan gekom het wat enigsins vir sy taak opgewasse was, sou hy sy bluftaktiek nie met soveel welslae kon deurvoer nie.
Gedurende die latere oorlogsgebeurtenisse in die distrik Rustenburg, is hy telkens deur generaal De la Rey se oordeelkundige optrede om die bos gelei en het hy magteloos gestaan om hierdie Boereoffisier se bewegings aan bande te lê. Gedurende die drie maande wat op die ontset van Mafeking gevolg het, het die held van Mafeking so 'n groot fiasko van sy militêre operasies in Wes-Transvaal gemaak, dat Roberts verplig was om hom na Kaapstad te stuur, waar hy in 'n klerklike betrekking gaan diens doen het.
Die beleg van Mafeking self het die verloop van die oorlog op geen wyse ingrypend beïnvloed nie. Dit moet beskou word, veral sover dit die Boere betref, as niks anders nie as 'n byna nuttelose vermorsing van energie en ammunisie.