Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die woord 'salig' beteken om in 'n oortreffende staat van geluk te wees. Daar is net een ware 'saligheid', en dit is om te weet dat jou sondes vergewe is en jy die ewige lewe van God ontvang het. Niemand kan dit wegneem nie. Hierdie wete bring volkome blydskap en vrede in mens se gemoed.
ONS KRAG IN DIE HERE
Hannes Ollewagen
Efés. 6:10-20
“EINDELIK, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.” (:10&11).
Die grootste fout wat enige party in ’n stryd kan maak, is seker om sy teenparty te onderskat. Die gevolg daarvan is katastrofies. En vir ons as God se kinders geld hierdie reël ook. Dit is waarom Paulus in sy brief aan die Efésiërs hierdie mense daartoe maan om hulself te omgord, die volle wapenrusting op te neem en voorbereid te wees vir die stryd teen ’n gedugte teëstaander.
Ek dink dat menige gelowige onverskillig in hierdie stryd teen die duiwel ingaan. Ek sê dit omdat dit blyk dat daar baie mense is wat onder die indruk verkeer dat ’n gelowige op sy louere kan rus omdat hy sy geloof in God bely het en nou is sy erfdeel in die koninkryk van God gewaarborg. Hierdie tipe gedrag is om onverskillig te handel met so ’n kosbare geskenk. Ons geloof in God vrywaar ons nie van stryd nie. Tewens, dit is juis die rede dat die duiwel met verbete pogings sy aanslag tot ons sal rig. Hy wil ons van hierdie kosbare erfenis in Christus beroof. Ons word duidelik in 1 Petrus 5:8 hieroor gewaarsku. “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.” Die woorde in Jakobus 4:7 dien ook vir ons as ’n waarskuwing sowel as ’n opdrag. “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.” En dan is dit vir ons uit Hebreërs 12:4 duidelik dat hierdie ’n stryd is wat met groot inspanning gevoer gaan word. “Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.”
Die duiwel het nie eens die Seun van God ontsien in sy aanslae nie. En in hierdie versoeking van Christus kan ’n mens duidelik sien hoe berekend sy aanslae is. Hy is beslis ’n teëstaander om te alle tye mee rekening te hou. Wanneer ’n mens teen so ’n teëstaander weerstand wil bied, moet ’n mens waaksaam wees. Dit het Christus ook aan sy dissipels op gereelde grondslag geleer. “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” (Matt. 26:41). En in Paulus se brief aan die Korinthiërs word hierdie saak ook benadruk. “Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk.” (1 Kor. 16:13).
Wanneer ek ’n gelowige se verantwoordelikheid en paraatheid in hierdie stryd uitlig, klink dit dalk vir u dat ek van mening is dat ons met inspanning van ons eie krag hierdie stryd moet beklink. Dit is allermins die geval. Maar daar is ’n paar dinge wat ons moet verstaan.
Ten eerste is dit nodig om die erns en werklikheid van die gevaar te verstaan en in te sien. En dit sal nie gebeur wanneer ons onsself troos dat ons iewers in ons lewe gered is en ons verder geen verantwoordelikheid in ons geloofslewe meer het nie. Ons het uit genade die gawe van geloof van God ontvang. God lê egter op ons die verantwoordelikheid om hierdie gawe wat ons van Hom ontvang, hierdie gawe wat met die bloed van Christus verkry is, met ons lewe moet beskerm en daarvoor moet veg. “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.” (Open. 3:11).
Die tweede belangrike punt om in te sien is derhalwe dat hierdie gawe ons nie onthef van ’n verantwoordelikheid teenoor Hom nie, maar dit lê juis op ons die verantwoordelikheid om dit te koester en teen die duiwel te waak wat hierdie gawe van ons wil kom roof. En dit bring my by die volgende punt, naamlik dat ons ook nie hierdie listige aanslae van die duiwel om ons die kroon te ontroof, sal kan weerstaan nie. Nog voordat Paulus in sy brief aan die Efésiërs die opdrag gee om die wapenrusting aan te trek, gee hy die opdrag van waar ons ons krag moet put in hierdie stryd. In Hom is ons krag vir hierdie stryd wat ons enduit moet stry. En om in hierdie stryd te volhard, moet ons die oog op Hom gevestig hou en naby aan Hom bly. Die duiwel sal probeer om ons van Hom af weg te rokkel omdat hy ons die stryd wil aansê daar waar ons nie op sy krag staatmaak nie, want daar sal hy die oorwinning oor ons behaal. Maar daar waar ons naby aan Hom en ons kragtig in die HERE is, is die duiwel magteloos omdat hy weet dat in die krag van Christus sy kop vermorsel sal word.
“En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen.” (Efés. 3:20&21).