Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons lewens is wat ons gedagtes daarvan maak. Die dinge waaraan ons dink, bepaal ons persoonlikheid. Dit maak dat ons lewe die kleur van ons gedagtes aanneem. Daarom is dit moontlik om ons lewe te verander deur ons gedagtes te verander. Gedagtes kan die hemel in hel verander of van ons hel ‘n hemel maak. Daarom moet ons altyd positief dink en sê: “Wat ek nie kan wegdink nie, gaan ek reg dink!”
DIE LEWE NA DIE DOOD (2)
Ds A.E. van den Berg
“Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe”.
(Joh.11:25)
As die Bybel van die mens as stof praat, dui dit op sy verganklike liggaam en sy krag en beperkte vermoëns. Omdat God nie aards is nie, is Hy onbeperk, onverganklik en almagtig. Hy het egter die mens as die kroon van sy skepping gemaak. Net die mens kan met God praat; geen ander van sy skeppings nie. Daarbenewens verskil die dier in nog ‘n opsig baie groot van die mens. Die dier se liggaam is sy volle bestaan, maar nie dié van die mens nie. Die mens se liggaam is slegs die buitekant van sy bestaan.
Maar so anders as die dier, het die mens ook ‘n binnekant. Net so min as wat ‘n ruimtevaarder sonder ‘n ruimtepak in die buitenste ruimte kan oorleef, kan mense op aarde sonder ‘n liggaam leef. Die ruimtepak is egter nie die ruimtevaarder se volle bestaan nie, slegs sy buitekant. Die eintlike ruimtevaarder is binne in die pak. So het die mens ook ‘n binne- en buitekant nl. liggaam en siel. As die Bybel dus van die mens as stof of liggaam praat, herinner dit ons daaraan dat ons eendag uit ons stoflike pak sal moet klim. Dit is die dood.
Die mens se bestaan is soos ‘n reis. Ons is van ons geboorte af op pad na die dood. Sommige reis lank, ander weer kort. Ruimtevaarders is nie vir altyd in 'n ruimtepak nie. Daar kom ‘n dag dat hulle dit uittrek. So is ons nie vir ewig in ons liggame nie. Ons sal op ‘n dag daarvan ontslae moet raak. Dit beteken egter nie dat ons ophou bestaan nie. Die ruimtevaarder hou mos nie op bestaan as hy sy ruimtepak uittrek nie. Hy bestaan nog steeds, net ‘n bietjie anders. So ook die mens na sy dood.
Die woord bestaan dui op iets wat ‘n begin en ‘n einde het. Iets wat bestaan, word aan tyd en vorm gekoppel. Let kortliks op hierdie twee elemente. Wat beteken dit om aan tyd gebonde te wees? Dat lewende skeppings in tyd gebore word en in tyd aanbeweeg. Daarom word mense, plante en diere geleidelik ouer. Dis die tydsaspek.
Tweedens is daar die vorm-aspek. Lewende skeppings het vorms/liggame. Ons aardse bestaan is tydelik – liggaamlik. Daarom gaan ons nie ons liggame vir ewig hê nie. Ons neem dit nie saam die ewigheid in nie. Deur die dood skud ons dit soos ‘n slang wat vervel af.
Paulus skryf: “ Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.
Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?(1 Kor.15:53-55).
Moet egter nooit jou liggaam as ‘n tipe van lastigheid beskou nie. God het dit geskep. Dit behoort eerstens aan Hom. Die Heidelbergse Kategismus sê tereg dat ons met liggaam en siel nie aan onsself maar aan God behoort. Daarom mag ons nie met ons liggame doen net wat ons wil nie. Dus is God so kosbaar dat Hy dit as woonplek van die Heilige Gees uitgekies het. 1 Kor.6:19: “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie?”
Ons liggame is vir God belangrik want dis waarmee ons Hom dien. Daarom verwag Hy dat elke deel daarvan in sy diens sal staan. Al is dit so dat die liggaam deur die dood tot niet gaan, sal dit met die wederkoms weer in 'n verheerlikte vorm verskyn.
In teenstelling met ons liggaam is ons binnekant (siel) onsterflik. Dis die deel van ons wat die dood vryspring. Net ons buitekant sterf, maar nie ons binnekant nie. Die Griekse filosowe het die liggaam as die tronk van die siel gesien en die dood as ‘n bevryder daarvan.
In Rom.8 jubel Paulus as hy sê dat die dood ons nie eens van die liefde van God kan skei nie. Na ons dood bly ons nog steeds in God se veilige sorg. Vir gelowiges is die dood derhalwe geen nare oordeel nie, maar wel ‘n nuwe begin by God.
Voor die sondeval was die brug tussen God en mens oop. Daarna het sonde dit vernietig. Maar in die volheid van die tyd het God sy Seun na die aarde gestuur om hierdie gebreekte brug te herstel. Deur sy dood en opstanding het Jesus vir ons die Brugbouer tussen lewe en dood geword. Niemand kom anders by God uit as oor hierdie brug nie. Jesus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).
Gelowiges het ‘n unieke bestaanswyse. Dit word die ewige lewe genoem. Die meeste mense meen dat dit eers met jou laaste asemteug begin. Nee, die ewige lewe begin alreeds op aarde. Dis die nuwe lewe wat jy met jou bekering verkry; 'n wonderlike lewe wat nie eens deur die dood vernietig kan word nie! Die dood vernietig slegs jou buitekant maar nie jou binnekant nie. Na die dood leef jy voort; net heelwat anders en baie beter as voor jou dood.
‘n Ruimtevaarder lyk mos baie anders in sy ruimtepak as daarbuite. So sal ons ook anders lyk sodra ons ons buitekant verlaat het. Dit gaan ons nie minder lewendig maak nie. Net soos wat ‘n ruimtevaarder nie minder lewendig buite sy ruimtepak is as daar in nie, sal ons nie sonder ons liggaam minder leef nie. Ons siele leef tot in ewigheid voort.
In hierdie opsig is ons lewe soos die son wat agter die horison verdwyn. Dit lyk asof dit weg is, maar in werklikheid hou dit aan skyn. D.L Moody het by geleentheid gesê: “Eendag sal julle in die koerant lees dat DL Moody dood is. Moenie ‘n woord daarvan glo nie! Op daardie oomblik sal ek meer lewendig as ooit tevore wees!” Jesus sê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe”. As mense dit net wil glo, sal hulle anders oor die dood dink!
Ons kan nie ons saligheid koop nie. Dit word slegs deur die bekering verkry. Nie 'n voorbeeldige lewe, gereelde kerkgang, groot dankoffer of wat ook al nie; slegs die bekering. Wie nie tot bekering kom nie, het hy geen deel aan die ewige geluksaligheid nie. Daarom is die bekering die allerbelangrikste besluit wat ‘n mens ooit in die lewe kan neem. Alle ander besluite is minder belangrik.
Baie mense sê: “Ja, ek glo in die Here Jesus”. Maar glo hulle werklik? Is dit nie maar blote erkenning nie? Blote erkenning verseker jou nie van die ewige lewe nie. Die Bybel sê dat selfs bose geeste Jesus erken en ons weet hulle is vir die hel bestem.
Hoe weet ‘n mens of jy regtig glo en of jy jouself nie bedrieg nie? Kyk na jou lewe. As jy soos ‘n kind van God leef, is jy een. As jy nie soos een lewe nie, bedrieg jy jouself deur te meen dat jy saligmakend glo. Jou leefstyl is ‘n bewys van jou geloof.
In Mat. 3:8 sê Jesus: ”Dra dan vrugte wat by die bekering pas”. Jesus is ons hemelse vrugte-inspekteur. Kan Hy vanoggend na jou vrugte kom kyk?