Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer dit moeilik raak om iemand anders onvoorwaardelik lief te hê, bid opreg vir hulle. Voor jy jou kom kry sal jy met God se oë na hulle kan kyk en sy liefde sal jou hart in oorvloed vul.
WAT NÁ GELOFTEDAG GEBEUR HET...
DIE SLAG AAN DIE WIT UMFOLOZI
Jeanette Koekemoer
16 Desember 1838, die dag waarop die Gelofte van Bloedrivier gestalte verkry het in die oorwinning wat God aan die Trekkers gegee het, was nie die einde van die lewensbedreigende gebeure nie, maar ook nie die laaste aanskoulike wonderwerk uit God se hand nie. Daar was 'n volgende slag wat in die skadu van die Slag van Bloedrivier nie veel aandag gekry het nie maar wat ook iets besonders en verseker nóg 'n wonderwerk uit die hand van die HERE was. Die mag van Dingaan was by verre nie vernietig deur die Bloedrivierslag nie. Hy het maar sowat 3 000 krygers verloor en het minstens oor nog 17 000 beskik wat hy teen die Trekkers sou inspan.
Onthou dat Dingaan reeds op 6 Februarie vroeër dieselfde jaar vir Retief en sy geselskap uitgemoor het waarna Dingaan op 17 Februarie 'n uitdelgingsmag op die Trekkers losgelaat het. Hiertydens is die Liebenbergs, Bezuidenhouts en Rossouws wat by Moordspruit, Bloukrans en Boesmansrivier naby die latere Weenen laers getrek het, eerste aangeval en wreed vermoor. Naby Maritz se staanplek het die Zoeloes opdraande ondervind maar die verliese was afgryslik; honderde Trekkers is vermoor en 25 000 stuks vee is geroof. Op 10 April sneuwel ook Piet Uys, sy seun Dirk en nege ander by Italeniberg in 'n Zoeloe-hinderlaag. Op 13 Augustus omsingel sowat 10 000 Zoeloes die Voortrekkerlaer by Boesmansrivier wat later Veglaer gedoop is vanweë die twee dae-lange barbaarshede wat daar gepleeg en talle vee wat geroof is. Dié afgelope nege maande in hierdie stuk geskiedenis saamgevat was van die donkerste tye in die Trekkers se geskiedenis en het alles meegewerk en opgebou tot die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838.
Omdat Dingaan se mag ná Bloedrivier nie gebreek was nie, was dit Pretorius se taak om ná Bloedrivier met 'n kommando burgers na Umgungundlovo, Dingaan se stat, op te trek. Hulle het dit egter verlate en smeulend aangetref aangesien Dingaan dit self afgebrand en gevlug het. By Moordkoppie net buite die stat het Pretorius en sy manne die beendere van Retief en dié se geselskap wat vroeër daardie jaar op 6 Februarie vermoor is, aangetref. Op 25 Desember het Pretorius-hulle die versamelde oorskot aan die voet van Hlomo Amabutho begrawe.
Pretorius trek met die hele laer voort en kom op 26 Desember by die vallei van die Wit Umfolozi aan waar hulle baie van hulle beeste sien wei. Sowat 300 man besluit om die gevaarlike kloofgebied aan te durf maar die pynlike wond wat Pretorius by Bloedrivier aan sy hand opgedoen het noop hom om die bevel aan Karel Landman oor te dra. Toe Landman sy kommando in die ruie kloof laat afdaal word hulle in 'n lokval gelei en van die laer afgesny. Hier was Landman en sy manskappe bereid om hulle slag te lewer. Genadiglik het Hans (Dons) de Lange besef dat dit noodlottig sou wees en na Landman deurgejaag om hom op die gevare te wys. Hy het voorgestel hulle moes 'n pad oopskiet weg van die laer oppad na die rivier. Hierop was die Zoeloes onvoorbereid en kon die Boere die vol rivier bereik en deursteek. Intussen het nog 'n Zoeloe-regiment hoër op langs die rivier tot die stryd toegetree om die kommando te probeer stuit. Die ruiters en perde het weldra in 'n woeste toneel in die water gespartel maar net ses burgers het hier hulle lewens verloor terwyl nog 'n 1 000 Zoeloes gesneuwel het.
As die HERE nie hierdie wonderwerk bewerkstellig het nie sou die verliese veel groter wees en sou die grootste aantal van die Wenkommando van Bloedrivier hulle lewens op 27 Desember 1838 hier by die Wit Umfolozi verloor het.
So behoort ons dan nog 'n wonderwerk van God gereeld in gedagtenis te hou en daaroor te praat, al het ons geen gelofte daaroor gemaak soos by Bloedrivier nie. Die Slag aan die Wit Umfolozi was net so 'n groot wonder uit die hand van God soos Bloedrivier.