Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geloof is geen opium wat jou verblind en verdoof nie – geloof is harde werk. Dis om te dóén in plaas van net te sê. Dis om jouself prys te gee soos Christus gedoen het – maar dit maak jou gelukkig!
ONS GESKIEDENIS: Hoofstuk 20
Die benarde toestand na die oorlog
Na die ondertekening van die Vrede van Ver-eeniging was nie net die staatkundige onafhanklikheid van die twee Republieke verlore nie, maar die land was geheel en al verwoes. Die Britse beleid om die aarde te ver-skroei, het die strydende burgers van hul bestaansmiddele beroof. Terugkerende burgers het hul wonings afgebrand gevind en hul boorde verwoes. Hulle vee was weg. In baie gevalle het hul vroue en kinders ook in die konsen-trasiekampe omgekom. Besoekers uit die buiteland kon in 1902 nouliks ‘n uitroep van ontsteltenis onderdruk. Selfs lord Milner het erken dat die uitvoering van sy beleid rampspoedige gevolge gehad het.
In die oorlog het 3 990 burgers gesneuwel en 1 081 het weens siekte en ongelukke die lewe gelaat. In die krygsgevangekampe is 1 118 oorlede. In die konsen-trasiekampe het 1 676 mans (meesal ou mans wat saam met die vroue weggevoer is), 4 177 vroue en 22 074 kinders gesterf. Die totale getal Afrikanerlewens wat deur die oorlog verlore gegaan het, kom dus op 34 116 te staan.
Die verlies van tienduisende waardevolle lewens, wat vir Suid-Afrika met sy klein blanke bevolking gevoelig was, was nie al prys wat vir die oorlog betaal is nie. Die geestelike en stoflike verwoesting was ontsettend. Die insinking van die Afrikanerdom het onrusbarende dieptes bereik. Die burgers moes hulle wapens neerlê en vir Eduard VII as hulle wettige vors erken. Die krygsgevangenes in oorsese kampe moes skriftelik hulle Britse onderdaanskap erken voordat hulle na hul vader-land kon terugkeer. Die duisende Kapenaars en Natallers wat aan die kant van hul volksgenote in die Republieke geveg het, is as rebelle gestraf, onder ander deur hulle die kiesreg te ontneem.
Die vernietigingswerk was stelselmatig en op groot skaal. Oral was stukke afgebrande veld en verlate murasies. Op die kaal vlaktes was tallose geraamtes van perde, beeste en skape te sien. Oral was eensame grafte van burgers of Engelse grafte langs eensame paaie.
Die oorlog en die goudbedryf
Die oorlogsramp het nie alleen die Boerevolk van die Republieke in geestelike en stoflike opsig met ver-nietigende krag getref nie, maar ook die Witwatersrandse goudbedryf. Die vlug van tienduisende Randse uitlanders na die hawestede, het die myne tot stilstand laat kom. In 1898 was die goudopbrengs R32 482 000 en in 1901 het dit gedaal tot R2 194 000.
Daar was ‘n groot gebrek aan die nodige arbeids-kragte. Gedurende die oorlog het die Engelse die Swartes wat hulle in diens gehad het, buitensporige lone betaal. Na die oorlog wou hulle nie vir laer lone werk nie. Generaal Smuts het gesê “die naturelle was versadig van hul oorlogtydse geld en hulle het in ledigheid gesit en wag op die millennium wat die Engelse hulle beloof het.”
Alfred Milner kom weer op die toneel
Die man aan wie die noodsaaklike weeropbou van die verwoeste land toevertrou is, was ironies genoeg niemand anders nie as die man wat meer as enigiemand anders vir die Suid-Afrikaanse ramp verantwoordelik was. Sy idee van weeropbou was sy mislukte poging om soveel Engelse in te voer en te vestig dat die meerderheid van die blanke bevolking van Suid-Afrika uit Engelse sou bestaan. Hy wou so veel moontlik Britse soldate wat aan die oorlog deelgeneem het, agterhou in die polisie, spoorweg- en posdiens. Om die Britse element te versterk en die Britse gesag te waarborg, het hy vir hom ‘n nuwe polisiemag, die South African Constabulary, met 10 000 oudsoldate saamgestel.
Milner wou die Afrikaners werklike Britte maak deur te bepaal dat Engels die taal in die skole sou wees. “Dutch should only be used to teach English, and English to teach everything else.”
Milner was verantwoordelik vir die repatriasie van die krygsgevangenes en die terugbring van die burger-bevolking uit al die kampe in die land. Dit was geen kleinigheid om nagenoeg 200 000 geruïneerde mense weer na hulle verwoeste tuistes terug te bring nie. Hulle moes deur die owerheid voorsien word van voedsel, boustowwe, landbougereedskap, trekdiere, saad en vee. Milner maak daarop aanspraak dat hy dit alles in agt en ‘n halwe maand bewerkstellig het.
Milner se rehabilitasiepogings misluk
Volgens die Vredesverdrag is voorsiening gemaak vir ‘n “vrye gif”van R6 miljoen deur die Imperiale regering, om vir skades wat gely is, te vergoed . Die “vrye gif” was soos ‘n druppel aan ‘n emmer in vergelyking met die geweldige nood. Toe is “voorskotte by wyse van lenings” toegestaan. Die “voorskotte” het die “vrye gif” van R6 miljoen baie vinnig ver oorskry. Die uitvoering van hierdie skemas het veel te wense nagelaat. Vir die Afrikaners het repatriasie op ‘n repatriasieskandaal en kompensasie op ‘n kompensasiegeknoei uitgeloop.
Die klagtes en proteste teen Milner se toepassing van die repatriasie- en kompensasiebeleid het net so min sukses gehad soos die besware teen sy taal- en onderwysbeleid. Hy het vir hom ‘n klompie amptenare in Engeland gewerf wat die Kindergarten genoem is. Saam met hulle kon hy in Suid-Afrika doen net wat hy wou, sonder om tot verantwoording geroep te word. Hy het sy polisiemag, die South African Constabulary, gebruik as ‘n soort besettingsleër om die Boere te intimideer . Hulle het hulle baie gehaat gemaak onder die Afrikaners.
In 1902 het Milner ‘n gewaarborgde lening in Engeland van R70 miljoen vir die verowerde kolonies aangegaan . Dit was ‘n geweldige skuldelas vir die nuwe kolonies, wat pas die verwoesting van ‘n langdurige oorlog deurgemaak het. By al die geswoeg met die rekon-struksiewerk, die na-oorlogse depressie en groot droogtes wat geheers het, was hulle nie in staat om hierdie onproduktiewe skuldelas te dra nie. Nadat Milner Suid-Afrika in 1905 verlaat het, is met die Liberale regering in Engeland nuwe reëlings in verband met hierdie lening getref.
Chinese vir die goudmyne
Milner het geglo dat die Rand se goudmyne die bron van welvaart in Suid-Afrika is. Die goudbedryf moes in die hoogs moontlike tempo ontwikkel en uitgebrei word. Hy was van mening dat indien die myne weer ‘n opbrengs van R32 miljoen kon lewer, sou hy die finansiële probleme van die twee nuwe kolonies kon hokslaan. Hy wou toe die groot arbeidstekort oplos deur Chinese in te voer om in die myne te werk. Die eerstes het in 1904 op die Rand aangekom en skaars nege maande later was daar al 34 000 en in Januarie 1907 het daar 54 000 Chinese in die goudmyne aan die Rand gewerk.
Dit was vroeg in 1903 al bekend dat Milner van plan was om Chinese in te voer. Die Boere het met mag en krag daarteen geprotesteer. Generaal Botha het in Julie 1903 op Heidelberg ‘n groot protesvergadering gehou. Milner was bevrees dat die Boere dié dag daar ‘n militêre opstand sou begin. Hy het 500 ekstra konstabels daar saamgetrek.
Die vergadering het geëis dat Hollands en Engels gelyke regte in die land moes geniet, dat die verdere invoer van Asiate uitgestel word en dat met die aangaan van ‘n oorlogslening gewag moes word totdat die twee kolonies selfbestuur ontvang het.
Toe sê Alfred Lyttelton in die Britse laerhuis dat die Transvaalse publiek begeer om die Chinese arbeiders in die land te hê. Hierdie leuen het die Afrikaners so kwaad gemaak dat hulle ‘n groot volkskongres in Mei 1904 gehou het en die vereniging, Het Volk. gestig het, om hulle teen Milner te verweer.
Milner het egter met die uitvoering van sy planne om die Chinese as arbeiders in te voer, wel deeglik daarin geslaag om die goudopbrengs te verhoog. In 1905 was die waarde daarvan reeds meer as R41 miljoen. Die Chinese was nie gewone immigrante nie, maar onge-skoolde kontrakarbeiders. Hulle was onderworpe aan gedwonge repatriasie sodra hulle inboektermyn verstryk het. Nietemin het Milner en die goudbase se maatreël heftige kritiek uitgelok. Boer en Brit het in hulle protes teen die Asiate se teenwoordigheid in die land vir Milner en die geldmagnate daarvan beskuldig dat hulle met vuur speel. In die Britse laerhuis is ‘n mosie van afkeuring teen lord Milner aangeneem. Dit was die einde van Milner se gehate politieke rol in Suid-Afrika. Hy het die land in April 1905 verlaat. Hy het hom aan die politieke lewe onttrek en in die politieke woestyn verdwyn.
Selfregering vir Transvaal en die Vrystaat
Die Chinese was nog steeds in Suid-Afrika die mees ongewenste element van die hele bevolking. Hulle het selfs in Engeland politieke stof opgejaag. Die Konser-watiewe regering wat die oorlog in Suid-Afrika gestook het en vir Milner hier geplaas het, se regeertyd was verby en die Liberale Party het hulle in die verkiesingstryd wat gevolg het, oor die Chinese aangeval en kwaai veroordeel. Die verkiesing het aan die pro-Chinese ‘n verpletterende neerlaag besorg en die Liberale Party van sir Henry Campbell-Bannerman het die regering oorgeneem. Toe het daar ‘n juigkreet opgegaan. Daar is beweer dat dit nie net alleen ‘n oorwinning van die Liberale oor die Konserwatiewe in Brittanje was nie, maar ook ‘n oorwinning van die Afrikaners en die Suid-Afrikaanse Engelse wat met hulle saamgewerk het, oor Milner, die mynmagnate en oor alle jingo’s.
Die Campbell-Bannerman-regering was die Afrika-ners goedgesind en het aan Transvaal in 1906 en vir die Vrystaat in 1907 selfregering gegee. Reeds voor hierdie tyd is die verdere uitreiking van lisensies om nog meer Chinese in te voer, stopgesit. Die Chinese wat in 1906 nog in die land was, is nie dadelik gerepatrieer nie. Dit is egter gedoen nadat hulle inboektermyn verstryk het.
In Transvaal het in Februarie 1907 ‘n algemene verkiesing plaasgevind, waar die party, Het Volk, die meeste setels verower het. Generaal Louis Botha het die eerste minister geword en generaal Smuts sy minister van binnelandse sake en onderwys. In Desember 1907 het die Orangia Unie in ‘n verkiesing in die Vrystaat die botoon gevoer. Abraham Fischer het eerste minister geword en generaal JBM Hertzog die minister van justisie en van onderwys.
Unifikasie
Die twee noordelike kolonies, die Transvaal Colony en die Orange River Colony (wat weer sy naam, Oranje-Vrystaat, teruggekry het), het met die toekenning van verantwoordelike regering in 1907, gelyke status verwerf met die Kaap en Natal. Daar het lank tevore reeds stemme opgegaan wat die nouer saamsluiting of eenwording van die vier kolonies gepropageer en bepleit het. Gesamentlik sou hulle baie beter in staat wees om oplossings te vind vir hul eie en gemeenskaplike probleme. Natal het geworstel met sy Indiër- en Zoeloe-probleem. Sy oorwegende Engelse element sou moes saamwerk met die Afrikanergemeenskap in die ander drie provinsies. Eenwording sou ook ‘n oplossing bied vir die spoorweg- en doanewedywering wat daar bestaan het. Lord Selborne, Milner se opvolger as Hoëkommissaris in Suid-Afrika, het ‘n memorandum opgestel waarin hy die voordele van eenwording aangedui het. Manne soos president Steyn, John X Merriman, Jan Smuts en Louis Botha, het hulle geesdriftig beywer vir die totstandkoming van nouer eenwording. Daar is besluit om ‘n nasionale konvensie te hou om dit te bespreek en ‘n grondwet op te stel.
Die konvensie het in Oktober 1908 in Durban vergader onder voorsitterskap van sir Henry de Villiers, die Kaapse hoofregter. Al die vername politieke leiers in Suid-Afrika was teenwoordig. Die konvensie het die raamwerk van die nuwe staat opgestel. Binne ‘n jaar sou die Britse koning die vier kolonies proklameer as ‘n wetgewende unie onder een regering en ‘n goewerneur-generaal benoem.
Die kolonies sou provinsies van die unie word. Die uitvoerende gesag sou die goewerneur-generaal namens die koning voer. Hy sou bygestaan word deur ‘n uitvoerende raad en tien ministers wat die staats-departemente moet administreer. Die wetgewende gesag sou setel in die unie-parlement, bestaande uit die koning (goew.-genl.), ‘n senaat en ‘n volksraad. Die regterlike gesag was die hooggeregshof, met die hoofregter, gewone appélregters en ander regters. Elke provinsie sou ook apart bestuur word deur ‘n provinsiale raad, met ‘n administrateur en ‘n uitvoerende komitee.
Natal wou graag ‘n federale regeringsvorm hê, maar die konvensie het ten gunste van unifikasie besluit. In die ontwerpgrondwet is die beginsel van gelykheid van Engels en Nederlands opgeneem. Die kiesreg sou net aan Blankes behoort, met uitsondering van die Kleurlingstem in die Kaap, wat in die grondwet verskans is. Die kon-vensie het besluit om Kaapstad die setel van die wetge-wende gesag te maak en Pretoria die setel van die administrasie. Die appélhof sou in Bloemfontein ver-gader.
Die konvensie het op 5 November 1908 sy vernaamste werk in Durban afgehandel, dit op 23 November in Kaapstad voortgesit en op 3 Februarie 1909 voltooi. Daarna is die ontwerpgrondwet deur die Engelse parle-ment aanvaar as die Suid-Afrika-Wet van 1909. Die Koning het dit op 20 November 1909 goedgekeur.
Die benoeming van ‘n eerste premier van die Unie en die samestelling van ‘n regering of kabinet moes nog plaasvind. Lord Gladstone het as eerste goewerneur-generaal in Kaapstad aangekom en 31 Mei 1910 vasgestel as die datum vir Uniewording. Hy het vir Botha gevra om ‘n kabinet saam te stel.
Met die eerste algemene verkiesing aan die begin van 1910, het Botha se Het Volk-party in Transvaal, en die Kaapse Suid-Afrikaanse Party, gesteun deur die Orangia-Unie van Fischer en Hertzog, ‘n volslae oorwinning oor die Unioniste behaal. Die Unie van Suid-Afrika het ‘n voldonge feit geword. Gedurende die vyftig jaar van sy bestaan, is hy egter gedurig daaraan herinner dat hy, deur sy verbintenis aan die Britse kroon en as lid van die Engelse Gemenebes van Nasies (die Britse Statebond), nie soewerein onafhanklik was nie en dat sy Afrikaner-inwoners nog steeds veel moes opoffer vir die belange van die Britse ryk.