Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Speel jy die lotto? Of doen jy besigheid op Sondae? Of dalk bly jy sommer saam met iemand sonder om God se seën in 'n huwelik te verkry het; of glo jy dat homoseksuele geregverdig voor ons HERE staan? Dalk dink jy dat aborsie nie verkeerd is nie? Die 'deugniete' in jou land wat al hierdie sondes gewettig het en wat jou hierdie afgode laat aanbid moet met die swaard doodgeslaan word, sê God, sodat jy weer sy Gebooie sal hou en Hom dien en Hy sy toorn van jou en jou volk sal wil afwend – Deut 13.
ONS GESKIEDENIS: Hoofstuk 14
Potgieter, pionier van die noorde
Die bewering dat Andries Hendrik Potgieter steeds na die noorde gehunker het omdat hy in Natal nooit enige heil gesien het nie, aangesien hy dié as nog te na aan die Engelse beskou het, is seer seker oordrewe, maar dit is bo alle twyfel waar dat Potgieter dié pionier is wat die republikeinse gebied ten weste van die Drakensberge vir die Voortrekkers gewen het. Hy het die gebied tussen die Vet- en die Vaalrivier van Makwana vir die Trekkers geruil, die Oorvaalse streek van die Swartgevaar gesuiwer en bewoonbaar gemaak. Na die tweede straftog teen Mzilikasi (Silkaats), het hy die gronde wat die Matebeles bewoon het, as Voortrekkerbesit geproklameer en die Kaapse owerheid sowel as Silkaats daarvan kennis gegee. Op hierdie gebied, noord van die Vetrivier en wes van die Drakensberge, wou hy die Trekkers se vrye republiek laat verrys. Maar hy wou, vry van Britse invloed, vir die republiek verbinding met die see bewerkstellig.
Verspreiding van die Voortrekker-groepe
Die Voortrekkers wes van die Drakensberge, wat aan Potgieter se trek behoort het, het hulle in die hele streek noord van die Vetrivier en in Wes- en Suidwes-Transvaal gevestig. Daar het ‘n gereëlde regering tot stand gekom, net soos in Natal. Die twee Voortrekkermaatskappye is op 16 Oktober 1840 met mekaar verenig onder een sentrale volksraad, met Pietermaritzburg as setel. Andries Pretorius is benoem as kommandant-generaal vir die distrik Natalia en Hendrik Potgieter vir die distrik Potchefstroom, met ‘n adjunkraad om hom by te staan.
Na die anneksasie van Natal deur die Engelse, het Potgieter op 3 Oktober 1843 aan die Engelse gesag-hebbendes in Natal kennis gegee dat hy nie die anneksasie van krag ag op die gebied wes van die Drakensberge nie. Die adjunkraad is vervang met ‘n burgerraad of volksraad, wat op 9 April 1844 die Drie en dertig Artikels opgestel het, wat die grondslag sou vorm van al die bestuurs-instellings van die Republiek wes van die Drakensberge.
Die Natalse Trekkers wat saam met Pretorius en daarna hierdie nuwe Engelse kolonie verlaat het, het hulle in die omgewing van Winburg en Potchefstroom-Magaliesberg gaan vestig. ‘n Seksie uit hierdie groep, onder nie-amptelike leiding van JJ Burger, voormalige sekretaris van die gewese Natalse volksraad, was nie gediend met die bestuursgesag wat aan Potgieter toegeken is nie en was nie bestem om die eenheid in die Republiek wes van die Drakensberge te bevorder nie. Aanvanklik was daar nie probleme nie en kon Potgieter onbelemmerd sy aandag wy aan pogings om vir die Republiek ‘n weg na die see te vind oor Portugese gebied.
Smellekamp se raad
Potgieter het toe in 1843 ‘n kommissie georganiseer na Delagoabaai om met die Portugese te gaan reëlings tref. Met hulle aankoms in die hawe, het hulle daar ‘n predikant, ds Ham, ontmoet, wat bestem was om die Trekkers geestelik te kom versorg. Hy is daar afgelaai deur ‘n sekere Smellekamp, wat met die skip, die Brazilië, deur die Trekkers se vriende in Holland gestuur is om met hulle te kom handeldryf. Smellekamp het eers Port Natal aangedoen, want hy het nie geweet dat die hawe nie meer in die Trekkers se besit was nie. Die Engelse wou hom nie daar toelaat nie en daarom het hy na Delagoabaai geseil en ds Ham daar afgelaai. Daar was ook ‘n onderwyser vir die Trekkers op die skip, ene Martineau, wat intussen op see oorlede is. Ds en mevrou Ham het in Delagoabaai agtergebly en gehoop dat hulle die Trekkers in die binneland op een of ander manier sou bereik., maar tydens haar bevalling is mevrou Ham en haar baba albei in Lourenço Marques oorlede, terwyl ds Ham malaria opgedoen het. Onder hierdie omstandighede het hy nie meer kans gesien om saam met die Trekkers te gaan nie en wou hy maar liewer na sy vaderland terugkeer.
Smellekamp se koms na Delagoabaai het Potgieter laat besluit om weer ‘n kommissie daarheen te organiseer om met die Portugese te gaan onderhandel oor handels-moontlikhede. Hy het die tog in die somer van 1843 van agter die Magaliesberg met 80 Winburgers en Potchef-stromers onderneem, maar weens vol riviere en die tsetsevlieggevaar, moes hulle omdraai en tot die winter van 1844 wag voordat hulle weer op die lang, ongebaande pad na Delagoabaai was met ‘n aantal ossewaens en gedeeltelik te perd.
Toe hulle uiteindelik die berg oor is en na die seevlakte begin afdaal, het hulle die waens weens die moeilike terrein onder die sorg van die helfte van die geselskap gelaat en met die res die tog te perd voortgesit tot in die baai, waar hulle gelukkig nog vir Smellekamp aangetref het na sy terugvaart vanaf Batavia en hy op die punt gestaan het om na Holland te vertrek. Die Hollander het hulle verseker van sy opregte voornemens om spoedig ‘n gereelde handel tussen Holland en die Trekkers tot stand te bring en het hulle die raad gegee om met die oog daarop en op die Cape of Good Hope Punishment Act, van die Portugese toestemming te kry om hulle noord van die 26e graad suiderbreedte te vestig, waar hulle buite die Britse invloedsfeer sou wees. Hy was oortuig daarvan dat die Engelse hulle ten suide van hierdie breedtegraad steeds sou bly agtervolg. Ook moes hulle, met die oog op die handel, hulle nader aan die baai vestig en nie vir die tsetsevlieë en malaria terugdeins nie.
Die plan het vir Potgieter en sy metgeselle aanloklik voorgekom. Met Smellekamp as tolk het hulle op 22 Julie 1844 toe met die Portugese goewerneur ooreen-gekom om zich binnelands achter de portiegiesche havens te vestigen, vanaf die 26e graad suiderbreedte tot die 10e graad noorderbreedte, mits hulle nedersetting nie nader as vier dagreise van die Portugese hawens af geleë is nie.
Die kommissie het die terugtog Transvaal toe met nuwe geesdrif aangepak. Toe hulle die stroom bereik waar hulle die walaer twee maande tevore agtergelaat het, was dié egter weg. Die persone in die laer het naamlik toe Potgieter en sy geselskap ‘n maand nadat hy beloof het om terug te wees en nog steeds wegbly, besluit dat hulle almal omgekom het. Hulle het toe die rivier waar hulle gelaer was, die naam Treurrivier gegee en in ‘n treurige stemming die terugreis aangevang. Hulle was egter nouliks by die volgende rivier, toe die perdekommando op pad van die baai af terug hulle inhaal, met die gevolg dat hulle hierdie rivier toe die naam Blyderivier gegee het.
Teen die einde van Augustus 1844 was die ekspedisie te Magaliesberg terug. Die Burgerraad het die besluit om nader aan die Portugese hawens te trek, goedgekeur en aan Potgieter opdrag gegee om die verhuising te organiseer en te lei. Potgieter het byeenkomste gehou en die mense aangemoedig om te verhuis, maar te kenne gegee dat die gebied wat hulle gaan verlaat, nie prysgegee sou word nie en dat die plase wat hulle gaan verlaat, hulle eiendom sou bly. Die verhuising sou nie die stigting van ‘n nuwe Voortrekkerstaat beteken nie, maar alleen die verplasing van die Volksraad na ‘n nuwe setel.
Die verhuising na Ohrigstad
Daar was mense, veral van die nuwe intrekkers uit Natal, wat Potgieter net wou gebruik as “trekleier” en hom daarna wou uitskakel. Dit het Potgieter te hore gekom. Hy het op 6 Mei 1845 ‘n vergadering te Potchef-stroom gehou, waar 114 persone ‘n dokument onderteken het waarin hulle hom as hoofkommandant bemagtig om hulle sake te reël.
Die verhuising het in die middel van 1845 in klein groepies begin. Die Kruger-broers, Gert en Casper en laasgenoemde se seun Paul wat Potgieter se staatmakers was, het die trek meegemaak, maar het spoedig daarna weer na die weste teruggekeer, alhoewel hulle verderaan steeds deur dik en dun by Potgieter gestaan het.
Die meeste van die Trekkers het in Julie 1845 by die nuwe nedersetting aangekom. Teen Augustus 1845 was daar reeds meer as 1 000 persone, of ruim 300 huisge-sinne in die nuwe gebied gesetel. Rondom die terrein waar die dorp sou verrys, geleë binne twee weke se reis na die baai en naby die kant van die Drakensbergpasse waarlangs Trichardt gegaan het, kon reeds ‘n groot aantal beeste, skape, perde en waens bespeur word, sodat die gesig sterk aan die vroeëre Voortrekkerlaers herinner het.
Die naam van die dorp sou Andries Ohrigstad wees, ter ere van Andries Hendrik Potgieter en die Amsterdamse koopman, George Gerhardus Ohrig, wat sy skip, die Brasilië, met sy kantoorbediende, JA Smellekamp, na die Trekkers gestuur het. Potgieter het vir homself ‘n plaas aan die noordelike grens van die dorp op 2 Augustus 1845 aangeteken en die naam Strydfontein daaraan gegee. Feitlik grensende aan sy plaas, het Jacobus Burger sy plaas, Nooitgedacht, aangelê.
Die begin van onenigheid
Op 30 Julie 1845 is op die nuwe dorp ‘n byeenkoms gehou om die regering weer te organiseer en ‘n nuwe Volksraad op te rig. Die publiek het nege lede gekies, met Casper Kruger as voorsitter en Jacobus Burger as sekretaris. Potgieter self was ook een van die lede. By die eerste sitting van die Raad het Potgieter sy aanstelling van 6 Mei as kommandant en algemene “bestierder” deur die publiek van Potchefstroom, aan die Raad voorgelê om bekragtig te word. Hierteen het “eeniege leden” beswaar aangeteken. Hulle houding was dat die aanstelling slegs bedoel was om van krag te wees gedurende die verhuising self. Daarop het Potgieter se ondersteuners ‘n geskrif opgestel wat deur 122 persone onderteken is. Hulle het geëis dat hy steeds verder “zal uitmaken de hoogste gezag en bestier dezer volksplanting,” maar by sy afwesigheid, sou die raad die hoogste gesag wees. Die versoek is deur die raad met lang tande aanvaar.
Daarna is verder aandag gegee aan die administrasie van die nuwe gebied, met bekragtiging van die aan-stellings van sy klein “amptenary” : Die hoofkomman-dant, volksraadsekretaris, ‘n paar veldkornette, huweliks-kommissarisse en ‘n landdros. Daar is onmiddellik ‘n begin gemaak met die uitgee van erwe in die nuwe dorp en van plase in die omgewing.
Teëspoed op pad na die baai
Die Trekkers het nie uit die oog verloor dat een van die vernaamste oogmerke van die trek was om deur die Portugese hawens verbinding met die buiteland te bewerkstellig nie. Hulle het op 27 Oktober 1845 ‘n ekspedisie deur ‘n geselskap van 26 man onder leiding van Carel Trichardt na die baai gestuur om die geskikste pad daarheen te vind en sake met die Portugese owerheid te bespreek. Hulle het die tog te perd en met waens met velle en ivoor belaai, onderneem. Hulle het die baai bereik, maar het al hulle trekdiere en perde as gevolg van die tsetsevlieg en perdesiekte verloor. Die Portugese was beleefd en hulpvaardig, maar op die kommissie se terugtog na Ohrigstad, het hulle op ‘n afstand van enkele dagreise van die baai af, ‘n baken ingeplant om volgens hulle opvatting die grens van die Portugese grondgebied aan te dui. Die Portugese goewerneur het daarvan te hore gekom en vir Potgieter laat weet dat die baken net so goed op die middel van sy lyf ingeplant kon gewees het. Indien dit in opdrag van Potgieter sou geskied het, wou hy niks met die Trekkers te doen hê nie en alle handels-betrekkinge met hulle staak.
Die handel met die buiteland misluk
Daarna het die owerheid te Ohrigstad meer as ‘n jaar lank nie weer ernstige aandag aan ‘n handelstog na die hawe geskenk nie. Die beoogde handel met die buite-wêreld deur die Portugese hawe kon nie op dreef kom nie. Hulle hoop was gevestig op pogings wat die Hollander Smellekamp sou aanwend om per skip vanaf Holland vir hulle noodsaaklike lewensmiddele te voorsien, in ruil vir velle, horings en ivoor. Smellekamp het in 1848 daarin geslaag om met ‘n skip. die Animo, weer die Portugese hawe te bereik met ‘n vrag handelsware wat vir die Trekkers bestem was. Die Portugese wou hom egter nie laat land nie, omdat hy nie onder Portugese vlag geseil het nie.
In Julie 1848 het daar weer ‘n kommissie vanaf Ohrigstad vertrek om ‘n veilige pad na die baai te soek. Hulle was so gelukkig om op die selfde tydstip daar aan te kom toe die Animo daar anker gewerp het. Die Portugese owerheid het geweier om Smellekamp toe te laat om onder Hollandse vlag met die Trekkers handel te dryf en die Animo kon nie aan wal gebring word nie. Maar Smellekamp het vir hulle ‘n “onderwyser” aan wal gesit, ‘n sekere HT Bührmann, wat later ‘n bedenklike rol in Transvaal sou speel. Smellekamp het die kommissie belowe om binne 15 maande terug te wees onder Portugese vlag met ‘n nuwe handelsvrag. Daarna het hy na die Kaap geseil waar hy ‘n klein deeltjie van sy vrag verhandel het en toe met die res na Holland teruggevaar.
Vroeg in 1850 het daar weer ‘n kommissie na die baai vertrek om met die Portugese goewerneur, JC de Andrade, te gaan onderhandel. Hy was vriendelik en vol beloftes, maar sy base in Lissabon was nie van plan om aan sy beloftes gevolg te gee nie.
Intussen het die Boere probeer om uitvoering te gee aan Smellekamp se versoek om goed gezouten huiden, ivoor en schapenwol en ander handelsartikels bymekaar te maak. Hulle het nie daarin geslaag nie, want die olifantjag het misluk. Nietemin het ‘n kommissie van 29 man met 11 waens op 15 Mei 1851 na die baai afgereis. Toe hulle in die baai kom, het hulle 100 osse verloor aan ‘n onverwachten en heevigen ziekten. Hulle het op 25 Julie maar huiswaarts gekeer en gekla dat die water in die baai vir die osse ongesond was om te drink en dat die pad vanaf die Lebombo na die see met volop tsetsevlieë besmet was.
Vyf dae nadat die kommissie die baai verlaat het, het Smellekamp op 30 Julie 1851 met die Portugese skip, die Vasco da Gama, daar geland. ‘n Kommissie wat op 27 September 1851 in die baai aangekom het nadat Smellekamp na Mosambiek vertrek het, het gevind dat die Trekkers se artikels swak op prys was en dié wat Smellekamp daar afgelaai het, peperduur was.
Weens die feit dat die Trekkers se besoeke aan die baai nooit ooreengestem het met Smellekamp se aankoms aldaar nie en dat die pad na die baai vanaf Ohrigstad met malaria-muskiete en tsetevlieë besmet was, kon die handel nie op dreef kom nie. ‘n Tog na die baai met perde en ossewaens was ‘n baie gevaarlike onderneming. Dit kon alleen gedurende die wintermaande enigsins met ‘n mate van veiligheid en sukses onderneem word. Daarbenewens het die Portugese ‘n afsydige en onsimpatieke houding teenoor die Trekkers ingeneem.
Die skeuring in die gemeenskap
Spoedig na die vestiging van die Ohrigstadse neder-setting, het daar al tekens van onenigheid en wrywing ontstaan. Die groep gewese Natallers, onder aanvoering van JJ Burger, was nie gediend met die gesag wat Potgieter as hoofkommandant en “bestierder” van die maatskappy uitgeoefen het, naas die funksie van die verkose Volksraad nie. Hulle het hom van allerhande vermeende wanpraktyke beskuldig, in ‘n poging om sy gesag te ondermyn. Dit het die gemeenskap spoedig in twee kampe verdeel, as ondersteuners van die “Volksraadparty” en van die “Potgieterparty”.
Die kleinsielige en nodelose getwis het só erg geword dat Potgieter en sy ondersteuners besluit het om ‘n einde te maak aan die regering van die Volksraadparty, deur die staatsdokumente in die hande te probeer kry. Hulle het gedink dat die besit van die staatspapiere jou met staatsgesag beklee. Die teëparty het gedink dat Potgieter hulle die papiere wou verbrand en wou toe weet of hulle dan nie gedoop is nie!
Omdat die Volksraadgroep aanhoudend probeer het om vir Potgieter in onguns by die publiek te bring, wou hy hulle ‘n slag goed verneder en het vir Jacobus Burger laat vang en opsluit. Dit het byna tot ‘n burgeroorlog ontwikkel. Uiteindelik het elke kant ses verteen-woordigers benoem wat na beraadslaging by ‘n soort wapenstilstandooreenkoms uitgekom het. Daar is besluit dat die wapens neergelê sou word en ieder party rustig en stil naar huis sal terugkeeren en dat die Hollander Smellekamp, in wie albei partye ‘n grondelose vertroue gestel het, as arbiter in die saak sou optree.
Dit was vir Potgieter duidelik dat so lank as wat daar twee regerings wat mekaar vyandiggesind was op die selfde bodem bly voortbestaan, daar geen hoop op vrede en vooruitgang kon wees nie. Hy het ook besef dat Ohrigstad nie aan sy oorspronklike doel kon beantwoord nie. Die nedersetting was ook nie vir suksesvolle veeboerdery geskik nie en die malaria het reeds ‘n aansienlike getal slagoffers geëis. Daarom het Potgieter besluit om Ohrigstad te verlaat. Hy het op 12 Junie 1847 aan die hoof van 230 manskappe na die noorde vertrek.
Potgieter verhuis na Soutpansberg
Na ‘n skermutseling met Silkaats ver noord van die Limpopo, het hy aan die hang van die Soutpansberg ‘n geskikte terrein vir die uitlê van ‘n nuwe dorp uitgesoek. Na drie maande was Potgieter weer in Ohrigstad terug om voorbereidings vir die verhuising te tref. Die trek het Ohrigstad vroeg in 1848 verlaat, op pad na Soutpansberg, waar hy’n nuwe nedersetting, Schoemansdal, aangelê het.
Ohrigstad het na Potgieter se verhuising na Sout-pansberg al hoe meer ‘n sukkelbestaan begin voer. Jacobus Burger en sy Volksraadgroep was magteloos aan hulself oorgelaat. Hulle was klein in getal, omring deur talryke vyandige naturellestamme en bedroë in die hoop op ‘n florerende handel met die buiteland. Hulle het verarming en agteruitgang in die gesig gestaar. Hulle het reikhalsend na Smellekamp se koms uitgesien en blykbaar geglo dat sy teenwoordigheid sommer alle probleme sou wegtower.
In die somer van 1848-1849 het ‘n hewige malaria-epidemie sy verskyning gemaak . By Ohrigstad lê daar 47 grafte, by Nooitgedacht 12 en by die samevloei van die Steelpoort- en Spekboomrivier 46 Op elke plaas toon on-geveer ‘n halfdosyn grafte die laaste rusplaas aan van die slagoffers van die epidemie.
Onderwyl die sterfgevalle toegeneem het, het die oorblywendes begin om al hul besittings op te pak en suidwaarts na ‘n hoërliggende streek te trek. Die volksraad het op drie plase ‘n nuwe dorp gaan aanlê en op 20 September 1849 besluit om hom Leidenburg te noem wat den naam verkreeg van het lyden aan de geele koorts onze landgenooten te Ohrigstad doorgestaan.