Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kinders is 'n groot troos in die ouderdom – en hulle help ons ook om dit baie gouer te bereik... maar Martin Luther was waarskynlik ook reg toe hy genoem het dat dit goed sou wees as jongmense meer wys kon wees en ou mense sterk, maar God het dinge beter beplan. Daarom kan ons met hierdie feite vrede maak.
EMILY HOBHOUSE... (5)
...heldin uit die Vreemde
Rykie van Heerden
Lees reeks by Emily Hobhouse
Uncle Arthur en Aunt Mary
Hulle ondersteun Emily se gedagte aan ’n hulpfonds en Aunt Mary, prakties en verstandig, skryf dadelik aan Chamberlain, minister van koloniale sake, en aan lord Lansdowne, wat sy albei persoonlik ken, om regeringsverlof vir so ’n stap te kry. Ja, sê Chamberlain, dit klink ’n goeie gedagte. Hy raadpleeg net die Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, sir Alfred Milner, en hoor wat hy dink. Ja, laat weet ook Milner, so ’n fonds sou nogal nuttig kon wees om "ekstra geriewe” te help voorsien.
So word gestig, onafhanklik van die S.A.C.C., ’n aparte S.A. Women and Children’s Distress Fund — ’n suiwer liefdadige, nie-politieke, nie-sektariese organisasie, met die doel om vroue en kinders van Boere, Engelse en ander wat ten gevolge van die verwoesting van eiendom of ander militêre maatreëls hulpbehoewend en haweloos gelaat is, te voed, te klee en te herberg. En "sonder om hul selfrespek te na te kom", voeg Emily by met die fyngevoeligheid wat haar hele benadering tot die Boervroue sou kenmerk.
Sy skryf aan ’n Kaapse vriendin wat sy daar by die Courtneys aan huis ontmoet het, mev. Caroline Murray, gebore Molteno, en ’n dogter van die Kaap se eerste Eerste minister. Wat dink sy van die plan? Wat dink mense soos mev. Koopmans de Wet, mev. Anna Purcell, lady De Villiers, vrou van die hoofregter van Kaapland? Sy kry in Londen vir Onze Jan Hofmeyr. Wat dink hy? Sy kry prof. De Vos, leier van die afvaardiging wat ná Graaff- Reinet se groot protesvergadering na Londen gekom het. "Ek kan nou nog sien", onthou sy later, "watter lieflike lig daar oor sy pragtige ou gelaat gekom het toe hy van my plan hoor."
Met die insameling haal die werkers vir hierdie fonds - en dis merendeel maar weer die ou S.A.C.C.-span en die Pro-Boers - hulle verskriklike beledigings en afjakke op die hals. Dit kan nie - dit sou ons leermag te na kom as daar geïnsinueer sou word dat hulle die mense in SA nooddriftig agterlaat, sê ’n predikant vroom- verontwaardig. Emily skud haar kop. En sy het altyd gedink alle predikante is so eerbaar en regskape soos haar eie vader was. Tog, steun kom bietjies-bietjies. Eindelik is dit so ver dat sy £300 vir die fonds in die bank het.
Sy reken die tyd is nou ryp. Die moeilikste sal nou wees om die verlof van Uncle Arthur en Aunt Mary te kry — hulle is die laaste jare vir haar soos haar eie ouers. Ook aan ontbyttafel een more waag sy die aankondiging: "Ek wil self na Suid-Afrika gaan! ”
Vir ’n oomblik sit die ou oom en tante sprakeloos. Toe sê Aunt Mary: "Ek het al gedink jy sal wil gaan, kind.”
Weer stel Emily haar saak baie kalm en baie helder aan die twee liewe ou mense.
"Wel,” sê Uncle Arthur op sy besadigde, billike, effentjies hoogdrawende manier, "wel, as jy werklik voel dis die regte ding om te gaan, wil ons jou natuurlik nie verlof weier nie.” Emily is op stuk van sake nie meer ’n kind nie. Sy’s ’n vrou van vol veertig. "Maar,” sê Uncle Arthur, "ons twee - nê, Mary? - voel nie oortuig genoeg van die onderneming om jou materiële steun te verleen nie.”
Leonard is vol bedenkinge. Getrou aan sy aard, sit hy hulle puntsgewys vir haar op papier uiteen. Hy was sy lewe lank, mens kan nie juis sê vol ipekonders nie, maar tog, waarskynlik as gevolg van sy vader se voortdurende siektes, erg senuweeagtig oor sy gesondheid, en sy eerste beswaar is kenmerkend: Die siektes! Maagkoors daar in Suid-Afrika is glo verskriklik.
Dit kan Emily min skeel. "Daar is min in die lewe wat my trek, en in die dood nogal heelwat", sê die vrou wat pas nog weer deur baie diep waters van teleurstelling gegaan het. Die punt verval, Leonard.
"Dan", sê Leonard: "onthou, jy sal belaster en beskinder en verguis word deur jou eie mense hier in Engeland as jy die vyand gaan help."
"Daarvan", sê Emily lighartig, "het ek al klaar oorgenoeg ondervinding - bietjie meer sal nie sê nie." Die punt verval, Leonard.
"In die derde plek", sê Leonard, "dink jy nie jy’s oorhaastig nie? Dink jy nie jy moet eers nog ’n bietjie wag en kyk hoe sake ontwikkel nie ?"
Hierop is Emily se antwoord dat nood, hongersnood, lyding nie kan wag op die politiekgeskikte oomblik of wat ook al nie. Buitendien, almal uit Suid-Afrika wat sy raadpleeg sê : hoe gouer hoe beter.
Voor die einde van November 1900 skryf sy aan mev. Murray in Kaapstad: my woonstel is verhuur, ek kom ! "En wat ’n verligting is dit nie om eindelik op pad te wees na waar ’n mens se simpatie en meegevoel al so lank is nie!
By iemand in Londen neem sy haastig haar eerste paar lesse in "Boer Dutch”.
Op 7 Desember vertrek sy, tweedeklas, sodat sy soveel geld as moontlik vir die noodleniging in Suid-Afrika beskikbaar kan hê. Eersteklas met dieselfde boot reis sir Joshua Rowntree en lady Isabel Rowntree, want ook die Kwakers is ontsteld oor toestande in Suid-Afrika en wil ondersoek instel en noodleniging aanpak.
Dis ’n pragtige, pragtige stil someroggend as die S.S. Avondale op 27 Desember 1900 met dagbreek Tafelbaai binnestoom. Vyfuur daardie middag toe sit Emily op die Murrays se koel stoep in Kenilworth, ’n voorstad van Kaapstad, en doen twee dinge wat haar met ’n tinteling van opwinding laat voel sy’s regtig in Suid- Afrika : sy eet die heerlikste vye en appelkose, en sy speel met haar gasvrou se mak meerkatjie.
Die Boergesinde S.A. News het vooraf ’n berig ingehad dat sy kom, en Boerevriende aan die Kaap wag haar opgewonde in. Sy word verwelkom deur die Sauers van Uitkyk, by Stellenbosch (mnr. J. W. Sauer, vader van die later sen. Paul Sauer, is die bekende Kaapse parlementariër); deur die Merrimans van Schoongezicht in dieselfde distrik (mnr. John X. Merriman sal nog Eerste Minister van die Kaap word); deur die dogters van die Kaap se eerste premier, sir John Molteno: Caroline, getroud met dr. Frederick Kennan Murray van Kenilworth, ’n gewese skeepsdokter wat een van die Kaap se bekendste en mees beminde geneeshere is, en Betty, ongetroud, met haar vriendin Alice Green, wat eers sterk. vir die Boere-saak voel. (Hul broer Percy, advokaat in Londen, is daar ook sterk Pro-Boer.) Daar’s die Harry Curreys, die Purcells van Bergvliet, Charlie de Villiers van die ou Kaapse huis Avignon in die Tuine, hoofregter en lady De Villiers.
Baie van hulle moet haar al daar in Engeland by die Courtneys aan huis ontmoet het. Hulle ken die vurig Boersgesinde kringe waaruit sy kom. Hulle weet van haar rol as ere-sekretaresse van die vroue-tak van die S.A.C.C. Hulle weet van die groot protesver- gadering teen die oorlog wat die vroue ses maande tevore onder Emily se aanvoering gehou het. Sy staan vir hulle as "the England we knew and believed in”.
Die Kaap is natuurlik die afgelope eeu lank al ’n Britse kolonie. Baie Afrikaners was fluks besig om te verengels, tot die moeilikheid daar in die Noorde tussen Engeland en die Boererepublieke begin het. Die verraderlike Jameson-inval, met medewete van die Engelse premier gedoen, is ’n verskriklike ontnugtering vir mense wat Engeland omtrent verafgood het as simbool van alle geregtigheid en beskawing. Selfs van die eenvoudige Boeremense sou herhaaldelik vir Emily sê: As ou Koningin Viktorie van al hierdie dinge weet, sal sy dit nooit toelaat nie!
Nou het die oorlog uitgebreek. Talle Kaapse mense het eie, naaste familie daar in die Republieke. Enkeles van die wat van daar af teruggekom het Kolonie toe, bring verhale van verskriklike ontberinge wat die hawelose vroue en kinders ly. Offisiere wat van die front in die Kaap aankom, vertel van hoe hulle persoonlik "soveel plase op ’n dag as moontlik” moes afbrand — eers net glo van mense wat daarvan verdink is dat hulle die "vyand” (hul eie mense, die Boere) met inligting en kos help, maar baie gou voor die voet alles afgebrand het.
En nou is daar ook sprake van "soort van tronk-kampe” wat in die Noorde gevorm word. Wat gebeur daar in die Onderveld ? Die onsekerheid is die verskriklikste.
Die Kaap is reeds ywerig besig met die organisasie van noodleniging. Die eerste wat onder hul aandag gekom het, was die toestand van die krygsgevangenes in die kamp op Groenpunt se meent.
Nege maande voordat Emily in Kaapstad aankom, het van die voorste Afrikaanse vroue, soos die statige, vername mev. Koopmans de Wet, die knap, moederlike maar kinderlose mev. Elizabeth Roos en ander predikantsvroue soos mev. ds. A. I. Steytler en mev. ds. B. P. J. Marchand, staatmakers soos mev. De Villiers (Avignon), mej. Sissy van Reenen en ander, al ’n dameskomitee, die Dames Comite, gevorm wat elke week in mev. Koopmans se stylvolle ou stadshuis in Strandstraat bymekaar kom om vir die saak te werk. Dis ’n komitee so lewenskragtig dat dit na die oorlog eenvoudig nie kon ontbind nie en die embrio was van ’n vroue-vereniging wat tot vandag toe een van Suid-Afrika se bruikbaarstes is: die A.C.V.V.
Daar is ook reeds ’n komitee bestaande uit Afrikaanse parlementslede, met die goeie mnr. G. P. Schultz van die firma Van de Sandt, De Villiers en Kie, as sekretaris. Die het al ’n trok klere en kos vir die oorlogslagoffers deurgekry Bloemfontein toe ... as hulle tog net meer helderheid kan kry oor wat die toestande daar werklik is.
Die koms van hierdie Engelse vrou uit invloedryke kringe, wat dalk verlof sal kry om self te gaan ondersoek instel, is ’n gebeurtenis waaroor die hele Boersgesinde Kaap dus opgewonde is.
Olive Schreiner, byvoorbeeld, het al uit Hanover, waar sy woon, aan Betty Molteno geskrywe: "If Miss Hobhouse came up she would be all right. The Jingoes would not dare to do anything to her. But I doubt much whether Milner will give her a pass.”
Dis die knoop. Of sy verlof sal kan kry om Noorde toe te gaan. Weier die Hoë Kommissaris haar dit, beteken dit die mislukking van haar hele sending - presies wat Courtney van die begin af gevrees het. Sy is amper te bang om te vra.
Dis snikwarm in die Kaap, hier in Desember, so warm dat Emily se hand so bewe van uitputting dat sy skaars aan Aunt Mary kan skrywe. Tog sit sy alles behalwe stil. Sy gaan uit na die Merrimans by Stellenbosch, sy gaan in die snikhitte uit na die altyd so warme Wellington om te gaan eet by ds. Andrew Murray-hulle. Sy dogter, Miss Murray, was hoof van die Huguenot Seminary op Bethlehem, maar sy is gedeporteer en het veertien dae in die Refugee Gamp by Pietermaritzburg deurgebring: sy kan eerstehands vertel. Eerstehands kan ook mej. Ellie Cronje vertel, genl. Cronje se dogter: hoe die Engelse soldate hul plaashuis in die Vrystaat geplunder het, hoe hulle uit hul huis geja en hoe dit voor hul oë afgebrand is. Die nag moes hulle slaap tussen huisraad wat inderhaas uit die vlamme gedra is. Die hele nag het die vonke oor hulle gewaai; twee keer moes hulle die brand by die stalle gaan keer . . . toe is hulle op ’n oop ossewa ’n dag lank in die brandson gery na Bloemfontein se kamp, maar waarskynlik omdat hulle ’n generaal se familie was, het hulle die keuse gekry of hulle Kaap toe wou kom.
Haar brief wat van hierdie ondervindinge vertel, het iemand na Engeland toe gestuur en John Morley het dit, tot skok van vele, in November 1900 al in die Londense Times gepubliseer.
Die waardige ou mev. Cronje sit by terwyl haar dogter Emily van die dinge vertel. Sy kan net Hollands praat, en Emily is groots dat sy darem al vir haar ’n paar woorde in haar eie taal kan sê. Vreemd sonder bitterheid is die mense, vind Emily. Ou mev. Cronje se eerste woorde aan haar is: hoe jammer tog van al die arme Engelse soldate wat ook al in hierdie verskriklike oorlog geval het.
Emily praat verder met mej. Neethling van Stellenbosch, oor haar suster Mynie, genl. J. B. M. Hertzog se vrou. Met haar ernstige siek baba van sewentien maande was sy by tye heeltemal waansinnig van kommer in die Port Elizabethse kamp. Na groot gesukkel het mej. Neethling toestemming van die owerhede gekry om die kleine Albert te gaan weghaal, maar hulle roei nog steeds om die arme Mynie uit te kry en huis toe te bring na haar ouerhuis op Stellenbosch. Die babatjie, vind Emily, is ’n patetiese ou skepseltjie wat aan’t huil gaan toe hy haar sien — maar sy wys hom ’n oranje blommetjie en op die ou end laat hy hom darem ’n soentjie gee.
Emily praat ook lank en dringend met mev. Roos van die Dames Comite. Een ding word vir haar glashelder duidelik : sy moet so gou as moontlik in die Noorde kom, sy moet self gaan ondersoek instel na die toestande.
Die week na haar aankoms aan die Kaap skraap sy al haar moed bymekaar en meld haar aan by die Goewerneurswoning, om sir Alfred Milner te spreek. Sy het by haar ’n bekendstellingsbrief van haar Aunt Mary, en nog een van haar neef Henry Hobhouse. Hulle ken Milner albei persoonlik.
Sir Alfred, moet sy nou verneem, is te besig, hy kan haar nie spreek nie, dis posdag.
Sir Alfred is inderdaad besig. Uit sy dagboek van daardie dag weet ons die nuus uit die Noorde was baie sleg vir Engeland: twee Boere-kolonne het deurgedring tot in Kaapland. Milner vrees ’n opstand in die Kolonie. Hy moet krygswet instel, hy moet. . . en hier is die vrou ook nog om sy ore.
Maar waaroor, vra sy sekretaris Walrond vir Emily, wou sy met Sy Eksellensie gepraat het?
Oor die toestand van die vroue en kinders daar in die Noorde, sê Emily.
O, hy glo nie Sy Eksellensie sal haar daaroor te woord staan nie, sê Ozzy Walrond met sy lewendige, nuuskierige ogies.
Tog doen die bekendstellingsbriewe blykbaar hul werk. Die onwaarskynlike gebeur. Emily ontvang ’n formele uitnodiging om in die Goewerneurswoning saam met Milner te kom eet.
As die dag aanbreek, klop Emily se hart in haar keel. Sê nou sy kan haar woord nie oortuigend genoeg doen nie? Sê nou sy verongeluk haar hele sending deur haar onbekwaamheid?
Sy ry alleen met die trein van Kenilworth af in Kaap toe. Sy’s so gespanne, sy wil nie eens ’n vriendin saam met haar neem nie; sy is so op haar senuwees, dit voel vir haar sy kan nie goed asem kry nie.
Die pos het gekom net voor sy uit die huis uit is. Daar was ’n brief met Kate Courtney se handskrif. Dit skeur sy nou in die trein met bewende hande oop. Laat ek lees, dink sy, miskien sal dit my regruk.
Soos iemand wat ineens ’n vertroostende arm om haar skouer sit, is die naskrif . . . in sy krom en bewerige ou blindemanskriffie het mnr. Leonard Courtney self onderaan sy vrou se brief bygevoeg: "I add only two words. Be calm, be prudent.”
Dis of sy sommer kalmer voel.
By die ete sit sy aan Sy Eksellensie se regterhand, as vernaamste gas, dus. Maar daar is nog sewe ander gaste en sy is die enigste vrou. Sy sit met ’n mond vol tande, te senuweeagtig om ’n woord te sê. Milner roer haar saak aan, maar sy kyk hom smekend aan : kan sy hom nie asseblief net na ete ’n oomblikkie persoonlik spreek nie ? Die Hoë Kommissaris frons. Hy het sy hande regtig meer as vol. Maar vir uiters ’n kwartier - goed dan.
Milner is ’n middeljarige man, van nature student en denker, en misplaas in die amp wat hy nou beklee. Hy was vroeër joernalis op die Pall Mall, daama het hy private sekretaris geword, toe onder-sekretaris van Finansies in Brits-Egipte, toe voorsitter van die Raad vir Binnelandse Inkomste in Brittanje, nou is hy goewerneur van die Kaapkolonie en die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika. Daar is mense wat hierdie oorlog noem "Milner’s War” : hy het dit hom as uitgesproke doel gestel om Afrikanerheerskappy in Suid-Afrika finaal die nek in te slaan, want anders, glo hy, is die Engelse, die land uit kort voor lank. As amptenaar is hy hooghartig en aanmatigend. Maar agter die amp sit ’n man met ’n belangstelling in die antropologie, die filosofie, die letterkunde: Emily vind hom, tot haar ruiterlike verbasing, uiters sjarmant.
Hulle gaan sit op die lae rusbank in die koel, ruim vertrek langs die eetsaal. Die groot vensters kyk uit op die groen grasperke en die ou eike van die Kompanjiestuin se Laan. Al Emily se senuweeagtigheid verdwyn. Sy sien voor haar Ellie Cronje se fyn, mooi gesig. En sy begin praat.
Sy praat oor hoe besorg die Engelse gewete is oor die gerugte van lyding van vroue en kinders wat die gevolg is van die oorlog in die Noorde. Sy vertel hoe ongerus die Kaapse Afrikaners is oor die lot van hul eie vlees en bloed in die Republieke. Sy beklemtoon hoeveel kwaad al die gerugte Engeland se goeie naam berokken.
Ja, wel, sê Milner, hy gee toe die plaasverbrandery is ’n fout "in gevalle waar dit nie bewys kan word dat die vroue met die vyand geheul het nie”. En hy het, met sy terugkeer van die Noorde nou onlangs, langs die pad ’n paar sulke oop trokke met vroue en kinders langs die spoorlyn sien staan en hy beken dit het hom getref as "nogal vreeslik”.
Dit is ’n ronde uur later, na Ozzy Walrond al vir die hoeveelste keer ingekyk het, dat Milner die onderhoud beëindig. Emily mag, wat hom betref, die oorlogstoneel besoek. Sy mag ’n trok of twee goed ter noodleniging saamneem. Ook mag sy ’n Hollandssprekende dame saamneem om haar as tolk te help - daardie mev. Roos miskien ? Moontlik selfs vir Ellie Cronje ook.
Maar, beklemtoon Milner, hy moet eers met lord Kitchener as opperbevelhebber van die Britse leër in verbinding kom. Alles hang nog van sy goedkeuring af.
Asof in ’n droom stap Emily in die Laan af. Die mure van ’n nog onmoontliker Jerigo het waarlikwaar weer geval! Nou net duim vashou dat lord Kitchener, die ou vrygesel en, soos die mense sê, vrouehater, ook verlof gee dat sy Noorde toe mag gaan.’n Angstige week gaan verby. Dan kom Kitchener se antwoord: Miss Hobhouse mag kom, ja, maar noord van Bloemfontein sal sy nie kan gaan nie. En sy mag geen Hollandssprekende vroue saambring nie. Daar is in Bloemfontein oorgenoeg wat haar sal kan help, laat weet hy bruusk. As sy geld saamgebring het, kan sy dit deurstuur na hom: hy sal dit laat uitdeel in die kampe. So ’n £ 1,000 of so sal goed gebruik kan word "vir ekstra geriewe”.
Vervolg...