Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons lewe word deur ons gedagtes ingekleur. Daarom is eerbare gedagtes die moeder van alle wysheid. ‘n Eerbare volksleier se karakter word soos kunstige borduurwerk stekie vir stekie al hoe mooier. Dit bring nie net sonskyn in sy eie lewe nie, maar ook in diè van sy volksgenote.
PRESIDENT M.T. STEYN (5)
Lees reeks by President M.T. Steyn
Johannes Meintjies
Die Oorlog is Verby
Die eerste nag op Krugersdorp kon Steyn nie slaap nie. Cornelis du Preez was by hom en kon ook nie slaap nie. Cornelis staan toe op en trek sy broek onder sy naghemp aan. Toe Steyn hom vra wat hy doen, se Cornelis dat hy sy broek aantrek. "Ag, ou seun,” sê Steyn toe, "trek myne tog ook vir my aan, asseblief.” Op kommando het hulle so gewoond geraak daaraan om met hul broeke aan te slaap in geval van ’n skielike aanval dat hulle daarsonder nie meer gemaklik was nie. So het hulle toe aan die slaap geraak.
Jack Brebner het vir Steyn kom vertel dat vrede gesluit is. Hy het sy kop na die muur gedraai. Buiten sy verdriet was daar ook ’n sterk verlange na sy vrou en kinders. Tibbie het niks van haar man se siekte geweet nie. Nadat daar so lank geen korrespondensie tussen hulle moontlik was nie, het Tibbie nou weer gereeld geskryf. Maar Steyn kon nie meer ’n pen hanteer nie. Tibbie was ook nie wel nie. Almal het gesorg dat sy nie van Steyn se siekte hoor nie, en genl. De Wet, vergesel deur sy gewese vyand, genl. Knox, het nie ’n woord daarvan gerep toe hy haar besoek het nie. Ook Ruiter het by sy terugkeer nie veel gesê nie. "Maar hoe gaan dit dan met die oubaas?” wou Tibbie weet. "Hy’s so ’n bietjie siek,” het Ruiter geantwoord. "Maar as ek so na die oumies kyk, dan lyk die oumies minstens twintig jaar ouer as hy.”
Tibbie het wel gehoor dat haar man oogmoeilikheid het, en dat hy nie te gesond is nie, maar van sy verlamming het sy niks geweet nie. "Al wat ek jou kan gee,” het sy op 2 Junie 1902 aan hom geskryf, "is my liefdevolle meegevoel, en dit is so min.” En op 4 Junie : "Aanstaande week hierdie tyd sal ons bymekaar wees. Ag, watter vreugde om te weet dat die lang en wrede skeiding nou sal eindig! ” Op ’n bitter koue dag, en nog steeds ongesteld, het Tibbie en die kinders per trein na Krugersdorp vertrek. Sy het haar man drie en twintig maande laas gesien. Op Kroonstad-stasie het genl. De Wet met haar kom gesels, en op Krugersdorp-stasie het 'n klomp mense hulle ingewag. Toe Tibbie op die perron afklim, was dit vir haar ’n groot teleurstelling toe Steyn nie tussen die wagtendes is nie. Toe hy ook nie op die stoep van dr. Van der Merwe se huis wag nie, wou Tibbie weet wat haar Theunis dan oorgekom het.
Dr. Van der Merwe het hul dadelik na die siekekamer geneem, en Tibbie en die kinders was verstom toe hulle die groot man daar sien lê. Steyn was volkome verlam en het ’n blou bril opgehad. Hy kon sy hand nie lig nie, en sy oë het geswem in die trane toe hy sy geliefdes aanskou. Tibbie het langs hom neergekniel en sy hand in hare geneem. "Ag, myTibbie,” sê Steyn toe ’n vreemde stem, "as jy drie en twintig maande van jou vrou geskei was en dan sommer twee van haar sien, is dit mos nie iets om oor jammer te wees nie! ” Hierdie grappie oor sy oogmoeilikheid het die spanning dadelik verlig. Mev. Van der Merwe en Cornelis du Preez, wat Steyn intussen verpleeg het, was albei daar en bereid om enigiets te doen, maar Tibbie wou haar man self verpleeg, al was sy nog baie swak.
In die dae wat gevolg het, en vir weke en maande daarna, het Tibbie al haar aandag aan haar geliefde eggenoot gewy. Hoewel verlam, was Steyn nog lewendig van gees. Deur gebruik te maak van die beste mediese kennis en deur die genade van God, het sy haar voorgeneem, sou sy hom weer op die been bring. Cornelis du Preez, wat jare lank die rol van verpleër sou speel, was haar regterhand. Briewe, adresse en besoekers het na die Van der Merwes se huis gestroom. Hulpeloos op sy bed het Steyn gelê en wonder of mense hom blameer omdat hulle die oorlog verloor het, al was hy ’n bittereinder. En of mense hom beskuldig dat die oorlog so lank aangehou het omdat hy so koppig was. Maar al die briewe en adresse het net van bewondering en waardering getuig. Hulde is aan hom gebring as die grootste lewende Afrikaner, ’n man wat altyd sy plig nagekom het, ’n man wat die naam Afrikaner ’n ere- titel gemaak het. Die vroue van Pretoria het mev. Piet Joubert gestuur om te sê dat hoewel daar ’n nasionale tragedie afgespeel het, daar tog nog nasionale trots was omdat daar ’n man soos M. T. Steyn onder die Afrikaners is.
Tibbie besluit toe om Steyn Europa toe te neem sodat hy die beste mediese behandeling kan kry. In die Vrystaat was die mense reeds besig om geld vir hierdie doel in te samel — nie dat daar veel geld in omloop was nie. Dr. Van der Merwe het nie geglo dat Steyn sou herstel nie, en was van mening dat hy enige dag kon sterf. Maar Tibbie het vas geglo in die hulp van die Almagtige. Passasies is op die Carisbrooke Castle bespreek en met die uiterste versigtigheid is die skynbaar sterwende president in die trein getel. So verlam was hy dat hy beswaarlik kon kou of sluk. Tibbie het self sy kos gekou, en met ’n bietjie hoendersop gemeng, kon hy dit darem afsluk.
Op Kroonstad en Bloemfontein het die mense saamgedrom om die president te groet, maar hy het feitlik bewusteloos in sy kompartement gelê. Arthur Fichardt het vir Tibbie ’n koevert gegee waarin daar ’n duisend pond was. Toe die trein by Kaalspruit verbyry, sit Tibbie by die venster en uitkyk. "Kan jy iets sien ?” hoor sy skielik haar man se fluisterstem. Sy was verheug om hom te hoor praat. "Ek kan die bome sien wat ons op Onzerust geplant het. Hulle het so groot geword.” Steyn glimlag. "Tibbie,” sê hy, "as ek sterf en jy ’n ander man vat en onder daardie bome met hom rondloop, kom spook ek by jou.” Sy lag toe heerlik, want solank hy nog ’n grappie kon maak, was daar hoop.
In Kaapstad is die Steyns se wa by Soutrivier van die trein gehaak en na die dokke gestoot. Die kelners van die skip het die president op ’n draagbaar aan boord gebring. Die middag het daar ’n menigte mense met blomme opgedaag om hulde aan Steyn te bring. Tibbie en Cornelis du Preez het gesorg dat net ’n paar uitgesoekte vriende met die president gesels en het honderde briewe en telegramme in ontvangs geneem. Op 16 Julie 1902 het die Carisbrooke Castle uit Tafelbaai vertrek met Suid-Afrika se ongekroonde koning, soos Steyn nou genoem is, aan boord. Hy was natuurlik nie meer president nie, maar almal het hom so genoem, selfs sy vrou, en die eretitel sou hy tot sy dood behou.
By Madeira het die Portugese aan Steyn hulde gebring, en in Nederland het duisende hom met eerbewyse oorlaai. Die verlamde president Steyn het simbool geword van die verpletterde Afrikanervolk - verpletter, maar tog geleidelik aan die herstel. Saam met hom het sy mense weer leer stap, en soos sy groot figuur weer orent sou staan, so sou sy mense saam met hom opstaan. Dit sou egter nie oornag plaasvind nie, maar met groot opoffering en geduld. Twee dokters het Steyn aan boord opgepas, Von Rennenkampf en Poutsma. Hulle was bang dat die president seesiek sou word en hom dood stik, want hy kon nie vomeer nie. Maar Steyn het nie seesiek geword nie en sy toestand het onveranderd gebly. Op die seereis het sy kinders hom baie plesier verskaf, en hy het graag op die dek na die lug en die water lê en kyk.
Op 1 Augustus het die skip by Southampton, Engeland, aangekom. Die matrose van die Hollandse skip Batavier III het hom op ’n draagbaar aan boord van hul skip gedra. Daar was weer baie vriende en belangstellendes, koerantmanne en hooggeplaastes, maar Steyn kon geen onderhoude toestaan nie. Hy is sonder versuim na Scheveningen in Holland gebring. Orals langs die kaai en op straat het skares die legendariese president Steyn aangegaap of toegejuig. Mense is nie by Steyn toegelaat nie en hy is met die respek behandel wat ’n baie vername man toekom. Die Hollanders het hom oorlaai met lelies, orgideë en rose.
Die beste man om Steyn te behandel, is prof. dr. C. Winkler van die Universiteit van Amsterdam, is daar besluit. Hy het sy vakansie onderbreek om Steyn dadelik te ondersoek, iets wat hy seker vir geen koning sou gedoen het nie. Sy bevinding was gunstig. As daar met die uiterste geduld en versigtigheid te werk gegaan word, het die beroemde professor verklaar, sou president Steyn wel kon herstel. Tibbie was met vreugde vervul en het vaster as ooit geglo dat God haar sou help om president Steyn aan Suid-Afrika terug te besorg. Hoewel nog verlam, was daar niks met Steyn se brein verkeerd nie. "Op politieke gebied,” het hy korrek voorspel, "sal ons herwin wat ons op die oomblik verloor het.”
Weens sy verlamming het Steyn se voorkoms heelwat verander. Sy mooi bruin oe het toegeswel en sy gesigspiere het verslap. Cornelis du Preez het hom steeds versorg en Tibbie was ook gedurig by om met eindelose geduld enigiets vir hom te doen wat moontlik kon meehelp om hom weer tot die lewe terug te bring. "Nou het ek jou vlerke geknip,” het Steyn haar geterg. "Nou sal jy nie daardie tweede man kan vat nie.” Met trane van blydskap het sy hom op die voorkop gesoen.
Dit was nodig dat president Steyn lank in Europa bly om gedurig onder mediese toesig te wees. Vir hom was dit ’n interessante tyd. Hy moes nie slegs van voor af leer hoe om sy ledemate te gebruik nie, maar hy het ook gedurig van verblyfplek verander en gedurig interessante mense ontmoet. Europa het hom soos ’n staatshoof vereer, en hy het geweldig baie briewe, adresse en eerbetonings ontvang, ook vanuit Engeland en Amerika. Een van sy gereelde besoekers was mej. Emily Hobhouse, die vrou wat so baie gedoen het om die lyding van die vroue en kinders in die konsentrasiekampe te versag. Sy het een van Tibbie se grootste vriendinne geword. Op 6 Augustus 1902 besoek pres. Paul Kruger hom.
Hulle het mekaar in September 1900 laas gesien, by Komatiepoort. Europa het vir Kruger ook as ’n vors in ballingskap vereer. Gedurende die oorlog was feitlik die hele Europa aan die kant van die Boere, en dit was daarom dat Kruger en Steyn so hoog geeer is. Paul Kruger was al byna tagtig jaar oud, maar sy gesondheid het baie verbeter. Dit was gevolglik vir Kruger ’n groot skok om Steyn in so ’n toestand te sien. Hy het lank langs Steyn se bed gesit en toe na Tibbie gegaan. "My kind,” het hy in sy diep basstem gesê, "jy moet hom baie mooi oppas. Suid-Afrika het hom nog baie nodig. As hy die dag weer kan loop, sal ek van vreugde spring - net so hoog." En hy wys so ’n paar voet van die vloer af.
Ander belangrike besoekers was 'The Glorious Trio’, soos die Engelse hulle genoem het: genls. Louis Botha, Koos de la Rey en Christiaan de Wet. Hierdie drie beroemde generaals uit die Tweede Vryheidsoorlog was in Europa om fondse in te samel vir hul mense wat deur die oorlog verarm is. Hulle wou ook dat die Vereeniging-ooreenkoms gewysig word. Steyn het van die begin af gesê dat drie miljoen pond glad te min is om die eertydse republieke weer op die been te bring. Hierdie drie generaals was baie na aan Steyn se hart, veral Christiaan de Wet saam met wie hy so baie deurgemaak het. Tussen hulle sou daar altyd ’n besondere band wees, en Steyn was iemand vir wie De Wet ’n grenslose bewondering gehad het.
Aangesien dr. Winkler nie altyd byderhand kon wees nie, het verskeie medici vir Steyn volgens Winkler se voorskrifte behandel. Een van hulle wou Steyn se baard afskeer sodat hy sy keel makliker kon masseer, maar daarvan wou Tibbie nie hoor nie. "Ek kan my man nog skaars herken,” het sy gesê, "en as sy baard nou afgeskeer moet word." Maar die baard sou nooit afgeskeer word nie. Eers moes Steyn net stil lê in ’n donker kamer. Daarna is hy gemasseer en geleer om elke ledemaat weer te gebruik. Tibbie het toestemming gekry om vir hom voor te lees. Wanneer sy begin lees van al die mooi dinge wat die Europese koerante van hom sê, wou hy dit nie hoor nie. "Ek het maar net my plig gedoen,” het hy gesê. Dan lees Tibbie maar iets anders.
Die Europese winter was ophande en die Steyns is aangeraai om Switserland toe te gaan. Danksy die skenkings van welwillende mense (soos die duisend pond van bewonderaars in die Verenigde Koninkryk) het Tibbie nie juis finansiële probleme gehad nie. In Switserland is Steyn geleer om te sit en om sy vingers, arms en bene te beweeg. Hy is gereeld gemasseer en het ook elektriese behandeling ontvang. Uit sy rystoel het Steyn die lieflike Switserse Iandskap bewonder: die wit bergpieke, die mere, die groen gras en die Woude. Hy het ook die Siementhaler-beeste bewonder en gese dat hy hulle graag op Onzerust sou wou teel. Soos die weer kouer geword het, is die Steyns na Beiere, en daarna na Suid-Frankryk.
Dr. Winkler was in sy skik met die goeie vordering van sy pasiënt. Steyn kon weer loop, al was dit baie stadig. Hy kon ook self op ’n stoel gaan sit. Nadat hy so lank in donker kamers toegekluister was, was dit vir hom ’n genot om saam met Tibbie te kon rondry. Die inwoners van die verskillende lande waar die Steyns gebly het, het hulle met blomme en geskenke oorlaai. Soos hul rytuig verbygegaan het, het die mans eerbiedig hul hoede afgehaal. Ook in Duitsland was daar geesdriftige ontvangste en Steyn was nou soveel beter dat hy kort toesprakies kon lewer. Hy sou nooit volkome herstel nie, veral wat die gebruik van sy hande betref, maar vir iemand wat so na aan die dood was, was sy terugkeer na die alledaagse lewe ’n wonderwerk.
Die twee belangrike Boereleiers in Suid-Afrika was nou genls. Louis Botha en Jan Smuts. Hulle was besig om selfregering vir die eertydse republiek te probeer verkry. Steyn het al die ontwikkelinge met intense belangstelling gevolg. Aangesien hy besig was om mooi aan te sterk, wou hy graag na Suid-Afrika terugkeer. Winkler het egter voorgestel dat hulle eers op ’n uitgebreide reis gaan. Van Den Haag is die Steyns na Swede, en toe na Noorweë en Lapland, en van daar na Freiburg, Brussel en Parys. Die Franse het Steyn op die hande gedra en vir hom eremedaljes laat slaan. Kunstenaars was gretig om die president te skilder en baie portrette en beelde van Steyn is gemaak, hoewel hy nie in staat was om vir hulle te poseer nie.
Die Steyns het op ’n Duitse skip, die Krönprinz, na Suid-Afrika teruggekeer. Voor hul vertrek het skares hom in die strate van Antwerpen toegejuig, "Lank lewe die president! ” Hul kajuit was vol blomme en hulle is soos vorste behandel. Ook aan boord was genl. Louis Botha se beeldskone dogter, Helen, en ’n jong man wat nog ’n groot rol in Suid-Afrika sou speel, dr. D. F. Malan. Hy het dikwels saam met Cornelis du Preez skaak gespeel. Dan was daar ook Emily Hobhouse. Sy was van plan om weef- en spinskole vir vroue en meisies in Suid-Afrika te stig. Gedurende die lang seereis het Steyn oor baie dinge nagedink. Hy het aanvanklik gevrees mense sou hom blameer vir die wyse waarop die oorlog beëindig is, maar nou kon hy alles in perspektief sien. Hy het alles in sy vermoë gedoen om die republiek se onafhanklikheid te behou. Nou sou hy sy rol agter die skerms voortsit. Hy sou veg vir geregtigheid, waak dat die Afrikaner nie sy identiteit verloor nie, en toesien dat reg aan sy taal en kultuur geskied. Republikeinse staatsfondse wat in Europa gedeponeer was, het Steyn van die hand gewys. "Ek sal eerder op mieliepap lewe as om dit te aanvaar,” het hy gesê. "Gee dit vir die minderbevoorregtes, die wese en weduwees.” Verder het Steyn nagedink oor Paul Kruger, sy dood en die verskeping van sy lyk na Suid-Afrika vir ’n staatsbegrafnis.
In Kaapstad is daar ’n groot ontvangs vir die Steyns gereel, maar Steyn het dit laat kanselleer. Hy het wel ’n klompie ou vriende ontvang. Steyn het nog baie bitter gevoel teenoor sy eertydse vyande. Louis Botha was besig om die volk te vra om te vergewe en te vergeet, maar dit was moeilik vir Steyn om te vergewe of te vergeet. Hy was altyd volkome eerlik en het geen geduld met twyfelagtige mense gehad nie. Hy was dus veral bitter ten opsigte van die talle Afrikaners wat verraaiers, hensoppers en hanskakies was. Mense wat egter geregtigheid nagestreef het, hetsy Afrikaans- of Engelssprekend, was na aan die president se hart. Nadat hulle nege dae in Kaapstad vertoef het, het die Steyns na die Vrystaat vertrek. Hulle kon nie wag om op Onzerust, hul stukkie Vrystaatse veld, te kom nie.
Sy tuiskoms het president Steyn opgewonde sowel as bedruk gemaak. Sy teenstrydige gevoelens het egter verdwyn toe ’n skare getroue vriende hulle op Norvalspont en nog verder noord, op Kaalspruit, inwag. Die mense het aangevoel hoe dit vir Steyn moes wees om terug te kom. By die aanblik van al sy getroue ou vriende en strydmakkers - genls. De Wet en Hertzog, Jack Brebner, George Brand, Gordon Fraser, Charles Fichardt, Alec McHardy, Rocco de Villiers en baie ander - het trane van blydskap oor sy wange geloop. "Toe ons die walle van die Oranjerivier sien,” het hy later gesê, "en al die getroue vriende wat daar op ons wag, het ’n groot las van my skouers gerol. Dan is daar darem nog plek vir my in die harte van so baie Afrikaners ...”
Daar was baie plek. Vir die Vrystaters was Steyn nog hul president, en met die heengaan van Paul Kruger was Steyn nou die ongekroonde koning van die Afrikaners. Met die staatsbegrafnis van pres. Kruger het ’n nasionale bewussyn weer ontwaak. Steyn self was onbewus in watter mate hy die verpersoonliking van die heldetyd van die Boerevolk geword het. Wanneer mense na sy groot gestalte gekyk het, die yslike baard, die gesig met die slap ooglede, het hulle gemoed vol geskiet. Hier was ’n seun van die veld, ’n man wat nog altyd vir die regte van sy volk geveg het, wat altyd bereid was om hom vir sy volk op te offer en wat saam met sy volk ’n bittere beker geledig het. Toe die Steyns in hul rytuig na Onzerust vertrek, het sy mense hom agternagekyk. En daardie aand, in baie huise, langs kers en lamp, is vermoeide hande saamgevou terwyl God gedank is vir die tuiskoms van hul eie president Marthinus Theunis Steyn.
Vervolg...