Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geloof is nie die gevolg of die rede vir die uitverkiesing nie, maar die BEWYS daarvan dat ons weet God het ons uitverkies tot die ewige lewe.
PRESIDENT M.T. STEYN (6)
Lees reeks by President M.T. Steyn
Johannes Meintjies
Onzerust
"Daar het dus twee kampe ontstaan: die Steyn-Hertzog- groep en die Botha-Smuts-groep. Die gevoel tussen hulle kon dalk verdwyn het, maar groot dinge was in die buitewêreld aan die broei. Tussen Engeland en Duitsland het daar ’n oorlog gedreig wat op ’n wêreldoorlog sou uitloop."
Onzerust was reeds sedert 1897 Steyn se toevlugsoord. Hy en Tibbie het altyd die plaas se naam as een woord geskryf. In hul afwesigheid is die huis deur vriende vergroot en verbeter. Aangesien die Steyns nie gedurende die oorlog daar gebly het nie, het die Engelse die plek in vrede gelaat. Dit was een van die min Vrystaatse plase wat nie verwoes is nie. Al teleurstelling was dat ’n sterk fontein opgedroog het. Op Steyn se versoek is armblankes gebruik vir die werk aan die huis. Vir Tibbie was dit ’n vreugde om weer ’n eie huis te hê.
Steyn se geliefkoosde vertrek was sy studeerkamer. Aan die mure het hy portrette van die lede van sy gesin en van sy vriende en kollegas gehang.
Daar was ook geskiedkundige tonele asook ’n portret van sy getroue Ruiter, wat nou weer op Onzerust was. Cornelis du Preez was ook op Onzerust, want hy het ’n handige masseur geword. Daar was ook ’n Hollandse tuinier en swartes wat vroeër vir die Steyns gewerk het. Die boerdery het altyd Steyn se belangstelling gewek, en hy was nou vasbeslote om Onzerust in ’n modelplaas te omskep. Daar was ’n kwaai droogte en hy het dadelik begin om ’n groot dam te bou.Op die verwoeste plase is selfs die bome vemietig, maar op Onzerust was die bome pragtig. Dit was meesal wilde olyf, maar daar was ook ander soorte wat Steyn self geplant het. Aan die oostekant van die tuin was daar ’n groot kareeboom waar Steyn graag gaan sit het. Daar in die skadu het hy en sy vriende dikwels sake van die dag bespreek. Hulle het dikwels onder ’n baie ou olyfboom gesit. Hierdie boom het beroemd geword as die "boom van sameswering”. ’n Bankie is daaronder gebou en die volgende tien jaar is alle politieke ontwikkeling in die land onder dié boom bespreek.
Steyn se geldelike posisie was nie baie goed nie. Gedurende die oorlog het hy sy salaris as staatspresident van die hand gewys, 0mdat hy nie wou hê mense moes sê dat hy die stryd ter wille van ’n salaris voortsit nie. Sedert Maart 1900 het hy dus geen inkomste gehad nie, en al sy kapitaal is gedurende sy siekte opgebruik.
Dr Winkler, aan wie sy herstel te danke was, het egter niks vir sy dienste gevra nie. Die Vrystaters het hom nog as hul president beskou en ’n Steyn-fonds is in die lewe geroep. Steyn wou nie graag van genadebrood lewe nie, maar hy was nie in ’n posisie om te weier nie. Mense wat nie geld kon bydra nie, het vir Steyn skape, beeste en perde gestuur. Met die toekenning van selfregering aan die Vrystaat het Steyn ’n pensioen gekry. Hy was dus nie ryk nie maar hy het genoeg gehad om van te lewe en al sy kinders het ’n uitstekende opvoeding gekry.
Die plaaslewe was vir Steyn ’n genot. Hoewel hy nie self kon boer nie, het hy alles vanaf sy studeerkamer en stoep bestuur. Hy was vooruitstrewend, wetenskaplik en geesdriftig. Hy het opreg belang gestel in almal wat vir hom gewerk het, blank en nie-blank.
Steyn kon nou weer ’n pen hanteer, maar slegs as hy albei hande gebruik. Hy het dus verkies om te dikteer. Hy het ’n groot deel van sy lewensgeskiedenis so laat neerskryf. Sy hande het swak gebly, en spesiale knoppe is aan die deure gesit sodat hy dit kon oop- en toemaak. Wanneer hy iemand wou roep, het Steyn op ’n fluitjie geblaas. Tibbie het dikwels by hom op die stoep gesit. Wanneer dit baie warm was, het sy hom koel gewaai. Die kinders was aan die groot word en hulle het hom baie plesier verskaf. Daar was tennisbane en croquet-bane op die plaas en daar het die kinders en gaste aangenaam verkeer. Steyn het dit geniet om hulle dop te hou. Hy het darem nog een keer met Cornelis du Preez se hulp op sy ou perd Scot geklim en ’n entjie gery. Dit was egter die laaste keer, want die getroue Scot, wat al baie oud was, het siek geword en moes geskiet word.
Hierdie lewe sou idillies gewees het as Steyn net buite die politieke woelinge in die land kon bly. Maar hy was ’n te belangrike persoon om op die agtergrond te bly. Tibbie het probeer keer dat haar man te veel by die woelinge betrek word, maar kon nie volkome slaag nie. Die tweedrag tussen die twee volksleiers, genl. Louis Botha en genl. Barry Hertzog, was besig om toe te neem en albei het hulle na Steyn gewend vir raad. Een van die eerste take wat Steyn hom na sy terugkeer gestel het, was die oprigting van ’n monument vir die vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe omgekom het. Hy het hom ook beywer vir Christelike Nasionale Opvoeding en die rehabilitasie van die menigte armblankes wat daar ná die oorlog in die land was.
Toe Steyn vir die eerste keer sedert sy terugkeer uit Europa ’n byeenkoms in Pretoria bywoon, het genl. Louis Botha hom met ’n heildronk as "Suid-Afrika se grootste seun” geloof. Botha het ’n verenigde Suid-Afrika sy lewensideaal gemaak. Hy wou dus dat al die droefheid van die verlede vergeet word en dat alle blankes, ongeag van watter herkoms hulle ook al is, as Suid-Afrikaners moes saamstaan. Steyn het ook ’n verenigde Suid-Afrika voorgestaan. Hy was nog altyd ten gunste van ’n federasie of unifikasie van die Suid-Afrikaanse state, kolonies en protektorate, maar die Afrikaners moes eers tot hul reg kom. Vir Steyn was die oorlog nog nie oor nie, en vir hom sou dit voortduur totdat volkome onafhanklikheid verkry is. Terwyl Louis Botha besig was om te vergewe en te vergeet, was Steyn nog steeds ’n bittereinder. Die Afrikaners moes hulself eers weer vind en handhaaf, het hy geglo, voordat hulle Suid-Afrikaners word.
"Ek is maar net ’n waterdraer van die volk,” het Steyn dikwels gesê. Hy het geweldig baie briewe ontvang waarin hy genooi is om toesprake te hou, hoekstene te lê of onthullings waar te neem.
Hoewel hy altyd gretig was om sy volk te dien, kon hy baie min van hierdie uitnodigings aanvaar. Die waardigheid van die Afrikaner, sy taal en kultuur, het vir Steyn van die grootste belang geword, en hy het hom begin beywer vir die amptelike erkenning van Afrikaans. Lord Milner se na-oorlogse administrasie was nie heeltemal sonder verdienste nie, maar het op ’n mislukking uitgeloop, veral toe daar begin is om Chinese as mynwerkers in te voer. Danksy Steyn het sy program vir verengelsing ook gefaal.
Louis Botha en sy ondersteuners het in Transvaal ’n politieke party, Het Volk, gestig. In die Vrystaat is ’n soortgelyke party, die Orangia-Unie, deur genls. Hertzog en De Wet en Abraham Fischer gestig. In 1905 het Brittanje se nuwe Liberale Regering selfregering aan die Transvaal toegeken, met genl. Louis Botha as eerste minister. Twee jaar later, in 1907, het die Vrystaat ook selfregering gekry, met Abraham Fischer as eerste minister. Botha se regterhand was die briljante genl. Jan Smuts.
Die invloedrykste man in die Vrystaat was nie Fischer nie, maar genl. Hertzog. Steyn was met hul almal bevriend, maar wanneer daar ’n storm begin broei het, het hy sy steun aan die Vrystaters gegee. Die Kaaplandse politieke party, die Afrikanerbond, het in 1908 met Botha se Het Volk saamgesmelt en die Suid-Afrikaanse Party geword. Na Hertzog se breuk met Botha het Hertzog die Nasionale Party gestig.
Dit is jammer dat al hierdie groot manne nie kon saamwerk nie, want hulle was almal besiel met vaderlandsliefde en groot ideale. Soos hul persoonlikhede begin bots het, het hul politieke oortuiginge ook al hoe meer verskil. As vader van die volk bevind Steyn hom toe weer in sy ou en bekende rol as bemiddelaar en raadgewer. Dit was asof hy terug was in die dae van die botsing tussen Milner en Kruger. Steyn se dokters het hom aangeraai om niks met die politiek te doen te hê nie. Hy het probeer, maar dit was moeilik om neutraal te bly, veral omdat genl. Hertzog hom in al sy ideale begin steun het. Genl. Botha wou een onverdeelde Suid-Afrikaanse volk hê, terwyl die Steyn-Hertzog-groep ’n volk wou hê waarin Afrikaans- en Engelssprekendes dieselfde regte sou hê, elkeen met sy eie identiteit en waardigheid.
Steyn het alle uitnodigings na politieke vergaderings van die hand gewys, maar kon nie weier om politici te ontvang wat hom wou spreek nie. Almal het nou om raad kom vra, selfs diegene wat met hom verskil het. Steyn was soos altyd volkome reguit en eerlik, en almal het geweet wat sy standpunt is.
Daar was nou gedurig sprake van unifikasie. Dit het almal se verbeelding aangegryp, ook die van Steyn. Terwyl die reëlings vir ’n nasionale konvensie getref is, het Steyn voortgegaan om fondse vir die Vrouemonument in te samel. Hy het hom ook beywer vir volkseenheid, vir die armblankes, vir die onderwys, vir ’n hoër beskawingspeil, vir ware Christelikheid. Hy was vol moed. "Onse mense sal lewe, die volk sal voortbestaan,” het hy gesê. Maar hy wou lid wees van ’n eerbare volk, ’n waardige volk, met geregtigheid teenoor almal. Ook aan die nie-blankes het hy gedink.
"Die hoeksteen van die Kerk moet die liefde wees,” het Steyn op Bethlehem gesê. "In alle menslike verhoudinge moet daar liefde en verdraagsaamheid wees.” Hy het ook dikwels verwys na euwels soos laksheid en goddeloosheid. Die redding van die volk lê in intelligensie en bekwaamheid en in liefde teenoor die naaste. Baie mense het geglo dat God Steyn gespaar het om sy mense in die moeilike na-oorlogse jare te lei. Die rol wat hy in die tien jaar voor sy dood vervul het, wil dit so laat voorkom. Steyn was nou die wyse en waardige patriarg. Maar die humor was nog daar, en erns het dikwels in lighartigheid oorgeslaan. Dit het die mense se liefde vir hom net verdiep. "As ek net met die president kan praat,” het baie mense gedurig gesê, "dan sal alles regkom.”
Op Onzerust het Steyn sy besoekers in sy studeerkamer ontvang. Dit was ’n groot vertrek en heerlik koel in die somer. Steyn het gewoonlik in ’n groot stoel naby die stoepdeur gesit, en het swaar opgestaan om sy besoekers te verwelkom. Hulle het in stoele om hom gaan sit, en lig het koesterend op sy kaal kop en glinsterende baard geval. Aan die linkerkant, teen die muur, was daar ’n bank waarop Steyn voor en na middagete gerus of soms lê en peins het. Voor die venster was daar ’n groot stootstoel waarin Steyn soms sit en lees het. Hy was baie geheg aan sy boeke. Wanneer dit hom vermoei het om self te lees, het Tibbie of die dogters vir hom voorgelees. Hy was lief vir lewensbeskrywings, boeke oor die geskiedenis en reisverhale. Hy het ook die Afrikaanse boeke wat nou begin verskyn het met belangstelling gelees. Die moontlikheid van Afrikaans as taal het hom met verwondering vervul.
Dit was wel baie vreedsaam in daardie kamer, maar Steyn was in noue voeling met alles wat in Suid-Afrika gebeur het. Veral twee dinge het gedurig sy gedagtes besig gehou: die Vrouemonument en die unifikasie van Suid-Afrika. Genl. Botha was bang dat Steyn se planne vir die Vrouemonument net weer ou wonde sou oopkrap en dat dit sy beleid van versoening in die wiele sou ry. Maar Steyn is nie afgeskrik nie. Die monument sou opgerig word uit liefde, en nie uit haat nie. In 1908 het die Nasionale Konvensie in Durban byeengekom en Steyn het Onzerust verlaat om dit by te woon. Vooraanstaande Suid-Afrikaners het op sy teenwoordigheid aangedring en hy is ook tot ondervoorsitter verkies.
Steyn het ’n sterk indruk gemaak, ook op die Engelssprekendes. Dr. Jameson het ook die Konvensie bygewoon. Die Konvensie het later ook in Kaapstad en op Bloemfontein byeengekom. Daar was ’n groot aantal probleme wat opgelos moes word. Die een kolonie was bang dat hy deur ’n ander oorheers sou word. Toe alles bevredigend opgelos is, is daar besluit om ’n afvaardiging na Londen te stuur. Die Unie van Suid-Afrika was nou ’n voldonge feit, en almal het gewonder wie die Eerste Minister sou wees. Vier persone het in aanmerking gekom : M. T. Steyn, Louis Botha, Jan Hofmeyr en John X. Merriman.
Steyn was opgewonde oor die vooruitsig om saam met die afvaardiging oorsee te gaan. Hoewel sieklik, was hy nie sterwend nie. So baie mense het daarop aangedring dat hy Eerste Premier van die Unie moes word, dat hy besluit het om die beslissing aan dr. Winkler oor te laat. Die oorsese besoek was vir Steyn ’n ware genot, maar hy is bedroef deur die skielike dood van Jan Hofmeyr in ’n Londense hotel. Winkler was verbaas oor Steyn se vordering, maar het hom ten sterkste afgeraai om hom in die politieke lewe te begewe. Steyn was dit te wagte en het dadelik aangekondig dat hy nie vir die premierskap beskikbaar is nie. Eintlik was hy dankbaar dat hy sy rol as waterdraer kon voortsit. Die keuse het toe tussen Merriman en Botha gelê en die uitslag het niemand verbaas nie. Botha is verkies tot Eerste Minister van die Unie van Suid- Afrika, met "Groote Schuur”, die huis van Cecil Rhodes in Kaapstad, as sy ampswoning.
Merriman was bitter teleurgesteld en het op sy reguit manier sy misnoeë uitgespreek. Steyn en Hertzog was ook jammer, want hulle het Merriman bewonder en hom as die meer ervare man beskou. Hul vriendskap met Louis Botha het ook in die laaste jare afgekoel. Steyn het Botha nooit gehaat nie, maar Hertzog kon hom nie verdra nie. Daar het dus twee kampe ontstaan: die Steyn-Hertzog- groep en die Botha-Smuts-groep. Die gevoel tussen hulle kon dalk verdwyn het, maar groot dinge was in die buitewêreld aan die broei. Tussen Engeland en Duitsland het daar ’n oorlog gedreig wat op ’n wêreldoorlog sou uitloop.
Terug op Onzerust het Steyn besef watter ernstige gevare ’n wêreldoorlog vir Suid-Afrika sou inhou. Maar hy het homself tot swye gedwing, iets wat Hertzog nie gedoen het nie. Die wrywing tussen Hertzog en Botha sou tot ’n openlike botsing lei wat Steyn baie verdriet sou veroorsaak. Van 1905 tot 1910 het sy liggaamlike toestand nie veel verander nie, maar na die unifikasie van Suid- Afrika het Steyn se gesondheid weer begin agteruitgaan. ’n Mens kan dit gedeeltelik toeskryf aan sy kommer oor die spanning in die land, oor die beleidsverskille tussen Hertzog en Botha en oor Engeland se versoek aan Botha dat hy Duits-Suidwes-Afrika aanval en inneem in geval van oorlog. Louis Botha was ’n Transvaler, en baie Vrystaters het nog gevoel dat Transvaal hulle in die Vryheids-oorlog ingesleep het en ’n vernederende vrede aan hulle opgedwing het. As leier van die Transvalers het genl. Botha dus agterdog in die Vrystaat gewek, en hierdie agterdog is verskerp deur sy meningsverskille met genl. Hertzog.
Steyn het sy bes gedoen om Botha en Hertzog met mekaar te versoen. Indien so ’n versoening onmoontlik was, het hy gereken, moes hulle liewers vir iemand anders opsystaan. Die vraag was egter vir wie? Intussen het Steyn voortgegaan om hom vir die Vrouemonument te beywer. Hy het so baie tot die totstandkoming daarvan bygedra dat dit as’t ware ook sy monument geword het. Dit sou dan ook ’n simbool van die kulturele ontwaking van die Afrikaner word. Almal het bygedra, tot die armstes, en uiteindelik was die monument gereed. Die pragtige beeldhouwerk is deur Anton van Wouw gedoen. Die onthulling was ’n groot en plegtige geleentheid. Dit was ook een van die laaste geleenthede waarby die helde van die Afrikanervolk almal byeen was. Emily Hobhouse is genooi om die onthulling waar te neem, maar sy was ongesteld. Die onthulling is toe deur Tibbie Steyn waargeneem.
Daar was meer as twintigduisend mense teenwoordig, onder andere genls. Botha, De Wet en De la Rey. Kanonskote is afgevuur en in die optog was perderuiters en meisies in wit geklee. Toe Tibbie die bronsfigure aan die voet van die naald onthul, is wit duiwe losgelaat. Dit was ’n plegtige seremonie. Steyn was egter so swak dat hy nie sy toespraak self kon lewer nie. Rocco de Villiers het dit voorgelees. Steyn se arms het langs sy sye gehang, en sy oë was byna toe. Maar dit was sy dag, ’n dag wat hy moontlik gemaak het, ’n dag waarop Afrikaners weer hul hoof met trots gelig het. Die Engelse pers het ook simpatiek gereageer teenoor die onthulling. Die dood van 26,370 vroue en kinders in die konsentrasiekampe het Suid-Afrika inderdaad tot in sy siel verwond.
Dit was Steyn se doel dat die Vrouemonument die simbool van menslike lyding en opoffering moes wees. Dit was geensins sy oogmerk dat dit as ’n ewige verwyt vir die Engelse moes dien nie. Dat dit moontlik was om ’n dergelike monument slegs elf jaar na die oorlog op te rig, was uitsluitend aan president Steyn te danke. Deur die monument, wat die lyding van vroue en kinders vanweë oorlog versinnebeeld, het Steyn ’n groot en blywende boodskap van liefde teenoor jou medemens nagelaat. Dit was trouens sy leuse : liefde en eerbied van een mens tot ’n ander.
’n Groot ideaal is verwesenlik, en Steyn het weer die vrede van Onzerust opgesoek. Sy gesondheid het al verder verswak, en sy geneesheer, dr. Alfred Ramsbottom, het hom na die Wildernis geneem om aan die kus te herstel. Maar die stryd tussen genls. Botha en Hertzog het ’n hoogtepunt bereik. Hierdie krisis het Steyn so ontstel dat hy op aanbeveling van Ramsbottom na Onzerust teruggekeer het. Nadat Hertzog vir Botha in verskeie toesprake kwaai aangeval het, het Botha as premier bedank. Die Goewerneur-Generaal moes Botha vra om ’n nuwe kabinet saam te stel. Dit het hy gedoen met die weglating van Hertzog. Hertzog het daarop sy eie politieke party, die Nasionale Party, gestig.
Gedurende hierdie woelinge was Botha en Hertzog albei gedurig in aanraking met Steyn. Daar het ook so baie briewe en telegramme aangekom dat die dokters Tibbie aangeraai het om hulle nie meer vir Steyn te wys nie. Die verdeeldheid onder sy volk het hom diep geraak. Hy het die uitsluiting van Hertzog uit die kabinet as ’n onreg beskou. Na sy mening sou Botha en Hertzog die volk die beste kon dien deur saam onder ’n ander Eerste Minister te werk. Steyn se steun vir Hertzog het onvermydelik gelei tot ’n verwydering wat Botha betref. Die jaar 1914 het aangebreek, en ook wat Steyn al sedert 1905 verwag het: ’n oorlog tussen Engeland en Duitsland. Al was dit vreedsaam op Onzerust, kon Steyn klaar die kanonskote hoor en die verwoesting sien wat die oorlog sou meebring.
Vervolg...