Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom gaan jy kerktoe? Omdat jy dit as jou plig ag? Omdat dit ’n goeie gewoonte is? Ons lees dat Jesus die gewoonte gehad het om op die Sabbat na die sinagoge te gaan. Gaan jy dalk om vriende by die kerk te sien en self gesien te word soos die Fariseërs? Of gaan jy kerktoe omdat jy lief is vir jou kerkgenootskap? Hoeveel gaan Sondae kerktoe omdat hulle Jesus liefhet en ’n behoefte het om Hom te aanbid? Dis die enigste geldige rede vir kerkgang want daardeur sê jy: “Ek wil soos Jesus wees”.
GESKIEDENIS VAN DIE KRUGER- STANDBEELD (2)
Dr JH Breytenbach
Lees reeks by Geskiedenis vd Krugerstandbeeld
Van Wouw het weldra genoeg wenke oor sy voorgenome skepping van die Paul Krugerbeeld gekry.
Die Gesant van die Republiek, Jonkheer dr. G. J. T. Beelaerts van Blokland, 'n goeie kenner van die kuns, het algou beswaar geopper teen die keil op die President se kop omdat dit voortdurend 'n skaduwee oor Sy Hoog Edele se gelaat sou werp, die trekke waarvan dan nie so duidelik sigbaar sou wees nie ; dog op hierdie punt wou die kunstenaar onder geen omstandighede toegee nie. Die President kaalkop in die bloedige son van Afrika soos 'n wafferse hierjy —dit was vir Van Wouw nou eenmaal te erg! Immers was die Transvaalse Boere feitlik sonder uitsondering hoededraers; en die enigste wenk van die Gesant wat, sover bekend, by die kunstenaar in die smaak geval het, was om 'n passende teks op een van die vlakke van die voetstuk aan te bring en in hierdie verband kon die Gesant aan niks meer vanpas dink as die laaste twee verse van Psalm 91 nie, die inhoud wat as volg lui:
"Hij zal Mij aanroepen, en Ik zal hem verhooren ; in de benauwdheid zal Ik bij hem zijn ; lk zal er hem uittrekken, en zal hem verheerlijken. Ik zal hem met langheid der dagen verzadigen, en Ik zal hem mijn heil doen zien."
Dit het die skoonste lofspraak bevat en was volgens die oordeel van die Gesant van besondere toepassing op pres. Kruger - Kruger die Godsman wat in hierdie dae seker met die grootste onrus in sy gemoed aanskou het hoedat donker wolke dreigend oor die Republiek saampak en ongetwyfeld daagliks in die diepste erns tot God gebid het om verlossing uit die behoudheid ; want ná die mislukking van die Jameson-strooptog het Groot-Brittanje begin met sy lang reeks politieke aanslae op die onafhanklikheid van die Suid-Afrikaanse Republiek wat uiteindelik op die Tweede Vryheidsoorlog uitgeloop het, en met die ingang van die jaar 1897 was dit reeds vir almal duidelik waarheen Engeland mik : die goudryke bodem van Paul Kruger se Republiek !
Pres. Kruger wou egter van 'n lofspraak wat op homself van toepassing is, niks weet nie, al het dit ook uit die Bybel gekom. Dit was in stryd met sy lewensopvatting dat alle eer aan God gegee moes word en nie aan die mens nie. Hy het dus die wens uitgespreek dat in plaas van die voorgestelde teks die woorde van Psalm 105 verse 4 en 5 op die voetstuk uitgebeitel word:
"Vraagt naar den Heere en zijne sterkte ; zoekt zijn aangezicht geduriglyk. Gedenkt zijner wonderen, die Hij gedaan heeft, zijner wonderteekenen, en der oordeelen zijns monds."
Weens die omstandighede waaronder die monument later uiteindelik opgerig is, toe alles vir die Afrikaner maar donker gelyk het, is aan hierdie wens egter nooit uitvoering gegee nie en het daar op die voetstuk nooit 'n teks verskyn nie.
Op hierdie tydstip het Van Wouw hom egter nog geensins oor die voetstuk verknies nie. Alles wat op die voetstuk moes staan of daaraan geheg word, moes nog gemaak en gegiet word en sommer baie gou het die geesdriftige jong kunstenaar ondervind dat die vorming daarvan talle meer moeilikhede oplewer as wat hy ooit voorsien of vermoed het.
Toe hy moes begin met die modelleer van 'n tipiese Voortrekker wat brandwag staan, moes hy tot die ontdekking kom dat hy, helaas, inderdaad nie wis hoe so'n Voorttekker in volle mondering en wapenrusting eintlik gelyk het nie. 'n Boer ja, met 'n baard, 'n bandelier en 'n Martini Henrigeweer, dié kon hy maak, want van hulle het hy sedert sy vestiging in die Suid-Afrikaanse Republiek sovele gesien; maar om so'n persoon te modelleer in die klere en met die wapens wat hy vyftig jaar tevore gedra en wat hy, Van Wouw, nie geken het nie, dit was 'n ander saak. Foto's van hulle het nie bestaan nie—net so min as goeie, aanskoulike beskrywings —en Van Wouw se groot strewe was juis om dit wat hy skep, volstrek natuurgetrou te maak. Daar was dus net een uitweg: die Regering in Pretoria moes 'n volledige Voortrekkermondering, kompleet met kruithoring, sanna en bandelier aan hom stuur sodat hy dit kon bestudeer en daardie soort klere het helaas nie meer bestaan nie. Dit het die owerheid in Pretoria dan ook heelwat moeite gekos voordat 'n gedeelte van 'n Voortrekkerkostuum wat in die staatsmuseum in Pretoria berus het, volledig aangevul kon word vir versending aan Van Wouw deur ou mense wat in die distrik Rustenburg nog oor stukke Voortrekkerklere beskik het.
En die maak van die twee Voortrekkerbrandwagte was nie al wat moeilikheid gelewer het nie. Rondom die Krugerfiguur op die vier sykante van die voetstuk tussen die vier Boerebrandwagte moes, volgens Van Wouw se goedgekeurde model, vier bronspanele aangebring word wat vier uitstaande gebeurtenisse uit die lewe van die President sou voorstel.
Die eerste sou Kruger as tienjarige kind uitbeeld as deelgenoot aan die Groot Trek, toe hy nog skaapwagter was van sy vader, maar dié het die kunstenaar, klaarblyklik by gebrek aan gegewens en veral van goeie foto's, so onmoontlik gevind om te vervaardig dat hy opsluit toestemming gekry het om dit maar te laat vaar en te vervang deur 'n voorstelling van die vredesluiting in die huis van O'Neill te Laingsnek in 1881, waar, ná die glansryke oorwinning van die Boere by Amajuba, Paul Kruger as Vise-President van die Transvaalse Boere- die "rebelle " soos die Engelse hulle aanvanklik genoem en behandel het—aan die verteenwoordigers van Groot Brittanje die voorwaardes verduidelik waarop die burgers bereid was om die stryd te staak en huis toe te gaan, t.w. die herstel van die onafhanklikheid van die Republiek wat so onregverdiglik in 1877 deur sir Theophilus Shepstone in naam van die Britse Kroon en onder allerlei valse vootwendsels geannekseer is. Dit was die beste wat hy in sy strewe na natuurgetrouheid in sy skeppingswerk kort doen, want van Paul Kruger as kind het daar helaas geen foto of beskxywing bestaan the, en ewemin van die gebeurtenisse wat hy op die Trek meegemaak het.
Die tweede bronspaneel wat, volgens sy oorspronklike ontwerp, op die voetstuk aangebring moes word, het hom eweneens soveel hoofbrekens besorg dat hy aan die hand gedoen het om dit ook maar te laat vaar ; en as dit nie was vir die vasberadenheid van die Staatsekretaris wat daarop aangedring het dat daarmee deurgegaan moes word nie, dan sou dit ook seker nooit die lig gesien het nie. Hierdie paneel moes die koele onverskrokkenheid en volslae gebrek aan doodsvrees uitbeeld wat Paul Kruger op 29-jarige leeftyd as kommandant van Rustenburg in die oorlog teen Makapaan aan die dag gelê het toe hy, in die slag by Makapaansgrotte, tussen die verskanste en met gewere gewapende swartes ingespring het, alleen !
Dit het so gekom: Nadat Makapaan se hordes deur 211 burgermag onder bevel van kommandant-generaal Piet Potgieter uit die berge uitgedryf is, het hulle groot, diep kloof ingevlug en skuiling geneem in 'n aantal gate, grotte en rotssplete onder 'n krans wat die een kant van die kloof gevorm het. Voor hierdie grotte en gate het hulle hoë klipmure gepak met die gevolg dat hulle so deeglik verskans was dat die Boere hulle eenvoudig nie sonder groot lewensverlies sou kon bestorm nie en toe besluit het om hulle daar te beleër totdat genl. Honger hulle eendag sou dwing om uit te kom. Tydens hierdie beleg het die opperbevelhebber van die Boere, komdt.-genl. Potgieter, na die toneel gekom om alles te besigtig, en juis toe hy oor die krans loer om die verskansings van die swartes te sien, tref 'n vyandelike koeël uit een van die rotssplete hom met die gevolg dat hy na benede stort en binne-in een van die swartskanse val, half in die ingang van 'n grot vol swartes. Soos jy kon sê mes was Paul Kruger, wie se wakker oog dit dadelik gesien het, agterna, tussen die swartes in, wat dadelik 'n gewelddadige vuur op hom open. Die jong kommandant was egter rats soos 'n ribbok en toe die burgers, wat nou ook 'n swaar vuur op die grotte geopen het om die vyand in bedwang te probeer hou, weer hul oê uitvryf, verskyn die kommandant van Rustenburg weer teen die steil helling waar hy of is met die lyk van die swaargewonde Kommandant-generaal oor sy skouer, besig om dit na boontoe te bring sodat dit behoorlik begrawe kon word... Dat hy nie onmiddellik deur die swartes neergevel is nie kan slegs as 'n wonderwerk beskou word. Gelukkig is hy, ten gevolge van die felle geweervuur spoedig nadat hy die krans of was, deur 'n swaar kruitdamp bedek wat hom ongetwyfeld gehelp het om veilig uit te kom.
Hierdie was 'n stukkie onverskrokkenheid byna sonder weerga in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en as daar ooit 'n tafereel uit die lewe van Kruger was wat eenvoudig uitgebeeld moes word, dan was dit hierdie een ; maar helaas ! ook daarvan het geen foto of juiste beskrywing bestaan nie!
Vervolg...