Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Deesdae grens dit aan 'n wonderwerk as 'n mens bereid is om iets van homself aan iemand anders te gee. Romeine 13 leer ons dat ons niemands iets verskuldig mag wees behalwe om mekaar lief te hê nie – dit is juis hierdie liefde wat ons mekaar verskuldig is. Maar al wat ons hoef te doen sonder om onsself in te doen, is om na mekaar te luister, tyd saam deur te bring en mekaar te respekteer.
GESKIEDENIS VAN DIE KRUGER- STANDBEELD (4)
Dr JH Breytenbach
Lees reeks by Geskiedenis vd Krugerstandbeeld
Die begin van die omsetting van sy handewerk in brons - 'n allooi wat volgens ooreenkoms sou bestaan uit 92 persent koper en 8 persent tin—was vir die jong beeldhouer 'n aansporing en het hom met nuwe moed besiel vir die volvoering van die moeilikste deel van sy taak, t.w. die modellering van die twee Voortrekkerbrandwagte en die basreliefs. Hy het ondertussen die reeds vermelde Voortrekkermondering uit Pretoria ontvang en dit het nie lank geduur nie of in sy verbeelding het hy sy twee Voortrekkers sien sit, tipiese verteenwoordigers van 'n "dapper, geduldige, vlytige, ordelike en godsdienstige volk, die keur van die grensboere, die bebouers, verdedigers en belastingbetalers van die land "-soos die Engelse goewerneur, sir Benjamin D'Urban, hulle eertyds beskryf het —ware volksplanters en staatbouers !
Met lus, toewyding en liefde het hy aan hulle gemodelleer vir ruim agt maande lank, versigtig om elke ou besonderheidjie vervolmaak te kry, totdat hulle uiteindelik in gips voor hom gesit het presies soos hy hulle wou hê, gewapen met pangewere en kruithorings : die een, 'n kêrel met 'n vasberade gesig, kalm en rustig, met die linkerelmboog op die knie en die ken op die toegevoude hand geleun soos 'n man wat peins, maar tog wawyd wakker, gereed om by die minste verdagte beweging sy ou sanna, waarvan die loop op die grond en die kolf op sy regterbeen rus, met die regterhand, wat die roer nog nie gelos het nie, reg te ruk en die gevaar die hoof te bied. Die ander Voortrekker—'n kêrel met 'n arendsgesig, lang baard en 'n paar diep rimpels op die voorkop asof hy reeds veel ervaar het—is alles behalwe rustig. Regop gesete, met die geweer in albei hande vasgeklem asof hy sommer nou-nou moet vuur, rig hy sy arendsblik skerp op die horison, net asof hy onheil gewaar.
Daarmee - dit was vroeg in 1899—was die modelleerwerk aan die beeldegroep en inderdaad ook die giet van drie van die vyf stukke voltooi en kon Van Wouw sy aandag ten volle op die panele toespits—een waarvan hy tewens reeds voor die einde van 1898 klaar gehad het. Hoe lank die kunstenaar aan die ander drie gearbei het, is nie bekend nie. Uit die briewe waaroor ons beskik, blyk dat hy verwag het om alles, insluitende enige dekoratiewe ornamente waaronder 'n groot monogram K, teen Junie 1899 gereed te hê. Oor die giet daarvan sou hy natuurlik ook nog toesig moes hou en dit alles het hom so besig gehou dat hy eers omstreeks September-Oktober in Pretoria terug was, gereed om toesig oor die oprigting van die standbeeld te hou en daarmee die tweede gedeelte van sy kontrak met Marks na te kom.
EEN van die eerste dinge wat hom moes opgeval het toe hy na 'n afwesigheid van bykans drie jaar weer oor ou Kerkplein stap, was dat daar, midde tussen die Raadshuis en die nuwe Hooggeregshofgebou en net ten weste van die kerkgebou wat in die middel van die plein gestaan het, intussen reeds 'n voetstuk verrys het vir die ontvangs van die Krugerbeeld met sy vier brandwagte. Dat so 'n voetstuk opgerig sou word, het Van Wouw natuurlik geweet. Immers, uit die briefwisseling oor die Krugerstandbeeld in die Staatsargief te Pretoria, kom dit voor asof hy selfs deur Marks versoek is om uit 'n aantal eksemplare van Skotse graniet wat aan hom gestuur sou word, aan te wys wat die geskikste vir die voetstuk sou wees. In hoeverre hy egter verder met betrekking tot die voetstuk geraadpleeg is, is ons onbekend. Die oprigting, daarvan was in elk geval nie sy werk nie maar dié van Sammy Marks wat, gedurende die tyd wat Van Wouw in Europa besig met die beeldhouwerk was, geroer het dat dit klap om alles in Suid-Afrika vir die oprigting van die standbeelcl gereed te kry.
Met die oorspronklike wens van pres. Kruger dat die standbeeld in Burgerspark moes staan, waar dit vir die groot publiek as ware weggesteek sou wees, kon Marks hom nie vereenselwig nie. Sy standpunt was dat dit "in het centrum der stad. " waar " ieder bezoeker van onze hoofdstad direct het beeld in het oog krijgen zal," moes pryk, en die geskikste plek destyds, wat hy dan ook by die Regering van die Republiek aan die hand gedoen het, was "ten westen van het kerkgebouw op het kerkplein alhier en juist tusschen het Goevernementsgebouw en het Hooggerechtshof." Hiermee het die Uitvoerende Raad (waarvan pres. Kruger die voorsitter was) hulle vereenselwig en, nadat hulle weer as vyf maande daaroor gedink het, Marks se planne op 2 Junie 1899 goedgekeur.
In die tussentyd het Marks 'n argitek—ene W. J. de Zwaan--aangestel om vir die bouwerk te sorg en, na goedkeuring van sy planne, aan 'n firma in Skotland opdrag gegee om granietklippe van die aangewese soort en grootte te vind en glad af te werk vir die maak van die voetstuk. Die hoof van die Departement Publieke Werke in die Suid-Afrikaanse Republiek, die heer S. Wierda, kon hom met die plan om graniet in te voer vir die Transvaalse President om op te staan, nie vereenselwig. Immers, so het hy verklaar, die graniet van Transvaal staan nie vit die fynste Skotse of Noorse soorte terug nie, en al wat volgens sy mening ingevoer moes word, was die nodige masjinerie om die klip af te werk en glad te maak. Die gedagte dat die beeld van die groot Suid-Afrikaanse staatsman juis op vreemde klip moes staan, asof die beste van sy eie land nie goed genoeg was nie, het hom as boukunstenaar sterk teen die bors gestuit; maar ... Sammy Marks wou nou juis Skotse graniet hê—rooi, gladgepoleerde Skotse graniet—en teen die wil van die skenker van die standbeeld kon moeilik opgeroei word.
Teen Julie 1899 is die 200 ton gepoleerde Skotse graniet dan ook op Kerkplein afgelewer—vry van invoerregte, op spesiale versoek van die heer Marks - en kort daarna het die voetstuk kant en klaar gestaan, wagtende op die figure van die President en sy brandwagte en die vier bronsportrette van groot dade wat die President in sy lewe verrig het.
Die aanskoue van die voltooide voetstuk het Van Wouw met nuwe arbeidslus besiel ; hy was nou die ene vuur en geesdrif om ook die tweede deel van sy taak—t.w. die oprigting van die standbeeld—voltooi te sien en een van die eerste persone na wie hy hom by sy aankoms in Pretoria gehaas het, was die ou President self.
"More President, ek is Van Wouw," het hy die oubaas begroet.
"Ja, ek sien dit," was die saaklike antwoord.
"President," probeer by weer, "ek kom om te hoor wat van die standbeeld."
Die oubaas, vol kommer en sorg oor die verwagte oorlog met Engeland en afgemat van die bitter stryd wat hy gestry het om dit te probeer keer, was egter op daardie uur geensins in 'n stemming om oor die standbeeld te gesels nie.
"Wag tot die oorlog oor is," was al antwoord wat Van Wouw ontvang het, en daarmee is hy terug huistoe, sy geesdrif gedemp.
Vervolg...