Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Almal is nie in staat om hul denke en emosies in die regte rigting te stuur nie. Dit kan jou eie broer wees en is hy dalk vir jou as logiese denker 'n voortdurende probleem. Soos die Here in Deut 15:7 – 10 sê dat jy vir jou arm broer moet sorg, moet jy ook in hierdie behoefte van hom voorsien sodat dit nie sonde in jóu word nie en die Here jou in al jou werk sal seën. Die dae wanneer dit moeilik vir jou word, onthou dan dat jy self arm en naak met 'n geweldige skuldlas voor die Here gestaan het; maar Hý het jou vergewe, geklee met liefde – jy is dit ook aan jou broer verskuldig.
GESKIEDENIS VAN DIE KRUGER- STANDBEELD (8)
Dr JH Breytenbach
Lees reeks by Geskiedenis vd Krugerstandbeeld
Twee botsende gedagtes het nou alles in die wiele gery : die van die Stadsraad wat die standbeeld op die suidelike ingang van Kerkplein wou plaas, en dié van die Krugergenootskap, gesteun deur die kunstenaar Anton Van Wouw, wat die standbeeld nêrens anders wou hê nie as in die sentrum van Kerkplein. Die maker van die beeld, Anton van Wouw, toe reeds 'n ou man, het besonder sterk oor die saak gevoel en in twee briewe van protes teen die plan om die beeld elders as in die sentrum van die Plein te plaas, het hy dit ook baie duidelik beklemtoon.
"Dit is my ernstige wens ", aldus Van Wouw in die een brief, "dat die voetstuk met die Boerefigure en die beeld van die President as een geheel, ooreenkomstig die planne wat deur 'n argitek in oorleg met my ontwerp is, op Kerkplein gebou moet word op die plek waar die waterfonteintjie en visdammetjie tans is. Ek weier as beeldhouer om die kunswerk waaraan ek met soveel liefde en sorg gewerk het op enige ander plek te laat oprig waar die grootsheid van die werk verlore sal gaan. Kerkplein se sentrum is die aangewese plek en daar moet dit opgerig word."
In die ander brief het hy selfs beweer dat pres. Kruger, in die teenwoordigheid van etlike Volksraadslede, aan hom persoonlik gesê het dat die standbeeld in die sentrum van Kerkplein opgerig moes word en, so het hy daaraan toegevoeg, die wens van die President moet nagekom word.
Sy pleidooie het egter, helaas, geen uitwerking gehad nie en die hele saak het op 'n dooiepunt uitgeloop totdat in Junie 1946 die heer Gerard Moerdyk, argitek van die Voottrekkermonument, met 'n plan voor die dag gekom het vir die plasing van die standbeeld op die suidelike ingang van Kerkplein en die omskepping van Kerkplein self in 'n amfiteater. Op dié wyse sou die Krugerbeeld dan die „ sielkundige middelpunt van Kerkplein word, net soos 'n preekstoel die sielkundige middelpunt van 'n kerk is. Agter die standbeeld sou dan 'n eresuil en klokketoring opgerig word dog die Boerefigure sou nie meer as brandwagte rondom die Krugerfiguur geplaas word nie, maar aan weerskante daarvan.
Die Krugergenootskap het die plan aanvaar dog die Stadstaad het nou met 'n nuwe idee voor die dag gekom, dat 'n nasionale kompetisie uitgeskryf moes word vir die plasing van die standbeeld op die suidelike ingang op so 'n wyse dat dit die estetiese en sielkundige middelpunt van Kerkplein sou wees en 'n eenheid daarmee sou vorm, en dat die monument 'n geskikte agtergrond sou hê. Alle argitekte sou dan aan die kompetisie kon deelneem. Die Pretoriase argitektevereniging en die Krugergenootskap se samewerking vir hierdie skema is gevra en albei liggame het ingestem—die Krugergenootskap egter op die uitdruklike voorwaarde dat hy 'n meerderheid op die komitee van beoordelaars sou hê en dat die finale seggenskap oor 'n nasionale kompetisie en enige ingesonde ontwerpe by hom sou berus.
Die hele prysvraaggedagte het egter gestuit op 'n bepaling in die statute van die Argitektevereniging wat dit verbied het dat lede van die vereniging aan 'n prysvraag deelneem waarin die finale seggenskap by die beoordeling van ontwerpe nie by die vereniging self berus nie, en daarmee was, vir sover dit die Krugergenootskap betref, die saak van die baan.
Toe, op hierdie stadium, het 'n nuwe ontwikkeling ingetree. 'n Oorsese stadsbeplanner, ene prof. Hollord, het op versoek van die Stadsraad 'n plan vir die ontwikkeling van Pretoria, o.a. vir die omskepping van Kerkplein en die oprigting van die Krugerstandbeeld daarop, opgestel, wat die Stadsraad so geïmponeer het dat hierdie liggaam op 28 Sept. 1950 alle vorige besluite in verband met die standbeeld herroep en die Krugergenootskap gemagtig het om die verskuiwing en heroprigting van die standbeeld te onderneem streng ooreenkomstig die Holfordplan en onderhewig aan die Raad se goedkeuring van die finale planne.
Aangesien hierdie plan van prof. Holford egter baie geld en baie jare sou kos om ten uitvoer te lê en ook 'n algehele vervorming en verbreking van Kerkplein sou meebring, is dit nie deur almal met soveel geesdrif aanvaar as deur die Stadsraad nie. Die genootskap, Oud-Pretoria, het openlik sy misnoeë daaroor uitgespreek terwyl ook die Krugergenootskap dit uiteindelik, na heelwat onderlinge stryd, verwerp het.
Op 12 Junie 1951 het die Krugergenootskap, na baie ernstige oorweging van die hele aangeleentheid, dan ook besluit om die gedagte van die plasing van die Krugerstandbeeld op die suidelike ingang van Kerkplein te verwerp en terug te keer tot die ou tradisionele standpunt waarop die Genootskap eendragtiglik vasgestaan het voor die Moerdykplan in die gedrang gekom het, nl. dat daar net een plek op Kerkplein was waar die Krugerstandbeeld geplaas moes word, nl. die plek wat deur die beeldhouer self aangewys is en waaroor daar so 'n lang en verbete stryd gevoer is: die sentrum van Kerkplein. Op hierdie datum is toe met 'n oorweldigende meerderheid 'n formele besluit geneem dat aangesien dit in 1954 presies 'n halfeeu sou wees dat pres. Kruger in die vreemde oorlede en in Pretoria begrawe is, dit noodsaaklik was dat die verskuiwing van die standbeeld sonder enige verdere verwyl sou geskied sodat dit op 10 Oktober of 16 Desember 1954 onthul kon word—iets wat, met die oog op die eeufees van Pretoria in 1955, ook seer wenslik was.
Voorts dat aangesien die vernaamste strewe van Kruger, soos trouens van die hele Boerevolk, vanaf die voorste Voortrekkers, was om 'n vrye weg na die Ooskus te wind—'n strewe waarvoor hulle baie offers gebring het, die Krugerfiguur vanuit die sentrum van Kerkplein in 'n ooswaartse rigting moes kyk, na die vryheid- wat eenmaal sou kom uit - die morewolke, en die see . . . Enige veranderings wat die Stadsraad aan Kerkplein wou aanbring, kon dan mettertyd, wanner geleë geag, aangebring word, egter steeds met inagneming van die sentrale posisie van die Krugermonument.
Nadat die Stadsraad 'n afvaardiging van die Genootskap aangehoor het, het hy op 20 Desember 1951 besluit om af te sien van sy vorige beslissings en die besluit van die Krugergenootskap te aanvaar, onderworpe aan die voorwaarde dat die verskuiwing geen koste vir die Raad sou meebring nie en die finale bouplanne vooraf aan die goedkeuring van die Raad onderwerp sou word. Hierdie planne is uiteindelik op 26 November 1952 aanvaar en vergunning aan die Genootskap verleen om, na goedkeuring daarvan deur die Administrateur van Transvaal, met die verskuiwing voort te gaan.
Aangesien, kragtens die servituut waaronder Kerkplein deur die Britse veroweraar aan die Stadsraad oorgedra is, t.w. dat geen geboue of standbeelde opgerig mog word sonder voorafgaande toestemming van die "Lieutenant Governor " nie, die werk nie sonder meer aangepak kon word nie, het die Krugergenootskap die saak voor die Uitvoerende gesag van die Unie, van Suid-Afrika gelê, wat kragtens die Uitvoerende Raad no 298 van 9 Feb. 1953, magtiging tot die oprigting van die Krugermonument volgens die voorgestelde planne verleen het; en aangesien die Administrateur intussen ook sy goedkeuring aan die saak geheg het, kon uiteindelik met die werk voortgegaan word.
Vir die Krugergenootskap was dit 'n heuglike dag en hy het geen gras onder sy voete laat groei om die verhewe ideaal, vir die verwesenliking waarvan so baie jare geveg is, in 'n werklikheid om te sit nie. 'n Intensiewe veldtog vir die insameling van die reusebedrag van sowat £20,000 wat nodig was om die verskuiwing 'n voldonge feit te maak, is onmiddellik van stapel gestuur, terwyl met die bou van die voetstuk onverwyld 'n aanvang geneem is, in die vaste vertroue dat, die nodige fonds vir die verskuiwing, wat onder die beskerming geplaas is van Goew. Genl. en mev. E. G. Jansen, ons Eerste Minister dr. D. F. Malan, die onderskeie Provinsiale Administrateurs---insluitende dié van Suidwes-Afrika—en die burgemeester van Pretoria, almal met hul gades, wel gevind sou word.
Die geloof van die Krugergenootskap het dan ook nie beskaam nie. Bydraes van oor die hele land het ingekom—in 'n bestendige stroom bydraes van private persone, Engels sowel as Afrikaanssprekend, kerke, skole, munisipaliteite, handelshuise, kultuurliggame en etlike ander instellings, en so kon, op 10 Oktober 1953, die volk van Suid-Aftika uiteindelik die groot oomblik belewe toe ons geliefde Eerste Minister, dr. D. F. Malan, ten aanskoue van sowat 15,000 mense die hoeksteen van die nuwe voetstuk, wat die vorm van 'n gedenksteen aangeneem het, gelê het. Teenwoordig by hierdie geleentheid was ook die Eerste Minister van Nederland, dr. Drees, wat ook 'n toespraak gehou het.
Agt maande later was die werk so ver gevorder dat met die aftakeling van die beeldegroep op die plein voor Pretoria-stasie begin kon word, en op 28 Junie 1954 het die hooffiguur op sy nuwe voetstuk vasgemessel gestaan, die aangesig na die Noorde gerig - ingevolge 'n besluit wat intussen deur die Krugergenootskap geneem is om die beeld nie ooswaarts nie maar noordwaarts te laat kyk.
Op Krugerdag 1954 is die beeld van oom Paul, volledig met sy vier brandwagte uiteindelik onthul op sy finale en regmatige plek: die sentrum van Kerkplein, die hart van Pretoria, die Krugerstad, op dieselfde gewyde terrein waar eenmaal 'n Godshuis gepryk het. Daar, in die sentrum van die hart van die Afrikanerstad, sal hy bly pryk as simbool van die sentrale posisie wat Paul Kruger en alles waarvoor hy geleef en gely het, in die hart van sy volk inneem, en daar op die plek waar die kerk gestaan het, sal hy 'n sImbool wees van die godsdienstige fondament waarop hy en die volk in wie se hart hy lewe, hul verlede en hul toekoms gebou het.
Einde