Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Pyn is nie altyd God se straf op sonde nie. Dis dikwels sy manier om ons geloof te verdiep. Geloofsdiepte lei altyd tot Godsverheerliking.
SCOTT NA DIE SUIDPOOL (12)
Scott se Ekspedisie na die Suidpool 1910 – 1913
Lees reeks by Scott na die Suidpool
Opdragte aan die offisiere
Die opdragte was so duidelik en omvattend dat lt. Evans ‘n paar van hulle hier kan weergee, want hulle toon maar te duidelik hoe Scott se organisasie die werk van die skip, die basis, die westelike geselskap, die hondespanne, en selfs die reëlings vir Campbell se geselskap ingesluit het.
Opdragte aan bevelvoerende Offisier,
Terra Nova.
Oktober 1911
In Maart het die ekspedisie ’n aansienlike aantal ponies verloor, maar genoeg het oorgebly om die suidelike plan, onder gunstige omstandighede, uit te voer.
Hierdie verlies en die ervaring met die oorblywende diere het my laat besluit om die reis na die suide later te laat begin as wat die oorspronklike plan was.
(Tans is gereël dat die geselskap na die suide aan die einde van hierdie maand (Oktober) vertrek, en volgens skatting, mits alles goed gaan, is 15 Maart die vroegste datum waarop die geselskap wat die verste gevorder het, na McMurdo-see-engte kan terugkeer. )
Dit is moontlik dat die skip verplig sal wees om die see-engte te verlaat voordat hierdie geselskap teruggekeer het, en gevolglik is reëlings getref om ’n tweede winter op Kaap Evans deur te bring, en omdat dit hoogs wenslik is, sal die wetenskaplike personeel aanbly om met hul werk voort te gaan.
Indien die skip nuwe vervoermiddels bring, sal die ander lede van die ekspedisie agterbly om daarmee te werk, en dit is moontlik dat ’n poging aangewend sal word om die Ysbank in 1912—13 in ’n suidsuidoostelike rigting oor te steek.
Die skip moet voorbereid wees om in 1912—13 na die see-engte terug te keer, en wel om diegene wat die tweede winter daar oorgebly het, af te los.
Besonderhede insake vorige gebeurtenisse kan deur die draer van hierdie opdragte verskaf word.
Wat nou die onderstaande betref, wil ek hê dat u duidelik moet besef dat u eerder volgens u eie oordeel moet handel as volgens die letter van die instruksies, en wel ingeval verdere inligting waaroor u beskik, daarop sou dui dat eersgenoemde prosedure wensliker is.
Onderworpe aan hierdie voorwaarde, verlang ek nou dat u die volgende program ten uitvoer bring: Ek neem aan dat u by die afgesproke plek, d.w.s. by Graniethawe, op ongeveer 15 Januarie sal aankom en die westelike geologiese geselskap daar, soos afgespreek, sal oplaai.
Die geselskap sal bestaan uit Griffith Taylor, Debenham, Gran en Forde.
Die eerste eksemplaar van hierdie dokument sal u heel moontlik by die opslagplek wat hierdie geselskap op die hang aan die ingang van die hawe aangelê het, vind, maar ek hoop dat Taylor dit self aan u sal kan oorhandig.
Met die oog op die moontlikheid dat die geselskap dalk nie daar is nie, is dit miskien raadsaam om hier kortliks na Taylor se plan te verwys:
Tot 10 November — Ondersoek van kus ten noorde van Graniethawe.
14 November tot 28 — Ondersoek van kus en binneland ten suide van Graniethawe.
8 Desember tot 8 Januarie — Ondersoek van die binneland van Graniethawestreek.
Taylor sal sy bes doen om betyds by Graniethawe te wees om u daar te ontmoet, en indien die geselskap nie daar is nie, kan u aanneem dat hulle moontlik in die binneland vertraag is. Met die oog op die moontlikheid dat die geselskap afgesny is, kan u, mits die ystoestande dit toelaat, die kus in ’n suidelike rigting ondersoek.
Die tyd wat aan die soektog bestee word, word aan u eie oordeel gelaat. Die geselskap sal Graniethawe bereik met genoeg voedsel om mee te kan uitkom tot 12 April 1912, en behoort in staat te wees om na hierdie opslagplek terug te kom.
Alles inaggenome, reken ek nie dat u oor die geselskap onrustig hoef te wees nie, selfs nie al sou u nie in staat wees om, vanweë u toekomstige bewegings, ’n soektog te onderneem nie, en u moet onthou dat ’n soektog makliker onderneem kan word namate die seisoen vorder.
Indien die geselskap onmiddellik gevind word, wat dan ook heel moontlik sal gebeur, moet u hulle na Kaap Coves neem en hulle sonder versuim aan wal sit. Die voorrade wat deur die geselskap vervoer word, behoort genoeg te wees om hulle vir ingeval die skip dalk nie sou terugkom nie, twee maande lank aan die gang te hou.
Ek meen dat die landing op 18 of 19 Januarie sal plaasvind en die geselskap moet aangesê word om gereed te wees om weer op 15 Februarie aan boord te gaan. Die geselskap sal natuurlik aan u bevele onderhorig wees en u moet toesien dat almal wat daarby betrokke is, goed sal begryp waar die geselskap weer opgelaai sal word.
Nadat u hierdie geselskap aan wal gesit het, moet u na Kaap Evans gaan. Indien u dit op ongeveer 23 Januarie sou bereik, sal u drie weke in McMurdosee-engte moet deurbring voordat u die geologiese geselskap weer gaan oplaai.
Daar sal baie werk te doen wees, met min om te help. Die volgorde waarin die werk gedoen sal word, sal van die toestand van die ys, ens., afhang, maar die oplaai van die geselskap sal natuurlik, wat belangrikheid betref, die voorrang geniet.
Simpson moet in bevel van die stasie bly, en hy beskik oor volledige lyste van die oorblywende voorrade, asook van die toekomstige benodighede. Bowers sal u per brief oor hierdie sake inlig. Dit is moontlik dat ’n groot hoeveelheid van die voorrade wat u bring, nie aan die kus nodig sal wees nie, en u sal in alle geval maklik kan vasstel wat nodig is. Indien daar tien ton patentebrandstof oor is, sal ons nie meer as 15 ton addisionele brandstof nodig hê nie.
Ek hoop dat u, behalwe voorrade, ook nuwe trekdiere sal bring. Oates het ’n plan vir die uitbreiding van die stalakkommodasie opgetrek en dit sal by Simpson gelaat word. Vir hierdie werk moet die timmerman aan wal gesit word, asook vir die paar kleiner wysiginge wat aan die hut aangebring moet word.
Die Discovery-hut op Kaap Armitage verkeer tans weer in ’n redelike goeie toestand, en omdat ons verwag dat terugkerende geselskappe ’n tydlank daar sal moet vertoef, soos ons verlede jaar moes doen, het ek reelings getref dat ’n hoeveelheid van die voorrade na Hutpunt vervoer sal word. Na gelang van omstandighede sal u heel moontlik wag totdat die ys goed na agtertoe opgebreek het.
Pos en briewe vir die suidelike geselskap moet na Hutpunt geneem en in duidelik gemerkte kissies gelaat word.
Simpson sal u inlig oor die plan waarvolgens die reis na die Pool georganiseer is. Die eerste geselskappe wat uit die suide terugkom, behoort Hutpunt teen die einde van Januarie te bereik. Ek verlang dat u op die vroegste datum wat vir u geleë is, na die westekant van die see- engte moet gaan om:
(i) ’n Veilige skuilplek te vind waar die skip teen storms beskut sal wees.
(ii) Die weerkundige hut op te rig, indien u dit met u saamgebring het.
Na ’n onlangse sleereis na die weste is ek geneig om te dink dat uitstekende skuiling vir die skip langs die vaste ys in die monding van die Ferrargletser of in New Harbour verkry kan word, en dit sal raadsaam wees om, tydens ongure weer, die hoofkwartier op sodanige plek in te rig. Maar dit sal verstandig wees om ook die ysdrukking in die see-engte dop te hou.
Dit behoort moontlik te wees om die skip onder die skuiling van Botterpunt met ’n kabel aan houtbalke wat diep onder die sneeu begrawe is, vas te meer. Die skip behoort goed aan ’n lang tou vasgemeer te wees. Wat die hut betref, meen ek dat dit op die mees beskutte plek opgerig moet word. Dit behoort op of naby ’n plek te wees wat ’n uitsig oor die seestraat bied. Die hoofdoel hiermee is om dit as stasie in te rig vanwaar die verskynsel van sneeustorms, ens., waargeneem kan word. Simpson, wat saam met my in die weste was, sal u oor ons indrukke kan inlig.
U moet daarop let dat geeneen van die bogenoemde doelstellings van lewensbelang is nie.
U moet op die regte datum terugkeer om die geologiese geselskap by Evans se Inham op te laai.
Ek neem aan dat Campbell in die buurt van Robertsonbaai, op ’n plek wat hierdie tyd van die jaar maklik bereikbaar is, afgelaai is. Indien dit die geval is, meen ek dat dit wenslik is dat u sy stasie moet besoek nadat u Evans se Inham verlaat het, en wel teneinde hom van nuwe opdragte te voorsien.
Campbell is aangese om op 25 Februarie gereed te wees om in te skeep en dit is moontlik dat hy al ’n paar dae voor die tyd terug sal wees.
Met die oog op die skip se terugkeer in 1912—13 is ek van voorneme om Campbell se geselskap die keuse te stel om of onder bepaalde voorwaardes nog ’n winter op hul pos te bly, of om na Nieu-Seeland terug te gaan. Indien hulle sou besluit om te bly, kan die nodige voorrade nou vir hulle aan wal gebring word. Indien hulle sou besluit om terug te keer, moet u Priestley in kennis stel dat, indien hy dit verkies, hy ’n tweede winter op Kaap Evans mag oorbly.
Indien die geselskap nie by die stasie is nie, moet u opdragte laat en na McMurdosee-engte terugkeer. Ek glo nie u moet langer as 24 Februarie met hierdie taak besig wees nie.
U behoort teen die einde van Februarie of Maart in McMurdosee-engte terug te wees, en nadat u nuwe inligting ingewin het, hoop ek dat u in staat sal wees om die skip vas te meer en ten minste tien dae lank verwikkelings af te wag.
Die duur van hierdie verblyf moet ek heeltemal aan u eie oordeel oorlaat. Ek moet daarop wys dat, alhoewel dit uiters onwenslik sal wees dat u die jongste nuus moet misloop, dit nog onwensliker sal wees indien u in die ys vasgevang sou raak enverplig word om hier tre oor-winter.
Betreffende hierdie aangeleentheid, kan ek u slegs inligting verskaf oor wat in vorige jare gebeur het. — Verlede jaar het die baaie op 24 Maart permanent vasgeys. Verlede jaar het die see-engte op 7 of 8 Mei permanent vasgeys.
Met die „baaie” bedoel ek die water ten suide van Hutpunt, binne Skilpadrugeiland, ten suide van Gletser¬tong, aan die binnekant van die eilande ten noorde van Gletsertong en, meen ek, die westelike kusgebiede van die see-engte.
In 1903 het die baaie nie verys nie, maar die see-engte het ook in Maart en April toegeys en dan weer oopgegaan, soos in die ander jare. Ek meen dat dit seker is dat die ou ys wat onlangs opgebreek het, sowel as al die gebreekte nuwe ys na die weste drywe en dat ’n skip aan die westekant van die see-engte hierdie tyd van die jaar beslis gevaar loop om vasgeys te raak.
Ek is taamlik seker dat al die ou ys opgebreek sal wees teen die tyd dat u uit die noorde terugkeer, en dat die baai ten suide van Kaap Armitage dan heeltemal oop sal wees.
Indien dit die geval is, dan meen ek dat dit ’n geskikte plek vir u sal wees om te wag. Indien moontlik, moet u die skip aan die kant van die Ysbank vasmeer. Die nuwe ys sal gedurig om u vorm, maar ek glo nie u hoef bekommerd te wees dat dit u voor na die derde week in Maart sal vashou nie. Ek is bevrees dat die wag in so ’n plek baie koud en onaangenaam sal wees, en moontlik kan beter en veiliger toestande vir die skip verder wes en nader aan die verweerde gletserys suid van Swart Eiland verkry word.
Indien die skip hier vasgemeer is, behoort die see na die lykant oop te wees, terwyl die skip in die baai agter Kaap Armitage met ’n lykus te doen kan kry. U sal die beste weet hoe om ’n goeie permanerite ys-anker te maak.
Teenoor Kaap Armitage is sandbanke wat een of selfs twee myl ver kan strek en in die onmiddellike buurt hiervan moet u versigtig vaar. Die sandbanke teenoor Hutpunt en die westekant van die skiereiland strek nie verder as ’n skeepslengte van die kus nie. Andersins glo ek dat, behalwe aan die binnekant van die eilande, die see-engte vry van dergelike gevare is.
Vir ingeval u miskien sou besluit om op ’n plek wat taamlik ver van Hutpunt is, te wag, het ek reeds reïlings getref om u aandag op die volgende manier te trek: Liggranate sal afgeskiet word en die groots moontlike signaalvlam sal by Hutpunt om middernag of op die middaguur brand (u moet in gedagte hou dat ons tyd- rekening volgens die i8oste lengtelyn is).
’n Vlag wat so groot is soos maar kan kom, sal op die luglyn op die nabygeleë hoogtes gehys word, en pogings sal aangewend word om heliografiese seine met ’n spieel te stuur.
Indien u noukeurig vir dergelike tekens dophou, sal dit nie vir u nodig wees om die hut dikwels te nader nie.
Hierbo het ek slegs na die nuwe ys in die see-engte verwys. Ons beskik oor geen middel om vas te stel wat verder noordwaarts gebeur nie, maar ek meen dat, solank die Terra Nova bewegingsvryheid in die suidelike baaie geniet, die skip geen besondere moeilikheid sal onder- vind om die Ross-see te verlaat nie.
U begryp natuurlik dat bogenoemde opmerkings slegs as wenke wat vir u van waarde mag wees, bedoel is en ek wil nie hê dat hulle u eie oordeel oor die bestaande toestand moet vertroebel nie. Veral moet u nie toelaat dat hulle u oorhaal om die skip langer daar te hou as die tyd wat u meen is die veiligste om te vertrek nie. Ek besef ten volle dat u, tydens hierdie kritieke tyd, wanneer storms dikwels voorkom, met baie moeilikhede te kampe sal hê en dit spyt my regtig dat ek u moet vra om so ’n moeilike taak te onderneem.
Ek weet ook dat u, bowe en behalwe die take wat ek reeds bespreek het, ook gretig sal wees om die wetenskaplike mikpunte van die ekspedisie te help verwesenlik. Omdat ek weet hoeveel u in dergelike sake belangstel, laat ek dit hoofsaaklik aan u eie oordeel oor, en ek wil alleenlik op sekere plekke wys waar dieptepeilings van besondere belang sal wees, nl.
1. In die ruimte wat deur die ou Gletsertong in beslag geneem is (verlede somer het sowat twee myl van die tong afgebreek).
2. Op een of twee plekke oor die see-engte, en wel om ’n deursnee van die bodemhoogtes te verkry.
3. Oor die fjords aan die kus, bv. die inham van Ferrargletser.
4. Teenoor die punte van ystonge of op die rand van die ysmure.
5. Teenoor die ou torinkie-ys ten noorde van Swart Eiland.
6. Uit ’n boot naby die Barne-gletser.
7. Uit ’n boot om gestrande ysberge.
Nou noem ek ’n paar sake van mindere belang. Indien die tyd en omstandighede dit toelaat, verlang ek dat u daar ook aandag aan moet gee.
1. Die stoof in die hut is nie in ’n baie bevredigende toestand nie. Ek wil graag hê dat Williams dit moet nasien en dit dienliker vir ’n tweede seisoen maak.
2. Die kus teenoor Victoria-land is oorgeteken oor die kaart wat deur die Discovery opgestel is. Ek sou graag definitiewe getuienis hieroor wou hê.
Enige oortekening van die kuslyn sal natuurlik waardevol wees.
3. Ek hoop dat u genoeg skoenleer, sterk skoenspykers en bruikbare papier in genoegsame hoeveelhede vir ’n tweede seisoen sal kan verskaf.
4. Sover ek tans weet, :is die enigste verdere noodsaaklike item vir ’n tweede seisoen rendiervag vir die herstel van die slaapsakke. Ek is bevrees dat u nie daarvan gebring het nie. Enigiets wat u kan verskaf om in hierdie behoefte te voorsien, sal aanneemlik wees.
5. Indien moontlik, kan Williams die stoof waarop ons in die Discovery-hut robbespek kook, nasien en plate, ens., verskaf om dit in goeie orde te hou.
6. Indien die weerkundige stasie in die weste opgerig word, moet een van die ou stowe, soos die wat vir die braai van robbespek in die stalle gebruik word, daar ingebou word.
7. Vir ingeval die voorraad robbespek vir die stoof in die Discovery-hut in Maart en April dalk nie op peil gehou kan word nie, kan u, indien u dit kan afstaan, ’n paar sakke kole daar laat. Verlede jaar het ons egter baie goed sonder kole klaargekom.
8. Indien die timmerman, onderwyl hy besig is om die stalle, ens., op te rig, nie genoeg tyd sou he om die geringer takies te verrig nie, soos die herstel van die ingang na die portaal, ens., moet u asseblief genoeg hout vir die doel laat. ’n Skerm buite die portaaldeur om die sneeu te keer, sal handig te pas kom.
9. Indien u die weerkundige pos oprig, en u dit sonder ongerief kan doen, laat dan asseblief ’n paar kiste voedsel in die hut. Bowers laat ’n briefie met Simpson, wat hieroor handel.
10. Indien u ter eniger tyd gedurende die seisoen sonder ongerief en sonder om te veel kole te verbruik, by Kaap Crozier kan land, moet u asseblief ’n klein voedselopslagplek daar aanlê. Die doel van hierdie opslagplek is om ’n sleegeselskap wat die streek vroeg in die volgende seisoen gaan besoek, tot diens te wees. Dit moet naby die Discovery se rekordpos aangelê word.
11. Ten einde die mense wat van Hutpunt af na u sein, te help, kan u vuurpyle of lontstokke aan wal bring.
Oor die samestelling van die geselskap wat die tweede winter gaan oorbly, weet ons nog nie veel nie. Die volgende lede gaan in alle geval terug:
1. Taylor. Sy verloftyd sal verstreke wees.
2. Ponting, want sy werk sal klaar wees.
3. Anton, wat daar sat van is.
Anton. Die lang winternag het horn opgekeil. Sy bygeloof is aangewakker, maar hy het oor ’n boeg gewerk en hy is ’n uitmuntende klein kêrel. Indien hy in Nieu- Seeland sou wil gaan werk soek, moet u horn asseblief sterk aanbeveel.
Meares. Hy kan dalk teruggaan. Dit hang van die briewe af wat hy van sy mense tuis ontvang.
Die volgende persone sal beslis bly: Bowers, Simpson, Debenham, Nelson, Atkinson, Clissold, Hooper, Dimitri.
Die bewegings van die volgende persone sal afhang van: (i) die datum waarop ons uit die suide terugkeer; (ii) die nuwe trekdiere wat u saamgebring het: Ek, Wilson, Evans, Oates, Cherry-Garrard, Gran, Day en die seeliede.
Indien u nuwe trekdiere gebring het, sal bogenoemde persone heel moontlik bly. Indien u nie nuwe trekdiere gebring het nie, sal die meeste, indien nie almal nie, wat die skip kan haal, teruggaan. In alle gevalle is dit ’n saak van vrywillige keuse en bly dit onderworpe aan berigte van die manne se tuistes of aan ander aangeleenthede.
Ek kan geen lid van die ekspedisie wat in hierdie geselskap gebly het, te hoog aanprys nie, en u moet alles in u vermoë doen om te verseker dat die redes waarom party van die manne teruggaan, goed begryp word.
Betreffende my ooreenkoms met die Sentrale Nuus- agentskap, laat ek ’n telegrafiese berig van sowat 3000 woorde en wat oor die doen en late van hierdie geselskap handel, by Simpson. Ek hoop dat u mettertyd deur bemiddeling van die terugkerende lede van die suidelike geselskap briewe van my sal ontvang. U moet asseblief die nuusberig met behulp van hierdie berigte voltooi, asook met behulp van die nuus wat u van Campbell sal verkry, en met ’n verslag oor u eie doen en late.
Soos u seker onthou, vereis die ooreenkoms ’n mini¬mum van 6000 woorde, en ons moet ons deel van die ooreenkoms nakom. Drake moet besondere sorg dra dat die berig oor die reis hierheen korrek is.
As ’n blote formaliteit behoort u almal wat in die skip terugkeer, aan die bepalings van die skip se monsterrol te herinner.
Ponting sal die sorg van die fotografiese materiaal wat teruggestuur word, aan horn toevertrou hê, en hy sal toesien dat die ooreenkomste wat daarop betrekking het, nagekom word. Sy eie werk is van besondere belang en dit is moontlik dat hy in die skip sal wil wees tydens u rit om die geologiese geselskap te gaan oplaai en om met Campbell in verbinding te tree. Ek verlang dat u alle moontlike hulp vir die uitvoering van sy werk tot sy beskikking sal stel, maar hy ly soms aan oormatige geesdrif en hy kan soms geneig wees om sy eie en die skip se veiligheid te onderskat. Ek wil nie hê dat u gevaar moet loop terwille van foto’s nie.
Tot dusver het ek nog geen melding van Amundsen gemaak nie, en wel omdat ons, benewens die berig wat u oor hom gebring het, oor geen verdere nuus beskik nie. Volgens my mening is die omstandighede nie sodanig dat u verplig is om sy stasie te probeer besoek nie. Maar indien daar geen berigte oor die Fram is nie, of indien die openbare mening ten gunste daarvan is, staan dit u natuurlik vry om langs die Ysbank te vaar en om hierdie program dientengevolge te wysig.
Ten slotte wens ek u alles van die beste toe vir die werk wat u moet doen, asook gunstiger weer as die waarmee u verlede jaar te doen gekry het. Ek voel oortuig dat u alles wat onder die omstandighede moontlik is, sal doen.
(geteken) R. F. SCOTT.
Die Reis na die Suide — die Motorslee vertrek... Vervolg...