Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Miskien het jy vir my gebid; miskien het jy net stil gesit. Miskien het jy terwyl jy werk gehoop ek word weer sterk. Maar altyd is jy iewers daar waar jy vir my 'n tydjie spaar. Met groot verstaan en woorde min bly jy maar my GOUDVRIENDIN.
WARE KWINKSLAE (2)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
J.S. Malan, uit Luitenant John Bernard Andrews van die Veldtelegrafie vertel:
Toe ek weer sterk genoeg is om met behulp van krukke entjies te loop, word ek een oggend na die deur geroep. Drie Skotte wag my daar in met bajonette en die saaklike opdrag: "You are wanted at the Provost Marshal's Office."
Daar aangekom, vra hulle my naam waarop ek trots antwoord: "Lieutenant John Bernard Andrews."
Hulle reaksie is oorweldigend: "An Englishman fighting for the Boers! An officer in the Dutch Army, we will fix you!"
Ek word toe gevra om die eed van getrouheid teenoor die Britse koning af te lê, maar natuurlik weier ek.
Daar word toe gesê: "Why don't you take the oath, can't you see that the war is something of the past?"
My antwoord is kort en saaklik: "My commanding officer is General Louis Botha and until he says the war is over it is not over!"
Uit die Renier-versameling:
Ek moet vandag nog glimlag oor die poets wat een van die gevange Kakies my die dag gebak het. Die Engelsman het gekreun en gesteun dat dit 'n naarheid is. Volgens sy gebare en sy gemompel was hy so stukkend gestamp en gekneus dat hy nie in staat was om een tree verder te loop nie. Uit jammerhartigheid het ek hom toe my ryperd aangebied. Ek het hom opgehelp. Ek het gestap en hy my gevangene, het gery, soos die Bybel sê: "Vorste te voet en knegte te perd."
Jare daarna, toe ek tydens die vredesluiting ernstig gewond in die hospitaal op Noupoort gelê het, het hierdie selfde vabond my daar herken. Met 'n breë glimlag het hy gesê: "Ek onthou jou en ek onthou Modderspruit by Ladysmith ook. Ek onthou hoedat jy my jou perd aangebied het. Maar ek het niks makeer nie. Ek het my maar net siek gehou." Toe het hy so uit sy maag uit gelag en my gevra: "Waarom sou ek stap as ek kon ry!"
H.C.J. Pieterse, vertel uit Die oorlogsavonture van generaal Wynand Malan:
Ou Probart was besonder opvlieënd van aard. Hy was verder groot en buitengewoon sterk, en almal was maar skrikkerig vir hom. Hy was beslis in woord en daad, haastig en vasberade. Omdat hy hardhorend was, het hy besonder hard gepraat. Daarby het hy die gewoonte gehad om telkens nader te kom aan ’n persoon met wie hy ingespreek was en dan "Ho Ho”op ‘’n vraagtoon te brom.
"Span die twee muile uit voor jou kar, gaan laai die soldaat op en bring hom na die kommandant in die dorp" het ek aan ou Probart gesê.
Hierdie bevel was so na sy smaak en die ou het dadelik ingewillig. Probart het haaslig vertrek. Langs die pad het hy sy gesneuwelde landgenoot opgelaai, In Aberdeen aangekom, het hy tot voor die kantoor van die Engelse kommandant gery en daar stilgehou. Hy het die hoë offisier aangesê om na buite te kom, omdat hy ’n boodskap van Malan het. Die kommandant het verskyn en terselfdertyd het Probart die riem waarmee hy die dooie Engelsman agter die kar vasgemaak het, losgepluk. Die verstyfde liggaam het in die straat neergeplof.
"Hierdie Kakie is geskiet, ho!" het die ou bars uitgeroep; asof die Engelse dit nie kon sien nie. "En," het hy teenoor die kommandant vervolg, "Malan stuur hom vir jou met sy komplimente, ho!"
Natuurlik was die Engelse dadelik boos. Met geweld wou hulle Probart se muile daar en dan vat. Maar Probart was nie op sy bek geval nie en ewe sarkasties het hy gesê: "Nee, ek gee nie die muile af nie. Malan het net die soldaat gestuur, nie die muile nie, ho!"
Hierdie streek het nie die Engelse van stryk laat bring nie. Weer het hulle probeer om Probart en sy muile te skei. "Dis Malan se muile!" het die ou geskree. "As ek sonder sy muile op die plaas aankom, wat gaan van my word? Julle kan my tog nie beskerm nie!"
Die laaste was 'n raak skoot en Probart is met sy muile en al daar weg!
H.C.J. Pieterse, vertel uit Die oorlogsavonture van generaal Wynand Malan:
In ons kommando was daar 'n sekere korporaal Mattheysen, 'n opgeruimde kêrel, altyd vol grappe, 'n gebore humoris. Agt man van sy korporaalskap het tydig en ontydig 'n beesvel met hulle saamgeneem. Die vel was egter al sag van al die hanteerwerk. Na die slag van Groenkop word die Kakies aangesê om klaar te maak en hulle word weggestuur (Basoetoeland toe). En wat was die verbasing, teleurstelling, asook nuuskierigheid nie duidelik sigbaar onder die troepe nie! Wat het dan gebeur? Het die "Boers" dan weer plek vir gevangenes?
Die agt man met die beesvel het klaar gestaan. Mattheysen het die Engelse kolonel beveel om nader te staan. Hy het ook vorentoe gekom. Mattheysen het hom gevra: "Weet julle waarheen julle gestuur gaan word?"
"No, Sir", was sy antwoord.
"Wil jy weet en moet ek jou wys?" het Mattheysen gevra.
"O, thank you, Sir, I would like to know."
"Vat hom, kêrels!" Een, twee, drie en die kolonel was pens en pootjies binne-in die beesvel. Voor hy hom kon kry is hy die lug ingeskiet en holderstebolder, kop na onder en met voete na bo, doodsbleek en met verwilderde oë, in die lug rondgrypende, het hy weer op die vel beland. So is die proses herhaal (hy wou mos geweet het) en dit terwyl die ander tommies dit besonder geniet en gekruip het soos hulle lag!
Mattheysen het sy hand opgesteek en gesê: "Stop, kêrels!"
Die kolonel het afgestap, bewend soos 'n riet.
Mattheysen het gevra: "Het jy nou die plek gesien of moet ek dit nog 'n keer vir jou wys?"
"O, thank you, Sir, no more for me. I saw the place!"
Izak J.C. de Wet, uit Met generaal De Wet op kommando:
Selfs generaal Manie Maritz, nou weer volkome herstel van die wonde wat hy by Tontelboskolk opgedoen het, het 'n bydrae te maak tot die algemene pret. Hy vertel hoe twee van sy marine kort tevore by Lambertsbaai uitgekom het, waar daar 'n Britse kruiser naby die strand geanker was. Uit skone baldadigheid het die twee burgers sommer op die kruiser losgebrand met hulle gewere. Ook nie lank nie of die oorlogskip se kanonne is in aksie gebring en daar het 'n kwaai geveg tussen die Boere en die Engelse ontstaan!
Die twee waaghalse moes egter gou die aftog blaas. Toe hulle by die kommando aankom, was dit twee baie trotse kêrels wat die verhaal te vertel gehad het.
"Generaal," wou hulle van Maritz weet, "het dit al ooit gebeur dat die hele Britse vloot deur twee Boertjies uitgedaag is?"
Vervolg...