Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Tyd is die natuur se manier om te voorkom dat alles gelyktydig gebeur. Moet dan nie stukkies tyd vermors nie, benut elke oomblik, anders gebeur alles later gelyktydig.
WARE KWINKSLAE (4)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Deneys Reitz, Kommando, p. 254
Gedurende die Boereoorlog is ons in 'n geveg by Harrismith naby die Wilgerivier. Dit duur nie lank nie of die vyand vlug. Ek sien 'n vlaggie waai in die lang gras en toe ek daar kom, sit kaptein Bentley by 'n gewonde soldaat. Ek vra wat ek vir hom kan doen.
"Could you get some water, he is very thirsty."
Ek het 'n agterryer met die naam Klaas gehad wat ek rivier toe stuur vir water. Terwyl Klaas op pad is, bied kaptein Bentley my 'n sigaret aan. Hy gee die pakkie aan my met 'n groot Union Jack op die een kant. Die sigarette het bekend gestaan as Flag. Ek bekyk die pakkie en sê: "Nee dankie."
Hy draai die pakkie om met 'n glimlag en sê: "Try it this way!"
Gedurende die tyd toe lord Clarendon die goewerneur-generaal van die land was, vertel ek hom wat gebeur het en van die Flag- sigarette.
Hy lag en sê: "Oh! I see the point, you are still trying to burn the flag!"
Uit die oorlogsherinneringe van Lizzie Geldenhuys :
Kitty vertel met groot smaak: “Man, julle het vanoggend darem iets snaaks misgeloop! Terwyl die troepe so rondsnuffel hier in die huis en Lettie hulle so een na die ander deurloop en ons messe en vurke uit hulle 'puttees' trek en vir my bring om vas te hou, is ek hard besig om my te verkneukel oor 'n ander toneeltjie wat daar een kant aan die afspeel is. Die arme ou Frankie Brewis het 'n swart broek wat hy as sy beste besitting beskou. Dit was agter op sy saal met 'n stukkie seil vasgemaak. In die gewoel gaan haal hy gou die pakkie en is hy besig om in die voorhuis, daar eenkant in 'n hoek, die een broek oor die ander een aan te trek. Foei tog, hoe meer ou Frankie sy broek probeer aantrek, hoe meer skop hy in die middel van die broek vas. Van skone angs het hy teen daardie tyd al die bewerasie. Eindelik na 'n lang gesukkel het Frankie sy kosbaarste besitting aan. Wat meer is, toe hy uiteindelik weer regop staan toe staan 'n klomp van die soldate om hom en hulle skater van die lag! Ons kon ook nie anders nie, ons lag toe net so lekker!"
Uit 'n Biografiese lewenskets van ds. Hendrik Schalk Theron:
Oom Louw Erasmus het tydens die slag van Modderrivier gesneuwel. Dit was asof die oom 'n soort van voorgevoel gehad het dat hy tydens die oorlog sou sterf, want hy het baie graag gerook, maar toe hy weg is oorlog toe, het hy meteens rook opgegee. "Want," , het hy gesê, "ek wil nie graag na rook ruik as ek voor die Here verskyn nie."
Uit R.W. Schikkerling, Hoe ry die Boere:
'n Jong kêrel wat aan sy eerste geveg deelgeneem het, het hoogs paniekerig by die veldkornet aangehardloop gekom nadat die geveg verby is en benoud geskree: "Veldkornet, hoe ruik bloed?"
Die veldkomet wat alreeds hoogs geïrriteerd was omdat hy gesukkel het om die burgers tydens die geveg byeen te hou, het kortaf geantwoord: "Dit ruik soos k..."
"Dan, Veldkomet, is ek dodelik gewond!"
H.G Hopkins, Maar een soos hy, p. 69:
Tydens die slag van Sannaspos is ek in die gelukkige posisie om met my ou lang mauser deur 'n gannabos dooierus aan te lê. Ek trek die sneller en die helmet spat van die Engelsman se kop af.
Ek sê: "O, llewe hemel, Jan, daar skiet ek die Engelsman nou raak!"
Boos snou hy my toe: "Nou wat de duiwel is jy dan hier voor?"
"Skiet jy dan ook!" kom dit van my af en so lê ons twee daar half en rusie maak.
Uit Avonture uit die Tutecde Vryheidsoorlog uit die dagboek van C C Snyman p.27:
Een van die Hottentotspioene wat ons gevang het se naam was Ou Jan. Ou Jan was goed bekend aan die burgers. Die kommandant het hom eers 'n goeie preek afgesteek en die ou het aandagtig geluister. Daarna is twee burgers beveel om hom agter 'n sekere damwal te gaan doodskiet. Die burgers het hom egter goed geken en dit was vir hulle 'n baie onaangename taak. Hulle het gehoop hy sou weghardloop, want dan sou die skietery soveel makliker wees. Hy het dit egter nie eens gewaag nie.
Toe hulle met hom agter die damwal kom, het hulle hom beveel om maar aan te loop sodat hulle hom van agter kon skiet. Ou Jan het gehoorsaam en aangestap. Toe hy so 'n paar tree weg was, het die twee burgers hulle gewere so saggies moontlik oorgehaal.
Ou Jan het dit egter gehoor en terwyl hy sy kop so skuins na agter gedraai het en met sy regterduim oor sy skouer gewys het, het hy gesê: "Here, kyk die verneukery hier agter my!"
Die twee burgers het die ou teruggeroep en aan hom gesê: "Kyk, Ou Jan, ons sal jou nuttelose lewe hierdie keer spaar, maar as jy weer gevang word, sal daar geen genade vir jou wees nie. Gaan huis toe en pas op dat jy nie weer in ons hande val nie!"
Ou Jan het hom nie twee keer laat nooi nie en het so vinnig moontlik die pad gevat.
Al die burgers het nou onder die indruk verkeer dat Ou Jan dood is, maar ná die oorlog het een van die burgers die ou iewers in die Vrystaat ontmoet. "My wêreld, Ou Jan, jy is mos doodgeskiet in die oorlog! Wat soek jy dan hier? Of is dit dalk jou gees?"
"A nee a, Basie!" sê Ou Jan. "Weet Basie dan nie die gebed van 'n regverdige man vermag veel?"