Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie is verstandig? Hy wat by almal leer.
Wie is magtig? Hy wat sy hartstogte beheer.
Wie is ryk? Hy wat tevrede is .
Wie is hy? Niemand nie.
Benjamin Franklin
WARE KWINKSLAE (10)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Uit C.A. Vieweg se Herinneringe uit die Anglo-Boereoorlog:
Met die afsaal van generaal De Wet se kommando was 'n kwartier skaars verby of die roep "Opsaal" het gekom. 'n Klompie van die skrikkerige burgers het geen tweede uitnodiging nodig gehad nie en hulle het dadelik die pad gevat. Dit het naderhand so erg geword dat ons nie meer rus gekry het nie, behalwe as die generaal self daar was. 'n Kêrel, wat maar stadig was, het egter 'n agterryer gehad met die naam Opsaal. Die stadige burger het gewoonlik opgedaag net nadat die eerste burgers al afgesaal het. Wanneer Opsaal se baas egter opgedaag het, gewoonlik sowat vyftien minute later as die ander, het hy na Opsaal begin roep sodat hy kon begin met die vuurmaak. Chaos het gevolg. Die burgers het nie geweet wat aangaan nie en het dadelik gereageer op die bevel, min wetende dat die stadige kêrel eintlik na sy agterryer op soek was. Gou het die bevel die rondte gedoen en soos dit maar met sulke dinge gaan, het dit nie net by "Opsaal" gebly nie. Dit het gou verander in "Opsaal, kêrels!" en spoedig in "Opsaal, kerels! Kakie kom!" So het dit aangegaan. Die offisiere self was later self hopeloos in die war, want voordat hulle kon uitvind wie die bevel gegee het, was helfte van die burgers al weer op pad. Die kommando het later snuf in die neus gekry en nader ondersoek ingestel en tot hulle onsteltenis uitgevind dat "Opsaal" eintlik 'n agterryer was. Opsaal is herdoop en die goeie orde van die kommando is herstel.
Ben Viljoen, Mijne Herinneringen uit den Anglo-Boerenoorlog, p. 99:
Die geveg duur die hele dag voort, die hewigste op ons linkersy, waar generaal French met sy kavallerie die posisie van die Ermelo- en Bethal-burgers kort-kort bestorm. Elke keer word hulle egter met swaar verliese teruggedryf. Eers storm die lansiers so dapper dat hulle met ons burgers handgemeen raak. Die kommandant van die Bethal-kommando vertel my dat sy agterryer tydens die stormloop van die lansiers met hulle deurmekaar geraak het. Elke keer wanneer hy 'n lansier sien dan roep hy "Hands up!" uit. Hy het al so baie kere die term "Hands up" en "hendsoppers" gehoor dat hy gedink het dat die hele woordeskat van die Engelse taal slegs uit die twee woorde bestaan.
Toe die lansier hom op sy beurt toeroep: "Hands up!" smeek die agterryer: "Hands up, baas!" Die lansier is ook nie links nie en steek hom deur sy regterarm en roep weer driftig: "Hands up!"
Die agterryer wat nou nie mooi verstaan wat aangaan nie, antwoord weer met 'n "Hands up, hands up, baas!" Hy ontvang nog 'n paar stote met die Ians, maar het ook teen daardie tyd genoeg van die onnosele Engelsman gehad en kies die hasepad.
Toe die kommandant hom vra hoekom hy dan elke keer "Hands up" gesê het as die Engelsman met hom praat en nie gevlug het nie, verduidelik hy die saak so: "Sien, baas, ek hoor elke dag hoe die mense sê 'hands up'. Toe dink ek dis nou wat 'n mens sê as jy in die moeilikheid is en jy soebat om jou lewe. Daarom het ek gemeen 'asseblief tog' maar die Engelsman het 'gwaza' en hy hou maar net aan met steek!"
André Malan, Pretoria:
Soos dit maar in 'n oorlogsituasie gaan, het die Boere ook soms beslag gelê op goed wat nie aan hulle behoort het nie. Na een so 'n sessie wat maar redelik rof en vinnig verloop het, het een oom 'n hele kis vol goed gebuit, sonder om die kis, wat geseël was, oop te maak. 'n Hele ruk lank het die kis vol goed saam met die oom geswerf, maar hy het nooit so ver gekom om dit oop te maak nie. Eendag moes hulle vinnig voor die Engelse retireer. By die brug het die generaal gestaan en gelas dat elkeen van die oortollige bagasie wat hulle so vertraag ontslae moes raak. Die oom, wat die kis nou al so lank en deur soveel moeilike situasies met hom saamgebring het, het egter geweier om van sy kosbare vrag ontslae te raak. Die generaal, wat nou nie eintlik vir sy geduld bekend was nie, het die kis summier en bra hardhandig van die oom se kar afgesmyt. Toe dit die grond tref, het dit oopgebars en 'n paar dosyn porseleinpotte (kose) het aan flarde gespat. Wat was die oom se verontwaardiging groot toe hy onder dawerende gelag van sy medeburgers gesien het wat hy so getrou en met soveel moeite met hom rondkarwei het!
Uit Agterryers:
Op 'n helder, sonnige dag is Charles ook hard besig om van Koppie-Alleen af met die heliograaf in aanraking te kom met Vredefort. Die operateur daar was Willie Immelman. Eindelik geluk dit hom en hy sein na Willie: "Who is there?"
Arme Willie skrik hom lam aan die ander kant. Hy hou egter kop en sein terug: "Who are you? Give the countersign!"
Nou bly Charles vir 'n lang ruk stil; sulke parmantigheid het hy nie van Willie verwag nie. Hy sein uiteindelik aan Willie: "Dag Paardeberg." Willie weet dat dit die wagwoord vir die dag is en sein dadelik terug: "Breek!"
Die volgende dag toe die twee vriende mekaar te sien kry vertel Willie hoe Charles se grap hom 'n paar benoude oomblikke besorg het, aangesien hy nie geweet het wie aan die ander kant was nie. Was dit 'n Engelsman dan was hy kniediep in die gemors — afgesny van sy kommando en verder het hy die risiko geloop om met rapporte en al in die hande van die vyand te val!
R.W. Schikkerling, Hoe ry die boere, p. 113:
Onlangs het hier 'n man uit die Kaapkolonie aangekom vergesel deur sy agterryer, 'n bruin man, wat gedurig gekla het omdat hy in die peslike Transvaal moes bly. Terwyl hy besig was om 'n jong perd te leer, is hy afgegooi sodat hy op sy kop te lande gekom het... Hy het 'n paar oomblikke gesit en kyk na die duik wat hy in die grond gelaat het; toe gemompel: "Nei, Transvaal, ma' ek het jou darem hard gestamp, ne!"
Wilhelm Mangold, Vir Vaderland, Vryheiden Her, p. 61:
Die vlaktes by Lombardskop en Bulwana het 'n menigte dongas waar wilde akasia- en doringbome groei en hier het ons voorposte geskuil. Een van ons agterryers wat hout bymekaargemaak het, was skoon oorbluf toe 'n Kakie hom skielik vra: "Where is the road to Ladysmith?" Hy kon 'n bietjie Engels verstaan en het hom aangeraai om reguit aan te stap. Toe nael hy na die voorpos en roep: "Baas, ek het 'n Engelsman gevang!"-
"Nou ja en waar is hy?"
"Daar kom hy aan!"
Die niksvermoedende Kakie was sprakeloos toe hy skielik in twee geweerlope vaskyk en hoor: "Yes and where are you going?"
Hendrina Rabie-Van der Merwe, Onthou! In die skaduwee van die galg, p. 61:
Op ’n ander plek sien ek 'n groot driebeenpot op die vuur staan met groot klippe op die deksel.
"Hoe lyk dit dan vir my of Oom 'n lewende skilpad in die pot het?" vra ek.
"Nee, my niggie, ek is besig om rys te kook. Maar hoe meer water ek in die pot gooi, hoe meer word die rys en dwing om bo by die pot uit te klim."
"Hoeveel rys het Oom dan gebruik?"
"Daardie beker vol," en hy wys na 'n beker, groot genoeg om agt koppies rys te bevat. Ek het lekker gelag en hom aangeraai om maar meer klippe op die deksel te pak.
Vervolg...