Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die kern van Christelike liefde is nie ons onwilligheid om lief te hê nie, maar die vaste wete dat God óns liefhet.
WARE KWINKSLAE (11)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Jan Hendrik Scholtz, 'n Penkop op kommando:
Die burgers het elke dag iets gekry om oor te lag, selfs in die loopgrawe.
Elke dag het hulle die Kakies by Modderrivier-stasie sien dril. Sommige het goeie verkykers gehad en om die beurt die drillery betrag.
Dit het egter ook nie die jong Boere belet om vyfhonderd tot seshonderd tree in daardie rigting te gaan bessies pluk nie. Eendag het 'n sekere jong man wat ons maar liewer B sal noem, saamgegaan. Hy het egter langs die pad gaan sit en van die geleentheid gebruik gemaak om sy broek te lap. Skielik was daar 'n bom, hoog in die lug op pad na hulle toe. Die jong klomp het hulle byna boeglam geskrik en het dadelik rieme begin neerlê. B natuurlik ook. Toe hulle naby die veiligheid van die loopgrawe gekom het, het die paniek ook begin afneem en een van sy meer oplettende makkers het skielik gevra: "Haai, waar's jou broek, man?"
Ewe verleë moes B in sy spore omdraai en sy broek gaan haal! Daardie aand het die burgers nog tot laat oor B se verleentheid gelag. *
'n Penkop het 'n klompie koringmeel in die hande gekry — iets waaroor ons ander natuurlik afgunstig was — en hy het vertrek om op die naburige plase suurdeeg of gis te gaan soek om brood te bak. Een goedhartige ou tante het hom voorsien van suurdeeg. Sodat hy dit makliker kon vervoer, het sy dit in 'n stroopblik verseël wat hy in die knapsak tussen sy skouers geplaas het. Die warm son en die geskud het die boel aan die gis gesit sodat die deksel met 'n knal afgevlieg het. Die kêrel het sy agterkop bevoel. Dit was taai van die suurdeeg en onmiddellik dink hy dis sy geweer, wat ook oor sy skouers gehang het, wat afgegaan het, met ontsettende gevolg. Hy was verwaand genoeg om te dink dis sy harsings wat hy voel en in noodsangs het hy by sy metgesel verneem hoe lank 'n mens leef na so 'n ongeluk!
E.F. Rohm, Kinders op kommando:
Een van Klein Thys van Tonder se meesterstukke was die dag toe hy saam met twee ander verkenners verkenningswerk by 'n koppie naby Springfontein moet gaan verrig. Na 'n rukkie van sit en niksdoen, merk hulle 'n muilwa met voer op en vergesel van 'n klomp Engelse soldate, wat pas die dorpsgrense verlaat het.
"H'm ... so 'n wa en veral die twaalf muile sal darem maar handig wees vir die kommando. lets moet ek omtrent die saak doen." Thys was ook nie 'n man wat op hom laat wag het nie en hy voeg onmiddellik die daad by die woord. Hy laat spat by die leegte af en versteek homself in 'n sloot langs die treinspoor. Net toe die wa verbykom, spring hy op en skree met 'n dawerende stem: "Halt!"
Hy het kwansuis bevele van sy kommandant dat as hulle nie dadelik oorgee nie, die kanonne op hulle gestel gaan word. Dit sê hy terwyl hy met 'n swierige gebaar in die rigting van die koppie beduie waar hy sy maats agtergelaat het. Toe knip hy die telegraaflyne langs die treinspoor. Aan die bruinman wat die wa dryf, word opdrag gegee om die wa na die "Boeremagte" toe te neem. Die ontwapende tommies kry opdrag om vooraan in gelid te marsjeer. Toe hulle die plek bereik waar Thys se twee maats op hulle wag, word hulle plegtig aan die "mag" voorgestel. Voordat hulle nog kan wonder waar die kanonne wat op hulle gerig is nou eintlik is, kry hulle opdrag om hulself so gou moontlik uit die voete te maak terug Springfontein toe!
E.F. Rohm, Die Huisgenoot:
Ons het so pas gaan lê toe Piet van Tonder so teen halfses ingejaag kom met die tyding dat veldkornet Joubert met 'n klomp Engelse slaags was. Ek het my verkyker gegryp en gemerk hoe sowat 400 Engelse met twee kanonne intrek by die plaas Slangfontein. Toe ek aan generaal Brand gaan rapporteer wat ek gesien het, het hy net geantwoord: "Julle kom wragtie nie sonder die kanonne terug nie."
Ons het inderhaas opgesaal. Ek het die penkoppe beveel om te volg sodra hulle gereed was. Twee van die seuns, Piet van Tonder en Vaal Flip Snyman, was op pad om die pad te gaan oppas. Net toe hulle oor 'n bultjie kom, het die agt en dertig tommies reg op hulle afgestorm. Die twee het net so in hulle spore neergesak en geskiet dat dit gons, waarop die tommies in die spruit in gevlug het. Anderkant uit kon hulle nie, want dit was nie by 'n drif nie; steek een sy kop uit, dan laat die twee op die wal van hulle hoor. Ek het gesien dat hulle, tydelik altans, veilig was en na die geveg terugkeer. Ons het besluit om die stelling te bestorm. Ons het nou tussen die Engelse staan en skiet. Na die vyfde sarsie het die wit vlag opgegaan. Die ontwapening was nog aan die gang, toe ek vir Piet van Tonder ook daar opmerk.
"Wat maak jy hier, pas julle dan nie die agt en dertig man in die spruit op nie?" het ek kwaai gevra.
"Maar Vaal Flip is mos daar, Veldkornet!" het hy ewe verontwaardig geantwoord.
Renier-versameling:
Klein Petrus van Niekerk en die ander seuns van die omgewing is opgekommandeer om met die vee te vlug en terselfdertyd die vrouens by te staan. Later was daar nie meer vee oor om op te pas nie en het hulle maar altyd by die kommando gebly.
So 'n jaar voor die einde van die oorlog was hulle in die omgewing van die plaas waar sy ma saam met ander vrouens geskuil het. 'n Seun van so elf, twaalf jaar verlang ook na sy ma en so het Klein Petrus en sy maats dikwels weggeglip na sy ma toe. Buitendien was daar so 'n aantal mooi dogters tussen die vroumense in die laagtetjie waar hulle skuilgehou het. So het dit dan eendag gekom dat Klein Petrus en sy twee maats weer van die kommando af weggeglip het en op besoek was in die laagtetjie. Toe Klein Petrus so ewe houtgerus by sy ma se agterdeur uitstap, moet hy tot sy ontsteltenis sien hoe die Engelse soos 'n swerm sprinkane teen die steilte afjaag, reg op die huisie in die laagtetjie.
Petrus het na sy twee maats geskree, maar almal was lam van skok en die Engelse was alreeds so vier, vyfhonderd tree van die huis af. Petrus, nadat die skrik so 'n effe die wyk geneem het, het dadelik 'n plan gemaak, maar sy twee maats wou nie daaraan byt nie. Hy dink hulle was te skaam vir vroumense, veral vir die jong nooientjies. Goed, as hulle dan nie aan sy plan wil byt nie, moet hulle plegtig belowe dat hulle hom op geen manier sal ontmasker nie. Sy suster Magriet is net so groot soos hy. Hy gryp een van haar rokke en pluk dit aan en plak daarna een van haar kappies op sy kop.
Net toe arriveer die eerste Engelse by die huis. Hy hou hom egter tussen die klomp dogters wat so eenkant is. 'n Engelsman wat vlot Afrikaans kon praat, kom die huis binne. Teen daardie tyd het hy en sy susters en 'n paar van die ander dogters op die bank gesit. Die Engelse deursoek die plek en vertrek 'n rukkie later. Petrus is bly, maar sy hart bons soos 'n hamer — die gevaar is nog nie heeltemal oor nie.
Hy loer deur die venster en sien hoe die Engelse teen die bultjie uittrek. O wee, wat hy gevrees het, het gebeur. Sy twee maats is gevang — hy weet voor sy siel dat hulle ongeag hulle plegtige beloftes hom tog gaan verklap. Toe halt die Engelse skielik en hou 'n lang redenasie met sy twee maats, swaai met die arms en gaan tekere en wys kort-kort in die rigting van die huis. Sê nou hulle verklap sy geheim? Hy kan sien hulle word gedreig. Ja-nee, daar spring die klompie Engelse weer op hulle perde en kom met mening teruggejaag na die huis toe in die laagte.
Weer moet Petrus 'n plan beraam en baie gou ook. Vandag sal hy moet hardloop soos lanklaas en vroumensklere is 'n belemmering vir 'n man wat met die dood 'n wedloop onderneem. Daar is egter nie tyd om die goed uit te trek nie. Hy pluk die rok op en druk dit by sy gordel in sodat die spulletjie soos 'n hemp om sy bolyf bol. Onder het hy darem nog sy opgerolde broek aan, want dit wou hy darem nie uittrek toe hy sy suster se rok aangetrek het nie. A-nee-a, dit sou darem 'n neukery wees voor die vroumense.
Toe die eerste Engelsman van sy perd afspring voor die deur, seil hy reeds by die agterdeur uit oor die ladsmuurtjie agter die huis reguit rivier toe, want die Renosterrivier loop so 'n entjie agter die huis verby. Hy hardloop nie meer nie, hy vlieg behoorlik. Die opgebondelde rok en die opgerolde broek pla hom nie meer nie. Voor hy die rivier bereik, sien hy hoe die Engelse agter hom aangejaag kom. Hulle het hom seker gewaar. Hy hardloop nog vinniger. Hy bereik 'n groot krans op die wal van die rivier. Daar is 'n paar diep skeure in die krans en hy glip daarin soos 'n dassie.
Toe dreun die perdepote ook die hele wêreld vol op en af langs die rivier. Dit vloek en lawaai en kort-kort skree die "Engelsman": "Kom maar uit, ons het jou lankal gesien." Dan skiet hulle 'n paar skote, maar Petrus lê so stil soos die dood. Not 'n dem gaan hy uitkom nie. Hulle lieg, hulle weet tog nie waar hy is nie, want by die volgende wegkruipplek skiet en raas hulle maar weer net so en skree maar weer met dieselfde alwetenheid: "Kom maar uit, ons sien jou, ou kêrel!"
Eindelik bedaar die rumoer. Die soektog word gestaak. Petrus bly egter in sy skeur tot donker. Terwyl hy so lê en wag, begin hy lag, want skielik wonder hy watter neukery dit sou afgegee het as die Engelse nie op sy spoor gekom het rivier toe nie en uit desperaatheid die klomp meisies begin aantree het om vas te stel watter een die seun was.
Vervolg...