Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy nie iets kan sê wat tot die eer van die HERE bydra nie, bly liewer stil. Mense het al dikwels spyt gekry oor hulle woorde maar nie oor hulle stilswye nie.
WARE KWINKSLAE (13)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
De Wet! De Wet!
Andre Malan, Pretoria:
My ouma het vertel dat die Engelse eendag by haar ma op die plaas aangekom het waar sy besig was om brood te bak. Die troepe was baie haastig en wou opsluit brood hê. Hoe meer sy egter aan hulle beduie dat die brood nog nie uitgebak is nie en dat sy hulle dus nie kon help nie, hoe driftiger raak die tommies want hulle broodhonger was groot. Ten einde laaste sug sy moedeloos: "Maar die brood is nog te wit!"
Toe is daar groot konstemasie. "What! De Wet!" skree een en soos een man ruk hulle hulle perde om en kies die hasepad!
J. S. de Wet: Met genl. De Wet op Kommando:
Tydens die slag by Nicholsonsnek het een van die gevange Engelse offisiere langs sy perd gestaan nadat die geveg oor was. Die man het op sy perd geklim, menende dat hy die tog na sy gevangenskap te perd gaan onderneem, maar kommandant De Wet het ander planne gehad. Hy het die offisier gelas om van die perd af te klim, maar in plaas daarvan om te gehoorsaam, het hy ewe brutaal geantwoord: "Oh no, this is my horse, and I am not going to walk."
Kommandant De Wet, nou alreeds keelvol vir die Engelsman, het daarop gesê: "Ek beveel jou nou vir die tweede maal; sal jy afklim of moet ek jou afskiet?"
Waar was julle? Vinniger as blits was die Engelsman van die perd af. Daarop het een van die burgers met die volgende pittige opmerking te voorskyn gekom: "Maat," het hy aan die Engelse offisier toegevoeg, "onthou oorlede Salomo het gesê: elke ding het sy tyd, maar hy het blykbaar vergeet om by te voeg, behalwe om 'n vlooi te vang en van 'n perd af te spring! Dan moet jy wraggies rats wees of jou turf sit!"
J.C. de Wet, Met generaal De Wet op kommando, pp. 21-22:
Terwyl Kakie se kind houtgerus en sonder die eienaar se toestemming, huis en klipkrale in besit neem (hulle was verdwaal), verskyn generaal De Wet met twaalf man op die bult, ongeveer drieduisend vyfhonderd tree van die huis. En wat nou? Hulle ongehinderd laat staan, wou ons nie. Stormjaag sou in die geval onprakties wees en met dodelike gevolge vir ons afloop, selfs selfmoord beteken. Hulle is minstens vier teen een, met die huis en krale as goeie beskutting.
Soos die noodlot vir tommie dit wou hê, het ons 'n waterkar met muile daarvoor en enige voorrade daarop (alles uit die vyand se kommissariaat gebuit) by ons gehad. Maar wat die hoenders kan 'n waterkar nou in dié geval aan die situasie doen?
"Kerels, trek uit daardie lang omheiningsankerpaal en bind dit aan die waterkar vas," kom die bevel van die generaal.
So, op 'n afstand kan die Kakies nou die waterkar dalk vir 'n kanon aansien. Daarop trek ons vorentoe om goed deur die vyand opgemerk te kan word. Die volgende rapport word dan ook gou onder die witvlag na die vyand gestuur: "Gee dadelik oor en as julle weier, dan verpletter ons julle met die kanon." En daar trek een van die burgers met rapport en witvlag. Na enige minute kom die burger, vergesel van die kaptein (die bevelvoerende offisier) aangery na ons. Ek en die generaal ry die twee 'n paar honderd tree tegemoet, die ander tien burgers ontvang opdrag om voor en rondom die waterkar-kanon posisie in te neem, ten einde die kanon vir die Engelse te "verberg".
"En waar is die ander klomp?" vra die generaal.
"Sir, I came to hear the conditions", maar voor hy nog verder kan praat, sê generaal De Wet: "Sê aan hom daar is net een kondisie, onvoorwaardelik!"
Dit word toe aan hom in Engels vertaal.
"No, oh, no! I must get the terms," antwoord die kaptein.
Ewe kalm haal die generaal sy sakhorlosie uit en terwyl hy daarop kyk, sê hy: "Sê aan hom ek gee hom vyftien minute tyd om die witvlag te gaan hys en oor te gee; so nie, sal my kanon die oorgawe afdwing en hy sal vir die gevolge van dood en verwoesting verantwoordelik wees."
Die tolk was nog besig, toe steek die Kakie spore in en, boeties, vinniger as wat die Engelsman teruggejaag het, het ek nog nooit gesien nie. Hy het nie volgens plan geretireer nie, maar vóór die plan! Nog voor hy by die huis was, het die witvlag gewapper en so het ses en vyftig tommies die knie gebuig en voor generaal De Wet se waterkar-kanon gehendsop ...
Generaal De Wet het streng bevele gegee om nie een woord van die waterkar te praat nie. "Ons kan dit weer nodig kry," het hy gesê. En nog minder het die Kakies die eer gehad om die (dodelike) kanon te sien.
C.R. de Wet, De strijd tusschen Boer en Brit, pp. 129-130:
Terwyl ek nog so oor die saak nadink, begin die troepe uit die kamp in die weste uittrek al met die pad tussen Wolhuterskop en die Magaliesberge, omtrent twee myl van ons af.
Die verkenner wat ontsnap het, het seker teen die tyd by die mag opgedaag. Ek moes dus vinnig optree. In die omgewing was daar 'n stroois. Ek ry daarheen.
"Reg dwars voor ons vra ek aan die swart man wat daar woon terwyl ek in die rigting van die Magaliesberge beduie: "Kan 'n mens daaroor?"
"Nee, Baas' antwoord die swart man beslis.
"Het iemand al ooit daaroor gery?" vra ek weer.
"Ja, Baas," antwoord die man, "lank gelede"
"Loop daar bobbejane daaroor?"
"Ja, hulle loop daar, maar nie die mens nie!"
"Ruk op," beveel ek die burgers. "Dit is ons enigste pad hieroor en waar 'n bobbejaan kan oorgaan, daar kan 'n mens ook. Ons moet daar oor."
By ons was 'n korporaal, Adriaan Matthijsen, 'n burger van Bethlehem, wat baie gepas en ewe droogweg soms 'n grap kon maak. Hy kyk op na die berge wat so bokant hom uittoring en sug: "O Roode Zee!"
Vervolg...