Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ek is 'n oumens wat baie bekommernisse geken het, maar die meeste van hulle het nooit gerealiseer nie. Nou besef ek dat bekommernis 'n vyand van die lewe is, 'n vorm van ateïsme, want dit veronderstel ongeloof in die bestuur van God in my lewe. En nou laai ek my bekommernisse by God af en weier om dit môre weer op te laai.
WARE KWINKSLAE (16)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
R.D. McDonald, 'n Terugblik op my oorlogsjare, p. 56:
Terwyl ons vir die vyand moes vlug, kon een van die burgers maar net nie wegkom nie. Die Engelse was al baie naby aan hom en die muil, waarop hy gery het, was ongelukkig baie steeks. Daar was gevaar dat hy met die muil en al in die hande van die Engelse kon beland. Toe ek by hom verbygaan, het ek verneem hoe dit met hom gaan.
"Dit gaan sleg, Meneer," was sy antwoord, "ek is die hel in."
"Foei tog," het ek gesê, "daardie plek is al te warm. Hoe eerder jy daaruit kom, des te beter."
R.D. McDonald, ’n Terugblik op my oorlogsjare, p. 57:
Met die inval van generaal De Wet in die Kaapkolonie het die Engelse hulle magte op hom gekonsentreer. Elf dae lank het hulle hom dag en nag agtervolg. 'n Groot deel van sy manskappe was voetgangers. Sommige burgers het voor die kommando uitgegaan om perde te soek. Op 'n plaas het hulle 'n aantal perde in die kraal ingeja. Die eienaar het by die kraaldeur gestaan terwyl die burgers besig was om perde te vang. Ek wou ook graag een hê, maar nie sonder die toestemming van die eienaar nie. Toe ek aan hom vra wie se perde dit is, het hy ewe moedeloos geantwoord: "Dit was myne, maar wie s'n dit nou is, dit weet ek nie!"
D.S. van Warmelo, Mijn Commando en Guerilla-Commandolewe, p. 175:
Toe die vlug van die vrouens nog 'n nuutjie was, was hulle besonder vrolik, maar wie sal hulle gevoelens kan beskrywe toe die motreen die nag so saggies begin neersif en die reis voortgesit moes word. 'n Twintig tree van waar ek gelê het, was van die mense besig om 'n wa in te span. Ek het gelê en luister na die mans- en vrouestemme. Een ou man was gedurig aan die woord. Hy sou buitendien op die eerste die beste plek al die vrouens afgelaai het as hy sy sin gehad het, want soveel ellende en verdriet het hy nog nooit deurgemaak nie. Hy is gehelp deur 'n swart man en sy jong seun. Die seun het te perd gery en 'n handperd gelei of liewer hy het die handperd aan sy leiriem rondgesleep, want die betrokke perd was besonder steeks. Hy moes die trekvee bymekaar maak, wat vir my wat die hele ding beluister het nogal na 'n onmoontlike taak geklink het, aangesien die trekvee met die perde van die burgers deurmekaar geraak het.
Wanneer hy Kindermeid (die naam van die os) gevind het, dan was Witlies weer weg en wanneer Witlies opgespoor is, was Vaalpens weer soek. Kindermeid, so 'n rooibont os, het die meeste probleme veroorsaak. Kort-kort het die ondeunde dier by my verbygeloop, gevolg deur die seun en die steeks perd aan die leiriem. Dan het die seun in so 'n pieperige, verdrietige toon gesê: "Kyk hoe rem die merrie!" Hierop het sy pa geantwoord — teen hierdie tyd toomig: "Het jy vir Kindermeid gekry?"
Dan het die verdrietige stemmetjie uit die donker gekom: "Ja, Pa, maar nou is Vaalpens weer weg. Die merrie rem so dat ek nie die osse bymekaar kan kry nie!"
Toe hy hulle uiteindelik bymekaar gekry het en die geluid van die waens in die verte verdwyn het, het ek nog lank in die stilte van die nag die hoë, deurdringende stemmetjie van die seun gehoor: "Pa, kyk hoe rem die me..e..rr..ie!"
Mev. Marie Malan, Renier-versameling 119.182:
Gedurende die oorlog het die Senekal- en die Heilbron-kommando eenkeer saam in Natal naby Ladysmith laer getrek. My vader was lid van die Heilbron-kommando en sy ou vriend, Kemeels van Rooyen van die distrik, was lid van die Senekal-kommando. Hulle het mekaar toe nog nie geken nie. Wei, soos ek reeds gesê het, het hulle daar saamgekom en besluit om op een van die koppies naby die dorp te oornag. Die nag het rustig verloop. Die volgende môre toe hulle besig was om ontbyt voor te berei, was dit 'n perd of, sal ek maar eerder sê, 'n saal van 'n ander kleur. Die pappot was skaars aan die kook toe die eerste skote in die kamp klap. Die Engelse het hulle op die koppie gewaar en ongemerk nader getiek. Toe die Boere hulle kom kry, toe reën die bomme om hulle.
Nou weet ons dat Boer se kind maar soms haastig kon wees as daar enige nodigheid daarvoor bestaan het. Onder die aansporing van die bomme het hulle maar baie haastig opgespring en gemaak dat hulle by hul perde kom. Daar was net een uitweg vir hulle en dit was vlug, gou vlug en ver vlug.
Oom Kerneels sê die man wie se perd langs syne was, het ook met 'n vreeslike haas opgesaal. Toe hy egter na sy saal se buikgord soek, kon hy dit skielik nie vind nie. Hy het vervaard oor die perd se rug gekyk om te sien wat aangaan. Wat was sy konstemasie groot toe hy agterkom dat hy blindelings na sy saal gegryp het en toe nooit gemerk het dat hy die potdeksel gegryp het en daarmee die perd probeer opsaal het nie!
Die oorlogsherinneringe van Lizzie Geldenhuys:
Charles het stilletjies na die trop perde toe gestap en Vader se bruin perd Flygo totaal van voorkoms verander. Vader is vroeg op. Die ander slaap nog — Charles kwansuis ook. Na Vader sy eerste koppie koffie genuttig het, stap hy in die rigting van die perde om te sien of almal nog daar is. Nou ja, Vader was 'n haastige man, maar wat 'n skok wag op hom! Hy stap nader na die perde en kyk hulle deur. Ja wag, alles is reg; dit is Flygo wat daar tussen die perde staan en wei met sy agterlyf na Vader toe. Toe hy egter nader kom, lig die perd sy kop op en kyk om. Nou hoe is dit moontlik? Dit is Flygo, maar dit is ook nie. Die perd het dan 'n yslike, wit bles en een wit agterpoot. Vader lig sy verkyker op, maar daar is geen Flygo te sien nie! Intussen het die drie laatslapers vir Vader staan en dophou. Hulle geniet natuurlik elke oomblik. Vader, wat intussen hoogs ontsteld is oor sy perd, kom vinnig aangestryk kamp toe.
"Charles, neem die volk en gaan soek vir Flygo! My perd is weg!" kom dit al daar van ver af.
Charles staan lui-lui op, was en trek aan en drink ewe rustig sy koffie tot Vader se groot ergernis vir die stadigheid. Uiteindelik is Charles klaar en kan hy vir Flygo gaan soek met Vader en die ander nuuskieriges agtema.
"Maar, Vader, is dit dan nie Flygo hierdie nie?"
"Nee, man, ek was netnou by die perd. Dit is nie Flygo nie. Jy weet Flygo het nie 'n bles nie, wat staan nog 'n wit agterpoot!"
Charles stap tot by die perd en bekyk hom en vryf ewe nonchalant oor die bles dat die wit stof so in die lug staan en sê ewe onskuldig: "Vader, kyk wat het die kwajongens aangevang! Hulle het vir Flygo 'n bles getrek en sommer 'n wit poot ook!"
Vader het nooit die waarheid gehoor nie al het hy seker in die stilligheid geweet wie die kwajong nou eintlik was!
Vervolg...