Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Sorg dat jou uitverkiesing tot die ewige lewe jou nie lou maak in die stryd teen die Bose nie maar eerder krag en wysheid gee om teen die versoekings te stry.
WARE KWINKSLAE (19)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Robert de Kersauson de Pertnendreff, Ek en die Vierkleur, p. 52:
By Kruidfontein was ons almal in die huis besig om koffie te drink terwyl 'n paar van ons op die klavier en 'n ghitaar musiek maak toe een van ons Kleurlinge die deur oopdruk en benoud skree: "Baas! Kakies!"
Ons hardloop uit met ons wapens in die hand en verras twee Engelse wat net daar aangekom het op fietse. Hulle gewere was aan die fietsrame vasgemaak. Een skree dadelik: "Don't shoot, we surrender!" terwyl die ander een byvoeg: "I'll be damned if I want to get shot for five shillings a day!"
H.C.J. Pieterse, Die oorlogsavonture van generaal Wynand Malan, p. 73:
Op daardie oomblik was die voorste lansiers nie meer as tien tree agter my nie, maar my ryperd kon hardloop.
"Hands up!" skree 'n kort, gesette Kakie hier kort agter my. "Hands up, you dirty Dutchman!"
Daar was nog kans vir omkyk, en koelweg antwoord ek: "No, not this time, my lord!" Sjoe, maar so 'n kêrel kon woes skiet met 'n rewolwer! Maar dit is hier waar Very Nice sy deugde so pragtig aan die dag gelê het. Toe ek hom die teuels gee, skiet hy soos 'n gedagte onder die aanstormende vyand uit.
Franco Seiner, Ervaringin en Herrineringin, p. 64:
Toe die eerste twintig manne die noordelike helling van die koppie bestyg, kom hulle op die Engelse skildwag af. Die man sit rustig op 'n rots met sy geweer langs hom. Hy was besig om stip na die koppies aan die oorkant te tuur; van die Boere wat alreeds sowat vyftig tree van hom was, gewaar hy niks. Een van die Boere bekruip hom van agter — ongelukkig skop hy een van die los klippe raak wat met 'n gedruis teen die helling rol.
Die Engelsman, nog steeds heel rustig, dink dis sy plaasvervanger wat opgedaag het en vra so ewe kalm: "Is that you, Johnny?"
Die Boer, ook glad nie op sy mond geval nie, antwoord dadelik: "Yes, yes, it's me."
Die skildwag besef skielik toe hy die vreemde stem hoor dat daar fout is, maar dit is reeds te laat — van al die kante is hy skielik deur die Boere omsingel.
"O, it's the Boers!" roep hy doodbang uit. Hy spring op en storm deur 'n doringbos, en sou heel waarskynlik daarin geslaag het om weg te kom as een van die Boere hom nie aan die enkel beetgekry en teruggesleep het nie. Die jong man is nou doodseker dat dit die laaste dag van sy lewe is. Hy is onmiddellik op sy knieë en smeek om genade. Groot is sy verbasing toe een van die Boere skielik sy waterbottel in sy hand druk en sê: "Drink," en hy die eerste mond vol whiskey met groot verligting sluk.
Maria Potgieter, Renier-versameling:
Ek het 'n ent gehardloop en gewag dat die vyand moes nader kom. Hulle stuur toe so 'n jong mannetjie na my toe en ek steek my sakdoek op as teken dat ek oorgee. Die jong snuiter vra my waarom ek nie my hande opsteek nie. Hierop antwoord ek of hy dan nie kan sien dat ek my wit sakdoek die lug ingesteek het nie. Op sy vraag wat ek in die sak om my lyf het, sê ek of hy dan nie kan sien dat dit my seep, my handdoek en Bybel bevat nie. Hierop antwoord hy ewe verontwaardig: "Jou duiwelse rebel, jy het wragtig nog 'n Bybel by jou!"
Oorlogsondervindinge van D.J.B. Wiese soos vertel aan H.N. Conradie, Renier-versameling:
Oom Seef ry eenmaal alleen om 'n koppie en hier kom sewe Engelse aan. Oom Seef kon nie eintlik Engels praat nie, maar sê: "Put dem down en kom so!" Die Engelse het ewe gedwee gehoorsaam.
Oorlogsherinneringe van Frans Hendrik de Jager A289:
Toe Frik by die deur van die verlate woning uitkyk, hou drie En¬gelse offisiere net voor die deur stil. Hy besef dat hy nou lelik in die knyp is, want sy geweer is langsaan. Daar is nie tyd om dit te gaan haal nie, want die Engelse is al in die huis. 'n Boer maak egter vinnig 'n plan — hy gryp gou die besemstok wat in die hoek staan. Toe die offisiere die vertrek instap waar hy stelling langs die kosyn ingeneem het en voordat die een offisier weet wat hom getref het, druk Frik die besemstok net hier in die waai van die kêrel se rug in en sê: "Hands up." Die twee steek hulle hande so stadig die lug in en hy ontwapen hulle.
Die adjudant ruk sy perd om sodat hy kan wegjaag, maar toe was Frik reeds by en gryp die perd aan sy toom. Die adjudant was ook verplig om oor te gee.
Toe die een offisier sien hoe hy ontwapen is, kon hy net skud en sê: "What a bloody fool I was.
Vervolg...