Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gewone mense dink net hoe hulle hulle tyd kan deurbring; verstandige mense probeer dit gebruik
WARE KWINKSLAE (20)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Die volgende twee staaltjies kom uit Hendrina Rabie-Van der Merwe se boek Onthou! In die skaduwee van die galg, pp. 121-122
In Calvinia laat Generaal Hertzog my (Rooi Faan van der Merwe) toe roep en hy sê vir my: "Kyk, Faan, ons het nou Calvinia van die Engelse afgeneem en ek en generaal Nieuwoudt gaan verder — ons wil gaan tot by Lambertsbaai en ons kan nie Calvinia sommerso los dat die Engelse hom weer inneem nie. Ek stel jou nou aan as landdros van Calvinia; jy kan vir jou 'n klompie man uitsoek — so tussen twintig en vyf en twintig en dan bly julle agter en julle sien toe dat wet en orde in Calvinia gehandhaaf word totdat ek terugkom."
So gesê, so gedaan. Ek word aangestel as landdros van Calvinia en die twee generaals gaan verder. Daar het nou nie juis ernstige sake voor my gedien nie, maar ek het gou uitgevind dat 'n man soos ek geen kennis van regspleging het nie en baie gou in die war gebring kon word deur getuienis aan te hoor vir 'n man en teen 'n man, terwyl aan die ander kant, as 'n man skuldig pleit, word daar geen getuienis gelei nie! Toe maak ek 'n plan.
Ek kam nou my bos rooi hare van agter af oor my kop en oor my gesig. My oë hou ek op skrefies waardeur ek net-net kon sien. So klim ek nou op die regbank met my rewolwer in my hand. As ek nou op die bank kom, buIder ek so 'n bietjie op my polisiemanne — hulle reageer gewoonlik te stadig na my sin en dan skiet ek so 'n paar skote rond in die hof dat die pleisterklei so waai. Dan eers sê ek vir die aanklaer hy moet die klagte teen die beskuldigde uitlees en as dit klaar is, k-y-y-y-k ek vir die man — meestal bruinmense — so deur die skrefies hare totdat hy ongemaklik op die beskuldigdebank begin rondskuif. Dan eers vra ek: "Pleit jy skuldig of onskuldig?"Gewoonlik antwoord hy sommer: "Skuldig, Seur, die Seur kyk dan somar so dwarsdeur 'n mens tot binne in sy siel! Nee, ek is maar skuldig, Seur!"
***
Op Jagersfontein het Rooi Faan van der Merwe soos gewoonlik oponthoud veroorsaak. Sy vel was baie wit van kleur en dus rooi gebrand op kommando terwyl die yl baard op sy wange sulke wit krulle gevorm het sodat hy maar snaaks uitgesien het om die minste te sê.
Faan wou nie daarvan hoor om van Jagersfontein af pad te gee voordat hy nie eers met 'n sekere Engelse offisier afgereken het nie. Die betrokke offisier het baie huise in die distrik afgebrand en net soveel skade en ergernis aangerig as wat hy moontlik kon.
Iemand wys vir Faan die huis van die majoor en Faan is nie links nie en pyl reguit daarheen! Hy draai ook sommer die voordeur oop en stap in met 'n oorgehaalde geweer, reg om die Engelsman te skiet sodra hy sy verskyning maak. Hy stap die lang gang af en sien iemand met 'n geweer na hom toe aankom — so 'n lelike kêrel wat niemand anders as die Engelse majoor kan wees nie. Toe Faan sy geweer lig, tel die ander man syne ook op en Faan trek los om die eerste skoot in te kry. Die Engelsman tel sy geweer ook op en die volgende oomblik lê die spieël aan die onderpunt van die gang aan flenters. Faan se voete gly onder hom uit — swaar gewond soos hy gemeen het. Stadigaan voel-voel hy so aan homself of daar nie bene stukkend is nie. Toe hy uitvind dat hy niks makeer nie, kom hy ewe sedig uit die huis gestap.
"Het jy hom gekry?" wil ons almal dadelik weet.
"Nee," antwoord hy kortaf.
"Maar ons het jou dan hoor skiet!"
"Ja, man, ek het selfmoord gepleeg. Daar was so 'n groot spieël en daarin het ek die lelikste Engelsman wat ek nog ooit gesien het met so 'n wit, yl baard ..
Maar toe bars ons almal uit van die lag . . . en Rooi Faan moes baie lank nog die gespot oor die lelikste Engelsman wat hy nog gesien het, aanhoor.
Die volgende twee kom uit H,C. Hopkins, Maar een soos hy, p. 154:
Oom Aap Geldenhuys het eendag met sy hande in sy broeksakke gestaan en kyk hoe die byna eindelose Engelse kolonnes verby marsjeer. Na aanleiding van die tweede plaag wat Egipte getref het, het hy so ewe droog opgemerk: "Stof werd luizen!"
***
Net oorkant Schoemansdrif aan die Transvaalse kant van die Vaalrivier het oom Gielie Schoeman gewoon. Ten tye van die oorlog was hy al reeds hoogs bejaard en dus bokant die ouderdom van krygsdiens. Buitendien was hy so 'n bietjie doof, sodat hy wanneer die Engelse nader gekom en hy sy toevlug tot 'n rant geneem het, hy altyd 'n Kleurling met hom saamgeneem het om hom te help "luister". Eendag het die vyand hulle egter van agter af verras en toe het die jong sy hande vol gehad om die oubaas te oortuig dat hy moet hendsop. Toe oom Gielie omkyk en die vyand sien, se hy so ewe droogweg: "Ja, die tyd het aangebreek dat 'n mens aan jou agterkant ook moet spioen!"
Vervolg...