Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die toorn van die HERE sal nie afgewend word nie, totdat Hy uitgevoer en tot stand gebring het die raadslae van sy hart; aan die einde van die dae sal julle dit duidelik verstaan. – Jeremia 23:20
WARE KWINKSLAE (22)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Wingerdwys...
R.W. Schikkerling, Hoe ry die Boere:
Langs die pad het ons talle gevangenes aangetref wat onbewaak en myle agter die ander streep-streep met die pad langs aangetou het. Kort-kort het hulle by een van ons vemeem of hulle nog "op die regte pad was laer toe". Een van die gevangenes het op 'n perd gery terwyl die man wat hom gevang het, die baas van die perd, ewe doodluiters langsaan voetgeslaan het. Kort-kort het die gevangene sy waterbottel vol rum ondertoe aangegee waaruit die oorwinnaar gretig gedrink het. Laasgenoemde het nog een keer verlangend omhoog gestaar en die gevangene het ewe gelate beduie: "Empty, empty," en die bottel omgekeer om te wys dat dit regtig leeg was. Net daar verander die Boer se sagmoedige en smekende houding en hy bulder: "Nou klim dan dadelik af van my verdomde perd!"
***
Die volgende voorval het plaasgevind na die slag van Helvetia op 28 Desember 1900 toe die Boere die Britse blokhuise aldaar aangeval het en 'n kanon gebuit het. Binne-in een van die blokhuise was 'n aantal vaatjies rum waaruit van die tommies hulself gehelp het voor die geveg.
Ons het haastig padgegee met ons buit (die oorblywende rum en 'n aantal krygsgevangenes hierby ingesluit), want ons was bang dat die vyand van Machadodorp kon wegvlieg om ons voor te keer.
Die tommies het danig vriendelik geraak met ons manne, hulle 'n sopie rum aangebied en enkele van die burgers het in die proses warm en spraaksaam begin raak. Van der Merwe en 'n Kakie het ver agter geraak en hoewel hulle mekaar nie kon verstaan nie, het hulle diep teue oor en weer uit mekaar se waterbottels gedrink en in die proses aangeklam begin raak.
Gemoedelik beduie die tommie toe: "All right, old man, you are a gentleman, you are fighting for your country and your home; but what am I fighting for? A bloody 1 / 3 a day."
Van der Merwe kon nie mooi uitmaak wat sy nuutgevonde "vriend" bedoel nie. Hy het die Kakie vol in die oë gekyk en geantwoord: "Maar dit lieg jy mos nou!"
Oorlogsherinneringe van Frans Hendrik de Jager:
Ou Mieta wat my help grootmaak het, het gereeld my klere gewas as die kommando in die omgewing was en dit dan op 'n sekere plek by die rivier gelaat. By een so 'n geleentheid het een van my maats saam met my gegaan. Mieta het ons by die rivier gekry en bier wat sy gebrou het, aan ons aangebied. Ons het ons nie twee keer laat nooi nie. By die hut het ek eerste gedrink en die pot vol bier aan my maat oorhandig. Hy wou net sy eerste teug vat, toe klap die skoot en die pot spat aan flarde in sy hande. Ek sal nooit sy verslae: "Vervlaks, maar ek was dan so lus vir die bier," vergeet nie!
Wilhelm Mangold, Vir Vaderland, Vryheid en Eer:
Onse Biccard was so in die wolke dat hy om ons kordaatstuk te vier, 'n bottel rum te voorskyn gehaal het en ons elkeen 'n dop aangebied het. Die bottel rum het ons amper meer kommer besorg as die hele veldslag by Driefontein. Dit is deur 'n kameraad uit Bloemfontein aan ons gestuur en vroeg die oggend afgelewer. Na ernstige oorweging het ons besluit om nie die bottel oop te maak nie, aangesien vorige ondervinding ons geleer het hoe vinnig die voggies verdwyn as die prop eers getrek is. So gesê, so gedaan. Die bottel is aan Biccard, die oudste onder ons, toevertrou. Hy het dit gedagtig aan iemand se ongeluk met 'n bottel sjerrie versigtig in sy baadjiesak gebêre.
Dit gebeur egter toe dat sy perd tydens 'n vinnige rit val, maar voordat hy nog weer op die been was, het hy triomfantlik geskree: "Dis nog heel!" Sodoende kon ek en Jooste herstel van die skok. Of dit nou die rumgeur was of besondere sterk reuksintuie, kan ek nie sê nie, maar kort-kort was daar iemand met 'n behoefte aan versterking en voordat ons mooi geweet het, was helfte van die rum daarmee heen! Die liewe Piccanini het nou egter met 'n ferm hand die prop in die bottel se nek ingedruk en met 'n blik wat duidelik sê: "Nou's dit klaar," die bottel laat verdwyn.
Vervolg...