Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Een groot bron van ongelukkigheid by mense is die gewoonte om jou lewe uit te stel na 'n toekomstige datum. Meeste mense is gedurig besig om hulself ongelukkig te maak omdat hulle vandag se mooi dinge en geleenthede verloor terwyl hulle besig is om op die toekoms te fokus. Gebruik elke dag, gryp die dag wanneer jy opstaan – Carpe Diem!
WARE KWINKSLAE (23)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Vreemdelinge in ons poorte
H.C.J. Pieterse, Die oorlogsavonture van generaal Wynand Medan, p. 110:
In die geveg by De Wetsdorp herinner ek my aan 'n snaakse voorval met 'n ou Fransman wat aan ons kant geveg het. Onderwyl ons op 'n afstand van sowat driehonderd tree besig was om die Engelse forte te nader, het ek hom met gebare probeer beduie dat hy die vyand koes-koes moes tegemoet gaan en nie sommerso oop en bloot nie. Maar hy was 'n astrante ou kêrel en op my gebare antwoord hy telkens: "No... No... No!" en skud dan sy kop en beduie met die hande soos alleen 'n beleefde Fransman dit kan doen.
"No-no jy maar” antwoord ek, "die Kakies maak vandag van jou frikkadel!"
Toe "no-no" die ou eers. Onderwyl hy nog beduie, bars daar 'n kartets bokant hom en 'n paar koeëls tref hom in die rug. Hy skree soos 'n maer vark, dans in die rondte, en onderwyl hy na my kant toe hardloop, beduie ek dat hy skuiling moet soek. Maar hy "no no" nog steeds en kies sommer die hasepad. Was my ou Franse vriend met sy deftige maniere en mooi mondering maar nog verdere vernedering gespaar, dog hy moet na die hospitaal, waar al sy klere gesteel is. Toe ek hom weer sien, stap hy in 'n vrouegewaad rond. Toe was dit my beurt om te sê: "No-no!"
***
Dan was daar nog die twee Markondonatisse — albei Grieke - 'n "swarte" en 'n "witte". Op voorwaarde dat die swarte altyd saam met my vooruit op patrollie sou ry — waar hy die kans sou kry om brood, eiers, botter, pluimvee, speenvarkies en ander kleinighede in die hande te kry — is die twee dan ook toegelaat om ons te vergesel. Hy kon egter hoender steel soos min. Een aand ry ons dan ook naby 'n stroois verby. Om een of ander rede het ons 'n oomblik daar vertoef. Toe ons weer wegtrek, ry Markondonatis soos gewoonlik hier langs my. Ons durf nie met mekaar praat, vuurhoutjies trek of rook nie, want ons kan enige oomblik op die vyand afkom en hulle verras. Ondanks die stikdonkerte gewaar ek dat Marko, die swarte, so danig hier langs my op sy perd woel. Pla iets hom? Opeens . . . Kôk-kô kô-kôôôôk! verbreek 'n hoenderhaan die stilte.
"Verduiwels, siejy die ding se gorrelpyp toedruk!" bestraf ek die ou. Hy het egter self reeds so geskrik dat die haan reeds swyg.
"Maar, Marko, hoe op aarde het jy die haan te sien gekry en sonder lawaai gevang?" vra ek later.
Onderwyl hy aan sy eie keel gryp en dit halfpad toedruk, antwoord hy hees: "Mister, I catch him so, see? He no speak!"
Andrè Malan, Pretoria:
Onderwyl botsing aan die gang was, het 'n Engelse afdeling van ongeveer driehonderd ruiters die plek genader waarvandaan ek die krygsverrigtinge bestuur het. Daar was net twee mans by my, Koos van Rooyen en Bobby Bums, ons Ierse rebel. Qns was lelik in die noute, maar ons moes telkens lag vir Bobby se kaskenades. Onderwyl Van Rooyen ons perde vashou, moes ek en Bobby die Engelse terugskiet. Ek skiet so al wat ek kan, maar moenie glo Bobby kan sy aandag by die vyand bepaal ten opsigte van 'n skietery nie. Nou kyk hy na sy perd en dan weer na die naderende Engelse, dan meet hy weer met sy oog hoe ver die gevaar is en dan weer hoe naby die uitredding met sy perd, is. Hy trek 'n paar skote in die lug af en laat vat na sy perd toe.
"Vlug, Generaal, die Engelse is op ons!" skree hy in my rigting.
"Bobby," bulder ek in sy rigting, "ek moker jou vandag! Kom terug en skiet die Kakies!"
Dan draf Bobby maar ewe gedwee weer nader, los 'n skoot in die lug en sit weer rieme neer in die rigting van die perde. Toe die vyand te naby was, gee ek die bevel: "Klim, kêrels!"
Bobby het hom nie twee maal laat nooi nie en met 'n ratsheid gehoorsaam wat enige akrobaat eer sou aandoen. Bobby het in normale omstandighede potsierlik op die rug van Wildebesie, sy klein Basoetopoon, vertoon, maar daardie dag het hy homself oortref. Die perd het skaars weggespring toe hy skielik onder Bobby wegraak en hy val dat hy so steun. Hy het sommer 'n ent oor die grond geskuif, terwyl sy geweer eenkant lê en sy hoed daar rol. Die vyand was intussen so naby dat ek hulle met my rewolwer kon bestook. Bobby het egter met die ratsheid van 'n kat sy besittings bymekaargeraap en voordat jy kon sê mes was hy al weer op Wildebesie se rug en agter die kommando aan.
Vervolg...