Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dankie Almagtige Vader, dat ek nie my brandstof van mense hoef te kry nie maar dit direk by U deur u liefde ontvang. U liefde dra my, maak my kragtig, soveel so dat ek dit ook aan my medemens kan uitdeel.
WARE KWINKSLAE (24)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
R.W. Schikkerling, Hoe ry die Boere, p. 279:
By my terugkeer tref ek een van ons Amerikaanse Iere, Joe Wade, aan wat besig is om klere te ruil met die gevange soldate. Hy was deftig uitgevat in die uniform van een van die Hussare, terwyl hy staan en klets met die soldaat wat weer Joe se gelapte, geskeurde en verflenterde broek dra nadat hulle dit geruil het. Toe Joe die Hussar 'n eerste keer versoek om sy klere af te staan, het hy ietwat gebrom en half teengepraat, maar hy het gou geroer toe Joe dreigend bulder: "Deliver! Or I blow the living daylights out of you!"
Eers het die Hussar sy neus opgetrek vir Joe se broek wat in ruil aangebied is. Maar die son het geskroei en die dubbeltjies was 'n behoorlike pes, sodat hy hulle uiteindelik met vele murmurerings aangetrek het. Joe se broek was so flenters en liederlik gelap met materiaal van 'n dosyn verskillende kleure dat dit onmoontlik was om die oorspronklike stof te bepaal. Die taak om die broek aan te kry, was ook geensins vergemaklik deur die talle verkeerde gate waardeur die Rooie se voet elke keer te voorskyn gekom het nie. Hy moes baie versigtig te werk gaan voordat sy tone uiteindelik seëvierend onder by die broekspyp uitgeloer het. Waar die broek op sy digste moes gewees het om skroomvalligheidsredes, was hy juis so erg verweer, aan die hand waarvan Joe opgemerk het: "I suffered from sunburn and exposure in these parts!"
Die soldaat, self nie op sy bek geval nie, het die sonderlinge, vetbesmeerde kledingstukke 'n oomblik betrag en toe uitgeroep: "Give met a muzzle-loader and I am a bloody Boer!"
R.W. Schkerling, Hoe ry die Boere, pp. 21-279:
By Elandslaagte was daar baie Hollanders en Duitsers aanwesig toe 'n vyandelike trein vol drank gebuit is. 'n Klompie van hulle het saam met ander hoogs beskonkes op die stasie en in die veld daar rond agtergebly as "gevallenes" in die stryd. Die volgende oggend word twee Hollanders toe wakker, nog skoon deur die weer en nie in staat om die vorige nag se geveg in herinnering te roep nie. Om hulle het gewere, waens, dooie perde en gesneuweldes verstrooid gelê, sodat een die volgende kwytgeraak het: "Zij schijnen hier gevochten te hebben!"
Een Hollander het altyd as hy afgesaal het, 'n rooi serp om die nek van sy vaal ou merrie vasgebind sodat hy haar weer sou uitken onder die verwarrende menigte perde. 'n Ander kêrel, wie se perd van dieselfde kleur was, maar origens gedaan en in 'n baie swakker kondisie, het die merrie gesteel en sy eie perd in haar plek agtergelaat nadat hy vanselfsprekend die serp ook omgeruil het.
Nadat die Hollander opgesaal het, het hy sy perd kopskuddend deurgekyk en teenoor sy maat opgemerk: "Wat is dat dier schielijk mager geworden." Later het hy nog heelwat krasser dinge te sê gehad toe hy agtergekom het dat die dier ook van geslag verander het!
Nadat ons 'n klompie klere van die vyand gebuit het, het Joe Wade, ons Ierse Amerikaner, wat naby ons geslaap het, sy pak buit stewig onder sy kop en aan sy lyf vasgebind om enige potensiele diewe te fnuik. Die nag het hy vreeslik gesug en gesteun, so erg dat ons later gevra het wat hom makeer — of hy dalk 'n wond opgedoen het.
"Nee," was die antwoord, "ek kan nie meer wag dat dit lig moet word sodat ek kan sien hoe ek in ordentlike klere lyk nie!"
Ons nuwe veldkomet, Slabberts, word uit die saal geruk toe sy perd struikel en hy beland op die grond terwyl sy voet aan die stiebeuel vashaak en hy tweehonderd tree op 'n galop gesleep word. Hy is aaklig gekneus en ontnerf en sy klere aan flenters. Toe ek op die toneel verskyn en van Jerry O'Leary, een van ons Iere, verneem: "Is he conscious?" antwoord dié: "He don't know his arse from a hole in the ground."
Oom Venter het nog ses duim roltwak in sy saalsak weggesteek en Dick Hunt, die Amerikaner wat verlede Januarie by Helvetia gewond is, het hom betrap waar hy agter sy perd wegbuk en 'n pruimpie afbyt. In 'n skielike vlaag van woede en tabaklus het Dick hom die volgende toegesnou: "You are lower than a snake's backside and I would not spit on you if your guts caught fire!"
Vervolg...