Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
"Ek wil juig en bly wees in u goedertierenheid, omdat U my ellende aangesien, my siel in die benoudhede geken het en my nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie; U het my voete op vrye grond laat staan." Soos Dawid dit in Ps 31 uitjubel, so seker sal die Afrikanervolk se benoudheid ook verbygaan en sal hy weer sy voete op vrye grond laat staan!
WARE KWINKSLAE (26)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
M.C.E. van Schoor en C.G. Coetzee, Kampkinders, pp. 25-31:
Die jong Sinnie Viljoen was agt jaar oud toe hulle na Kimberleykamp weggevoer is. Hulle kon net die nodige goedjies bymekaarmaak om saam met hulle op die wa te neem. Sy vertel hoedat een ou tante egter vasbeslote was om haar bulsak saam te vat. Die Engelse offisier was egter net so vasbeslote dat sy dit nie sou doen nie en beveel haar om sonder die bulsak op die wa te klim.
Sy skop vas en sê: "Laai my bulsak op en dan klim ek op!"
Hy vervies hom en bulder: "Woman, get on the wagon or I'll kill you!"
Sy antwoord ewe: "O, Engelsman, kielie my net vandag en dan sal jy 'n ding sien!"
***
Een van die vroue in Kimberleykamp het so 'n diep stem gehad. Wanneer die wagte by die tent verbygeloop het, was hulle oortuig dat daar 'n man in die tent kon wees.
Een aand vra een weer ewe agterdogtig: "Who's there?"
Die vrou se seuntjie antwoord ewe kordaat:
"Ag, dis sommer my mother, she speaks maar so grof-grof!"
***
Die kos in Klerksdorpkamp was soms maar skraps. Een more het een van die seuntjies hom trommeldik geëet aan mieliepap. Toe hy klaar was, druk hy sy magie so triomfantlik uit en se ewe te vrede: "Boeties, so moet 'n pens mos staan!"
***
Toe my ma in die hospitaal beland met geweldige rugpyn, het die kampsuster en -dokter haar kom ondersoek.
Die suster sê: "She has got back pain."
"Nee," antwoord my ma vinnig, "my bek makeer niks nie; dis my rug wat seer is!"
Thomas Frederick Swart:
As die krane in Volksrustkonsentrasiekamp was in die winter toe van die ys was en die vrouens tot tien-, elfuur in die oggend moes wag sodat die ys moet smelt, het die emosies taamlik hoog begin loop. Die waterfiskaal was 'n ouerige, vriendelike Engelsman met net een oog. Hy het in Volksrust gewoon en elke oggend kamp toe gekom op 'n skimmelperd om sy rondtes te doen.
Sodra hy in die kamp arriveer, het hy ewe vriendelik sy hoed gelig en die dames wat gewag het vir die ys om te smelt, gegroet met 'n "Good morning, good morning". Die betrokke oggend was die vrouens sommer baie omgekrap van al die gesukkel en die gewag en begin toe sommer op die oubaas skel nog voordat hy sy "Good morning" kon uitkry.
So tussen die gemor en geskel deur was die een tante met 'n besonder duidelike stem se kommentaar duidelik hoorbaar: "Jou @£$%& Engelsman, die aasvoels moes jou agterent ook al uitgevreet het soos jou een oog!"
Die oubaas het maar net ewe verleë van kraan tot kraan gery — met 'n glimlag.
A.G.E. Breedt, My herinnering aan die konsentrasiekamp te Bethulie:
Vir ou tant Annie Taljaard, sy was alom in die kamp bekend as tant Annie Kommandant, was De Villiers, die "joiner", so bang soos die duiwel se slypsteen. Sy het hom eendag toegetakel omdat hy die kampseuns met sy perd aangejaag het. Van daardie dag af het tant Annie dit haar taak gemaak om die klomp "joiners" in die kamp op hulle plek te sit.
Eendag het dit só gereën dat die water deur tant Annie se tent gestroom het. Sy stap toe reguit na ou Dear, die kampkommandant, en De Villiers se kantoor toe.
"My dogters gaan nie vandag in die gietende reën en deur die modder skool toe loop nie," sê sy driftig terwyl sy die twee mans voor haar aangluur. "Hierdie klomp leeglêers in die kamp wat hulle gewere vir besems verruil het, gaan hulle skool toe stoot!" En voordat ou Dear, wat nog probeer het om iets te sê, 'n woord kan uitkry, draai sy na hom toe met die woorde: "Met kruiwaens!"
Ou Dear en De Villiers het mekaar benoud aangekyk, gesluk en ewe gedwee geantwoord: "Ja, miesies Taljaard", want vir die tante het hulle nou regtig nie kans gesien nie.
Ek sien nog in my geestesoog die prosessie — die joiners met die giggelende dogters in die kruiwaens voor en tant Annie met die swart rok wat so by haar knieë inkap, agterna in die gietende reën, om toe te sien dat hulle dit behoorlik doen.
Vervolg...