Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wil jy 'n sterk volk sien? Sorg dat die gesins- en familielewe moraal en moreel sterk is. Nou mag ons vra waarom ons volk vandag in hierdie verknegte, moreel en moraal verdrukte toestand is...
WARE KWINKSLAE (28)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
J.G.F. Krause, Renierversameling:
Op Bermuda het 'n tommie met die naam van David ons eendag uitgeskel vir "Dutch bastards". Ons het toe natuurlik iets agter sy naam aangelas — iets soos Rooihel (royal). Ons — dis nou ek, Matjan, Botha, Japie Griessel en ou Taylor — het besluit om Rooihel deeglik af te ransel vir die belediging. Die plan het ook goed afgeloop. Rooihel se werk was om saans die kamp in te kom om toe te sien dat al die ligte ná "Lights out" wel dood is. As dit nie gebeur nie, word die een wie se lig nog brand, gevang en gestraf. Botha was in die tent. Die ander het agter die tent stelling ingeneem. Net toe tommie se kind sy kop by die tent inprop, dam ons hom van agter by met skoppe en vuishoue en dies meer — so vinnig as moontlik! Die loon wat ons vir ons moeite gekry het, was sewe dae in Hamilton se tronk, maar die harde arbeid wat deel van die vonnis was, was lig want ou Rooihel se nek is vandag seker nog skeef soos ons hom bygekom het.
J. H. Delport aan H.N. Conradie, Renier-versameling:
Mot was 'n kêrel van so ongeveer vyf en twintig jaar, met 'n ingevalle spitsgesig en 'n wonderlike neus en daarby twee nou ogies wat soos skeurtjies gelyk het. Hy kon hom goed onnosel hou, maar was dit geensins nie. Mot het die gewoonte gehad om die kamp te deurkruis, geklee in 'n korterige en nouerige wit broek, swart manel en 'n harde bolkeiltjie op sy kop terwyl hy op die een oog 'n oogglas vasknyp. Deur sy opregte Afrikanerhart, wat die Engelse dwars in die krop gesteek het, was hy meer in die tronk as daarbuite.
Op 'n dag word Mot in kennis gestel dat hy weer soos gewoonlik die volgende more voor die kolonel moes verskyn. Onmiddellik na die ontvangs van die berig het hy sy kop met 'n skeermes kaal geskeer en die Transvaalse wapen prominent daarop laat afteken.
Op die voorgeskrewe tyd het Mot, uitgedos soos altyd, sy verskyning in die kantoor van die kolonel gemaak en sonder enige formaliteit met die hoed op die kop, reguit na die tafel toe gestap waar die kolonel gesit het. In vooroorgeboë houding terwyl hy die tafel weerskante met sy hande beetpak, kyk hy die verslae kolonel vol in die gesig met 'n onverskrokke: "En toe, wat nou?"
"Haal jou hoed af!" brul die kolonel, wat Mot toe ook doen en dit ewe ongeêrg op die tafel vlak voor die kolonel neersmyt en sy kop so laat sak dat die wapen mooi sigbaar was. Die kolonel was heeltemal uit die veld geslaan en sonder om iets te sê, het hy haastig 'n briefie aan die kampkommandant geskryf dat hy van oordeel was dat Mot medies ondersoek moes word, aangesien hy van oordeel was dat Mot deurmekaar was. Hierdie briefie het Mot natuurlik deurgelees, stukkend geskeur en in die naam van die kampkommandant 'n briefie laat skrywe waarin die dokter gevra word om die kolonel te laat ondersoek daar hy meen dat laasgenoemde 'n streep het!
Eendag moes Mot vir sy straf boompies plant. Hy het baie ywerig gewerk, maar natuurlik was die boompies geplant met die wortels na bo, "want," het hy die kolonel verseker, "so word dit altyd in Suid-Afrika gedoen!" Toe kom daar maar weer 'n ander straf: hy moes die onkruid uit die groentetuin uittrek. Daardie aand was die tuin so skoon geskoffel soos 'n tennisbaan!
Mot Smit was as 'n reël nie roekeloos nie, maar ondeund. Dominee Boshoff vra vir hom: "Mot, wat gaan nog van jou word?"
"Ag, Dominee, van 'n mot kom 'n papie!"
Mot word op 'n keer na die strafkamp te Ragama gestuur. Dominee Boshoff vra aan hom waarheen hy moet gaan.
"Ragama, Dominee, en die keer daarheen, maar volgende keer seker na die hel!"
Dominee sê: "Nee, Mot, daarheen sal jy nie deurkom nie, want daar was nou weer 'n groot slag gewees en die pad daarheen is vol Kakies!"
Oorlogondervindinge van B.J. van der Merwe soos vertel aan H.N. Cortradie, Renier-versameling:
In die kamp te Umballa was daar 'n Indiërwinkel. Eendag hou die klompie van ons beraad en besluit om die winkelier 'n poets te bak. Ons besluit dat iemand soos 'n haan moes kraai en dan moes almal in die omtrek voël- en diergeluide maak. Dit was 'n vreeslike gedoente. Die ou winkelier is ook nie links nie. Hy sit af hek toe en laat sy winkel net so oop staan.
By die hek vertel hy met groot oë aan die wagte die Boere is besig om mekaar dood te maak. Die wagte het in aller yl na die plek gehaas en toe hulle daar kom, was alles stil en rustig. Die klompie Boere in die omgewing van die winkel het van geen sout of water geweet nie. Die winkelier het eers die volgende oggend teruggekom - so groot het hy geskrik.
Vervolg...