Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Alle mense moet sterf. Maar natuurlike oorsake klink meer aanvaarbaar as onnatuurlike oorsake. Die Afrikanervolk kan net so onnatuurlik uitsterf as waarvan Jesus in Luk 13 waarsku dat die res van die volk net so sal sterf soos dié wat reeds vermoor is as die volk hulle nie wil bekeer nie – dit is die voorwaarde. Die oproep tot bekering wat op dowe ore val maak 'n mens bang. Bid dat ons volk vandag sal terugkeer na ons God sodat ons nie almal onnatuurlik hoef te sterf nie!
'N EEU VAN ONREG (2)
Lees reeks by 'n Eeu van Onreg
Een Eeuw van Onrecht — A Century of Wrong, deur F. W. REITZ bied 'n helder beeld van Engeland se politiek van reeds voor die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika waar hulle die Boer se lewe hel gemaak het. Tans word ons volk weer net so verdruk, vermoor en ondergrawe en is hierdie geskrif weer baie aktueel. Dié weergawe is uit Nederlands in Afrikaans vertaal deur J.J. Blom in 1939.
DIE GROOT TREK
" ...die Engelse bevelvoerder in Suid-Afrika, sê dat onder sy beheer 400,000 gewere op hierdie wyse aan Swartes verkoop is om die Boere mee uit te wis... ... 'perhaps the most discreditable page in British colonial history'."
Na dertig jaar van Engelse bewind het dit dus ten oorvloede geblyk dat daar vir die Boer haas geen heil wag nie, dog net verdrukking. Sy elementêre regte was geskend, en hy het selfs nie die minste waarborg gehad dat hulle ooit eerbiedig sou word nie. Die posisie was vir hom onuithoudbaar in die Engelse kolonie, wat toe die Grootrivier as sy noordelike grens gehad het.
Die mense het besluit om huis, plaas en goed wat nog van die Swartes se verwoestingswerk oorgebly het, prys te gee en van die Britse gesag weg te trek.
Luitenant-goewerneur Stockenström is eers geraadpleeg, maar hy het gesê dat daar geen wet bestaan wat die mense kon belet om die Kolonie te verlaat en hulle elders te gaan vestig nie; en as daar wel sodanige wet bestaan, sou dit ’n tirannieke wet wees wat nie toegepas kon word nie.
Die Kaapse prokureur-generaal, Oliphant, is deur kolonel Somerset geraadpleeg en hy het ’n soortgelyke uitspraak gegee en gesê dat die Emigrante blykbaar voornemens was om na ’n ander land te gaan en hulle nie langer as Britse onderdane te beskou nie, soos daagliks geskied van Engeland na Noord-Amerika, en dat die regering magteloos is en moet bly om daardie euwel te belet.
Nou, buite die Britse gesag het gelê die landstreke noord van die Oranjerivier en oos van die Drakensberge, en vir sover toe bekend was, was die streke deur barbare bewoon; maar die Boere het besluit om liewer die gevare van die woesteny te tart en daar ’n stuk grond van die Swartes te ruil en ’n onafhanklike maatskappy te stig as om langer onder die Britse heerskappy te bly.
In die woorde van Piet Retief toe hy Grahamstad verlaat het:
"Ons wanhoop daaraan om die Kolonie te red van die euwels wat hom bedreig van swart Iandlopers. Daar is geen vooruitsig op vrede of geluk vir ons kinders nie. Ons kla oor die roof en vernieling wat ons van die Swartes se invalle gely het. Ons kla oor die misleiding tot ons nadeel wat in die naam van die geloof gemaak word. Ons verlaat die Kolonie om ’n rustiger lewe te soek, en ons sal niemand molesteer nie; maar as ons aangeval word, sal ons onsself en ons goed tot die uiterste verdedig. Ons verlaat hierdie Kolonie in die volle versekering dat die Britse Regering niks meer van ons te vorder het nie, en dat hy ons sal toelaat om onsself sonder bemoeiing te regeer. Ons verlaat die vrugbare land van ons geboorte en staan op die punt om ’n vreemde en gevaarlike land in te gaan; dog ons gaan in die vaste vertroue op ’n alsiende, regverdige en genadige God.”
Ons vaders en ons het toe oor die Grootrivier na die onbekende noorde getrek as vrye manne, onderdane van geen vors op aarde nie. Toe het begin wat die Engelse parlementslid Molesworth bestempel het as ’n vreemdsoortige vervolging. Die trekkende Boere agtervolg deur die Britse Koloniale Kantoor — die vreemdste agtervolging ooit deur sterflinge gesien!
Selfs het die Britse Parlement in 1836 ’n wet (6 en 7 W.4 c. 57) aangeneem om buite die Britse jurisdiksie tot die 25ste graad suiderbreedte strawwe op te lê; en toe ons verder noordwaarts trek, het lord Grey beloof om deur die Parlement hierdie onregverdige wet te laat uitstrek tot aan die Ewenaar. Daar moet op gelet word dat in die gemelde wet spesiaal bepaal is dat dit nie beskou moet word dat hy enige soewereiniteit of heerskappy oor die gemelde landstreke uitroep nie.
Die eerste trekgeselskappe was die van Trichardt en Van Rensburg, wat deurgetrek het na die noorde; maar die Van Rensburgs is gruwelik deur die Swartes uitgemoor, en die Trichardts het na ongelooflike ontberings en moeilikhede Delagoabaai bereik, om daar armsalig te sterf aan die koors.
DIE STIGTING VAN NATAL
Met die tweede geselskap het dit net so noodlottig gegaan. Nadat Piet Retief, op behoorlike teenprestasie van Dingaan, opperhoof van die Zoeloes, skriftelik afstand verkry het van die landstreek wat nou bekend is as Natal, het Dingaan hom en sy geselskap op 6 Februarie 1838 op verraderlike wyse vermoor, daartoe opgestook deur Engelse; so is 66 Boere en 30 van hul volk om die lewe gebring; en so het die Groot Trek sy grootmoedigste en edelste leier verloor.
Dingaan het daarop sy leërmagte gestuur en hulle het die vroue, kinders en oues van dae aan die Boesmansrivier (Bloukrans), waar nou die dorp Weenen staan, oorval, en 282 blankes en 250 bediendes vermoor. Teen die einde van die jaar het ons die land van die geweldenaar met ’n klein kommando van 464 man binnegetrek, en op 16 Desember 1838 (sedertdien bekend as Geloftedag, die roemrykste dag in ons geskiedenis) het ons die Zoeloe-leërmag van ongeveer 10,000 man verslaan en Dingaan se hoofstat verbrand. Daarna het ons ons vreedsaam in Natal gevestig en daar ’n vrye republiek gestig. Die bodem is immers met ons geld gekoop en met ons bloed gedoop.
Hierdie republiek mog egter nie lank bly bestaan nie. Die Britse Koloniale Kantoor het ons agtervolg. Eers het die Britse Regering besluit tot ’n militêre besetting van Natal, want, soos goewerneur Napier op 22 Junie 1840 aan lord Russell, die minister, geskryf het, "was dit blykbaar die vaste voorneme van Haar Majesteit om haar koloniale besittings in Afrika nie uit te brei nie”. Die militêre besetting het slegs die verdrukking van die Boere ten doel gehad, soos goewerneur Napier onbewimpeld op 16 Januarie 1838 in sy depeché aan lord Glenelg verklaar het, naamlik om te verhinder dat die Boere kruit kry en hulle te belet om ’n onafhanklike republiek te stig, waardeur hy gehoop het dat die emigrasie sou ophou. En weer het lord Stanley goewerneur Napier op 10 April 1842 beveel om die Boere van alle kommunikasie af te sny en hulle mee te deel dat die Britse Regering die barbare teen hulle sou help en hulle as rebelle sou behandel.
Die militêre okkupasie is deur ons teengestaan, en twee maal afgeslaan; hier het egter meer Engelse op die vlug verdrink as wat daar deur die koeëls geval het.
Later is kommissaris Cloete gestuur om die jong republiek te annekseer, as beloning omdat die Boere dit vir die beskawing skoongemaak het.
Dit het onder die kragtigste protes van ons kant geskied. Op 21 Februarie 1842 het die Volksraad van Pietermaritzburg, onder voorsitterskap van Joachim Prinsloo, aan goewerneur Napier geskryf:
"Ons weet dat daar ’n God is, wat Beheerser van hemel en aarde is en wat die mag het en gewillig is om die swakkes teen hul onderdrukkers te beskerm. Op Hom vertrou ons, en op die regverdigheid van ons saak. Indien dit sy wil is dat ons, ons vrouens en kinders, totaal vernietig moet word, sal ons ons nederig aan sy wil onderwerp. Ons wil die mag van Engeland nie uitdaag nie; maar ons kan nie toelaat dat mag oor reg sal seëvier sonder dat ons dit met al die kragte wat ons besit, bestry het nie.”
Aan die Engelse kommissaris het die Boerevroue op Pietermaritzburg verklaar dat eerder as om hulle weer aan die Britse heerskappy te onderwerp, hulle blootsvoets oor die Drakensberge sou loop na vryheid of die dood.
En hulle was getrou aan hul woord. Toe Andries Pretorius, ons dapper leidsman, op sy terugreis van Grahamstad, waarheen hy honderde myle ver te perd gery het om goewerneur Pottinger met die ware toedrag van sake bekend te maak — wat hom egter ongehoord teruggestuur het met die ekskuus dat hy te veel werk het — die Drakensberge bereik, het hy daar byna die hele bevolking aan die uittrek gevind, weg van die Engelse heerskappy af, terug oor die Drakensberge. Sy vrou het in die wa siek gelê en sy dogter moes die osse lei, waardeur sy erg beseer is. En dit was maar een geval uit baie.
Sir Harry Smith, wat Pottinger opgevolg het as goewerneur, het die toestand van die trekkende Boere beskryf as " ’n toestand van ellende soos hy nog nooit gesien het nie, behalwe by die inval van Massena in Portugal. Die toneel was waarlik hartroerend.”
Dit het die Britse Regering ons in verband met Natal besorg.
Ons het oor die Drakensberge teruggetrek na die Vrystaat, waar sommige gebly het, terwyl ander oor die Vaalrivier noordwaarts getrek het. Maar hier eers enkele besonderhede in verband met die Oranje-Vrystaat.
DIE ORANJE-VRYSTAAT
Die Engelse het die voornoemde Wet 6 en 7, W.4 c. 57 uitgevoer en ’n Resident in die Oranje-Vrystaat aangestel. Pretorius het hom egter 48 uur tyd gegee om die Republiek te verlaat. Sir Harry Smith het daarop ’n leër bymekaar gebring wat grotendeels uit Swartes bestaan het wat teen ons Blankes opgestook was, en ons op 29 Augustus 1848 op Boomplaats beveg. Na die geveg, wat hardnekkig was, is ’n Boer, Thomas Dreyer, deur die Swartes van Smith se leër gevang en, tot skande van die Engelse goewerneur, om die lewe gebring, om geen ander misdaad nie as dat hy, wat jare tevore ’n Britse onderdaan was, dit nou gewaag het om teen Haar Majesteit se vlag te veg.
Nog ’n moord en skandaal op rekening van Engeland.
Intussen het sir Harry Smith die Vrystaat ook geannekseer onder die naam "The Orange River Sovereignty”, onder die voorwendsel dat vier-vyfdes van die inwoners ten gunste was van Britse heerskappy en slegs deur die geweld van Pretorius geïntimideer was. Maar die Britse Resident het al gou oorhoop geraak met Moshesh, die groot en sluwe opperhoof van die Basoeto’s. Die Resident het die hulp van die Boere ingeroep, dog van die 1000 man wat geroep was, het slegs 75 gehoor gegee. En die Engelse moes die onderspit delf. Die Resident het aan sy regering geskryf dat die bestaan van "The Orange River Sovereignty” nou afhang van Andries Pretorius, die man op wie se hoof sir Harry Smith ’n prys van £2000 gesit het. Graaf Grey het sensuur uitgespreek oor sir Harry Smith en Resident Warden en hulle afgedank, terwyl hy in sy depeché van 15 Desember 1851 aan die goewerneur gesê het dat die Britse Regering die land geannekseer het op die voorstelling dat dit algemeen deur die inwoners verlang is; maar as die inwoners nie die Britse Regering wil ondersteun nie, wat alleen terwille van hulle daargestel is, en verlang om daarvan ontslae te raak, dan was daar geen belang by om dit aan te hou nie. "Wanneer ons terugtrek, sal u (die goewerneur) egter duidelik verstaan dat alle oorloë, hoe bloedig ook, wat later mag uitbreek onder die verskillende stamme en bevolkings wat in ’n staat van onafhanklikheid buite die Koloniale grense gelaat is, dat sodanige oorloë nie as grond tot inmenging beskou moet word nie.”
Met ander woorde, soos Froude sê:
"In 1852 het ons ondervind dat oorloë met die naturelle en die Hollandse boere nutteloos was; dat die uitstuur van troepe en die dood van duisende naturelle ’n vreemde wyse was om hulle te beskerm. Ons het besluit om binne ons gebied te bly, ons nie in te meng oorkant die Oranjerivier nie en die naturelle en Hollandse boere alleen te laat om hul geskille self te besleg.”
En weer:
"Aangesien ons sat geword het van ondernemings wat nog tot eer nog tot vrede gelei het, het ons in 1852 besluit om die Oranjerivier die skeidslyn van die Britse verantwoordelikheid te maak. Ons het formele traktate met die twee Hollandse state gesluit en ons verbind om ons nie in te meng in geskille tussen hulle en die naturelle nie, maar hulle alleen te laat om ’n skeidsmuur te vorm of (wat ons as die mees waarskynlike resultaat geag het) onder te gaan in ’n ongelyke worstelstryd met krygshaftige rasse wat hulle oneindig in getal oortref het.”
Die bestuur van die Vrystaat het die Britse belastingbetaler te veel gekos. Die gedagte daarby was: gee die Boer maar genoeg skiet en hy sal sy rieme styfloop.
’n Nuwe goewerneur, sir George Cathcart, is uitgestuur met twee spesiale kommissarisse om aan die nuwe politiek gevolg te gee, en daar is ’n traktaat tussen Engeland en die Vrystaat onderteken waaronder aan die Vrystaat volkome onafhanklikheid gewaarborg is, en van Britse kant is onderneem dat die Britse Regering hom nie met naturellestamme noord van Grootrivier sal bemoei nie.
Soos Cathcart in sy briewe se: "Die soewereiniteitseepbel het gebars,” en: "Die dwase soewereiniteitklugspel is uitgespeel.” ’n Mens moet nie vergeet nie dat solank die Vrystaat Engelse gebied was, daar beskou was dat dit die streek wat tans Kimberley en die diamantvelde is, omsluit het; dat Engelse grondbriewe onder die Orange River Sovereignty vir die betrokke grond uitgereik is as grond wat aan die Sovereignty behoort en dat die streek deel van die regsgebied van ’n Sovereignty-magistraat was en dat dit by die herstel van die Vrystaat ook deel van die Oranje-Vrystaat gebly het.
Die konvensie tussen Engeland en die Vrystaat was egter nog nie vyftien jaar oud nie, toe is dit deur die Engelse verbreek, hoewel hulle plegtig onderneem het om hulle nie met naturellesake noord van Grootrivier te bemoei nie. Toe die Basoeto’s die Vrystaters vermoor en beroof het, vrouens verkrag en gewelddade sonder tal gepleeg het, en die Vrystaters na ’n stryd van drie jaar daarin geslaag het om hulle deeglik te tugtig, het die Engelse hulle in 1869 ten gunste van die Basoeto’s in die stryd gemeng; dog in die Aliwal-konvensie het hulle nogmaals verklaar dat hulle hul nie sal inmeng nie.
Die ink van hierdie traktaat was egter skaars droog, toe in dié deel van die Vrystaat tussen Groot- en Vaalrivier, waarna reeds verwys is, diamante ontdek is. In plaas van reguit te sê dat hulle (die Britse Regering) die sterkste is en dus die grond eis waarin die rykste diamantmyn in die wêreld lê, is as ware oorsaak vir die ontvreemding van hierdie grond aan die Vrystaat op huigelagtige wyse aangevoer dat dit aan ’n naturel behoort, nieteenstaande die onwaarheid van hierdie bewering selfs deur die Britse geregshowe bevestig is.
Die gedagte was, sê Froude, dat die pragtigste diamantmyn in die wêreld nie vir die Britse Ryk verlore moes gaan nie. Die grond is toe van die Boere afgeneem, "en van dié dag af kan die Boer in Suid-Afrika minder as ooit op Engelse beloftes vertrou”. Dit bestempel Froude, wat nog voor die Jameson- strooptog gesterf het, as "perhaps the most discreditable page in British colonial history”.
Later, toe Brand na Engeland gegaan het, het Engeland skuld beken en as skadevergoeding ’n armsalige bedrag van £90,000 betaal vir die rykste diamantmyn in die wêreld, waaruit byna daagliks ’n groter waarde gedelf word.
Maar nieteenstaande die Vrystaatse konvensie, nieteenstaande die herhaalde beloftes in die Aliwal-konvensie, moes die Vrystaat nog ’n derde ergerlike verbreking van die konvensie deur Engeland verduur. Tienduisende gewere is deur die Kaapkolonie na Kimberley uitgevoer en daar aan die Swartes wat die twee Hollandse Republieke omsingel en bedreig het, verkoop. Generaal sir Arthur Cunynghame, die Engelse bevelvoerder in Suid-Afrika, sê dat onder sy beheer 400,000 gewere op hierdie wyse aan Swartes verkoop is. Proteste van Transvaal en die Vrystaat het niks gebaat nie, en toe die Vrystaat van sy reg gebruik gemaak en waens vol gewere op pad na sy gebied aangehou het, moes hy aan die Britse Regering nog boonop vergoeding betaal.
"Die Vrystaat,” sê die Engelse geskiedskrywer Froude, "het die vergoeding onder protes betaal met ’n ouderwetse beroep op die God van geregtigheid, wat hulle, vreemd genoeg, as ’n werklikheid beskou.”
In die Engelse politiek geld dus selfs die God van geregtigheid nie langer nie.
Sover dan ons verpligte uittog uit die Kolonie, en die ontneming deur Engeland aan ons van Natal en die Vrystaat. Nou bly daar nog Transvaal.
Die Suid-Afrikaanse Republiek: vervolg...