Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is twee duidelike groepe mense in hierdie wêreld: dié wat die werk in hierdie wêreld doen, en dan is daar dié wat die krediet daarvoor neem. Dit is egter beter om in die erste groep te val want dáár is baie minder kompetisie.
PAUL KRUGER (7)
'n Lewenskets van President S.J.P. Kruger
Deur D.W. Kruger
Lees reeks by Paul Kruger
Paul Kruger as Staatshoof
Kruger se eerste taak na die afloop van die krygsverrigtinge was om verslag te doen aan die Volksraad wat hy opgeroep het tot ’n buitengewone sitting te Heidelberg op 15 April 1881. Vergesel van Joubert en Pretorius het hy die raadsaal betree en die Volksraad as vise-president toegespreek. Namens die driemanskap het hy verslag gedoen van alles wat verrig is sedert 13 Desember en dit het duidelik geblyk dat hy die spil was waarom alles gedraai het. Hy het sy dank uitgespreek aan die "God van die vadere wat ons in stryd en gevaar naby was”. Vir hom was dit nie leë woorde nie, maar die uitdrukking van ’n diepe geloof aan ’n verbonds-God wat beskik oor die lotgevalle van volkere. Kruger het voorts getuig van sy eerbied vir die Britse vorstin, die Britse Regering en volk en sy vertroue in die koninklike kommissie uitgespreek. Hy het ten slotte gepleit vir versoening as grondslag van die staat en die beëindiging van alle gevoel van vyandskap. Dit was Paul Kruger op sy beste en grootste.
Hoe hoog die agting was waarmee Kruger as feitlik staatshoof bejeën is, het geblyk uit die antwoord van die voorsitter van die Raad, die heer C. J. Bodensteyn. So ’n troubetuiging het geen Afrikanerstaatsman ooit tevore te beurt geval nie. Die jare van beproewing onder vreemde bewind het ’n einde gemaak aan partyskappe en dwarstrekkery. Die burgers het hierdie nuwe, herbore trou gedeel en toe die driemanskap die volgende dag bekend gemaak het dat die bestuur van die land tot die oorhandiging van die bewind voorlopig nog in Britse hand sou berus, is dit rustig aanvaar.
Gedurende die volgende maande moes die driemanskap egter ’n verbete stryd teen die koninklike kommissie voer om te verhinder dat by die bepaling van die landsgrense skade gely word. Deur die Keate-arbitasie is in 1870 ’n groot deel van die westelike distrikte van die Republiek afgesny en aan die inboorlinge toegewys, hoewel die Boere-regering dit nooit erken het nie. Sommige kringe het gemeen dat dit nou die tyd was om die Republiek daartoe te dwing. Die kommissie bestaande uit sir Hercules Robinson, sir Evelyn Wood en sir Henry de Villiers, hoofregter van die Kaap, met president Brand as raadgewer, het uiteindelik op ’n kompromis besluit en slegs ’n deel van die betwiste gebied langs die wesgrens weggeneem. Hierdie beslissing sou egter later aanleiding gee tot groot probleme met die inboorlinge.
’n Ander vraagstuk wat die kommissie moes benader, was die Republiek se beheer oor sy swart onderdane. Sedert baie jare is die Britse publiek teen die Boere opgesweep met aantygings van onderdrukking, mishandeling en selfs slawerny. Die Gladstone-regering moes rekening hou met die gevoelens van baie van sy liberale ondersteuners wat wel die onafhanklikheid van die Transvaal herstel wou sien, maar tog bekommerd was oor die moontlike lot van die swart -bevolking. Die kommissie het gemeen om hierdie probleem op te los deur ’n Britse resident in Pretoria te plaas met bevoegdheid om klagtes van Bantoes aan te hoor. Dit, gepaard met Paul Kruger se versekering dat geen spoor van slawerny in die Transvaal te ontdek is nie; ’n feit wat reeds tevore ook deur Shepstone beaam is, sou die liberale publiek tevrede stel. Origens het die kommissie, om dubbel seker te maak, ’n bepaling opgestel dat slawerny verbied word, dat swartmense bewegingsvryheid en die reg op grondbesit sou hê.
Al hierdie besluite is vervat in die Konvensie van Pretoria wat op 3 Augustus 1881 te Pretoria onderteken is deur die lede van die kommissie namens die Britse regering en die Driemanskap namens die Transvaal. Reeds die vorige dag het sir Hercules Robinson die swart stamhoofde op die kerkplein toegespreek en hulle van die nuwe toestand van sake verwittig. Hy het verklaar dat die anneksasie vernietig is en hulle gemaan om die Boere-owerheid onderdanig te wees. Die Britse vlag is plegtig neergehaal. Op 8 Augustus het die Britse verteenwoordigers die land formeel aan die Transvaalse Regering oorhandig. By dié geleentheid het Paul Kruger, wat pas ’n ernstige siekbed agter die rug gehad het, ’n kort toespraak gehou en sy vertroue uitgespreek dat niemand met ’n gees van selfverheffing besiel is nie, maar met ootmoed en dankbaarheid teenoor God in die oorwinning. Die Vierkleur is daarop onder toejuiging gehys. Die ander lede van die Driemanskap het ook die woord gevoer. Die middag het ds. H. S.Bosman ’n plegtige dankdiens in die Hervormde Kerk gelei.
Kruger was egter te siek om verder aan die verrigtinge deel te neem, maar almal het besef dat hy die argitek van die vryheid was.
Vir hom het nog ’n groot stryd voorgelê want die Pretoriase Konvensie het as kompromis-dokument die kieme van groot wrywing bevat. Inmiddels het hy as agerende staatshoof in sy hoedanigheid as vise-president, hangende ’n verkiesing, genoeg ander probleme gehad. In belangrike opsigte moes die Republiek heropgerig word. Die finansies was in ’n benarde toestand, en die onderwys het dringende aandag geverg. Die Transvaal was aan die begin van die jare tagtig ’n pastorale land met hulpbronne wat nog geheel en al nie ontgin is nie. Daar was nog geen enkele spoorweg en geen spoorwegverbinding met die buiteland nie. Ekonomies was daar weinig vooruitgang, geld was skaars en met ’n beskeie landsbegroting het dit moeilik gegaan om uitgawes en inkomstes te balanseer. In hierdie opsig het Paul Kruger ’n beleid gevolg van eers kruip, dan loop voordat aan vlieg gedink kon word.
‘n Taak wat hom na aan die hart gelê het, was die hervorming van die onderwys op ’n Christelik-nasionale grondslag. Hy was oortuig dat die behartiging van die onderwys van die jeug by die kerk en nie by die staat tuishoort nie. By meer as een geleentheid het hy na die Bybel in hierdie verband verwys. In die praktyk het dit egter geblyk dat die kerk geldelik nie in die vermoë was om die taak uit te voer nie. Daarom het Kruger as kompromis die organisasie van die onderwys aan die owerheid opgedra, maar in noue samewerking met die kerk en op ’n Christelike grondslag. Van groot belang was die persoon wat as superintendent aan die hoof van die Onderwys-departement sou staan.
Kruger het gemeen dat die geskikste man daartoe ds. S. J. Du Toit van die Paarl sou wees. Hy was bekend as kampvegter vir die Afrikaanse taal en ’n vurige voorstander van Afrikaner-eenheid. Gedurende die Vryheidsoorlog was hy met sy koerant Die Patriot, ’n groot pleitbesorger van die Transvalers se onafhanklikheidstrewe. Hy was ’n merkwaardige en geniale persoon en het gedurende die tagtigerjare ’n groot rol in die Transvaalse politiek gespeel, ook buite die terrein van die onderwys.
Sy onmiddellike sorg was om die Volksraad te oorreed om die nuwe Konvensie met Brittanje wat die soewereiniteit van die Republiek aan bande gelê het, te bekragtig. In September 1881 het ’n nuutgekose Volksraad byeengekom, en dit het baie argumente gekos voordat die Raad daartoe bereid was. Die besware was t.o.v. die Britse susereiniteit en sy beperkinge op die buitelandse beleid van die Transvaal. Deur die Konvensie is die Republiek nie toegelaat om op eie houtjie verdrae met vreemde moondhede, behalwe die Vrystaat, aan te gaan nie. Afgesien daarvan is die Transvaal nie langer toegelaat om ’n soort beskermheerskap teenoor Swaziland uit te oefen nie. Die raad het ook nie gelukkig gevoel oor die posisie van die Britse resident in Pretoria nie. Dit het ’n soort toesig oor binnelandse swart-wetgewing beteken. Op aandrang van die Raad het Kruger die Britse Regering oor die besware genader en in Oktober 1881 het Gladstone in die Britse Laerhuis verklaar dat die praktyk mag meebring dat sekere wysigings gemaak kan word. Aan die Transvaalse Regering het hy laat weet dat die Konvensie gehandhaaf moet word. Die Volksraad was verplig om in die onvermydelike te berus.
Origens het die Volksraad sy aandag aan die Onderwys gewy en ’n nuwe skoolstelsel op die basis van die Kruger/Du Toit-denkbeelde in die lewe geroep. Die taalmedium sou Nederlands wees en ruim voorsiening is gemaak vir godsdiens-onderwys. Ook die finansies en die ekonomiese toestand het aandag geniet en ’n nuwe kommissie-beleid van Paul Kruger is aanvaar. Die gedagte was om te help met die ontwikkeling van die land deur middel van konsessies of monopolieë aan private persone of maatskappye om sekere artikels vir eie voordeel te vervaardig. Die kommissieregte wat betaalbaar was, sou ook die landskas ten goede kom. Nieteenstaande grondige besware van verskeie kante, het Kruger die beleid beskou as van nasionale belang. Weens gebrek aan fondse was dit vir die Republiek nie moontlik om die land se hulpbronne te ontgin nie, en die land was skynbaar te arm om private kapitaal te lok behalwe op monopolistiese voorwaardes. Die stelsel was miskien ekonomies ongesond, maar het tog aanleiding gegee tot die stigting van die eerste nywerhede.
’n Merkwaardige gebeurtenis na die herstel van die onafhanklikheid van die Republiek was die groot feesviering te Paardekraal van 13 tot 16 Desember 1881. Daar was duisende mense teenwoordig en die geleentheid is gewy aan die herinnering aan die afgelope Vryheidsoorlog en in ’n mindere mate ook aan die gelofte van Bloedrivier. Paul Kruger was die hoofspreker en sy tema was die Verbondsgedagte. Hulle het die herinnering aan die vryheid aan God gedank, maar die rampe wat hulle getref het, was die straf wat hulle ontvang het om hulle tot inkeer te bring. Kruger het tot die volk gespreek as ’n vermanende vader en sy aansien verhoog.
Dit het kort daarna geblyk toe daar ’n beweging ontstaan het om terug te keer na die konstitusionele posisie soos dit voor die anneksasie was. De Volkstem het hom uitgespreek ten gunste van ’n presidentsverkiesing en Kruger se kandidatuur aanbeveel. In Julie 1882 het genl. Joubert in ’n brief aan die Volksraad dieselfde standpunt ingeneem en verklaar dat indien Paul Kruger verkies word, hy hom alle steun sou gee. Na ’n lang debat het die Volksraad eenparig besluit dat ’n verkiesing gehou moet word en die datum is vasgestel op Januarie-Februarie 1883.
Hoewel die twee leiers mekaar by die kiesers aanbeveel het, was hulle die enigste twee kandidate. Kruger het in antwoord op ’n rekwisisie om hom verkiesbaar te stel, verklaar dat hy ook op staatkundige terrein die ewige beginsels van God's Woord bely. Hy glo aan die beginsel van geregtigheid en vryheid vir elke burger en sy leuse was vooruitgang in die regte rigting. Die ontwikkeling van die hulpbronne van die land, veral die landbou en die nywerheid, moet onderneem word. Eie nywerhede moet beskerm word en die konsessiebeleid was daartoe sy vernaamste wapen. Ook was hy ten gunste van die nouere vereniging van Suid-Afrika en die opbou van ’n Suid-Afrikaanse nasie. Sy beleid teenoor die swart bevolking, so het hy verklaar, was om hulle te beskaaf.
Elke stam moet sy eie woonplek hê.
Die uitslag van die stemming was dat Kruger 3431 stemme en Joubert 1171 gekry het. Die inswering van Paul Kruger as president het op 9 Mei 1883 plaasgevind. Sy treffende rede is met kanonvuur en geweersalvo’s begroet. Dit was die kroon op al sy arbeid gedurende die afgelope ses jaar, die beloning vir sy standvastigheid.
Paul Kruger het die presidentskap egter op ’n besonder ongunstige tydstip aanvaar. Die land was arm, die staatskuld waarmee die Konvensie die Republiek belaai het, was hoog en die status van die Transvaal was die van ’n ondergeskikte. Dit was verder ’n vraag of hy in staat sou wees om die gesag van die blanke regering oor die swartes te handhaaf. Reeds voor Kruger se inswering het onrus onder die Bapedi in Oos-Transvaal uitgebreek. Sekoekoeni, wat deur die Britte verslaan en gevange gehou is, is deur Kruger in sy pos herstel, maar in 1882 deur sy halfbroer, Mampoer vermoor. Hy het geweier om voor die gereg te verskyn en skuiling gesoek by die naburige stam van Mapoch. Toe bogenoemde versuim om hom uit te lewer was die regering verplig om ’n kommando uit te roep. Dit het oorlog beteken wat eers in die winter van 1883 beëindig is toe albei die opperhoofde hulle oorgegee het. Mampoer is opgehang, maar Kruger het Mapoch begenadig. Dit was sy eerste prerogatiewe daad as president. Die suksesvolle oorlog het die aansien van die blanke bewind onder die swartes verhoog.
Intussen het die onweer ook onder die Bantoes aan weerskante van die wesgrens losgebars. Sedert baie jare was die Tswana-stamme, die Barolongs en die Korannas ontevrede oor die grensafbakening wat, soos ook die Konvensielyn, soms dwarsdeur ’n stam se woongebied gesny en lede van die stam aan weerskante van die grens geplaas het. Dit het gebeur dat opperhoofde nie hulle gesag oor hulle onderdane aan die ander kant van die grens kon laat geld nie. Opperhoofde het onderling in stryd geraak oor die stamhoofskap: die Barolonghoofde, Montisava en Moshette met mekaar, en so ook die Batlapin-opperhoof teen die Koranna-hoof, David Massouw.
Paul Kruger se regering het geen gesag gehad oor die dele van die stamme buite die grense nie, en was dus, weens die afbakening deur die Konvensie, nie by magte om die orde te herstel nie. Om alles te vererger, het die hoofde aan weerskante blanke vrywilligers gewerf om hulle by te staan. Hierdie Blankes sou met die skenking van grond beloon word. Die hoofde wat die Transvaal meer goedgesind was, het sy huurlinge getrek uit die geledere van die Transvaalse grensbewoners, terwyl die ander hoofde hulp verkry het van avonturiërs van die diamantvelde. Pogings van die Britse owerheid en die Transvaalse Regering om die orde te bewaar, was vrugteloos.
Teen 1882 het die Transvaalse owerheid aan sir Hercules Robinson laat weet dat die probleem slegs deur ’n grenswysiging opgelos kon word. Dit sou die Transvaal in ’n posisie plaas om die orde te handhaaf, maar Britse amptenare het die voorstel beskou as bloot ’n set van die Republiek om sy verlore grondgebied te herwin. Inderdaad het invloedryke manne, waaronder Kruger self, gehoop dat met ’n nuwe wesgrens-reëling die Transvaal sy grondgebied weswaarts kon uitbrei. Dit sou onenigheid bring met die Britse owerheid wat graag die rol van beskermheer oor die swart stamme buite die grense gespeel het, sowel as met die Kaapkolonie waar Cecil Rhodes na uitbreiding van die Kaapse gesag deur Betsjoeanaland na die noorde gestreef het. Dit was die begin van ‘n botsing tussen Kruger en Rhodes wat jare lank sou duur. Aanvanklik was dit ’n botsing tussen Transvaalse en koloniale belange, maar het uiteindelik ’n stryd beteken tussen Britse imperialisme in Suid-Afrika en Afrikaner-nasionalisme - met Rhodes en Kruger respektiewelik as die verpersoonliking daarvan.
Intussen het die stamhoofde Massouw en Moshette, goedgesind teenoor die Transvalers van wie se bystand hulle afhanklik was, in 1882 die oorhand oor hulle teenstanders gekry. Die blanke vrywilligers het hulle plase aan die Betsjoeanalandse kant van die grenslyn ontvang en daar twee republiekies, Stellaland en Land Goosen, tot stand gebring. Nog Brittanje, nog die Kaapse regering sou in die nuwe toestand berus. Paul Kruger was nie by magte om in stryd met die Konvensie eiehandig die wesgrens van die Transvaal te verlê om die twee nuwe republieke in te sluit nie. Dit was ’n belangrike rede waarom hy gepleit het dat die Konvensie hersien moet word.
’n Verdere rede tot hersiening was die bepaling van die staatskuld waartoe die Britse administrasie gedurende die anneksasietyd R300 000 bygedra het sonder noemenswaardige voordele vir die Transvaal. Selfs sir Hercules Robinson het aanbeveel dat die bedrag afgeskryf word. Van besondere betekenis, en ’n grief vir die Transvaal wat nie eens meer amptelik op die naam Republiek aanspraak kon maak nie, was die aanhef tot die Konvensie met sy susereiniteitsklousule.
In Mei 1883 het Paul Kruger in die Volksraad verklaar dat die tyd aangebreek het om met die Britse Regering te onderhandel oor al hierdie sake. Die koloniale minister, lord Derby, het gunstig reageer op ’n Transvaalse voorstel dat ’n deputasie na Engeland gestuur moet word. Dit sou bestaan uit Paul Kruger, genl. Niklaas Smit, die held van Majuba, en ds. S. J. du Toit wat intussen groot invloed oor Kruger verkry het.
Op 18 September 1883 het die deputasie uit Pretoria vertrek en oor Kimberley na Kaapstad gereis. Die Kaapse Afrikaners het die here uit die noorde met geesdrif ontvang, want hulle het nog in die nagloed van die Vryheidsoorlog gestaan. Dit het geen twyfel gelaat nie dat die Transvaal opgehou het om ’n afgesonderde bestaan in die binneland van Suid-Afrika te voer. Hy was as gevolg van die Vryheidsoorlog meer as ooit tevore ’n onafskeidbare deel van die Suid-Afrikaanse politiek. Allerweë het die reputasie van Paul Kruger as vooraanstaande leier in die noorde versprei. Dit het as ’n sterk stimulus vir die Afrikaanse taal en nasionale beweging in die suide gedien. Die twee strome het in mekaar begin vloei en die skakel tussen die twee was die persoon van ds. S. J. du Toit. Solank die noue verbintenis tussen hom en Kruger geduur het, was daar alle vooruitsig vir ’n vrugbare samewerking tussen die Afrikaners van die suide en noorde. Tog was die eensgesindheid nie so diep gewortel soos dit geskyn het nie, want in daardie stadium van sy lewe was Kruger by uitstek Transvaler en erfgenaam van die politieke denkbeelde van die Voortrekkers. Du Toit was daarenteen gedra deur ’n idealisme wat op die breë grondslag van ’n verenigde Suid-Afrika berus het.
Intussen het alles goed gelyk en vergesel van die beste wense van die Kaapse Afrikanerdom het die deputasie op 10 Oktober, op Kruger se verjaarsdag, uit Tafelbaai vertrek. Na ’n reis van 19 dae het die deputasie in Engeland aan wal gestap. Die besoekers uit Transvaal is vriendelik ontvang en onthaal en Kruger het ook kennis gemaak met Gladstone wat hy hoog geag het. Gedurende die uitgerekte onderhandelings met lord Derby het Kruger gebruik gemaak van die vrywillige dienste van goedgesinde Nederlanders onder wie veral belangrik was G. J. I. Beclaerts van Blokland, ’n regsgeleerde en lid van die Nederlandse Tweede Kamer. Hy is later deur Kruger as eerste Transvaalse gesant in Europa benoem. Ds. D. P. Faure het as tolk opgetree. Al die dringende vraagstukke is bespreek en Derby het hom bereid verklaar om verskeie toegewings te maak, soos die vermindering van die staatskuld en die afskaffing van die susereiniteit. Hy wou egter nie skiet gee wat betref die wysiging van die wesgrens nie en was ook nie bereid dat die Transvaal dieselfde volkregtelike status van voor die anneksasie sou beklee nie.
Sowel die Britse Regering as die Kaapse owerheid het die Transvaal met agterdog bejeën weens sy houding insake die wesgrens. Veral die stigting van die twee klein republiekies aldaar het die vrees laat ontstaan dat die Krugerbewind van plan was om ’n beleid van stelselmatige weswaartse uitbreiding na te streef. Dit sou die Kaapkolonie afsny van uitbreiding in ’n noordelike rigting en, erger nog, na die mening van die Britse Regering, onafhanklike swart stamme in Betsjoeanaland onder die Republiek se gesag bring. Die Britse filantropie het ontwaak en sy stem laat hoor. Hoe goedgesind Derby ook al teenoor die deputasie en Kruger persoonlik was, moes hy ook rekening hou met die openbare mening in sy eie land. Vandaar sy weiering van verdere toegewings. Hy was wel te vinde vir ’n geringe wysiging van die wesgrens in die guns van die Republiek. Vroeg in 1884 was die ontwerp van ’n Konvensie gereed en op 27 Februarie is die stuk, bekend as die Konvensie van Londen, onderteken.
Die susereiniteitsaanhef van die Pretoria-Konvensie is geskrap, maar artikel IV van die nuwe ooreenkoms het bepaal dat geen verdrag met ’n vreemde moondheid uitgesonderd die Vrystaat van krag sou wees sonder die goedkeuring van die koningin nie. Dit het beteken dat die Republiek in sy buitelandse verhoudings nog onder Britse toesig was en nie ’n volle soewereine onafhanklike status geniet het nie. Die staatskuld is met R262 000 verminder en die wesgrens, wat nog afgebaken moes word, is effens gewysig. Daarbenewens sou die Transvaal weer soos voorheen bekend wees as die Zuid-Afrikaansche Republiek, iets waarop Kruger nogal gesteld was.
Die werksaamhede van die deputasie in Engeland was dus nie sonder positiewe resultate nie.
Ná sy terugkeer in Suid-Afrika het Kruger op ’n byeenkoms verklaar dat Engeland met die anneksasie in 1877 twintig sjielings uit die pond van die Transvaal afgeneem het. Met die Pretoriase Konvensie het hy tien sjielings teruggegee en met die Londense Konvensie ’n verdere vyf betaal, sodat hy nog vyf sjielings aan die Republiek verskuldig was. Dit was ’n raak opsomming van die toestand. Hangende die finale bekragtiging van die Konvensie het Derby geen beswaar gehad teen enige onderhandelinge tussen die deputasie en ander moondhede nie. Kruger en Smit het derhalwe onmiddellik na die vasteland van Europa vertrek waarheen Du Toit reeds afgereis het.
Daar was belangrike sake wat hulle aandag vereis het. Die onmiddellike oogmerk met die besoeke aan Nederland en Portugal het te doen gehad met Kruger se plan om die bou van ’n spoorlyn tussen Delagoabaai en Pretoria te bevorder. Dit was ’n ideaal wat hy van pres. Burgers geêrf het, en dwarsdeur sy presidentskap het hy steeds ’n beleid van ’n verbinding met die buitewereld deur die Portugese gebied gevolg. Hy het geglo aan sy "nasionale spoorweg”, onafhanklik van die wurggreep van die Britse kuskolonies. Vir hom was dit ’n lewensaar waarsonder die Republiek nie kon bestaan nie. Hy wou met Portugal onderhandelings daaroor aankoop en die kapitaal en ander steun in Nederland vind. Terselfdertyd wou hy ook nouer betrekkinge met ander bevriende moondhede aanknoop. Na Nederland het hy buitendien omgesien vir bekwame amptenare en onderwysers.
Die deputasie is luisterryk in Nederland ontvang, amptelik deur lede van die regering en geesdriftig deur die publiek. Paul Kruger is persoonlik ook te woordgestaan deur koning Willem III en koningin Emma, sowel as deur die Prins van Oranje. By onthale in Amsterdam moes Kruger etlike toesprake hou en die Nederlandse belangstelling in die Transvaal het ’n hoogtepunt bereik. Die vrugte van die besoek van die deputasie is gedurende die volgende jare gepluk toe ’n aansienlike getal Nederlanders na die Transvaal verhuis en daar ’n belangrike rol gespeel het op opvoedkundige. administratiewe en ander gebiede. Vir die jong Republiek het dit veel beteken en as ’n versterking van die Hollandse element in Suid-Afrika het dit op die regte tydstip plaasgevind. Kruger was die Hollanders besonder goedgesind en sy bewind is later selfs verwyt oor sy "Hollander-politiek”.
Een van die belangrikste werksaamhede van die deputasie in Nederland was sonder twyfel die toekenning van ’n konsessie aan ’n Nederlandse maatskappy om die spoorweg vanaf die Portugese grens na Pretoria te bou. ’n Voorlopige ooreenkoms is met ’n groep Nederlandse finansiers in April 1884 gesluit, maar geldgebrek het die inwerkingtreding van die konsessie vir enkele jare vertraag. In Nederland het Kruger ook daarin geslaag om in die persoon van die pas afgestudeerde jong regsgeleerde, dr. W. J. J Leyds, ’n bekwame staatsprokureur vir die Republiek te verkry. Gedurende baie jare daarna sou hy feitlik die regterhand van die President in staatsake wees.
In België en Frankryk is die deputasie ook hartlik verwelkom en ook in daardie lande is Kruger deur die staatshoof ontvang. Die reis is daarna voortgesit deur Spanje, waar Kruger ’n stiergeveg bygewoon het, na die Portugese hoofstad, Lissabon. Hier sou die onderhandelings uitsluitlik oor die spoorverbinding gaan. ’n Ou handelsverdrag van 1875 tussen die twee lande is hernu, maar die saak van die verlenging van die Transvaalse spoorlyn vanaf die oosgrens na Delagoabaai was meer ingewikkeld. ’n Amerikaanse spekulateur, McMurdo, het nl. kort tevore ’n kommissie van die Portugese Regering gekry vir die bou van die spoorlyn van die Portugese hawestad na die Transvaalse grens. Hy het gemeen dat met daardie hef in die hand, hy die Transvaalse Regering kon dwing tot ’n dergelike konsessie vir die voltooiing van die lyn tot in Pretoria. Hy het hom egter misreken, want die deputasie het ’n uitweg gevind deur met Portugal ooreen te kom oor die bou van ’n perdetrem van die grens na die baai. Omstandighede het gelukkig later so verander dat McMurdo uitgeskakel kon word. Ook in Portugal is Paul Kruger vereer en tydens ’n besoek aan die koninklike hof is aan hom die Orde van die Groot kruis van die Onbevlekte Ontvangenis verleen.
Voor sy terugkeer na Suid-Afrika het die deputasie nog die tyd gevind om ook aan die Duitse hoofstad, Berlyn, ’n besoek te bring. Daar het hulle kennis gemaak met beroemde manne soos Bismarck, veldmaarskalk Von Moltke sowel as die ou Keiser, Wilhelm II. Daarna is die terugreis oor Holland en Engeland aanvaar. Die deputasie het eindelik na ’n afwesigheid van nege maande, op 11 Julie 1884 in Kaapstad aanwal gestap. Veertien dae later is die lede in Pretoria verwelkom. Dit was die einde van ’n belangrike hoofstuk in die lewe van Paul Kruger. Die belofte vir die toekoms was groot.