Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy alleen kan so maklik ander mense in die verderf inhelp òf hulle na Christus lei – iets waarvoor jy eendag verantwoording sal moet doen (Rom 5:19)
WIE IS DIE SKULDIGES (9)
Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
DIE NOODLOTTIGE SES-EN-DERTIG UUR
Leipoldt ry halfpad Upington toe met Maritz se motor en jaag daarvandaan sy perde amper dood om kastig by Koen Brits te kom. Hy sien die nuwe opperbevelhebber om agtuur die aand en sê: "Koen, ek weet dat u die ontslag van Maritz in u sale het, en ek het hom beloof hy sal dit kry. "
Koen Brits sou waarskynlik in sy gemoedelikheid vir Leipoldt geantwoord het: Ou seun, spring dan maar op die perd en bring die ding gou. Maar hy het onder die invloed gestaan van Enslin, wat hy ken as die spesiale verteenwoordiger van genl Botha vir wie Brits 'n slaafse ontsag gehad het. En verder is daar nog twee offisiere na wie hy Iuister. Altwee het met hom saamgekom, naamIik kol. Ben Bouwer, wat aangestel is as opvolger van Maritz in die bevel oor die kommando-kamp, en van majoor Ivan Swemmer, 'n prokureur van Standerton en offisier van die skietvereniging. Hy was 'n groot persoonlike vriend van Koen Brits en een van sy stafoffisiere.
Die drie here het dit verstandiger geag om Maritz nog maar 'n bietjie Ianger te Iaat wag vir sy ontslag en nog eers met Pretoria in voeling te kom. HuIIe het 'n groot vrees vir genl Smuts gehad.
Maritz het manne onder hom gehad wat teen die wet in en sonder voldoende oefening en uitrusting deur die Regering beveel is om tot die aanval teen beroepsoldate van die beste leër van die wêreld oor te gaan. Sy bedanking, indien aangeneem, sou hom ontsIaan van alle dissiplinêre aksie. Sy gewetensbeswaar teen die inval was nie minder gegrond as genls Beyers en Kemp s’n nie. Ofskoon die geheime instruksies van Smuts aan Wylie en Brits hom nie bekend was nie, het hy wel besef wat hom te wagte staan, te meer omdat Brits hom volgens militêre wette (wat dikwels bots met die morele reg, soos in hierdie geval seker) tegnies skuldig gemaak het naamlik om Maritz te arresteer.
Maar die magte wat die Iotgevalle daar ongelukkig in hulle hande gehad het, beslis soos hulle wil. Maritz was "beproef" volgens die resep van genl. Botha; hy was (volgens hulle opvatting van eer en plig) skuldig. Om Maritz sy straf nie te Iaat ontgaan nie, is die Afrikanervolk in 'n burgeroorlog gestort en ook die imperiale belange in die weegskaal gegooi.
En so het die 36 kosbare ure, wat die volk van die noodlot skei, verloop in 'n geheimsinnige, vrugtelose kajuitraad van Koen Brits en sy drie ondergeskikte offisiere, wat finale instruksies van genl. Smuts afwag.
Die Vrydag verloop, en eers Saterdag besluit hulle om Bouwer te stuur vir die aflewering van Maritz se ontslag.
Maar toe was dit te Iaat, want die rebellie het uitgebreek.
Dit het plaasgevind op Vrydag, die 9de, terwyl Koen Brits en sy offisiere besig was om met Pretoria te beraadslaag.
Gedurende Maritz se afwesigheid na die Duitse Iyn het daar al gerugte begin en rondgegaan in die kamp op Van Rooisvlei; selfs die Engelse meksimseksie hoor dat Maritz nie van plan is om oor die grenslyn te trek nie. En op die aand van die 8ste verneem hulle dat Maritz bedank het, dat hy die volgende dag die manskappe sou toespreek; en dan sou almal kon huistoe gaan. Hierdie gerugte was verblydend, ook vir hulle, want geesdrif vir die inval het daar ook by hulle nie bestaan nie.
Vier dae tevore het Enslin aan Maritz n brief geskryf namens kol. Wylie, wat toe in Upington aangekom het, en voorgestel om die posisie "saam te bespreek”. Van sy geheime instruksies, wat alleen aan hom en Enslin bekend was, het die brief natuurlik sorgvuldig geswyg. Maar Maritz het wel aangevoel wat hulle planne met hom was en het die brief nooit 'n antwoord waardig geag nie.
Saterdag sou die Duitse kanonne en die Vrykorps op Van Rooisvlei wees, en teen hierdie tyd moes die hele kamp weet wat nou nog slegs bekend was by die vertroude offisiere.
Op die more van Vrydag 9 Oktober 1914, sit Maritz met sy offisiere behalwe dié van die meksimafdeling en 'n paar ander wat nie met sy planne op hoogte gestel was nie onder die boom aan die voet van die koppie, en hulle bespreek die gebeurtenisse wat nou moet plaasvind. Die beloofde ontslag het nie gekom nie, die Duitse kanonne kom nader; dus moet daar nou opgetree word. Die ander kamp, op Kakamas, weet niks van wat aangaan nie, behalwe die vernaamste offisiere daar. Stadler is die kommandant van die Iede van die skietvereniging, waarvan 'n goeie honderd vrywillig kom deelneem het aan die vredesoefeninge en gehelp het om patrollie te ry op die Duitse Iyn. Kaptein Beukes, kaptein Louw en kaptein Van Reenen de Villiers is oor die aktiewe burgermag daar. Beukes van Namakwaland, Andries Louw en Van Reenen de Villiers elk oor 'n gedeelte van Calvinia. Louw het reeds vier dae gelede instruksies gekry om met 'n deel van sy mag oor te kom na Van Rooisvlei en sy burgers Iê nou net daar agter die sandduin.
Om twee-uur die middag sal daar 'n vergadering gehou word van al die offisiere en dan sal Maritz hulle openlik sy standpunt verklaar.
Maar die uur is verhaas. By die offisiere onder die boom is 'n Iuitenant Mostert van Cnydas se patrolliekamp. Hy het nie geweet dat daar ook offisiere op Van Rooisvlei is nie, wat ontrou is aan Maritz en dat Iuitenant Moody daaronder behoort. Hy was van Carnarvon se aktiewe burgermag. En Iuit. Mostert gaan vertel toe vir die ander alles wat by gehoor bet, sonder die geringste verkeerde bedoeling.
Maritz, Joubertjie, Coetzee, Iuit. Moolman en nog 'n paar offisiere ry na die put waarop die windpomp staan, enige honderde tree in 'n suidwestelike rigting. Maritz het die put Iaat skoonmaak maar die water is nie voldoende vir al die mense en diere nie. HuIIe wil nou sien of die perde goed behandel word. Maar voor hulle soheentoe loop, gee Maritz vir kaptein Hendrik van der Merwe bevel om die EngeIse Iede van die kommando 'n bietjie dop te bou. HuIIe is ruim driehonderd tree ten noorde van die burgermagkamp, en daar is offisiere in Iaasgenoemde kamp, wat meen dat die meksims saans gereeld op het nie die minste respek vir die militêre betekenis van die meksimseksie nie.
Kaptein Van der Merwe sien nou dat Moody, na hy die nuus van Mostert geboor het, 'n rukkie in die kamp agterbly en daarna afsit Engelse se kant toe. Kaptein Van der Merwe, Iuit. Kruger, kaptein Engelbrecbt en ander ja hom by en vang hom toe hy nog 'n klein distansie van die meksimmense af was.
Toe Maritz 'n rukkie later terugkom van die windpomp af en hoor wat gebeur bet, was hy ontevrede en het Mostert skerp aangespreek. Dit was tussen tien- en elfuur die voormiddag.
Daar moet nou onmiddellik gehandel word, sê by. Ons kan nie wag tot twee-uur nie. Laat roep Iuitenant Frieer (die hoof van die meksimafdeling).
Maritz sit weer onder die boom waar hy gewoonlik sy maaltye gebruik, en die Iuitenant kom te perd aan. Hy sê vir Frieer: "Ek het besluit om nie vir die Unie te veg nie en maak jou prisonier.”
Frieer protesteer: dis nie goed genoeg - meen hy om hom sommer net te vang nie. Die Iuitenant-kolonel (Maritz) moet hom 'n "fair chance” gee, meen hy.
"All right,” antwoord Maritz ridderlik. "But then there will be no mercy on either side.” Dit sal 'n geveg om Iewe en dood wees.
Frieer stem daarmee in. "Goed,’ sê Maritz, "ek daag jou of enigeen van julle uit met enige wapen wat julle wil".
Frieer het daar geen sin in gehad nie. Hy het hom moontlik die skietoefening herinner op die pad van Upington na Van Rooisvlei.
Die meeste ammunisie vir die meksims was in die kamp van Maritz. Frieer het net maar 'n paar kissies gehad, en hy vra nou Maritz moet hom meer ammunisie gee, sodat huIIe kan veg.
Maar dit wou Maritz nie. "Ons sal julle tog maar almal doodskiet,” sê hy. "Julle kan nie teen ons veg nie. Ons het goeie posisies in die kliprantjie en julle is daar op die kaal vlakte. Dit sal 'n vermorsing van julle bloed wees.”
Luitenant Frieer het daarop nie meer van veg gepraat nie, en Maritz stuur vir luitenant Moolman om luitenant Botha, die offisier wat onder Frieer staan, met die sowat 60 manskappe van die meksimafdeling te gaan haal.
Kaptein Andries Louw, wie se 230 man agter die duin Iê, trek nou ook met honderd man onder aanvoering van Louw self op na Van Rooisvlei. Maritz Iaat huIIe nie afsaal nie maar voor huIIe perde staan in 'n halfmaan om die boom. In daardie halfmaan Iaat hy die Engelse bymekaar maak. Die beuel blaas vir algemene aantree.
Die manskappe, ook van die meksims, was ongewapend, behalwe die mense van Louw en ’n deel van luitenant Moolman se mense. Ook die vyftien kêrels wat die inligtingsdiens vorm, moet kom. HuIIe is "Enslin’s Horse” en het minder van "horse” geweet as van Enslin. Maar party van huIIe kom uit die noord-westelike deel van die Kaapprovinsie.
Sersante H. de Bruin, Frikkie de Bruin, Beachy en Smith stap dadelik oor na Maritz se getroues. HuIIe sê: "Ons is net sulke goeie Afrikaners soos julle."
Intussen is die meksimseksie deur luitenant Kruger gevisenteer en 'n klompie patrone wat huIIe by huIIe het, word afgeneem.
Maritz staan die hele tyd kalm onder die boom en gesels met Frieer en ander. Rondom hom staan Ben Coetzee, Joubertjie , Louw, Engelbrecht, Van Reenen de Villiers, Boshoff, luitenante Dreyer, Kruger, Moolman, Van der Westhuizen en Van Heerden.
Op die rantjie daaragter is luitenant Otto met enige van sy heliografiste.
Oppervlakkig Iyk die hele, merkwaardige kommando nie ontroerd nie, maar in werklikheid is daar in elke hart 'n sterk spanning van verwagting. Dis halfeen. Maritz klim op 'n kas. Sy vasgeboude Iyf, met die boom en die koppie as agtergrond, staan sterk geplant op die verhoog. Sy persoonlikheid oorheers alles. Deur sy haas kinderlike goedhartigheid en strenge regverdigheid geniet hy die geneentheid van almal wat kom ken. Vir sy onverskrokkenkeid en sy beslistheid, wat somtyds in 'n heftige uitbarsting geuiter word, is iedereen bang. Sy toon is soms hard, sy woorde dié van 'n man wat groot geword het, hoog in rang, in die oorlogsveld, in die stryd teen 'n oormagtige vyand, wat daarop uit was om sy volk te vernietig en wat die onafhanklikheid betref daarin geslaag het. Voormanne van daardie tyd, sy hoofde uit die Boere-oorlog, staan nou aan die kant van die nasie wat daardie onheil oor Suid-Afrika gebring het. HuIIe word vandag selfs gebruik om dieselfde roofpolitiek ten koste van ’n ander nasie, die Duitsers, uit te voer.
So voel Maritz sy verantwoordelikheid baie diep. In agt dae geniet hy geen voedsel nie. Waarskynlik slegs half bewus, is daar ook die besef dat genls. Botha en Smuts verder nog vir hom druk in ’n rigting wat hy nie wil gaan nie, maar wat hy nou moet loop.
As hy kegin praat, beheers hy kom nog heeltemal, maar gedurende sy toespraak begin sy gevoelens hom altyd sterker te ontroer; en as hy uiteindelik van sy vrou en kinders praat, bars hy in trane uit.
"Burgers en landsmanne.” begin hy, "hier staan ek. Alleen. Voor God en u alleen, ja alleen. Ek wil niemand met my Iaat saamgaan nie. Ek vra niemand van u om vir my party te kies nie. Hier staan ek vir die welvaart van my land, en wat ek op my geneem het, daarvoor gaan ek veg. En as daar iemand van u is wat meen dat my saak nie rigtig is nie, of dat ek 'n verraaier geword het teen my land en teen julle, jaag my dan 'n koeël deur die kop, want dan sou ek nie meer werd wees om te Ieef nie. Mag die Almagtige God 'n weerligstraal stuur en my van die aarde hier, waar ek staan, Iaat verdwyn as my saak nie rigtig is nie.”
Dan begin hy en vertel van sy planne wat hy al van die Boere-oorlog gehad het om sy land te bevry van mense wat dit uitsuig. "Waarom moet ons deur 'n ander volk oorheers word? Bedink hoe manne soos genl. Hertzog behandel is, manne wat hulle uiterste gedoen het vir ons volk. Bedink hoe genl. Botha vir genl. Hertzog uit die ministerie gesit het. Laat so 'n Iistige handeling 'n man se bloed nie kook nie? " Vir die gemeenheid van genl. Botha kan hy amper geen woorde kry om dit uit te druk nie. "Mag God gee dat ons in 'n geveg van man teen man ontmoet. Botha het julle, seuns, opgeroep vir ’n spesiale vredesoefeningkamp, en noudat hy julle van julle ouers af weg het, gee hy my bevele om julle oor die grens te neem om daar van honger en dors te Iaat versmag. En die wat oorbly, sal deur die Duitsers doodgeskiet word. Wat kan ons, wat nie uitgerus en nie geoefen is, wat nie een kanon het nie, teen die geoefende Duitse troepe maak? Naderhand het Botha die uitvlug gekry dat ons geen bevele het om oor die grens te trek nie. Maar selfs al sou ons op die Iyn gaan Iê, sou 'n geveg onvermydelik word. Koen Brits het nou van Smuts bevel gekry om die beheer oor te neem. As julle wil, kan julle oorgaan na hom toe."
Die burgers roep hierop geesdriftig: "Nee!”
"WeI,” vervolg Maritz, ,"Dan sal ek by julle staan, tot ons by julle ouers of julle ouers by julle kom en vir julle sê wat julle moet doen.”
Verder behandel hy die gebeurtenisse tussen kom en die Regering. Hoe hy vir genl. Botha gesê het dat die inval onmoontlik was, omdat die volk dit nie wil hê nie. Hy wys op die nederlaag van Lukin, waarby 'n driehonderd jong Suid-Afrikaners opgeoffer is aan persoonlike eersug. Botha wil net Engeland behaag, en "ek sê julle dat ek nie Ianger deur so 'n skaamtelose, eersoekende en tegelykertyd Iae Regering beheers wil word nie. So help my God!”
Hy deel mee van sy onderhandelinge met die Duitsers. As Amerika sy onafhanklikheid kan hê, waarom ons dan nie ook nie? Kan 'n mens ooit die 26,000 vroue en kinders vergeet wat in die konsentrasiekampe opgeoffer is "God kan so ’n misdaad nooit vergeet nie, ofskoon daar twaalf jare verbygegaan het en die gras op die grafte groei. Om hierdie en ander redes het die Engelse koning geen reg om die naam van God te gebruik nie, maar die Duitse keiser wel, want hy veg om die reg en vrede van die wêreld te bewaar. Die Engelse politiek is op fondamente van Ieuens gevestig, en genl. Botha het dit hier oorgeplant. Julle moet nie dink dat ek vir die Duitsers party trek of dat ek die Duitsers teen my eie volk help nie. Twee dinge sal ek nooit verraai nie: my God en my volk. Die leiding van God het ek gevra, en Hy het my die reg en die tyd gegee om julle aldus toe te spreek.
"Die hele Vrystaat en 'n deel van Transvaal is gereed om op te staan. Toe ek genl. Beyers die Iaaste keer gesien het, het hy heeltemal party vir my getrek. Ek het hom my planne meegedeel en hy het dit goedgekeur. Ek kan u verseker dat ek hierdie uniform nie aangetrek het om Engeland te dien nie, maar om my volk ontwil. En nou staan ek op die punt om te handel. Toe genl. Botha daarop aandring dat ek die bevel sou voer, het ek vir hom gesê: daardie inval sou 'n vrugtelose poging wees, maar hy wou nie Iuister nie, en ek het die bevel aangeneem vir bevordering van my land. En nou voor God en voor u haal ek die onderskeidingstekens as 'n Engelse Iuitenant-kolonel af, want ek wil niks meer wees as 'n gewone burger nie, om te veg vir die vryheid van my land. En ek sal nie ophou nie, al sou my bloed vloei, want die hemel weet dat ek my bloed met eer sal vergiet. U weet dat ek 'n vrou en twee kinders het, en dat ek huIIe baie liefhet. Die hemel weet dat dit so is. Maar my land kom voor huIIe.”
Die ontroering het hom nou oorweldig. Hy stap van die kis af. Die rand van sy militêre hoed, wat aan die linkerkant opgesteek was, maak hy Ios en slaan dit aan die regterkant op, volgens die ou Republikeinse manier. Hy bevestig dit ook met die ou Republikeinse wapen, soos dit in die Boere-oorlog gebruik is.
In sy toespraak het Maritz ook duidelik te kenne gegee aan die gevangenes hoe jammer hy voel dat hy huIIe prisoniers moes maak. Maar dis nodig vir die vryheid van sy nasie en land. "Julle luitenant Frieer het my uitgedaag, hy wil sy meksims behou en met ons veg. Ek het dit geweier omdat dit onnodige bloedvergieting sou wees. Tot 'n geveg van man teen man is ek teen enigeen van u bereid. Ek vra nou diegene onder u wat wil aansluit by ons, om drie passies vorentoe te maak.”
Twintig van die prisoniers het daarop uitgestap, luitenant Rousseau gaan oor na die kant van die prisoniers.
Kaptein Engelbrecht wat as sekretaris optree, het hierop die offisiële instruksies van die Regering voorgelees waarin die kommando na Duitswes beveel is, ook die verdere bevele, en dat Maritz geweier het om daaraan te voldoen.
Tot slot word drie hoera’s aangehef ter ere van kommandant- generaal Manie Maritz, voorgestel deur sy getroue maat, Ben Coetzee, en daar word hartlik aan deelgeneem deur die hele kommando, behalwe die prisoniers.
Op bevel van Maritz is Iaasgenoemde dadelik oppad Duitswes toe. Hoe pynlik die daad vir genl. Maritz was, blyk onder andere hieruit: dat hy een van hulle wat as instrukteur onder hom gedien het, voor sy vertrek tot die offisiersrang verhoog het om 'n beter behandeling vir hom te kry as krygsgevangene.
Vervolg...