Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Siekte takel 'n mens af – nie net liggaamlik nie maar ook geestelik. Terwyl dokters hulle met jou liggaam besig hou, sit jy opgeskeep met onsekerheid en angs, opstandigheid en depressie. Daarby voel jy uitgelewer en eensaam. Maar siekte is méér as dit: dit kan ook nuwe uitdagings en nuwe perspektiewe bring en gee 'n mens ook tyd om waarlik te leef – al is jou tydjie ook hoe kort.
WIE IS DIE SKULDIGES (25)
Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
DIE TWEEDE EN BESLISSENDE GESPREK (2)
Die tweede onderhoud tussen genls. Botha en Beyers het dus plaasgevind baie kort na die vertrek van die deputasie uit die Eerste Minister se kantoor. Mev. Beyers skryf die volgende:
"Op 14 Oktober laat vra genl. Botha weer om Krisjan te sien. Onderwyl het mnr. en mev. Frikkie Eloff hom gasvryheid aangebied en Pieter moes eers die brief geheimlik daarheen stuur. Weer dieselfde versoek, maar nou soebat Generaal Botha met trane, en ek kan my voorstel hoe bedroefd dog nukkerig Krisjan toe was. Krisjan spreek weer sy ontevredenheid uit oor die 'Ever Since’ ( Bekendmaking of Manifest).
"Genl Beyers kla dat sy lewe nie veilig is as gevolg van die opruiende artikels in die koerante nie en oor al die dreigemente wat hy ontvang. En so ver as Koen Brits betref, (Brits het die bevel van Maritz in Upington oorgeneem) vertel hy dat hy Maritz gaan vang en as hy terugkom moet Beyers dood.
"Dit, het Generaal Botha gemeen, moes Krisjan tog nie so ernstig opneem nie. 'Steur jou tog nie aan die ou dronklap (Brits) nie’. Hy (Botha) het glo ook self dreigemente ontvang. — Maar genl. Botha het vergeet dat hy dadelik ’n Iyfwag van 50 soldate om hom en sy huis geplaas het...
"Generaal Botha verseker Krisjan, hy sou van regeringskant geen kwaad wedervaar nie. Krisjan aan die anderkant het probeer om Generaal Botha te oortuig, dat as hy die vrywilligers se kommandering sou kanselleer soos hy gevra het, die Volk dadelik sou bedaar, en dan kon hyself na Maritz gaan.
"Gen Botha: 'Ag man, ek het 7,000 man gevra en maar 2,500 het hulself bereid gestel. Wat kan ek met 2,500 man teen 6,000 Duitsers?’
"Krisjan herhaal aan genl. Botha dat hy gedoen het wat hy kon om die Regering terug te hou, en huI wou daar geen notisie van neem nie. Hy kon nou niks meer doen nie, hulle het hom ook nie nodig nie. Dit was in die mag van die Regering om dinge self reg te maak.
"Die laaste pleidooi van Generaal Botha was: 'Krisjan, as jy dit vir my doen, herstel ek jou as kommandant-generaal’. En die antwoord was: 'Louis, ek het geweet wat ek doen toe ek bedank het, en omstandighede het nog nie verander nie. Ek het julle gewaarsku, dat julle groot moeilikhede sal veroorsaak, en om hieroor te praat, hoef jy my nie weer te Iaat roep nie’.
"Toe die Generaal (Botha) sien dat Krisjan absoluut beslis was om nie aan sy smeking gehoor te gee nie, wou hy hê dat Krisjan ‘n brief aan die koerante moes skrywe en Maritz se optrede veroordeel. 'En ook om jou naam skoon te maak’ ( 'n Mooi Iokaas!)
Daarop het Krisjan gantwoord: 'Oor my naam hoef jy jou nie te bekommer nie. Aan die vuil blaaie sal ek geen brief rig nie, maar as jy wil sal ek aan jou ‘n brief skrywe. Ek kan jou die naam van Joubert noem; hy was op15 September by my. Jy kan hom vra wat ek aan hom gesê het.' Maar ‘n brief aan homself kon die Generaal nie aan dink nie. Hy het nog nooit vir 'n oomblik gedink dat Krisjan iets met ontrou te doen gehad het nie."Mev. Beyers gee dan verder haar opinie, dat die verhaal wat in regeringsblouboeke verskyn het omtrent genl. Beyers se onbeslistheid en dat hy gesê het hy sou sy vriende raadpleeg, sekerlik nie korrek is nie. Sy voeg daarby: "InteendeeI, hy was ernstig beslis en het aan genl. Botha gesê: 'Hieromtrent hoef jy my nie weer te Iaat roep nie.' Ek het Krisjan op die 16e by Bredell gesien, en so het hy my dit vertel.”
As mens die twee gesprekke tussen genls. Botha en Beyers nougeset lees, vergeet jy eintlik dat dit is om Manie Maritz tot rede te bring dat die onderhoude plaasgevind het. Maritz is net die klopper aan die deur om toegang te kry tot die Beyershuis. Hy word vergeet as die deur oop is. Want dit was nie genl. Botha se plan om vrede te maak met Maritz deur middel van Beyers nie. Hy wou geen vrede hê nie, maar voortsetting van hierdie imperiale oorlog; en geen onderhandelings nie, maar onderwerping. Beyers moes "geliebenberg” word, en genl. Botha, die kenner van mense, het geweet dat hy nie kon slaag deur sy humeur te verloor nie, soos ‘n paar oomblikke gelede toe hy met die Kopjesdeputasie gespook het. Dit sou genl. Beyers net verder verwilder, en hy moes hom aankeer, suutjies en vriendskaplik. As hy Beyers het, dan het hy Maritz ook, en as hy die twee oorgehaal het, sal die verset teen sy politiek vir goed gebreek wees.
Selfs die ou Vrystaatse kriewelkop, wat hom partykeer so jaloers maak met die geweldige respek wat hy geniet, sal dan niks kan doen nie. En Hertzog kan dan maar sy neutraliteitshaan Iaat kraai; dit sal niemand meer wakker roep nie.
Genl. Botha is versigtig, ook in wat hy nie sê nie. Hy vertel nie vir genl. Beyers dat hy homself die vorige Sondag Iaat aanstel het as kommandant-generaal (in die wyere ou Republikeinse betekenis) "omdat die rebellie uitgebreek het”; ook nie dat genl. Beyers volgens sy inligtingsdiens, kop in een mus is met Maritz nie, en nog minder dat dit Beyers se "bose invloed” is wat 'n aantal offisiere Iaat bedank het. Inteendeel, hy maak of die ou getrouheid jeens kom nog bestaan; en al wat nodig is vir genl. Beyers, is om sy bedanking terug te trek, dan kan hy weer die hoof van die burgermagte word, wat hy tog werklik so begerig is om te wees. Maritz sal na hom Iuister en sy voorbeeld volg, en Jannie (Smuts) sal Manie, wat in sy hart tog 'n "eerlike krygsman” is, in sy offisiersposisie herstel.
'n AanvuIIing van mev. Beyers se rapport oor die besprekings tussen die twee generaals word gegee in die mededelings van ds. Van Broekkuizen omtrent n gesprek wat plaasgevind ket in die woning van ds. Neetkling, die Iaaste dag van genl. Beyers se aanwesigkeid te Pretoria, dus op 19 Oktober. Ds. Van Broekhuizen skryf:
GenI. Beyers vertel van 'n onderhoud wat hy (ongetwyfeld op 14 Oktober) met genl. Botha gehad het.
'Louis,' vra genl. Beyers, 'as ek met 'n paar duisend man agter my kom en protesteer teen Duitswes, wat sal jy doen? Sal jy skiet?'
GenI. Botha: 'Ek sal nie skiet nie.'
GenI. Beyers: 'Wat sal jy dan doen?’
GenI. Botha: 'Ek sal bedank. Ek is moeg van al die omwen-telinge in die land.'
En toe genl. Beyers hierdie gesprek oorvertel, vra ds. Neethling, wat 'n boesemvriend van genl. Beyers was al van hul skooldae af: 'Kan jy op genl. Botha reken’? Waarop genl. Beyers antwoord: 'Ja, ek kan op Louis reken, nie op Smuts nie, want hy Iaat nooit sy hart regeer nie’.
Ook hier het genl. Botha nagelaat om genl. Beyers in kennis te stel met die feit dat hy al van Sondag, 11 Oktober, af besig is om groot kommando’s van ou burgers saam te trek (die nasionale reserwe) met geen ander doel nie as om hulle in die veld te bring teen hulle ou kommando-maats, wat, soos dit geloop het, rondom genl. Beyers saamgedrom het.
Maar al was genl. Beyers op 14 Oktober nog oortuig van genl. Botha se vriendskap, sodat hy nog "op hom kon reken,’’ was hy nie heeltemal op sy gemak gedurende daardie Iaaste gesprek nie. Hy besef dat genl. Botha hom verdink van ontrou, al ontken hy dit. En dis daarom dat hy van Joubertjie se besoek aanhaal. Die wakkere, woelige adjudant van Maritz, groot vriend van die Duitsers met wie hy graag wil saamwerk teen die Engelse, was in die more om sewe-uur op 15 September by genl. Beyers in Pretoria om genl. De la Rey se boodskap oor te bring, en vernaamlik om namens Maritz te vra wat hulle moes doen op die Duitse grens. Kan hulle gevolg gee aan hulle hartsbegeerte om vir die onafkanklikheid van Suid-Afrika te gaan veg, met behulp van die Duitsers? Volgens Joubert|ie se verklaring aan skrywer het genl. Beyers geantwoord: dat hulle daar nie moes begin nie. Hulle sal hier begin, en volgens wat genl. Beyers self aan sy vrou vertel het, was sy advies aan Joubertjie: "My bedanking gaan om eenuur in, en elke man moet nou maar vir homself oordeel en volgens sy oortuiging handel.” Genl. Beyers het geweet dat die polisie voortdurend op Joubertjie se hakke was gedurende daardie besoek en dat Harry Mentz gewaarsku het: " Pasop vir daardie man. Hy is gevaarlik.” Dis om genl. Botha gerus te stel dat genl. Beyers in hulle Iaaste gesprek die aangehaalde woorde omtrent Maritz se afgevaardigde gesê het.
AI hierdie dinge het genl. Botha waarskynlik slegs matig geïnteresseer. Sy enigste doel was om genl. Beyers te beweeg om na Maritz te gaan, dis om nou te doen wat genl. Smuts hom reeds gevra het om op 9 September te verrig, naamlik om die opperbevel teen die Duitsers te aanvaar en die inval te lei. En toe dit misluk en genl. Beyers weier om af te wyk van die pad deur sy diepste oortuiging aangewys, toe was sy lot beklink. Veertien dae later Iaat genl. Botha hom onder die koeëls deurloop.
Nou het ons ook sommer antwoord gegee op die tweede vraag, naamlik: terwyl die regering vir genl. Beyers gesoebat het om na Maritz te gaan, waarom hulle op 'n kwaai manier 'n aanbieding van genl. Hertzog om dit te doen, geweier het. Want genl. Hertzog sou nie gegaan het om Manie "tot bedaring te bring ” sodat hy die opdragte om aan te val sou gaan uitvoer nie, maar wel om Manie deur onderhandelings sover te kry dat die rebellie sonder enige skietvoorvalle sou afgeloop het; want genl. Hertzog was teen die inval. Hy sou geslaag het in sy doel. Almal, vriend en teenstander, wat bekend was met Maritz en die omstandighede waarin hy verkeer het, het (soos uiteengesit) gereken dat die oproerige krygsman huiwerig begin word het en al te graag tot 'n verstandhouding met die regering wou kom. Dis ook bevestig deur 'n brief wat hy in 1923 aan genl. Herlzog geskryf het, na hy in Lourenco Marques aangekom het. Hy sê daarin: "Ek sou in 1914 alles gedoen het wat u van my wou hê."
Dis nie die "Bekendmaking of Manifest ”, wat genl. Hertzog beweeg het om aan genl. Botha te telegrafeer nie. Die regering het hom nie 'n kopie van daardie dokument gestuur nie; wel aan genl. Beyers. Maar wat genl. Hertzog Iaat optree het, was 'n uitnodiging van twee politieke ondersteuners van die regering, naamlik Coetzee en Le Roux, vooraanstaande inwoners van die noordwestelike Kaap. HuIIe het 'n telegram gestuur aan genl. Hertzog en 'n gelykluidende telegram aan genl. Botha, waarin hulle dit as hulle mening te kenne gee dat die opstand van Maritz sonder bloedvergieting k beëindig kan word, en hulle doen op genl. Hertzog 'n beroep om sy medewerking daarvoor te verleen. Genl. Hertzog is dadelik bereid en telegrafeer aan genl. Botha, die Eerste Minister, sonder wie se toestemming hy onder krygswet nie sou kan roer nie:
"Indien ik behulpzaam kan zyn by het verkrygen van in het telegram (van Coetzee en Ie Roux) beoogde resultaat, stel ik myn diensten besckikbaar.”
Genl. Botha antwoord dieselfde dag (die 15e Oktoker) sowel aan Le Roux en Coetzee as aan genl. Hertzog.
Hy sein aan die twee eersgenoemdes:
"Niemand betreurt verraderlike daad van verrader meer dan ik, vooral waar aantal onbezonnen zoons op die wyze sckandelik misIeid werden. Er zyn geen onderhandelingen met rebel-voorman. Rebellie kan alleen met geweld onderdrukt worden. Ik voel diep met ouders saam. Veel hang af van invloed die zy zelve zullen uitoefen.”
Maar aan genl. Hertzog se telegram voeg hy die volgende belangrike woorde toe:
"Men meent, dat dadelik publieke repudiatie van Maritz handelwyze door u en anderen in zyn ultimatum genoemd veel zou doen tot bereiking van beoogde resultaat. Wat stel u verder voor?” Genl. Hertzog het die inhoud van hierdie telegram van genl. Botha van 'n uiters beledigende aard beskou en daarop geen antwoord gegee nie. Hy het wel probeer om ’n uitspraak van die hof uit te lok oor die Iasterlikheid van hierdie antwoord, wat (volgens sy mening) hom as 'n medepligtige van die muiter Maritz bestempel. Die koerante het dit ook as sodanig opgevat en die beledigendste opmerkings aan sy adres gepubliseer. Maar die regeringslede het beskerming geniet onder die krygswet, sodat hulle in 'n hof onaantasbaar was.
Nes genl. Beyers het genl. Hertzog sterk verontwaardig en diep geskok gevoel oor die beledigende inhoud van die "Bekendmaking of Manifest" . Die strekking van daardie dokument was 'n aantyging teen die vyf daarin genoemde Ieiers, dat hulle skuldig is aan medepligtigheid in wat genl. Botha noem die "verraderlike daad van 'n verraaier". En wat genl. Hertzog betref, is daardie beskuldiging aanmerklik verskerp deur die antwoord aan hom op die Coetzee-voorstel. Genl. Botha sê vir hom: "Jy moet Maritz se handelswyse openlik repudieer.” En dan: "Wat stel jy verder voor? " Genl. Hertzog het dit as 'n strik beskou wat vir hom gespan is — as 'n halter wat om sy nek gesit is, terwyl genl. Botha eintlik grynslaggend vra: "Hier het ek jou. Ek het jou medepligtigheid bewys. Wat gaan jy nou doen? "
Genl. Hertzog het daardie val verbygestap, al voel hy tot die uiterste beledig. Hy neem openlik min notisie daarvan, nog minder trap hy in die strik. En daardie versigtigheid het die diepe teleurstelling en skrynende ergernis van genl. Botha en sy trawante gewek.
Hoe huIIe daaroor gevoel het, is in my herinnering bewaar deur 'n gebeurtenis op 'n pad in die Kalahari, twee en 'n half maande na die insident wat hierbo beskryf is. Ek was 'n gevangene. Ons (dis genl. De Wet en sy klompie getroues) is op 1 Desember 1914 gevang op Waterbury, in die Kalahari. Op 2 Desember word ons vervoer na Vryburg en daarvandaan na die Fortgevangenis in Johannesburg. Onder gewapende geleide ry ons tussen Marokween en Vryburg, 'n afstand van sowat 100 myl. Die gevangenes was in drie motors en 'n paar vragmotors gelaai. Die pad was stowwerig en die gemoedstemming van die gevangenes somber. In die eerste motor was genl. De Wet, opgepas deur twee offisiere van hoë rang. Dan volg ek met 'n kaptein aan elke kant, vervolgens komdt. Japie Neser, op dieselfde manier "beskerm”, en die klein kommando'tjie het in vragmotors gevolg. Halfpad tussen die genoemde plekke was 'n winkel, en daar het ons van oppassers gewissel. My bewakers van daar af was bekendes: die een 'n seun van die oudste Pretoriase predikant uit daardie tyd, die ander 'n lid van 'n eersteklas familie van die Hoëveld.
Hulle het 'n gewaardeerde vriendskapIikheid vir my getoon — selfs soveel dat huIIe voor ons van die halfwegwinkel vertrek, vir my 'n pyp en tabak verskaf en 'n vuurhoutjie vir my trek. My rookgoed het ek mos aan 'n swarte gegee in die distrik Wolmaransstad toe ek daar tussen die vyand moes deursukkel.
"Dit was jy Sondag, op die blou perd, ne?” vra die kaptein- dominee, soos ek hom in my gedagte genoem het, en my antwoord was: "Ja, en dit was julle, wat te sleg was om my dood te skiet.” So het daar 'n stemming van vergeef en vergeet ontstaan. Die twee kapteins was heeltemal tevrede: "Nou is die nek van die rebellie af,” want hulle De Wet mos gevang.
"As ons nou nog maar net die verd . . . Hertzog in die hande kon kry,” wens die kaptein-dominee.
Dit het my effentjies heftig gemaak, en ek verseker huIIe: "EIke man is in hierdie rebellie op sy eie verantwoordelikheid. Ek ook. En genl. Hertzog het niks daarmee te doen nie.”
’n Rukkie later merk een van my oppassers, so amper terloops op: "As mens net bietjie wou praat, kon mens miskien Ioskom en huistoe gaan.” – nie eers 'n bedekte uitnodiging tot verraad nie!
Ek was toe vinnig kwaad en verseker hulle: "As iemand vir my so 'n voorstel sou maak, sou ek kom met my vuis bykom..." Dit was onnodig kru, maar dit was oorlogstyd, en ek kan tot vandag toe nie eintlik beskaamd daaroor voel nie.
Die verdraagsaamheid was nou weg. Ek sit in 'n swaarmoedige bui tussen my twee oppassers en peins oor die mislukking. Die volk is klaar, so het ek gemeen, vir goed klaar. Ons is 'n klompie bandiete. Toe daar na 'n tydjie 'n paar woorde oor strawwe gewissel word, het ek een van die domste dinge in my Iewe gedoen. Ek sê vir die twee kapteins: "Julle kan my maar doodskiet. Moet my net nie alleen opsluit nie.” Ek moes teruggedink het aan die Driejarige Oorlog, toe ons na ons gevangeneming in die tronk van Kimkerley en ander plekke gemartel is. Voor ons opgesluit is, wou ’n offisier my Iaat doodskiet, maar dis deur die bevelvoerende generaal gekeer. Toe sit ons in 'n sel en vergaan. Die vyand prokeer om nie alleen ons liggaam nie maar ook ons siel te vernietig. Ons het naderhand as 'n guns gevra: "FusiIIeer ons. Die marteling is erger as die dood." Dit alles kom nou in my gedagtes terug en ek verbind dit aan wat moontlik voorlê. Dit gaan moontlik erger wees as twaalf jaar gelede, want 'n oorlog is oorlog, maar rebellie is hel.
Dis my ekskuus vir my onnosele openhartigheid gepleeg in daardie kakiemotor tussen die twee kakie-uniforms. Die aand toe ons op Vryburg afgelaai word, sluit hulle almal in selle toe: my in 'n sel alleen! Toe die deure die volgende more oopgaan, sien ek tot my vertroosting dat Japie Neser sy kop uit die aangrensende seldeur steek, soos ’n resiesperd wat sy maat soek.
Om nou die storie af te rond, wil ek nog net meedeel dat my voorgevoelens op die pad tussen Marokween en Vryburg al te veel werklikheid, bittere realiteit geword het: van die 18 tronkmaande was ek die meeste alleen opgesluit. Dit beteken jy sterf die ganse dag en baie nagte ook nog.
Die nadruk moet hier gelê word op die begeerte deur die twee offisiere geuiter om Hertzog vas te trek. As iemand hulle bietjie daarmee wou help deur Hertzog te verraai dan kon hy dalk daaruit bevoordeel word...
Die regeringsvolgelinge, in uniform of te nie, het daar geen geheim van gemaak dat hulle geweld op die Nasionaliste wat gevange geneem is, geniet het nie. Hulle het ewe dwaas gedink dat ware nasionalisme deur gewere en bomme vernietig kan word. Om daardie rede was hulle besonder hatig op die "kombers-rebeIIe, wat vrygespring het van vervolging en dood en tronkstraf, omdat hulle nie in die veld ingegaan het nie. Genl. Hertzog was in hulle oë die kop van die " kombers-rebeIIe”, want hy het kwansuis die mense opgesteek en nou Iaat hy sy slagoffers die kastaiings uit die vuur peuter, terwyl hyself op 'n veilige afstand sy hande sit en koester. As hulle hul hande net op hom kon lê . . . .
Genl. Botha was voortdurend op die voorgrond as die Ieier van al die regeringstappe. Genl. Smuts het op die agtergrond weggeskuil: naderhand het hy kamtig nederig erken dat hy die administrasie behartig en genl. Botha die mense. In werklikheid was dit hy wat gedirigeer het. Die regeringsdokumente wat in die tyd uitgevaardig is, dra almal die onmiskenbare Smuts-stempel. Die " Bekendmaking of Manifest" wat deur genl. Hertzog (tereg) aangevoel is as 'n hoogs-ernstige beskuldiging op valse gegewens; die Coetzee-insident, wat die toorn van genl. Hertzog witlaaiend opgewek het; selfs die telegram aan president Steyn gestuur op Sondagnamiddag 11 Oktober, en wat 'n dringend persoonlike beroep op hom doen om Maritz te verIoën, is die werk van genl. Smuts. Die volgende dag stuur Bourne 'n kopie daarvan aan genl. Botha se kantoor met die nota: "I send herewith a copy of the telegram despatched to President Steyn under General Botha’s name.” Bourne was die sekretaris van Verdediging.
Genl. Smuts was 'n "emergency man”, wie se groot talente alleen tot volle ontplooiing kon kom as daar geen wette is wat hom kon belemmer nie, as hy die wet self was. Hy het dit in die begin van dieselfde jaar (1914) bewys deur die onderdrukking van die groot staking, toe hy teen alle wet en reg in, nege arbeiderIeiers so skielik gedeporteer het dat hulle op see was voor die hof 'n vinger kon roer. Toe hy nie alleen die geweer nie maar ook die strop nodig geag het om "wet en orde”, sy soort wet en orde, toe te pas. Sy "pIatskietpoIitiek” het in die loop van tyd al die seksies van die bevolking getref: nie alleen arbeiders nie, maar ook Boere, Swartes, Indiërs - almal behalwe die 'kapitaliste'; dit het in daardie jare beteken: imperialiste. Vir hulle was hy die groot vegter, wat met die hoogste en hoogsgewaardeerde onderskeidings beloon is. Toe hy, jare later, as veldmaarskalk van die Britse leër in Suid-Afrika terugkom, dra hy, net toe hy in die deur van die vliegtuig verskyn, die staf van sy verhewe waardigheid in sy regterhand; en toe hy die trap afklim, waai sy regterarm met ”n wye gebaar oor die aarde, waarop hy toe neerdaal. Die mees ego-sentriese persoonlikheid van sy geslag: die naaf, die speke, die veiling, alles draai in altyd wyer kringe, om die as: Jan Smuts.
Dit sou onregverdig wees om hieruit die mening te vorm dat Jan Smuts in sy heerssugtige strewe net deur eieliefde en eie belang gedryf is. Want dis onjuis. Hy het as politikus en as krygman hom nie in die minste gespaar nie, en sy Iewe met stoisynse doodsveragting in gevaar gebring, meermale skynbaar onnodig. Vir sover dit selfsug was, het dit behoort tot 'n hoër klas as dié van ander mense, ver verby kleinpersoonlike belange. Sy idealisme was van 'n wydte wat die hele mensheid omvat het en eers in die Volkebond en daarna in die Verenigde Volke beliggaming gesoek het. Sy eie volk het hy daarby op die agtergrond geskuif, maar nie uit die oog of uit sy hart verloor nie: dit bly 'n historiese feit dat hy en genl. Botha die vredestraktaat van Versailles onderteken het as verteenwoordigers van die Unie van Suid-Afrika, waardeur ons land vir die eerste keer in die geskiedenis as 'n eie, selfstandige eenheid in die ry van volke erken is en opgetree het. (Maar dit kon nie vergoed vir die leuens, verraad en skade aan hulle eie volk gedoen nie).
In hoever heerssug en in hoever idealisme die dryfvere van genl. Smuts was, het hy waarskynlik self nie kon ontrafel nie. Dr. G. Kuypers het in sy opstel oor Stalin (in "Wat groeit er uit deze wêreld?”) heeltemal juis opgemerk: "By amper elke politikus is selfsug, ambisie en magsbegeerte op wonderlike wyse deurmekaar geweef met roeping, oortuiging, idealisme. Die meeste politici sal nie eens in staat wees om hul eie beweegredes te ontwar nie.”
Persoonlike gevoelens het hom nooit gepla vir die bereiking van sy doel nie. Met mense van intellektueel swakkere gehalte was hy ongeduldig. Met mense van sy portuur kon hy vroeëre vyandskap maklik vergeet. Saam met genl. Hertzog het hy vroeër Milner aangeval en dié se verwydering uit Suid-Afrika help bewerkstellig. Later sit hy saam met Milner in die hoogste en hoogsgeheime vergadering van die empaaier, en genl. Hertzog is sy vyand, tot hy uitvind hy kan die taai Vrystater nie baasraak nie, en dan dien hy ses-en-’n-halfjaar onder hom in die politiek. Tot hy as "emergency man” op 5 September 1939 die kans waarneem om genl. Hertzog uit die Eerste Ministerstoel weg te druk en self weer daarin te gaan sit.
Maar Ky Ket aItyd vir een man bang gebly in sy publieke Iewe, dis vir genl. Hertzog. Laasgenoemde het wat intellektuele begaafdheid betref, nie by hom agtergestaan nie en was in opregtheid sy meerdere. As genl. Hertzog in die Volksraad opstaan om sy teenstander te tugtig, was dit 'n indrukwekkende gebeurtenis. Met die vinger van beskuldiging soos 'n dreigende spies op hom gerig en sy gesig toegespits vir die aanval, dreun sy woorde van toom oor die middelgang van die Huis soos bomme en kartetse. Daar is deur 'n geestige waarnemer gesê dat genl. Hertzog se verontwaardiging teen 'n persoon so intens kon wees dat hy slegs een man op dieselfde tyd kon haat. Die woord "haat” is egter onjuis, want selfs in sy striemendste aanvalle was daar altyd 'n ondertoon van agting, en moontlik was dit juis dit wat genl. Smuts so ongemaklik Iaat voel het onder die bestraffings wat hom deur sy groot teenstander toegedien is. Dit duur meestal nie lank nie dan slaan die vlamme van opwinding op genl. Smuts se gesig uit. Sy Iyf druk altyd vaster in die hoek van sy bank, net asof hy wil vlug, en hy krimp sigbaar inmekaar. Na nog 'n rukkie vryf hy die twee voorvingers van sy regterhand oor die Iinkerhand wat op sy skoot Iê. 'n Heel enkele keer prokeer hy om by wyse van ekskuus, 'n woord tussen die stroom van verontwaardiging in te kry, maar hy waag dit slegs een keer, want die uitwerking is dat daar nog meer pynigende katsslae van die oorkant kom. En as eindelik die tyd van beproewing verby is, verdwyn genl. Smuts meestal so 'n ruk uit die Volksraadsaal om vars lug te gaan soek.
Die skerpste verwyt wat genl. Hertzog ooit gemaak het, en wat genl. Smuts lank verstom Iaat stilsit het, was die uitbarsting: "Die Eerste Minister se voetstappe druip van bloed ". Dit was kort na genl. Smuts die opvolger van genl. Botha geword het.
Genl. Smuts het in die Parlement nie kans gesien om die taktiek van genl. Hertzog met gelyke wapens te beveg nie. MoontIik het sy geaardheid om altyd die koue intellek te Iaat oorteers hom daarvan teruggehou. Die kwaaiste beskuldigings wat ek hom 'n keer na genl. Hertzog hoor slinger het, was op 9 September 1914 gedurende die Parlementsitting wat die rebellie veroorsaak het toe hy die Ieier van die jong Nasionale Party beskryf het as "blatant patriot” en (saam met volksraadslid P. Grobler) as "Duitse advokaat”.
Hierdie twee groot Ieiers het nou, in Oktober-November, albei dieselfde doel beoog, naamlik om 'n gewapende opstand te stuit. Maar hulle middels en hulle dryfvere was teenoorgestel aan mekaar. Genl. Smuts, die Minister van Oorlog, het met die wapen van geweld en wrede straf gewerk, volgens die resep wat hy onder genl. Botha se naam op 15 Oktober aan genl. Hertzog meegedeel het: "Rebellie kan alleen met geweld onderdruk word."
Genl. Hertzog se wapens was: oorreding uit Iiefde. Hy het alleen volksbelang in die oog gehad in hierdie tyd van bitter bloedige tweedrag. Hy het gefaal.
Genl. Smuts het die imperiale belange die hoogste geag, omdat hy Suid-Afrika se toekomstige grootheid (en sy eie) alleen kon sien in die wêreldwye grootheid van die Britse empaaier, ooreenkomstig sy filosofie van holisme en ook omdat dit bevrediging kon gee aan die eise van sy egosentriese persoonlikheid. Hy't gewen omdat hy die mag aan sy kant gehad het.
Daar mag aangevoer word dat genl. Hertzog in 1914 die leier van slegs 'n opposisie van 12 in die Volksraad was en dat genl. Smuts as een van die belangrikste ministers die groot regeringsverantwoordelikheid moes dra. Die antwoord is dat in die 15 lange jare wat genl. Hertzog later as Eerste Minister die lot van die land gelei het, daar geen druppel bloed as gevolg van sy optrede vergiet is nie en dat selfs geen enkele staking van enige betekenis in daardie tydperk plaasgevind het nie skrille teenstelling met die bewindstyd van genl. Smuts !
NA DIE MOOT – vervolg...