Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Vandag word samelewings wêreldwyd volgens die beginsels van menseregte georden. Owerhede, kerke, ekonomiese instellings en sosiale instansies word volgens hul handhawing van menseregte beoordeel. Onderwysinstellings word selfs ingespan om heiden-owerhede te help om ’n menseregte-kultuur te vestig!
WIE IS DIE SKULDIGES (48)
Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
ONS DEEL SAAM
BY Vetrivier het genl. De Wet die oorblyfsels van al sy kommandos huistoe gestuur en net met 12 vrywilligers voortgetrek met die bedoeling om deur die Kalahari Suidwes te bereik. Daar, so was sy plan, sou hy voldoende oorlogsmateriaal probeer kry en dan die Vrystaters wat nog beskikbaar was, veral in die suide, oproep om die stryd vir onafhanklikheid voort te sit. Ons 13 het op 20 November 1914 van Vetrivier af in die rigting van die Vaalrivier getrek. Die veld was uiters swak want die reëns het nog nie geval nie. Langs die pad kry ons 'n plaas waar ‘n dam was, deur ‘n windmeul voorsien van water, en hier het ons ‘n bietjie die saals afgehaal en die perde Iaat drink. Ons vertrek daarvandaan was haastig want ek merk dat heliografiese berigte oor ons heen flits, en ons het vinnig gery.
Teen die aand van 22 November kom ons by Kommandodrif in die Vaalrivier uit; en die generaal se bedoeling was om daar te probeer deurdruk. Hy volg hier 'n nuwe taktiek deur ons 13 op een Iang ry te Iaat trek en ‘n paar keer op en neer te Iaat ry waarskynlik om die indruk by die agtervolgende vyand te wek dat ons ‘n sterk kommando was. Daarop gaan ons die drif in en nog maar skaars was ons op die afdraand, of dit blits van alle kante rondom ons. Ek sien die vonke van die opslagkoeëls uitslaan onder die pote van die generaal se perd. Dit was duidelik dat ons nie kon deurry nie, en die generaal en ons almal ruk om. Ons trek toe ‘n entjie met die rivier op en ‘n ou man, wat die generaal geken het, beduie ons dat daar enkele myle verder op met die rivier ‘'n plek was waar ons sou kon deurkom. Ons is soheentoe, gelei deur ‘n swarte en is deur. Die rivier was egter nogal diep en ek herinner my dat ek, toe ons anderkant uitgekom het, my sokkies, wat natuurlik sopnat was, uitgetrek het uit vrees vir 'n verkoue! Die sokkies het daar agtergebly en my verkoue het nooit gekom nie, waarskynlik omdat die koeëls waaronder ons nag en dag moes deurloop, my alles daarvan Iaat vergeet het.
Dit was 'n donker nag en ons trek in 'n westelike rigting, nou in Transvaal: net ons 13 wat soos skimme die gevaarlike onbekende ingaan. My vaste gewoonte was die hele tyd om aan genl. De Wet se Iinkerkant te ry, sodat sy perd se kop effentjies voor my perd se kop uitsteek. Op hierdie nagtelike tog het ek ’n flukse blou perd gehad wat ek gery het van een van die burgers wat agtergebly het by Vetrivier. Maar toevallig ry ek hierdie nag ‘n bietjie agter in die klein kommando waar ek suutjies met een van die maats gesels.
Skielik hoor ek voor ons iemand skree: "Halt Wie gaan daar?” en ek hoor kommandant Frans Mentz antwoord gee: "Vriend!"
Die stem roep weer: "Vriend be d ..." waarop Mentz antwoord: "As jy dit nie wil glo nie vat dit dan.” En ek hoor sy rewolwerskote klap. Onder die bedrywe het ek vorentoe gestoot sodat ek weer Iangs die generaal kom. Die generaal swaai skielik links weg; en ons het ‘n paar honderd tree gery, toe slaan ek met perd en al oor ‘n draadheining. Met die val sien ek egter dat die generaal die draad gemis het en in watter rigting hy trek. Ek het 'n paar keer rondomtalie geslaan en my perd ook. Toe hy opspring, gryp ek nog na hom maar hy gee net ‘n paar snorke en verdwyn in die duisternis. Ek staan nou vingeralleen tussen die vyande. Maar gelukkig kry ek ‘n handperd met halter en riem aan. Ek spring daarop en ry in ‘n galop in die rigting waar ek die generaal sien verdwyn het. Dit was 'n goeie pad waarop ek gery het, want die perd het nie fout getrap nie. Net maar ‘n kort distansie het ek gery, toe hoor ek perdepote agter my kom. Ek het gedink dit is die vyand wat my nou agtervolg; en omdat ek reken dat ek tog nie kan ontkom nie, ruk ek my perd dwars in die pad en trek my rewolwer. Die wapen was heeltemal onnodig want ek kry versterking pleks van vyande. Daardie versterking was die maat van die handperd wat ek gebuit het. Ek ry toe maar gemoedelik aan op ‘n handgaloppie want ek het geweet daar Iê ‘n Iang pad voor. Dit blyk egter dat die perd waarop ek ry, natuurIik bloots, se rug baie skerper was as wat met gemaklike ry verenigbaar is; en in 'n poging om my posisie as ruiter ’n bietjie makliker te maak, klirn ek op die handperd oor. Maar onmiddellik daarop word dit my duidelik dat ek my posisie versleg het, en ek klim maar weer op die perd wat die eerste in my hande gekom het. Die ander een hou ek styf aan die riem vas want ek het besef dat ek hom ook sal nodig kry. Ek hou aan ry met dieselfde pad in die rigting waar ek die generaal in die donker sien verdwyn het, en skielik oorkom my dieselfde moeilikheid wat ek enige minute vantevore belewe het, want daar slaan ek met my perd en al weer oor 'n draadheining. Toe ek weer opstaan, het ek my perd nog, maar ons twee staan nou aan die een kant van die draad en die handperd aan die ander. Die noodsaaklikheid om altwee perde te behou, was vir my nou baie duidelik, en ek sukkel om die draad so ver af te breek dat ek altwee perde aan my kant sou kon kry. Maar dit was ’n draad wat nuut gespan was en al my haastige pogings met hande en tande en voete was vrugteloos. My verIossing het gekom toe ek te midde van al die gesukkel ‘n fluitjie hoor blaas. Daardie fluitjie het ek dadelik herken as generaal De Wet se teken. Ek bind die twee perde aan die draad vas, elkeen aan ‘n kant, en loop in die rigting waar ek die fluitjie gehoor het, tot ek voor my die generaal plat op sy perd sien lê. Met ‘n paar gerusstellende woorde van my kant was alles reg.
Ons enigste draadtang was in besit van Frans Mentz en die eerste waarna ek vra, was daardie tang. Mentz sny dadelik die draad.. Toe ons in die donker bymekaar was, blyk daar dat ons klein getal verminder was tot sewe. Ses van ons kêrels het in die hande van die vyand geraak in die geveggie waar ek so gelukkig was om die handperde te buit.
Die opdragte van die generaal was nou om dadelik, so vinnig as wat ons kon, voort te ry in ‘n westelike rigting, want voor dagbreek moes ons by Leeuwdoornstad oor die spoor wees. En dis een-uur in die môre.
Ons het weggespring, en ek moet sê dat ek daardie nagtelike trek die minste van almal geniet het, want die skerp rug van die maer ou perd en die totale gebrek aan ‘n saal en selfs aan ‘n kombers om my te beskerm, het dit vir my 'n besonder onaangename rit gemaak. Ofskoon ons so vinnig gery het as wat die perde dit kon verduur, breek die dag te vroeg. Dit was al taamlik Iig toe sien ons die spoorlyn voor ons Iê, en op daardie spoorlyn staan ‘n gepantserde trein. Ses tree voor die Iokomotief van daardie gepantserde trein was die hek. Ons behoud was dat die hek oopgestaan het. Toe die generaal die opdrag gee: "Druk deur," bondel ons klompie deur die hek voor die gepantserde trein Iangs. Daardie entjie was die swaarste vir my, sodat ek genoodsaak was om my hande inmekaar te knyp van pyn. ‘n Ruk later kom ons by ‘n plasie en by die dammetjie klim ons af. Generaal en die paar ander mans het hulle saals afgetrek, wat vir my natuurlik nie nodig was nie.
Die ou generaal het ‘n Vrystaatse wintermus om sy kop gehad sodat net sy neus en oë sigbaar was. Hy sê vir my en ‘n maat ons moet tog bietjie na die huis gaan en kyk of ons ‘n stukkie brood kan kry want ons het nou in die trek van amper 24 uur heeltemal nie een krummel kos oor ons Iippe gehad nie. Ek was ook baie begerig om te eet, maar nog begeriger om ‘n saal in die hande te kry. In die huisie tref ons twee ou mense aan wat verklaar dat hulle geen saal het nie want die regeringstroepe het alles weggevat. Ons kry egter twee dinge, nl. ‘n stuk brood vir ons algar en ‘n soort hoed vir my, want ten gevolge van die twee keer rondomtalie wat ek die nag moes deurmaak, het my hoed in die slag gebly. Daardie hoed was oud maar dit was niks nie. Hy was egter kleiner as wat nodig was vir my taamlik ontwikkelde kop en dit moet vermaakiik gelyk het soos daardie hoed net op een oor van my vasgehou kon word.
Ons het so gou moontlik verder getrek met ‘n spruit op. Langs die pad het een van ons kêrels by ‘n huis aangery vir brood en hy het dit gekry, maar ons het deurgetrek tot by die oog van daardie spruit. Daardie oog was in ‘n taamlike diep Ieegte en die ou generaal sê ons moet tog die tome ‘n bietjie afhaal om die perde hulle bekke ‘n bietjie te Iaat spoel.
My posisie van die twee ou mense se huis af het enigsins makliker geword want ek het my een perd verruil vir ‘n blou hings wat gebruik van 'n saal onnodig gemaak het omdat hy nog vet was. In die skermutseling van die nag het daardie hings ‘n koeël deur sy een hoef gekry maar hy was nog wakker genoeg.
Terwyl ons daar effentjies gerus het by die oog, het die adjudant van Generaal, mnr. Hans Spies, die kans waargeneem om sy sokkies te was. Terwyl hy net daarmee begin het, maak Frans Mentz die opmerking tot sy skoonvader, genl. De Wet: "Pa, hier kan die kakies ons byloop sonder dat ons dit merk” en Generaal gee die order "OpsaaI" . My maats wat die geluk gehad het om ‘n saal te hê, het nog skaars hulle buikgord vasgegespe en Spies was nog besig met sy sokkies, toe hoor ons die geraas van motorkarre wat by ons stilhou, en die koeëls klap hier tussen ons. Generaal skree die bevel "Skiet hulle”. Frans Mentz en ek was bymekaar en ons trek ons rewolwers. Maar op dieselfde oomblik kry die blou hings ‘n koeël en Mentz word van sy perd afgeskiet. Die koeël het deur sy Iieste gegaan. My perd kon ek nog ‘n paar tree wegruk voor ‘n vaal huisie in waar ek posisie gevat het met my rewolwer in my hand. Net toe ek my perd wegruk hoor ek nog skree: "Skiet die dikke”. Die vyand was so naby dat daardie woorde baie duidelik in my ore geklink het. Op dieselfde oomblik gee my perd een kreun en sak inmekaar. Ek staan nou voor die vaal huisie en sien dat twee van ons kêrels links wegry ‘n klofie uit en dat die Generaal regs van hulle ‘n gelykte uitja en 'n nekkie uitry. Frans Mentz se perd het, net toe my perd inmekaar sak, by my verbygehardloop, en ek probeer om hom te vang maar sonder sukses. Die dier hol weg agter die Generaal aan. Ek staan nou alleen en die enigste kans vir my was om maar uit te stap in die hoop dat ek weer by my mense sal kom.
Dit was ‘n gelyke opdraand, en moontlik 1,500 tree; dis baie, baie ver as 'n mens dit moet loop met lam bene van vermoeienis en onder die koeëls van Boere-skerpskutters, wat my party keer onder die stof skiet. Nou was aan my regterkant ‘n reguit slootjie, en ek verbeel my as ek daarin loop, is ek tog ‘n hele paar duim kleiner en dus minder in gevaar vir n kolskoot. Maar net na ek die slootjie so ‘n rukkie vat, slaan die koeëls onder my voete in en dan stap ek maar weer deur die veld, maar altyd "zig-zag”.
Toe ek nog enkele honderde tree van die hekke af is, merk ek "VoëIt]ie" wat met Mentz se perd in die hand aangeja kom na my toe. Hy was ‘n Natalse seun, omtrent 18 jaar oud en 'n dapper kêreltjie. Sy naam was G. A. Muller, en as "VoëItjie" het hy algemeen bekend gestaan om sy ratsheid. By die uitjae het ek hom nie opgemerk nie, maar hy het daarin geslaag om by die ou Generaal te bly, en is nou ingestuur om my te help. Sy bevel was om met ‘n draai in te ry, sodat hy nie teen die vuurlinie instorm nie. Met moeite het ek in die saal gekom, want die Iinkerstiebeuel het ontbreek. Toe ons die nekkie uit is, Iê genl. De Wet daar plat op Ou Dokter en sy kort bevel was: "Ry!” Ons is nou onder die direkte koeëlgevaar uit. En toe ek in die gallop wat volg ‘n nuwe stiegriem gemaak het van die halterriem, ry die ou generaal en ek maar weer ou trant Iangs mekaar. Maar die perd wat ek nou het, begin slap word en nou en dan raak ek agter. Eenkeer roep hy: "Hoe Iyk dit of Frans Mentz se perd klaar is?” En dit was so.
By ‘n droë pannetjie wag die ou Generaal vir my en sê: "Jong, die perd is gedaan en jy sal moet afklim, jy sal moet agterbly." Ek protesteer dat ek dit nie sal doen nie en dat ek Iiewers die generaal se stiebeuel sal vat en saam met hom hardloop, maar die ou generaal was verstandiger as ek en sê dat ek nie eers meer kon stap van vermoeidheid nie en nog minder hardloop. Ek het ingesien dat ek miskien die oorsaak sou word dat Generaal in die vyand se hande sou raak. Ons het darem nog ‘n entjie vorentoe gegaan waar ons die twee maats kry wat deur die klofie weggekom het. HuIIe was Koos van CoIIer en Wessel Potgieter. Generaal se bevel aan my was ek moet die saal neem van Mentz se perd en dan sal hy die dier nog ‘n entjie Iaat saam loop om die agtervolgende vyand op ‘n dwaalspoor te bring. Ek moes maar onder ‘n valse naam gaan en probeer om tussen die vyand deur te kom. Die ou Generaal het nog ‘n stukkie brood gehad van wat ons by die huis Iangs die pad gekry het. Hy breek dit middeldeur. "Ons deel saam." My klere was stukkend geskeur deur die herhaalde kennismakings wat ek die vorige nag gehad het met die draadheinings. En die ou generaal gee my ‘n £5 noot ook nog, om indien moontIik, nuwe klere in die hande te kry. Daarop trek hy weg, in die rigting waar die son ondergaan. Ek kyk kom ‘n rukkie agterna met die vaste besluit dat ek, as die sterre verskyn, volgens hulle sal loop in ‘n westelike rigting en tog nog die ou Generaal met die voet inhaal.
Hierdie gebeurtenisse het aanleiding gegee tot 'n hele reeks telegramme, wat gewissel is tussen genl. Sarel du Toit en die Minister van Verdediging, genl. Smuts. Onder andere:
Van: Genl. Du Toit Leeuwdoornstasie,
2.10 n.m. 25 November 1914
Ingevolge instructie ben ek Maandagochtend per motorkarren vertrokken teneinde De Wet te beletten om by die rebellekommando's aan te sluiten. De eerste spoor dat ik van hom kreeg was 9 myl van waar ik myn achtervolging op hem staakte. Ik verliet hem met vier personen en een handpaard. De eerste spoor dat ik kreeg was te Vrischenwaagd (Frischgewaagd) by een zekere Moosen (Goosen). Daar kwam zy aan met slechts drie personen met twee handpaarden en volgens ingewonnen informatie is Oost tussen die negen mylen achter gebleven en blykt duidelik zoals in myn Iaatste telegram dat hy gewond is. Van De Wet wordt gezegd dat zyn hele gezicht bedekt is met doeken. Vandaar heb ik weer eerste spoor gekregen onder aan Doornspruit by een sekere Hugo, daar by een zyner paarden agter Iiet. Vandaar naar alle vermoedelyke rigtings onderzoekende kon ik niets verder uitvinden doch veronderstelt dat hy by een van de verschillende rebellenkommandotjies aangesloten heeft, die in de omtrek was. Ik vertrek hedenmiddag te trackten Oost op te sporen. Intusschen wacht ik my verdere instruksies van u.
Van: Genl. Smuts Aan: Genl. Du Toit,
Leeuwdoorns Rail.
D/0735 Nov. 2510.50 n.m.
Uw telegram heden. Ik ben dankbaar voor uw goed werk. Doe uw best Oost te vangen.
Van: Genl. Du Toit Aan: Genl. Smuts
Leeuwdoornstasie,
10.20 v.m. 27 Nov.
In verband met uw telegram D/0735 wensch ik u te rapporteeren dat ik een naukeurig opsporing gedaan heb met betrekking Oost ... Ik ben overtuigd dat Oost door middel van Steyn naar de rebellen zyn gebracht.
(Offisiele telegramme gewissel tussen genl. Smuts, Minister van Verdediging, en genl. Du Toit, bevelvoerende offisier in Wes- Transvaal.)
’N BESTIERING VAN DIE HERE
Ek HET MY nie lank tyd gegun om die generaal en sy drie volgelinge na te staar nie, want die vyand met sy motors kon enige oomblik oor die bult uitpeul. Ek hys Mentz se saal (en hoe swaar was die ding!) op my rug om geen baken vir my vervolgers te Iaat staan nie, en sak in die droë pannetjie af, waar ek dit neersmyt en my versteek agter ‘n miershoop.
Sonder genl. De Wet sou ek De Wet-planne moet uitdink en uitvoer as ek wou vryspring, en ek het my nietigheid besef. Maar my oorgrote Iiggaamlike vermoeidheid het alle besef genadiglik afgestomp, egter nie so veel dat ek my veiligheid verwaarloos het nie. Daar was ‘n hele paar miershope, en op hande en voete verskuif ek van die een na die ander. Met die stuk brood in my Iinkerhand vat ek nou en dan ‘n koutjie om my knaende honger te bevredig, en met my regterhand rus ek op die miershoop terwyl my oë die veld afsoek. Nou en dan sak hulle magteloos toe; en sodra hulle weer opflikker, sien ek dat hulle motorkar stilhou, op die plek waar ek afgeklim het. Twee van hulle volg sonder enige aarseling my spoor, verby Mentz se saal; en hulle val ook plat agter ‘n miershoop, sowat 25 tree van my af. HuIIe Ioer na my, ek Ioer na hulle, tot ek moeg is vir hulle en hulle blykbaar vir my, want hulle staan op en loop terug na die motor. Ek was voorlopig weer gered.
In die telegramme, wat genl Du Toit aan sy hoof, genl. Smuts, Minister van Verdediging, gestuur het oor hierdie gebeurtenisse, maak hy herhaaldelik melding van "Oost se wonde”. Die telegramme van hom wat hierbo aangehaal word, is ‘n voorbeeld daarvan. ‘n Kolskoot het my skadeloos gestel, meen hulle. En hoe kon dit anders. ‘n Mens bekoort gekwes te wees, as jy ‘n Iang afstand onder die geweervuur van skerpskutters moes uitstap.
HuIIe trek weg, agter genl. De Wet in, oor die bulte na die weste.
Ek was gered, in elk geval uit die eerste nood. Maar nie deur enige dapperheid of krygslis van myself nie. Net deur ‘n mus, ‘n wit mus. Hierdie nuttige soort hoofdeksel het 'n rol gespeel in ons lot van daardie dae. Genl. De Wet het 'n dik mus oor sy kop en nek gedra, sodat net sy indrukwekkende oë en forse, neus sigbaar was. Ofskoon hy sy gesig op die manier weggesteek het, twyfel ek egter of dit hom werklik onkerkenbaar gemaak het. Sy krygsmanfiguur kon hy nie verberg niel
Genl de Wet se laaste trek – vervolg...