Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Voel jy soms soos 'n weeskind, verstote en alleen? Aardse dingetjies kan jou tydelik troos, maar al wat jy regtig nodig het is om te onthou dat Jesus weer aarde toe kom, hierdie keer om sy kinders te kom haal. Onthou elke dag dat jy nie verlate is nie, dat Hy alles van jou weet, en dat Hy sál kom om ons na sy Paradys te neem!
WIE IS DIE SKULDIGES (50)
Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
Terwyl almal onderkant die wonderputte Iafenis en kragte verkry, verneem ons van die Iotgevalle van komdt. Neser en sy dapper kêrels, 'n verhaal van bewonderenswaardige volharding en moed.
Na die geveggie teen die motors het die kommando'tjie 'n ent gesamentlik oor die dorsvlakte getrek, waarna genl. De Wet met die kleinste belofte van die 53 man links weggeswaai het en komdt. Neser met die ander burgers na regs.
Komdt. Neser en sy manne moes ook 'n bittere dag deurworstel. Teen die namiddag het baie perde flou geraak en 'n klomp mense klaar. Roelf de Beer, die wakkere adjudant van die komdt. is een van diegene wat die swaarste gely het. Toe sy perd hom nie meer kon dra nie, was hy nie in staat om nog te loop nie; daarna vat hy die stert van die dier en sukkel slinger-slinger agter hom aan, die arme perd was so verswak dat dit elke keer met die baas heen en weer swaai. Roelf slaan neer en bly Iê. Om 'n weinig koelte vir hom te kry, Iê die kommandant hom onder 'n flou perd neer. Naderhand sukkel hy om hom in die saal te hys, maar hy was so uitgeput dat hy soebat om tog maar Iiewers doodgeskiet te word. Ander burgers het perdebloed en selfs hulle eie urine gedrink. Komdt. Neser moes al sy kennis van die veldlewe en sy bekwaamheid as offisier toepas om sy mense te red. Party het mekaar in hulle toestand allerhande verwyte na die kop gegooi. Maar die geluk het gekom deurdat enkele van die sterkste manne wat hy met die beste perde vorentoe gestuur het, uiteindelik 'n koppie bereik het, waarlangs hulle die "wonderputte" vind: water wat vir hulle 'n redding was, en ook vir hulle maats daar agter op die skroeiende vlakte. Maar die waterbotteltjies wat hulle vol terug gebring het, was te min, en nie algar kon hulle dors Ies nie. Die kommandant kon self nie eens sy gebarste Iippe bevogtig nie.
Die paar burgers wat by die wonderputte was, vertel van Fourie en Jacobs wat hulle daar in 'n hartbeeshuisie aangetref het. Jacobs se vrou het spesiale kos vir hulle klaargemaak. Die afstand na die wonderputte was egter nog ver, verder as wat die kommandant aan sy kragtelose burgers wou Iaat weet.
HuIIe het tog almal by die koppe met die wonderputte aangekom, maar verskeie perde het flou en enkele dood van die dors agtergebly. Toe komdt. Neser en sy burgers by die water arriveer was dit twee uur in die more, dieselfde tyd dat genl. De Wet die dammetjie van Klopper, enkele ure te perd na die suidweste, bereik het. Maar die kommandant wis dit nie en het bekommerd gevoel oor die lot van die Generaal en sy mense, want volgens Fourie en Jacobs sou hulle nie water kon vind nie, as hulle aanhou trek het in die rigting waarin hulle Iaas gesien was. 'n Paar van die burgers is toe met naturelle as Ieiers en water by hulle uitgestuur om die Generaal te soek.
In die more van die volgende dag, op 30 November, het Fourie en Jacobs voortdurend daarop aangedring, dat aan hulle 'n kans moes gegee word om die flou perde soveel moontlik te red. Hulle sou die volgende nag probeer om die diere te bring. Die kommandant het eindelik toegestem, maar onder die nadruklike voorwaarde dat hulle nie verder mog ingaan nie, as 'n sekere punt, wat by hulle beduie het, want sy vrees was dat hulle die vyand sou aanlok. Hulle het plegtig belowe dat hulle sou maak soos aan hulle gesê was.
In die komende nag, terwyl genl. De Wet Iê en rus Iangs die koppie, kom Fourie terug. Hy soek water, want die perde kom aan; en terwyl Jacobs se vrou hom voorsien van koffie en kos ondervra komdt. Neser hom baie noukeurig, herhaaldelik oor wat hy gesien het en of daar enige aanduiding van die vyand se aanwesigheid was. Voortdurend was sy volgehoue antwoord: "Nee, heeltemal niks nie. Nie eers 'n stoffie nie.” Maar hy het met sy (valse) verslae nie die onrus van komdt. Neser heeltemal kon sus nie.
Met kos vir sy maat Jacobs is Fourie weer weg, na die flou perde toe. En die eerste wat ons hulle weer gewaar, was toe hulle die volgende more die vyand (en nie ons perde nie!) na ons toe lei.
Na sononder op 30 November het ek bevel van die Generaal gekry dat ek met my elf man en nog 'n geleende burger tot twaalfuur die nag moes sorg vir die perde, wat op enige oomblik beskikbaar sou moes wees. Die verantwoordelikheid daarvan het ek duidelik besef, want die perde was die draers van ons lot.
Nou het daar voor die koppie op hierdie plaas, waarvan die naam Waterbury was, 'n wye, digte bos gestaan, waarin die jong gras groen opskiet, want dit het 'n week vantevore daar gereën, en die grond is baie vrugbaar, wat die gras vinnig Iaat groei. Ek verdeel my mense in twee gelyke seksies, terwyl die Generaal wagte Iaat opstel. Die perde word in die bos ingeja en ek Iaat my ses burgers met gelaaide geweers 'n kring rondom hulle trek. Elke man het 'n sekere distansie gekry om voortdurend af te stap, en hulle moes bymekaar aansluit, sodat geen perde ongemerk kon wegdwaal nie. Op dieselfde wyse Iaat ek die kring voortdurend 'n bietjie verskuif, sodat die diere altyd vars veld kry, want hulle was uitgehonger. Ek het self aanhoudend rondom die hele sirkel gestap, met die rewolwer gereed. Om tienuur Iaat ek die tweede seksie van ses burgers kom, en toe ons om twaalfuur gaan rus, sou ons die perde almal binne vyf minute kon gevang het.
Ek was uitgeput, maar toe ek middernag my kop in die saal en my Iyf Iangs ou Generaal in die sand neertrek, kon ek nie dadelik slaap nie, want die oubaas was onrustig. Hy praat in sy slaap: oor sy vrou en kinders, oor sy volk. Deur my slaap heen hoor ek dat iemand 'n rapport afgee. Dis ons brandwag, wat perdepote hoor klap het, agter die bult. Maar dit kon ook wild wees.
Net met dagbreek skrik ek wakker. Dit was om vieruur die more van Dinsdag 1 Desember 1914. Ek hoor die generaal bevel gee. "Vang die perde, " en dadelik daarop: "Ek sal julle wys hoe julle perde moet vang.” Hy vat die toom van sy perd. Op dieselfde oomblik het ek my kruisbande vasgemaak en gryp my toom. Ons stap die bosse in, en dadelik merk ek hoe die offisier wat middernag die perdewag van my oorgeneem het, nie my stelsel van oppas gevolg het nie, sodat die perde versprei is. Ons kry ou Dokter nie. Ook nie my perd nie. Die Generaal stap omtrent tien tree regs van my die bosse in, nie die minste opgewonde nie, maar soos iemand wat perde uit die kamp gaan haal. Aan my Iinkerkant sien ek tussen die bome deur iemand in kakie-uniform, wat sy hand op die skouer van 'n burger plaas.
Ek het geskrik en draf na die Generaal, vat hom aan sy linkerarm en waarsku: "Generaal, hier is verraad, ons moet uithardIoop.”
Sy antwoord was: "Ek kan nie meer hardloop nie." Hy volg toe agter my; ek kry sy perd in die hande en gooi die saal op. Maar was die saal nie swaar vir my kragte nie! Toe was die Generaal ook al daar, en hy sit self die toom aan. Nou staan ek sonder perd, maar gelukkig was daar 'n jong Vrystater, Van der Lingen, met 'n Iigbruin perd, klaar opgesaal, en die dier Iyk taamlik fluks. Ek sê vir hom: "Ou seun, kruip jy weg in die bosse, gee my jou perd. Ek moet by Generaal bly.”
Die eerste Desemberson klim bokant die vlakte uit. Genl. De Wet en ek ry Iangs mekaar van die koppie af weg na die rantjie se kant; ek, soos ons al weke lank die gewoonte was, aan sy Iinkerkant. Sou die vyand die posisie voor ons ook al gevat het? Ry ons die vyand tegemoet? Ons beweeg stadig, komdt. Neser sluit op sy wit poon by ons aan. Waar en wie was die vyand?
Ja, wie was die vyand? Watter troepe het die kommandant- generaal, Louis Botha, by voorkeur gebruik teen die rebelle?
In vorige aflewerings (o.a. die oor genl. Beyers en genl. Muller) het dit reeds duidelik geword dat genl. Smuts op advies van genl. Botha van sy oorspronklike plan afgesien het om "Ou Lukin” met sy S.A.M.R. ('n staande mag), sy Imperial Light Horse van Natal, sy Transvaal Scottish van Johannesburg, sy Rand Rifles en ander "EngeIse” troepe dadelik teen die Boere in die veld te stuur. Ook die jong manne van die Aktiewe Burgermag sou nie dadelik vorentoe gestoot word nie, maar wel die burgermagreserwes. Dit is burgers tot die leeftyd van sestig jaar, van wie baie aan die Driejarige Oorlog deelgeneem het. Genl. Botha se sterkste aanhangers was die offisiere en burgers van die Transvaalse Hoëveld, waar hy gedurende die Driejarige Oorlog geopereer het. Onder hulle was genl. Coen Brits en wd. veggeneraal J. F. Jordaan van diegene op wie hy die meeste kon reken. Onder die nuwe militêre bedeling was hulle titel "kolonel”.
Nadat genl. De Wet (die gevreesde "kop van alles”) met sy Iyfwag van twaalf man van Vetrivier af weg is, het genl. Both al sy kragte en beskikbare troepe ingespan om sy trek na die weste te verhinder. Genl. Botha het omtrent tien kommando's teen hom saamgetrek en persoonlik Bloemhof en Kimberley besoek, want hy het verwag dat sy teenstander daar iewers oor die spoor sou moes kom.
Maar hul almal en dit alles kon genl. De Wet nie keer nie, en genl. Smuts het die Bechuanaland Rifles (ongeveer 700 man onder komdt. Mentz, 'n broer van genl. De Wet se skoonseun) Iaat opruk; veral ook nog ruim 1,200 van sy Iojale Hoëvelders, tot by Vryburg gelei deur kol. Joof Alberts. Bowendien word die motorkontingent van Kimberley per spesiale trein haastig aangestuur. En al die kommando’s staan onder bevel van genl. Coen Brits, 'n soldaat wat enige vyand sou beveg wat genl. Botha hom sou aanwys, Duitsers, of sy eie mense — maar by voorkeur Engelse! Nou was sy opdrag egter om met die Engelse saam te veg (daar was 'n sterk verteenwoordiging van hulle onder sy troepe, en die motorseksie was amper uitsluitend hulle) . En hy aanvaar dit net so getrou, ofskoon met minder hart, waarskynlik; maar die betaling was goed.
Die beleid van genl. Botha het vir hom ook 'n gevaarkant gehad, want net so huiwerig as wat die rebelle was om hulle ou krygsmakkers onder die Iood te steek, so min begeerte het daar by 'n groot deel van die regeringstroepe bestaan om hulle mede-burgers te beveg. Daar was uitsonderings, en betreurenswaardige wreedhede is daar deur sommige van die Botha-ondersteuners gepleeg, ook op vroumense, maar in hulle hart was die Afrikaanssprekendes dit eens met die doel van genl. De Wet se optrede, vir wie se grootheid en onbaatsugtige vaderlandsliefde hulle 'n ruime eerbied gehad het. By baie was dit gemeng met vrees vir sy eksplosiewe temperament. Ook genl. Coen Brits, ofskoon alles behalwe 'n Iafaard, was bang vir genl. De Wet.
Die vlaktes wes en noordwes van Vryburg was oortrek met regeringstroepe, sodat hulle 'n keer amper met mekaar gebots bet. Genl. Brits was aan die hoof van sy motorafdeling regs van Marokween besig om De Wet aan te dryf (Jordaan een van sy vernaamste offisiere, sou hom voorkeer) maar hy ja amper vas in die Betsjoeanalanders van Mentz. Dit sou tot 'n geveg onder mekaar gelei het, as die vergissing nie op die Iaaste oomblik ontdek is nie. Toe die gevaar verby was, kry hulle genl. Brits, wat op die treeplank van sy motorkar sit, besig om homself te verkwik met 'n "half botteltjie”, waarvan hy altyd ruim voorsien was. En so tussen die slukkies in sê by: "Magtig, ek het gedag dis die Iaaste van Coen Brits. Ek het gemeen, dis De Wet wat my hier vastrap.” En toe skielik: "Waar is De Wet?”
Hierdie vraag, wat al duisende kere en deur nog flukser soldate as genl. Brits gestel is in die verlede en nou weer, ontvang maar dieselfde antwoord wat dit altyd gekry het en wat die Vryburgse kommandant nou ook moes gee. "Ek weet nie. Ek het gedag hy was tussen die kêrels", en hy wys op genl. Brits se troep Engelse!
Die volgende woorde van Brits was 'n klagte, wat 'n mens na hierdie voorval nie sou verwag het nie, ofskoon dit heeltemal gegrond was, naamlik dat " Baie van Mentz se burgers so rebelsgesind" was.
Dit was so, en nie alleen van Mentz se Vryburgers nie, maar ook van Brits se eie troepe, al het hulle dit sorgvuldig weggesteek. Sommige van die regeringsmense het met ywer gekom toe hulle gekommandeer is, maar nie om rebelle te skiet nie; hulle het dit as die enigste kans beskou om 'n wapen in die hande te kry en saam met die opstandelinge te veg vir die onafhanklikheid. "As daar maar net een geveg gelewer word, waarin die rebelle die oorband kry, is ons by hulle." Dit was die stille besluit van die meerderheid in sekere regeringskommando’s. En in die skermutseling duskant Vryburg het twee van die regeringstroepe onder hul maats uitgeja en by my aangesluit. Maar dat die feitlik ongewapende rebelle 'n geslaagde slag sou kon Iewer, was onmoontlik. Eers moes daar geweers, meksims, kanonne en ammunisie verkry word, en dis vir daardie doel, naamlik om wapens te gaan haal, dat ons nou na Duitswes trek. Daar sou, volgens ons inligting, volop van alles wees. En dan sou die burgers van die land hulle eenparig agter genl. De Wet skaar. Maritz en sy kommando’s en die seshonderd lede van die westelike Transvaal onder Ieiding van Kemp en Bezuidenbout is almal al daar. As die grootste Boeregeneraal maar net die militêre Ieiding kon neem, dan, ja dan . . .
Vervolg...