Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoop is nie om te dink die wêreld is goed en reg soos hy is nie want hy is nie. Dit is dus nie om maar tevrede te wees met verkeerde dinge nie maar te glo dat verkeerde dinge nie sal herhaal nie. Hoop is om te glo dat God iets beters vir ons bedoel het, maar Hy verwag ook van ons om daaraan mee te werk – soos Hy in sy Woord stel: Bid én werk – spring in geloof aan die werk!
WIE IS DIE SKULDIGES (54)
Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
DIE PROFEET IS OPPAD (2)
Toe 'n oomblikkie later die adjudant van die "Governor "(wat algemeen by die krygsgevangenes as "Runderpes” bekend was) die gebruiklike "fall in" skree, staan daar net 'n dun ry manne met nog beswaarder harte, want hul name was nie op die Iys van verlossing nie. Een van hul het die bedrukste van almal gevoel. Hy was komdt. Van der Merwe, een van die dapperes van genl. De la Rey, wat die tog van die seshonderd deurgemaak het, nes oom Niklaas. Sy maats was almal vrygelaat op parool. Hy, die grysaard, moes agterbly.
Met sy parmantige kakie-kierietjie vas onder sy Iinkerarm gedruk en 'n paar Iede van sy personeel agter hom op dissiplinêre afstand, roep die "Governor” die voorgeskrewe vraag na ons kant toe: "Any complaints?" en dadelik daarop: "J. H. Vendemurwie”. Twee uit die ry steek hul hande op: komdt. J. H. van der Merwe, en kaptein J. H. van der Merwe, 'n offisier van Manie Maritz. Onmiddellik daarop roep die tronkhoof: "J. H. PIE Vendemurwe " waarop oom Jan verlig uitroep: "Dis ekke!”
"En waarom het jy jou voorletters dan net as J. H. opgegee?” vra die hoof verder.
"Ek gebruik nooit die P nie,” verduidelik die ou kommandant haastig.
"Pack up your kit,” kommandeer Runderpes.
En in weerwil van sy hoë Ieeftyd spring oom Jan onder die
afdak in, waar allerhande privaat dingetjies van hom gelê het, onder andere 'n Boerestoel, deur hom gemaak. Hy frommel alles bymekaar om tog nie 'n minuut Ianger tussen die afskuwelike mure te bly as wat nodig is nie. En met die bondel onder sy arm stap hy vinnig na die poort toe, maar voor hy daar is, roep een van die wat nog geduldig in die ry staan: "Oom Jan, oom Jan; jy vergeet jou stoel,” waarop die grys ou kommandant haastig na die afdakkie teruggaan en met die Boerestoel in sy regterkand uit die 'yard' verdwyn .
Niklaas van Rensburg het in beelde gesien en ook "werklikhede” voorspel, dit is gebeurtenisse vooruit waargeneem in realistiese vorm. Die eerste, die "apokaIiptiese” verskynings, het uitleg nodig gehad om verstaanbaar te wees. Hy het onrustig gesoek na daardie uitleg en menigmaal verkeerd getas. Die visioene van werklikhede moes 'n mens maar net afwag om vervul te word.
As 'n middelklas boer, sonder enige skoolgeleerdheid (sy handskrif wys dit duidelik) was sy kennis beperk tot die Ieringe van die praktiese plaas- en kommandolewe. Daar was net een boek — Die Boek vir hom. Hy het die Bybel nie alleen daagliks bestudeer nie, maar ook uitgeleef. Sy inspirasie het hy daaruit geput, en uit sy "sien" .
Sy visioene het in ure van stilte gekom. Gedurende sy gevangeskap, meestal as hy afgesonder was in sy sel, waar sy Iiggaam ontspan het op 'n vloermatjie, terwyl sy hande onder sy hoof gevou was. Tyd en omgewing het invloed gehad op die mistieke werking van sy gees, soos by ander sieners. Die ou testamentiese profeet Sagaria het in die nag 'n gesig gesien, soos ons in hoofstuk 1 vers 8 lees, en die apostel Johannes het "op die dag van die Here” 'n openbaring gekry (Openb. 1 vers 10). Ook in toestande van Iiggaamlike en geestelike ewewigtigheid en in 'n trans. Die grootste wysgeer van alle tye, die onvergelyklike Plato, het dit reeds geweet en tweeduisend vierhonderd jaar gelede geskryf:
"By volkome bewustheid sal niemand tot ware of geïnspireerde aanskouing kom nie. Dit geskied eerder as die vermoë van die verstand gekluister is, hetsy deur die slaap, ditsy deur kranksinnigheid.” En hy het al verklaar dat die staat van profeet (manlike) of van 'n genie, baie ooreenkoms toon met dié van 'n kranksinnige (manlike). Wat Plato, die heiden, egter nie verstaan het nie en nie kon verstaan nie, is hoe die Gees van God geopenbaar word nie deur die "manlike” nie maar deur die werklike profeet.
Bernard Shaw skryf in sy voorwoord tot "St. Joan” omtrent dieselfde as wat Socrates enkele duisende jare voor kom gesê het. Hy herinner daaraan dat Socrates, Lutker, Swedenborg en Blake visioene gesien en stemme gehoor het, net soos St. Franciscus en St. Joan, en hy voeg daarby dat die benadering van daardie probleme by die sielkundige berus en nie by die man wat geskiedenis skryf nie. "Maar die geskiedkundige moet verstaan dat Sieners nie bedrieërs of malmense is nie."
Niklaas van Rensburg se gawe om te sien het hy ontvang in die begin van die oorlog van 1899—1902 in 'n heftige en langdurige worsteling met die Bose. Die duiwel was vir hom 'n werklikheid, soos hy vir Luther was toe die Hervormer 'n inkpot na sy kop gegooi het. Ek gee die verhaal van sy stryd soos ek dit op 8 Februarie 1915 uit sy mond opgeteken het, toe ons (net ons twee) opgesluit was in die gevangenis van Boksburg. Hy vertel:
"In die begin van die oorlog (1899-1902) is ek ook saam op kommando. Perde het somar weggeraak aan die Malopo. Ons soek hulle, maar hulle kom nooit terug nie. Ek is weer kommando toe, en onderkant Taungs hou ek diens vir ons mense. Ek raak half deurmekaar, ek gaan slaap en word voordag wakker. Ek sien 'n gesig aan die kant (na die suide). Ons is in 'n doringleegte. Troepe is om ons. Ek draai my op die ander sy. Van die westekant kom vroumense en kindertjies. Daar is baie en hulle vlug. Ek sien die hele aarde is pikswart. Daar is 'n groot verwoesting oor die land. Ek wou wegloop. Ek wou na die woestyn om alleen te wees. Satan had my . . . My verstand is half verby. Ek kruip onder 'n vaalbos in. Toe hul (die kommando) opsaal, is ek weg. HuIIe soek my en kry my naderhand. HuI Iaat my huistoe kom. Maar ek kan nie by die huis bly nie. My hart het my rondgeja. Ek is weer kommando toe, maar ek veg meer met Satan as met die vyand. Hy wil my woestyn toe dryf en wil hê dat ek my doodmaak. Hy maak my wys: al die mense spot vir my. Dan is hy ’n ou valetjie en dan pikswart. 'n Lelike gedaante. Nie soos 'n mens nie: gruwelik Ielik. Ek kom daaruit (by ou Cronjé), en is met 'n swerende hand in die hospitaal op Boshof. Ek was baie siek van die hand. Toe kom daar weer 'n gesig voor. Ek sien die Engelse troepe trek op met maer bruin perde, net soos hul is. Hul is Bloemfontein toe.
"Daar is 'n leër met donkies ook. Hulle ore hang en die leër draai. Hulle het klein waentjies. So sien ek in die gesigte twee leërs. Naderhand staan die donkies se ore orent. 'n Man met 'n wit perd bring goeie tyding, maar die gesig word nou dofferig.” (Ek het vergeet om te vra of die wit perd moontlik Fleur was en die man genl. De Wet.—*Skr.)
Oom Niklaas se maats het genl. De la Rey van hom vertel, en die generaal Iaat hom kom, want hy wil weet wat is dit met die ou se visioene. Van toe af het hy en oom Koos in nou voeling met mekaar gebly, en ook na die oorlog moes hy "die loop van die tyd" aan hom vertel. So het hy genl. De la Rey o.a. "nuus” gegee omtrent wat in die Balkan gaan gebeur en van die verowerings wat Mussolini in Noord-Afrika sal maak. Maar daar was visioene wat hy nie kon verklaar nie. Hy sien 'n sekel, maar wat beteken ’n sekel? (Hy was nie bekend met die vlag van die Kommuniste nie.) Hy beduie dit as volg, nadat hy eers van beelde vertel het omtrent die eerste groot oorlog wat in 1915 aan die gang was en van oorloë wat vooraf gegaan het. "Aan die oostekant (in Europa) sien ek 'n sekel. Dit kom van die westekant in. En ek weet nie wat dit is nie. Daar hang twee rooi vlae oor 'n draad en twee beeste baklei. Ek sien ou Piet. Bloed stuit in hom op. Oor 'n draad hang nog vier pers vlae. Hul is later rooi. Toe, kort voor hierdie groot oorlog, loop daar bloed uit ou Piet. Dis nou 'n fonteintjie. Dan volg oorlogsgesigte: wolke wat bloed reën, emmers vol bloed. En 'n groot vuur wat brand, 'n geel steen, wat saf word.) En dan: "Daar sien ek een groot rooivlag. Hy trek van noord na suid. Die vuur het ook so gebrand. Toe sien ek twee rooi bulle wat baklei."
As oom Niklaas vandag nog gelewe het en iemand sou hom vra of die sekel nie moontlik aan die kommunistiese vlag behoort nie; of die vier pers vlae wat rooi geword het, nie miskien van Russiese vasalstate is nie; of die "geel steen wat saf geword het”, nie Japan se neerlaag voorstel nie; of die een rooi vlag en die vuur wat almal na die suidekant trek, in verband staan met die ontwikkeling van die Kommunisme deur China en Iangs die Stille Suidsee; of die twee rooi bulle (Rusland en China) moontlik in die toekoms aan mekaar sal spring, sou hy waarskynlik in berusting sy dun skouers opgetrek het en sy groot, mistieke oë sou moontlik in die verre verte gesien het en met 'n sagte gebaar van sy arm sou hy geantwoord het: "Dis moontlik, ja moontlik, ou neef."
Ofskoon ek in hierdie skets weergee wat ek persoonlik gesien, gehoor en deurleef het, veral by die behandeling van so 'n onsekere onderwerp soos in hierdie hoofstuk, wyk ek nou daarvan af omdat wat volg, afkomstig is van genl. J. B. M. Hertzog wie se getuienis elkeen as waar sal aanvaar.
Dis sy antwoorde op vrae 2198—2202 in die getikte rapport van die Gekose Komitee oor die Rebellie. Aldus Generaal Hertzog:
Dit was drie maande voor die vrede van Vereeniging, nl. op 27 of 28 Februarie 1902. President Steyn was deur sy krankheid na die Iiggaam magteloos geslaan, vasgekeer op sy reiswaentjie. Vergesel van genl. Hertzog en Jack Brebner (Jack Brebner, die latere senator, was in die oorlog van 1899-—1902 in beheer van die Vrystaatse Regeringsfondse wat op 'n waentjie saamgery het. Hy was Lid van die Uitvoerende Raad van die Vrystaatse Republiek en president Steyn se getroue metgesel) het hy die westelike Transvaal besoek om 'n dokter te raadpleeg wat by genl. De la Rey was. Dit was in die omgewing van Klerksdorp en genl. De la Rey het die hoë geselskap 'n staanplek aangewys naby 'n klein perdetrollie waarby vyf of ses van die generaal se personeel vertoef het. Waarskynlik het die generaal gereken dat die President die veiligste sou wees naby sy waaksame staf. Maar ou Niklaas het anders gedink. Die dag na die aankoms van die geselskap van die groot Vrystaters het die tingerige figuur by die president se waentjie verskyn en op 'n skugterige manier advies gegee. Hy reken die staanplek is onveilig. Die president moet liewers hier weggaan. Maar die president was nie bereid om genl. De la Rey se bevele in die wind te slaan nie. Toe verklaar oom Niklaas: "Ek het 'n visioen gehad. Ek sien die Engelse kolonne vang hierdie manne.” (Die personeel by die trollie.) Hy wys in 'n sekere rigting en voeg daarby: "Ek het die verkenners daargunter gesien."
Die president het egter nog die bevele van genl. De la Rey gestel bokant die raadgewings van die "profeet” en dit gesê. Niklaas van Rensburg was toe 37 jaar.
Hy het daarop verdwyn. Maar in die namiddag was hy terug en vertel dat hy met genl. De la Rey gepraat het en dat hy die boodskap gee: "Die president moet gaan na waar oom Niklaas hom sal bring."
Omtrent 'n halfuur voor sononder het pres. Steyn, genl. Hertzog en mnr. Brebner vertrek, en Van Rensburg lei hulle na die plek waar mev. De la Rey en haar kinders in hul waens staan. Omtrent nege-uur of halftien kom hul daar aan. En die nag het die Engelse troepe werklik gekom op die ou staanplek en die personeel van genl. De la Rey is gevang. Genl. Hertzog het 'n ondersoek ingestel en gaan kyk na die plek waarvan oom Niklaas die vorige dag gesê het: "Ek het manne van die vyand daargunter gesien.” Daar was perderuiters op daardie plek, maar genl. Hertzog kon nie uitmaak of hul tot die Boerekommando's behoort het of Engelse verkenners was nie.
Dis duidelik dat die siek president, genl. Hertzog en die uitvoerende raadslid Brebner in die hande van die vyand sou geval het, nes die vyf of ses staflede, as genl. De la Rey nie vertroue gehad het in oom Niklaas se "sien" nie.
'n Ander voorbeeld van visioene deur Van Rensburg ondergaan is deur genl. Hertzog aan die Gekose Komitee meegedeel (in antwoord op vraag 2202 van dieselfde rapport).
Ná die ontkoming van die president (soos hierbo beskryf) het hy in sy waentjie daar gebly. Genl. Hertzog was by hom en het hom iets voorgelees. Jack Brebner en oom Niklaas het op kommandomanier met hul koppe in die saals Iangs die waentjie gelê. Genl. Hertzog het sy voorlesing skielik gestaak, deurdat Jack Brebner opgespring en aan hul in die waentjie gesê het: "President, luister bietjie na wat oom Niklaas te sê het.”
Die profeet loop met sy nooit oorhaastige stap na die waentjie en vertel: "Ek sien twee manne met 'n wit vlag kom" en hy wys in die rigting van Kroonstad. Dan sê hy: "HuI bring 'n brief. Ek weet nie of die brief vir u is of vir genl. De la Rey nie. Maar hul kom hierheen met daardie brief onder die wit vlag, en dit beteken vrede."
Genl. Hertzog en mnr. Brebner raadpleeg hul horlosies. Dit was omtrent halftwaalf. "Het was vyf minuten voor half twaalf” sê genl. Hertzog se getuienis Ietterlik.
En, ja waarlik, die volgende namiddag het twee manne gekom van Kroonstad af met 'n brief, en onder die wit vlag. Die Transvaalse Regering was toe in Kroonstad en die brief was van wnd. president Schalk Burger. Hy deel mee, dat hul "in gekom” het, en hy vra pres. Steyn om na Klerksdorp te gaan vir vredesonderhandelings.
"Die twee visioenen kwamen korrekt uit en waren merkwaardig,” so eindig genl. Hertzog sy getuienis.
Dit het ook gebeur dat selfs realistiese voorspellings deur die Siener verkeerd uitgelê is. Die prisoniers in die "stone yard" van die Johannesburgse Fort het geweier om tronkkos te gebruik uit vrees vir vergiftiging. Dit was 'n harde stryd om sover te kom dat ons vriende (en spesiaal die Afrikaanse moeders) toegelaat is om vir ons die daaglikse benodigdhede in te stuur. Genl. De Wet en drie ander offisiere het vier dae daarvoor honger gely, maar die hongerstaking het geslaag. Ons oggendkoffie is deur ons self gemaak in 'n pot met kokende water, wat in die "yard " gedra is deur twee naturellebandiete, begelei deur 'n blanke veroordeelde. Laasgenoemde was ons wandelende koerant, want hy het nuus opgeteI by sy besoeke aan ander "yards”, en dit is meestal aan my oorgelaat deur my maats om sy rapport te ontvang.
Een more vertel hy my dat daar die vorige aand drie Duitsers opgesluit is in die "yard” wat aan ons s'n grens. Dit was gedurende die eerste wêreldoorlog. Hy was seker van sy feite: drie Duitse krygsgevangenes wat uit 'n kamp in Natal weggeloop en weer in hande geraak het. Dit was om agtuur in die aand. Hulle sit agter daardie hoë muur maar is nie in uniform nie. Hulle het gewone klere aan soos ons.
Terwyl ek die Engelse bandiet ondervra, sien ek oom Niklaas op 'n afstandjie om, soos gewoonlik na die selle oopgesluit is, die "nuus” te vertel van wat hy gedurende die nag "gesien" het. My gesprek was in Engels, waarvan hy geen woord verstaan het nie. Ek stap na hom toe om sy berigte te verneem. Soos gewoonlik was dit oor "uitgaan” — die verkry van ons persoonlike vryheid was maar die onderwerp van e!ke dag se gesprekke.
"Maar ek vrees, ou broer,” sug com Niklaas, "dat ons nie algar sal vrykom nie, want ek sien dat drie van ons eenkant toe gekeer word in n ander "yard”.
"Dis ons mense, drie van ons?” vra ek. En toe hy dit bevestig, sê ek verder: "En wie is hulle?”
"Nee, ek kon hul gesigte nie sien nie,” sê hy terwyl hy droewig sy kop skud.
"Maar dis ons mense. Is oom Niklaas seker?”
"Ja, ek is seker, want hul het ons klere aan.”
"Wanneer het oom Niklaas hulle gesien? "
"Gisternamiddag, kort na ons opgesluit is. Dit was ’n rukkie na vyfuur.”
Toe vertel ek hom die nuus van die waterdraer. Oor die Duitsers wat gisteraand agtuur in daardie "yard” opgesluit is, en wat "ons klere” dra. "Kan dit nie die drie mense wees wat oom Niklaas gisternamiddag gesien het nie? ’
En met 'n ekspressiewe beweging gee hy toe. Dit kon die drie Duitsers wees, "want ek kon hul gesigte nie sien nie."
'n Derglike feilbaarheid in sy uitleg, selfs van sy konkrete voorspellings het ek al vroeër opgemerk, toe ons, in afwagting van ons vonnis, saam opgesluit was in Boksburg.
Dis moeilik om Niklaas van Rensburg te verstaan, boweal vir die teenswoordige geslag, want hul staan ver van kom af, met uitsondering moontlik van enkeles wat deur 'n diep geestelike Iewe sy Iewe-as-Siener kan benader. Oor die algemeen het die mensheid rasioneler geword, want hul het die beskikking gekry oor onmeetbare materiële kragte, wat in die profeet se tyd gans onbekend was - kragte wat nou heers oor Iewe en dood. Die mens het geeste wakker geroep wat hy nie meer kan besweer nie, waaraan die bestaan van elke dag onderworpe is, en wat hom sy toekoms in angstige onsekerheid Iaat verwag.
Die vorige geslagte het net God gehad om op te vertrou. Sy almag was hulle krag. Sy vaderlike Iiefde was hulle kinderlike hoop in teenspoede. Sy nabyheid was hul inspirasieen om God se wil te doen, die hoogste gebod.
'n Persoonlike versekerdheid van geloof is meermale verkry deur teisterende sielsbenoudhede heen, in 'n stryd met die duiwel wat hul ken as "die mensemoordenaar van die begin" : die bose wat (volgens die Nederlandse geloofsbelydenis) "daarop loer . . . om alles te verderf en te verwoes deur sy bedrieërye.” Die versoekinge van Satan was aan baie bekend, soos aan Paul Kruger en Niklaas van Rensburg. In hul wankoop is hul in die "woestyn” gedryf sonder hoop op Gods genade, maar juis deur die genade het daarna hewige spanning, redding en rus gekom. Uit die oond van beproewinge is daar volgens hulle ("Dordtse”) Ieerreëls " nuwe hoedanighede uitgestort. En waar die worsteling die hewigste was, het die veranderde persoonlikheid nuwe ongewone kragte deelagtig geword, soms die gawe om te "sien”.
Niklaas van Rensburg was een van hulle. Paul Kruger was ook een van hulle. Hy het ook hopeloos rondgevlug onder die strieme van Satan, en (nes Van Rensburg) het Kruger as "siener” uit die stryd te voorskyn gekom.
Piet Grobler, wat by president Kruger opgegroei en sy intieme vertroue geniet het, was goed met daardie vroeë moeisame tydperk van pres. Kruger se Iewe bekend en het my meermale daarvan vertel. Maar daar was tussen Kruger en Van Rensburg 'n groot verskil in waardering van die nuwe "gawe" . Eersgenoemde het gebid om daarvan ontslae te raak. Sy gebed is verhoor, en daar is geen getuienis dat hy ooit weer visioene gehad het nie. Van Rensburg het sy sienerstalente nie alleen met dankkaarheid aanvaar nie, maar dit selfs getroetel; dit het kom bittere dae gekos, want hy moes die Iyding van sy volk dubbeld deurworstel: eers in sy visioene en dan in werklikheid. En die eerste het die meeste kommer veroorsaak. Maar tog op die end (daarvan was hy steeds oortuig) sal die "sif verskyn; en 'n gelouterde volk, 'n volk na God's hart, sal die Afrikanerdom wees."
Ons Iaaste ontmoeting was in sy woning op Rietkuil, toe hy my verseker dat genl. Botha se end naby is. Hy beskryf noukeurig hoe hy sy dood en begrafnis gesien het. 'n Tydjie later kom genl. Botha terug uit Engeland net na die vredesluiting wat die eerste wêreldoorlog beëindig het. Daar was groot publieke toejuiging wat kort daarna omgeslaan het in 'n Iandswye geweeklaag oor sy skielike oorlye, want dit was vir almal onverwags, behalwe vir die siener.
Wat oom Niklaas verontrus het by die verandering van die menslike mentaliteit wat in daardie jare plaasgevind het, was dat die menslike brein die Goddelike wil nie meer erken nie. Hy voel dit op sy eenvoudige manier as gelowige aan. Die "slim mense” van die regering wil die sprinkaanplaag uitroei. "GIo die mense nie meer dat die Here sterk genoeg is om daardie plaag weg te neem nie?" vra hy verontwaardig. Sy ernstige versoek was dat die volk moes vra om 'n biddag wat elke jaar gehou word om die Here te smeek om sy kastydende hand terug te trek.
Sy geloof in God het standvastig gebly, en direk. Vertroue in meganiese, materialistiese middels, hoe sterk en effektief hulle mog wees, het nooit sy vertroue in God kon skok nie. Die Here waak oor alles en almal. Tot sy familielede wat rondom sy sterfbed staan en probeer om sy einde te verlig, sê hy: "JuIIe wil sorg, maar God sal beter sorg.”
In die aand van 11 Maart 1926, om nege uur, het hy sy Iaaste visioen gehad. "Die donker sak toe”, fluister hy, en daarna gee hy sy Iaaste sug.
Hy is begrawe in sy geboortedistrik Wolmaransstad, op sy plaas Rietkuil nr. 22. Hy sal voortleef as een van die opregte manne wie se Iyding, soos mens hoop, mag dien tot Ioutering van sy volk, wat hy met groot teerheid en tot die einde Iiefgehad het.
Daar was by die kommando wat Suidwes-Afrika toe gegaan het, nog iemand met sienersgawe, 'n jong man van omtrent 23 jaar, 'n Klerksdorper. Genl. "Aap” Bezuidenhout beskryf hom as 'n "baie goeie seun, 'n voorbeeld vir ander”. Sy naam was Gert Benadie, en sy maat was Jan Erasmus. Laasgenoemde is by Keis doodgeskiet na Benadie dit die vorige dag "gesien” het. Vir sy profetiese oog was die aankondiging van daardie droewige gebeurtenis in die vorm van 'n swart streep wat Iangs hom op die grond getrek is. Ook die dood van sy eie broer het hy twee dae voor dit gebeur het, reeds geweet: hy sien 'n swart kol aan die broer se klere. Op 23 November is die broer doodgeskiet by hom.
Twee maande daarna, op 23 Januarie 1915, was die aanval op Upington, wat sleg vir die rebelle afgeloop het en tot hul oorgawe gelei het, klaar beraam. Benadie was swaarmoedig. Hy sê: "Ou Kommandant, ek sien nie dat ons die dorp neem nie. Ek het ons pad gesien tot by die doringboom; verder sien ek geen pad nie. Maar tog sien ek my in die dorp. Daar ontmoet ek bekende mense van Klerksdorp. Ek groet hulle met die hand.”
Op 25 Januarie het die uitleg gekom deur die gebeurtenisse self: die rebelle het nie Upington geneem nie; maar ná die oorgawe was hulle nietemin in daardie dorp ... as prisoniers.
Die verklaring Iyk geregverdig, naamlik, dat persone wat met die "sienersgawe” toebedeel is, in tye van groot spanning en skokke tot die ontdekking van hul talent kom. En dis moontlik daardeur dat hul innerlike waarnemings soms onjuis is of ten minste onjuis deur hulle vertolk kan word.
As die koei bulk – vervolg...