Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die bekende uitdrukking "dit is wat binne jou gebeur wat saakmaak, nie wat rondom jou gebeur nie", vind gestalte in Spreuke 15:15 as die digter skryf: "Dit gaan altyd sleg met 'n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is 'n fees".
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (16)
V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
JARE VAN FEESVIERINGE
Einde 1933, verskyn Totius se Passieblomme. Die leed en verdriet wat toe reeds jare lank as gedigte op velle papier van verskillende formaat - soms flentertjies - opgeskryf is, word op aandrang van prof. Gerrit Dekker diep onder uit ’n laai gehaal en nou kan almal dit lees. "Waarom die verse nie al eerder gebundel is nie?” vra Totius in die Voorwoord, "kan ek eintlik geen goeie antwoord gee nie. Miskien is ’n sekere mate van skroomvalligheid waar dit ’n persoonlike en intens-deurleefde smart betref, die hoofoorsaak dat ek die gediggies so lank agterweë gehou het...”
1933 was ook die jaar van groot droogte. Aan prof. Van Gelderen skryf hy op 14 Mei van daardie jaar reeds: die land beleef ’n droogte "soos ek dit sedert 1903 nie gesien en beleef het nie. Die hele Suid-Afrika het geen weiveld vir die winter nie en die vee sal by duisende doodgaan. Nou sterf hulle alreeds in menigtes.” 1933 bring ook vir Totius kommer oor die binnelandse politiek en hy skryf verder in sy brief: "Hier het ons nou ’n koalisie-regering. Smuts en Hertzog is een! Of dit vir ons volk voordeel sal bring, moet ons afwag.”
"Maar ook in Europa beleef julle swaar tye . . ." skryf die bekommerde Totius.
En tog was 1933 juis vir hom die begin van ’n jubeltyd. lets van ’n feesstemming het op verskillende plekke op die kerk- en volksterrein rondom die figuur van prof. J. D. du Toit van Potchefstroom ontwaak. Die koms van die Afrikaanse Bvbel was die impuls! Oral oor Suid-Afrika word daar deur die inisiatief van die kerke groot feesvierings georganiseer.
Op die naweek van 26 en 27 Augustus 1933 vind "Die Groot Bybelfees op Bloemfontein” plaas. 5 000 volwassenes en nog 5 000 kinders het in verskillende groepe die Marksaal volgepak. Al vyf die Bybelvertalers met ds. H. P. M. Steyn, die sekretaris van die Bybelgenootskap, is ook daar. Die Sondag rig dr. Du Toit die waarskuwing: "Die Humanisme stel die mens tot middelpunt en wil van die aarde na die hemel van grootheid opklim in eie krag, met veragting van God, sy Boek en sy Kerk. Dis opnuut weer ’n Babelse toringbou. Gods Woord leer ons presies die omgekeerde: nie van benede maar van bo moet ons redding kom! ”
Met die toekenning van ’n eredoktorsgraad in die Lettere begin die Universiteit van Suid-Afrika met ’n reeks doktorsgrade wat ook ander Universiteite, selfs een in die buiteland, in die komende jare tot kort voor die einde van sy lewe aan Totius sou toeken:
Universiteit van Suid-Afrika, 24 Maart 1934,
Universiteit van Pretoria, 6 Desember 1934,
Universiteit van Amsterdam (Gemeentelik), 15 November 1937, Universiteit van Stellenbosch, 8 Desember 1937,
Universiteit van Kaapstad, 10 Desember 1948,
Universiteit van die Witwatersrand, 22 Maart 1952, PotchefstroomseUniversiteit vir C.H.O., 21 Maart 1953.
Die Engelstalige Universiteit van Kaapstad het seifs twee doktorsgrade aan Totius toegeken - behalwe die eregraad in 1948, het hulle alreeds op 20 Februarie 1915 die D.Div. graad aan hom toegeken op grond van sy verdienste as teoloog. Saam met die graad wat hy reeds in 1903 in Amsterdam verwerf het, altesaam dus 8 doktorsgrade? Land en volk, en ook die buiteland, het nie die sanger en die profeet van die Mooirivier vergeet nie.
Of hy dit alles verdien het? Hierop het hy luimig geantwoord: "Ek hou my aan die Gereformeerde leer, naamlik dat die beloning nie geskied uit verdienste nie, maar uit genade”. ’n Vriend het onmiddellik geantwoord: "Ja, maar genade maak 'n mens werksaam - dit was u genade dat u gewerk het.”
Intussen word daar voortdurend samekomste van kerklike en kulturele aard georganiseer waar Totius moet optree. Die gejaagdheid word vir hom te veel en hy wil maar liewer terug na Krugerskraal. Reeds einde 1932 het hy ’n versoek tot die kuratore gerig dat hy maar liewer op die plaas wil woon en nogtans sy werk in die dorp doen. Die kuratore voel nie baie geneë nie, maar wil hom ook nie keer nie. Die besluit is nie so maklik nie: "Die vergadering spreek sy begeerte uit dat Dr. Du Toit in die dorp sal woon, maar ingeval Dr. Du Toit vir gesondheidsredes dit wenslik beskou om op die plaas te gaan woon, word dit hom van harte gegun en ook toegestaan.”
En so word dit telkens ’n teruggaan na sy "Wartburg” - om stilte te hê en alleen te wees met sy werk.
Maar die Afrikaanse volk wou Totius by hulle hê. Veral na die verskyning van die Afrikaanse Psalmboek in 1936 was dit die F.A.K. wat weer die voortou geneem het. Die volk se dank en waardering moes ook tasbaar bewys word, en daar word besluit om landswyd geld in te samel om aan dr. en mev. Du Toit die geleentheid te gee om die Bybellande en Europa te besoek. Selfs in die verre suide van Suid-Amerika (Argentinië) sirkuleer daar teen Desember kollektelyste onder die Afrikaner-Boere met die volgende bewoording:
Elke opregte Afrikaner, en veral Afrikaanssprekende, het belang in en is ook dank verskuldig aan Prof. Dr. J. D. du Toit - TOTIUS, Digter, Letterkundige, Bybelvertaler, Taalvegter en Berymer van die 150 Psalms ! Ons is gevolglik diep in die skuld by hom wat ons geestesgoedere betref! Nou sien ons daar is ’n oproep van die volk van Suid-Afrika vanweë die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge om aan TOTIUS die moontlikheid te verskaf vir ’n welverdiende rus, na al die jare van afmattende arbeid vir Volk en Kerk, waarin hy sy swakke liggaamskragte nie gespaar het nie - omdat die werk dringend was - maar wel ooreis het.
Kom dan, mede-Afrikaners in Chubut, laat ons ook erkentlik wees en hulde betoon aan TOTIUS, aan wie ons onbepaalde dank verskuldig is, en deur bydraes daardie fonds kragdadig versterk!
F. D. Conradie,
Comodoro Rivadavia, Oproeper.
Desember 1936.
Dit was die tyd van "Totiusfeeste”, "Totiushuldigings” en "Totiusaande”. Lang programme met voordragte uit sy gedigte en musiektoonsettings daarvan met lang toesprake deur volksleiers, kerkleiers en letterkundiges is gelewer.
Die hoogtepunt was die fees in die nuwe stadsaal van Bloemfontein op 20 Februarie 1937, ’n dag voor Totius se 60e verjaarsdag. Selfs van heinde en verre het mense gestroom. Uit Potchefstroom byna ’n stoet motors.
Op pad na Bloemfontein het ’n kostelike voorval plaasgevind. Totius se seun Dirk vertel die volgende: "Met ons reis na Bloemfontein met Fanus se motor het hy op ’n skotige draai nie vooruit gewaar dat daar ’n bui reën deurgetrek het nie - die motor het geweldig gegly, maar tog op sy wiele gebly maar heeltemal in die teenoorgestelde rigting feitlik teen die draadheining tot stilstand gekom. Ons was almal lam geskrik, maar my vader het die stilte verbreek deur skielik uit te roep: 'Fanus . . . Fanus . . . dat jy so kolossaal gaan gly het!’ ”
Die Bloemfonteinfees was vir Totius byvoorbaat ’n groot marteling - dit druis heeltemal teen sy geaardheid in om so gehuldig te word. Met groot moeite het hy dan ook die voorsitter van die F. A.K., dr. N. J. van der Merwe, privaat opgesoek en dringend gevra "om tog maar niks van sy persoon te sê nie”. Dr. Van der Merwe se verleentheid was groot: "Huldig nou ’n persoon sonder om sy naam te noem! ”
Die Volksblad van Woensdag, 24 Februarie het met banieropskrifte hierdie grootse fees in die stampvol stadsaal van Bloemfontein aangekondig:
VOLK VERENIG IN HULDE AAN GROOT DIGTER
HarteTril saam by Kestell-woord: "Ons innig Geliefde Totius”.
Indrukwekkende en heilige oomblikke.
Die blad gaan voort om te sê: "Dwarsdeur die verrigtinge was ’n warm Afrikanergees waarneembaar. Die toesprake, sang en grootsheid van die plegtigheid was van so ’n aard dat die koudste Afrikanerhart daardeur sou geroer word, en toe dr. J. D. Kestell met bewoë stem, ’n ferme handdruk en ’n traan van dankbaarheid in die oog, met die woorde 'hoog geagte doktor, toegewyde bedienaar des Woords, seer geleerde professor - innig geliefde Totius’ die Transvaalse Vierkleur, wat ’n bronsbeeld van Van Wouw omsluier het, aftrek en aan hom ’n tjek van ruim £1 000 oorhandig, het geweldige toejuiging losgebars - ’n nasie het hulde gebring.”
Daardie Sondag skryf die ou vriend en swaer van Totius, ds. J. A. van Rooy, aan sy dogter Clara: "Dit was vir jou ’n enige geleentheid en werd om by te wees. Die nuwe stadsaal was vol, meeste jongmense en die feesjubel was glorieus. Oom Jaap self was manjifiek, en ou Dr. Kestell was koninklik in sy eenvoud en waardigheid ... Die nuusblaaie sal wel alles verder vertel.”
Op 8 Mei 1937 reeds is Totius met sy eggenote en mej. Rikie Postma, ’n niggie, op die Duitse skip, die Adolph Woermann, op see langs die ooskus van Afrika - op pad na die Bybellande en Europa. Dit was jare lank ’n droomideaal wat onverwags werklikheid geword het, danksy ’n dankbare Afrikaanse volk.
Bybellande en Europa: vervolg...