Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Abraham Lincoln het gesê: ’n Mens is so gelukkig as wat hy besluit om te wees. Jy kan ook op net soveel geluk aanspraak maak as wat jy bereid is om te gee; nie meer nie!
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (1)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
TRANSVAAL VERLOOR SY ONAFHANKLIKHEID (1)
Louis Scott
"...the Boers will shed the last drop of their blood before they will allow the English to come and take their country..."
Kontemporêre skrywers sowel as latere historici het hulle ten doel gestel om die anneksasie van Transvaal in 1877 te ontleed. By die bestudering van hulle werk en uit bronne soos amptelike publikasies, korrespondensie, tydskrifte en koerante is dit duidelik dat die vertolkings van die anneksasie uiteenlopend is en dikwels in skrille kontras teenoor mekaar staan.
In 1885 formuleer John Nixon sy standpunt soos volg: “When we consider the express stipulations of the Sand River Convention with regard to slavery, the duties of the paramount power to the black races, and the dangers which loomed over British subjects in South Africa through the acts of the Boers, I think we can come but to one conclusion. The British Government did not want to annex the country. It was compelled to do so.”
Teen die einde van die negentiende eeu deel Martineau hierdie siening; trouens, hy borduur daarop voort deur te beweer dat die anneksasie ’n “edelmoedige en onzelfzuchtige daad der Britsche Regeering in het belang van den vrede en gelijkelijk ten voordeele van Boeren en Naturellen” was.
Daarteenoor het biskop Colenso reeds op 30 April 1877 in ’n brief aan J D la Touché sy misnoeë oor die anneksasie te kenne gegee: “As to the Transvaal affair I hardly know what to say, except that the sly underhand way in which it has been annexed appears to me to be unworthy of the English name... ” In ons tyd onderskryf Nathan so ’n interpretasie: “...the Annexation was without justification. It was not merely a crime; it was blunder. It led to dire results, both for England and the Boers.”
Dit is nie die doel om hier ’n oordeel te vel of die Britse regering reg of verkeerd gehandel het nie. Die doel is slegs om aan te toon dat die anneksasie ’n ingewikkelde staatkundige situasie teweeggebring het wat daarna nog meer gekompliseerd sou word.
Die anneksasie het Transvaal in twee staatkundige groepe verdeel.
Eerstens was daar diegene wat gevoel het dat die anneksasie ’n verantwoordelike en ’n geregverdigde daad was. Hierdie groep het uit twee elemente bestaan, naamlik die Shepstone-regering in Transvaal en sy pro-Britsgesinde inwoners, meestal Engelssprekendes soos winkeliers en sakemanne, wat die regering ondersteun het. Hulle sou hulle ten doel stel om die status quo van 12 April 1877 te handhaaf en uit te bou.
Die tweede staatkundige groep het hoofsaaklik bestaan uit die Afrikaanssprekende inwoners van Transvaal wat hulself as die “staat” gesien het. Aangesien hulle die meerderheid van die blanke inwoners van Transvaal uitgemaak het , was hulle strewe die “volkswil” en die wil moes deur die staat uitgedra word. Sedert die daad van anneksasie, het die “volkswil” nie meer sy regmatige posisie in die staat beklee nie, want die volksraad het verval. Deur middel van die volkskomitee – hulle nie-amptelike staat - sou hierdie twee groepe poog om die staatkundige toestand van voor April 1877 te herstel. Die anneksasie van Transvaal het dus ’n konfliksituasie geskep. Beide partye was oortuig van die meriete van hul saak, en dit sou noodwendig aanleiding tot konfrontasie gee.
Alvorens die rol van die Volkskomitee in die herwinning van die onafhanklikheid tydens die Britse tussenregering beskryf word, is daar twee aspekte wat aandag verdien, naamlik die anneksasie self en die optrede van die Boere voor, tydens en onmiddellik daarna. Na ’n algemene verkiesing in Brittanje in 1874 het die Konserwatiewe Party onder leiding van Benjamin Disraeli aan die bewind gekom. Disraeli, ’n uitgesproke imperialis, ondersteun deur sy Minister van Kolonies, lord Carnarvon, sou sorg dat 1874 die geboortejaar van ’n “nuwe imperialisme” in Brittanje word.
Op die groot koloniale skaakbord van die Britse Ryk het die wenslikheid van ’n federasie van Suid-Afrikaanse state al hoe meer aandag geniet.
Nadat Carnarvon se twee konferensies in 1874-5 misluk het, was dit teen Augustus 1876 duidelik dat federasie nie deur middel van samesprekings of “dialoog” tot stand sou kom nie, en juis dit sou die basis vorm vir sy beleid van “new methods for new circumstances.” Carnarvon het in ’n brief aan Disraeli sy program van aksie soos volg uiteengesit: “My hope is that by acting at once we may ... acquire at a stroke the whole of the Transvaal Republic, after which the Orange Free State will follow, and the whole policy in South Africa, for which we have been labouring fully and completely justified.”
Carnarvon het sir Theophilus Shepstone gekies om Transvaal te gaan annekseer. As gewese Sekretaris van Naturellesake in Natal, was Shepstone op die hoogte van toestande in Suid-Afrika. Hy was geen vreemdeling onder die Transvalers nie, terwyl hy onder die Zoeloes uiters gewild was en in hulle taal bekend gestaan het as “Somtseu” wat “magtige jagter” beteken. As Britse administrateur in Transvaal sou hy die ideale persoon wees om gesag te voer oor die Boere, wie se taal hy kon praat, asook om die Zoeloe-vraagstuk op te los. Op 4 Januarie 1877 het Shepstone die Transvaalse grens oorgesteek en op 20 Januarie Pretoria met sy 25 berede polisiemanne binnegery. By hom het hy ’n koninklike lasbrief gehad met die opdrag “to annex the Transvaal if he found that the inhabitants of such territory or portion thereof, or a sufficient number of them ... desire to become British subjects.”
Die wyse waarop Shepstone gedurende sy reis na en ontvangs in Pretoria behandel is, was vir hom ’n sterk motivering om voort te gaan met sy anneksasieplan. Hy was oortuig dat die meerderheid Boere ten gunste van Britse bestuur was. Dit sou ook later as ’n belangrike argument aangevoer word teen die Volkskomitee se aanspraak dat hy die meerderheid van die Transvaalse volk verteenwoordig.
Shepstone het die Zuid-Afrikaansche Republiek aangetref soos hy hom graag wou aantref - in ’n haglike toestand. Dit het hom goed gepas in die uitvoering van sy opdrag. Die regering was volgens Engelse waarnemers “bankrot” en die staatsamptenare onbesoldig, probleme is ondervind met die invordering van belasting en die volk was onderling verdeeld met ’n ongewilde president aan die hoof.
Nadat Shepstone slegs vyf dae in Pretoria was, skryf hy, diep onder die indruk van die toestand in die land, aan Owen Lanyon dat hy binnekort in ’n posisie sal wees om die gebied te annekseer. Hy meld ook verder: “I shall not take any step against the wishes of the majority of the people ...” Op 12 Maart 1877 berig Shepstone aan Carnarvon dat die eienskappe van ’n onafhanklike staat so geheel en al afwesig was dat dit nie eens die skyn van ’n onafhanklike staat kan handhaaf nie.
In die weke wat anneksasie voorafgegaan het, was daar ernstige pogings om Shepstone se “griewe” uit die weg te ruim. Hierdie griewe wat later ter sprake sal kom, is op 29 en 30 Januarie deur ’n viermankommissie bespreek. S J P Kruger en E J P Jorissen het Transvaal verteenwoordig terwyl M Osborn en Henderson Brittanje se saak gestel het. Heel gou was dit duidelik dat die griewe van geen betekenis was nie, en Kruger het verklaar: “... maar het is niet goed naar grieven te zoeken, anders krijgen wij nooit een einde.” Pres Burgers, wat op sy hoede vir Shepstone was en hom bestempel het as “een sluwe vos,” het van Shepstone gebruik probeer maak om sy posisie te versterk. Deur Shepstone en die Volksraad teen mekaar af te speel, wou Burgers ’n nuwe grondwet vir Transvaal tot stand bring. Die nuwe grondwet sou Burgers as president in ’n gunstiger posisie plaas om ’n oplossing vir die brandende vraagstukke van sy land te vind. Hy was vervolgens van mening dat dit Shepstone in sy anneksasievoorneme sou stuit. M S Appelgryn toon in sy werk oor Burgers aan dat C J Uys se standpunt waarvolgens Burgers onderneem het om Shepstone te steun in sy pogings om die Republiek sy onafhanklikheid te ontneem, nie sonder meer aanvaar kan word nie. Die beloofde samewerking van Burgers se kant “was nie 'n poging tot sameswering teen die staat nie, maar ’n poging om die Britse regering deur sy gesant tevrede te stel dat die Republiek in staat was om sy eie probleme op te los.” Ten spyte van hewige kritiek het die Volksraad op 7 Maart 1877 die ontwerpgrondwet en maatreëls om die regswese te hervorm, aangeneem as ’n laaste poging om te voorkom dat Shepstone die land annekseer.
Shepstone het ho nie daardeur laat beïnvloed nie. Op 9 April 1877 het hy Burgers amptelik kennis gegee dat hy die Zuid-Afrikaansche Republiek by die Britse Ryk gaan inlyf. Die Uitvoerende Raadsbesluit van 11 April 1877, in reaksie op Shepstone se kennisgewing, was ’n weldeurdagte stap wat sonder twyfel op daardie stadium die beste was. Daarin is aangevoer dat die volk van die Zuid-Afrikaansche Republiek teen hulle sin onder Britse gesag ingedwing gaan word, en aangesien die regering van die Republiek oortuig is dat hulle nie die swaard teen Brittanje kan trek nie, hulle sou poog om hulle onafhanklikheid langs ’n vreedsame weg terug te wen. Die regering protesteer ten sterkste teen die handelwyse van Shepstone, en ’n “kommissie” (later: deputasie) bestaande uit S J P Kruger en dr E J P Jorissen sal onverwyld na Europa en Amerika gestuur word om die vryheid van Transvaal terug te kry.
Sonder dat hulle daarvan bewus was, het die Uitvoerende Raadslede met die besluit alreeds voorsiening gemaak vir die totstandkoming van ’n Volkskomitee. In die besluit is bepaal dat alle moontlike middele aangewend sal word “om langs vreedzamen weg en vriendschappelijke bemiddeling die regten des volks te verzekeren.” Aangesien die Uitvoerende Raad op 12 April 1877 ontbind is, moes ’n ander liggaam hierdie besluit deurvoer. Die liggaam sou die Volkskomitee wees waaraan later breedvoerig aandag gegee sal word.
Shepstone het sy posisie as so sterk beskou dat hy hom in hierdie stadium eenvoudig nie meer laat keer het nie. Op 12 April het Melmoth Osborn die anneksasieproklamasie op Kerkplein voorgelees, terwyl Rider Haggard die Britse Union Jack gehys het. Die Zuid-Afrikaansche Republiek het van die landkaart verdwyn. Shepstone het die redes vir die anneksasie, wat ook sy sogenaamde “griewe” omvat het, in die anneksasieproklamasie uiteengesit. Dit het kortliks behels:
Die Zuid-Afrikaansche Republiek het nie aan die Britse verwagtinge voldoen nie.
Sedert sy vrywording in 1852 het dit nie ontwikkel tot die staat van vrede en vriendskap wat Brittanje in die belang van Natal en die Kaapkolonie gevestig wou sien nie. Die burgers van die land is ontevrede en verdeel; die uiteinde sou ’n burgeroorlog blyk te wees. Die interne swakheid van die land het aanleiding gegee tot oorloë met inwonende en omringende swart stamme, waarvan die Sekhukhune-oorlog die belangrikste is. Die oorlog het volgens Shepstone die prestige van die blanke in Suid-Afrika geskaad en “has imposed the duty upon those who have the power to shield enfeebled civilisation from the encroachments of barbarism and inhumanity.” Die staat is bankrot en het in ’n hopelose toestand verval waaruit hy homself nie kan help nie. Genoemde redes, tesame met briewe van ’n “large proportion of the inhabitants of Transvaal” het hom oortuig dat die anneksasie die enigste oplossing oplossing is vir die poslsle waarin Transvaal verkeer.
Dit is ook nodig om Shepstone se anneksasiebeloftes kortliks te skets: Die Transvaal sal bly voortbestaan onder ’n aparte regering met sy eie wette en wetgewende gesag. Daar is voorsiening gemaak vir ’n eie wetgewende liggaam, terwyl daar nie teen die Hollandse taal gediskrimineer sal word nie en dit saam met Engels die kolonie se landstaal sal wees. Ten slotte is beloof dat al die wette wat op 12 April 1877 van krag was, gehandhaaf sal word totdat hulle deur ’n bevoegde wetgewende gesag gewysig word.
Die lees van die anneksasieproklamasie is opgevolg deur Burgers se protes gedateer 11 April 1877. Hierin het hy die Uitvoerende Raadsbesluit van dieselfde datum kortliks weergegee, terwyl hy in sy proklamasie van 12 April die burgers versoek het om hulle stil te gedra, sodat geen woord of daad die sending van die Deputasie vrugteloos sou maak nie.
Met die insig van 'n politikus het Shepstone daarin geslaag om deur middel van verslaggewing die Koloniale Kantoor onder die indruk te bring dat die oorgrote meerderheid van die Transvaalse bevolking anneksasie verwelkom. Reeds op 25 April berig hy aan Carnarvon: "Her Majesty’s authority and rule are being quietly, and in the case of the majority - thankfully accepted throughout the country.” Die talle 'memories' en adresse wat hom aangebied is, het hy as bewys aan die Britse Minister van Kolonies voorgehou sonder om te meld dat die ondertekenaars merendeels Engelssprekendes was. Op 1 Mei 1877 skryf hy aan Carnarvon dat die Boere die troepe van kol. Pearson gedurende hulle opmars na Pretoria vriendelik ontvang het en dat hy daagliks van die ou Zuid-Afrikaansche Republiek se amptenare aansoeke ontvang om hulle diens onder die nuwe regering te mag voortsit.
Shepstone het wel erken dat daar mense is wat ontevrede sal wees oor die anneksasie. In twee afsonderlike briewe, gedateer 2 en 16 Februarie, het hy soos volg oor die groep berig: “... luckily they are far from forming the majority of the voters in the state, but they are a compact body who terrorise over and bully the rest ... This party are opposed to civilisation and progress .. .” Hy verklaar verder: ... so long as his farm and stock are untouched, he feels no pressure ... he likes to think that he has got a Govt, and a flag, and that he calls freedom.” In hierdie briewe het hy ook te kenne gegee dat dit slegs hierdie klein groepie is wat die anneksasie tot niet sal wil maak.
Die onmiddellike Boere-reaksie op die anneksasie is deur die Britse staatsmanne aanvaar as bewys dat die meerderheid inwoners Britse tussenkoms verwelkom het. “The circumstance that the Boers offered no opposition to Shepstone’s coup has also been used as an argument that they consented to their loss of independence,” verklaar J G Kotze, die hoofregter van Transvaal tydens die Britse tussenbewind.
Later skryf die Britse historikus, Louis Creswicke, in dieselfde trant:
“. . . the annexation was received with rejoicing all over the country, ‘God save the Queen’ was sung, and special thanksgiving services were held in many of the churches.”
’n Mens kan nie anders nie as om te deel in die verbasing van J H Hofmeyr “dat de Boeren sich zoo gedwee aan’t verlies van hun vrijheid onderwerpen.” Hierdie optrede van die Boere het landwyd reaksie uitgelok. The Natal Witness berig daaroor: “The Boers have greatly disappointed their friends, and, to say the least of it, their courage has not shown up to their advantage. On every side the cry was: ‘Wait, you have not seen the Boers as I have seen them, and I know them well; they will shed the last drop of their blood before they will allow the English to come and take their country.’ We have waited. We prepared, but they have not turned up.”
Vervolg...