Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Liefde is 'n onsigbare toestand wat ons met een woord probeer beskryf – daarom dat dit so moeilik te beskrywe is! Want dit is iets wat ons alles insluit: ons liggaam en gees, ons ganse wese; ons voel dit soos bloed, ons asem dit soos lug in, ons dra dit in ons soos ons gedagtes. Soek dit dan nie in woorde nie maar by die Kruis.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (6)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
DIE VOLKSKOMITEE: 'N STAAT BINNE 'N STAAT (3)
Die opneem van wapens het by die dag vir al hoe meer Boere die ideale oplossing geword. Die Volkskomitee, met Paul Kruger aan die voorpunt, se taak is nog verder vertroebel deur die Britse regering se onverskillige optrede en voortgesette weiering om die Transvaalse onafhanklikheid terug te gee.
Vroeg in Januarie 1879 het De Volksstem oorgegaan tot so ’n stap deur na die gesamentlike kommissies te verwys as die “volkscomite.” Die benaming het gou inslag gevind en is algemeen aangewend om na die verkose liggaam te verwys wat vir die Transvaalse onafhanklikheid moes werk. In wese was die vergadering te Doornfontein niks anders as die Volkskomitee in sitting nie.
Reeds met die aanvang van die vergadering was dit duidelik dat die Volkskomitee ’n soortgelyke posisie as die vroeëre Volksraad beklee het.
Die lede moes die belange van die volk behartig, en waar daar enigsins twyfel daaroor bestaan het, is so ’n persoon tot verantwoording geroep.
M W Pretorius, M J Viljoen en S J P Kruger wat volgens kwaadwillige gerugte die eed van getrouheid teenoor die Britse regering afgelê het, is gevra om die juistheid daarvan te weerlê. Nadat S T Prinsloo die voorsitterstoel by Pretorius oorgeneem het, het die drie beskuldigdes tot die bevrediging van die komitee die teendeel bewys. Dit was veral Kruger wat onder die Shepstonebewind nog steeds ’n salaris van £300 per jaar ontvang het, wat sterk onder verdenking was. D W Kruger wys daarop dat daar nie uit die oog verloor moet word dat Kruger ten spyte van die anneksasie nog altyd ’n amptenaar in die Transvaalse diens vir Transvaalse sake was nie. Vanweë sy besonder aktiewe deelname aan die konstitusionele stryd kon hy noodgedwonge nie sy volle aandag aan sy boerdery gee nie en dit het sy aanspraak op besoldiging regverdig.
Ná afhandeling van genoemde saak het C J Joubert voorgestel dat M W Pretorius die voorsitter van die gesamentlike vergadering moet wees, met dien verstande dat die onderskeie voorsitters van die twee kommissies weer hulle funksies sal aanvaar ná afloop van die vergadering. Hoewel hierdie voorstel met ’n meerderheid stemme aanvaar is, het dit, soos reeds aangetoon, nooit in die praktyk van toepassing geword nie. Die Pretoriase en Potchefstroomse kommissies sou voortaan as 'n eenheid, die Volkskomitee, funksioneer met M W Pretorius as voorsitter en M J Vljjoen as mede-voorsitter.
Tydens hierdie vergadering is die ledetal van die Volkskomitee verder uitgebrei. Die volgende persone is verkies om vir die distrikte wat nog nie verteenwoordig was nie, verteenwoordiging te verseker, asook vir distrikte wat nog verteenwoordigers in die komitee wou hê: D J Mulder (Lydenburg), J Jacobs (Middelburg), P J Joubert en A Pretorius (Wakkerstroom), D P Taljaard, D Pretorius, H A J Ueckermann en G D van den Heever (Heidelberg), P Spies (Utrecht), W Kirstein, C B Otto en J C Coetzee (Marico) en G van Rooyen (Rustenburg).
’n Kommissie is verkies om die stemme teen die anneksasie op te neem: D P Taljaard, P J Joubert, J Jacobs en M W Vorster het op 5 April 1878 verslag gedoen. Daaruit was dit duidelik dat die oorgrote meerderheid van die land die anneksasie nie erken het nie. Volgens die 157 versoekskrifte wat ingedien is, het 6 591 van die 8 000 stemgeregtigde inwoners teenoor 587 die anneksasie van 12 April 1877 verwerp.
Vir die Volkskomitee was dit duidelik dat die meerderheid van die volk nie die anneksasie aanvaar het nie, maar slegs berus het in die Uitvoerende Raadsbesluit van 11 April 1877.
Aan ’n kommissie bestaande uit P J Joubert, J Maré, C Joubert, M W Vorster en H Ueckermann is dit deur die vergadering opgedra om ’n begeleidende brief in oorleg met Kruger en Bodenstein op te stel wat saam met die versoekskrif aan Carnarvon gestuur sou word. Die kommissie was egter die mening toegedaan dat ’n tweede deputasie na Londen die nodige uitwerking sal hê. Dit het die vergadering se goedkeuring weggedra, en
vervolgens is reëlings vir die insameling van die nodige geld getref. Buiten die £1 960 wat onmiddellik gekollekteer is, het die komitee aan C Bodenstein, M W Pretorius, C Erasmus, S T Prinsloo, H Ueckermann en J Maré die taak opgedra om ’n verdere £1 040 in te samel. As lede van die Tweede Deputasie is P J Joubert en S J P Kruger met W E Bok as sekretaris deur die vergadering aangewys. Insiggewend was P J Joubert se reaksie daarop: “Hy bedankt het volk voor de vertrouwen in hem gesteld.” Die onbetwisbare posisie van die Volkskomitee as die verteenwoordigers van die volk word daardeur treffend geillustreer.
Ten slotte het die vergadering dit aan M J Viljoen, C Joubert en P J Joubert opgedra om Shepstone van die besluite in kennis te stel en om hom te raadpleeg.
Die afloop van die vergadering was vir Shepstone ’n verligting: “The quiet ending of the Doornfontein meeting relieved me of all anxiety on the score of myself being shot or kidnapped and the seat of Government captured by would be rebels, as was freely predicted.”
Wat Shepstone egter nie besef het nie, was dat die vreedsame verloop van die vergadering toe te skryf was aan die leiding wat die Volkskomitee geneem het. By die vergadering het die Volkskomitee die Uitvoerende Raadsbesluit van 11 April 1877 weer eens bekragtig by wyse van ’n Tweede Deputasie. Langs ’n vreedsame en konstitusionele weg sou die Volkskomitee die volk tot die verkryging van sy onafhanklikheid lei.
Die Volkskomitee sou in die handhawing van sy beleid tot lydelike verset tot die uiterste beproef word. Ontevredenheid oor die Britse bestuur het by die dag toegeneem. Nadat Shepstone versuim het om diegene wat sy proklamasie geignoreer het, te straf, het die aansien van die Britse gesag verder gedaal. Die opneem van wapens het by die dag vir al hoe meer Boere die ideale oplossing geword. Die Volkskomitee, met Paul Kruger aan die voorpunt, se taak is nog verder vertroebel deur die Britse regering se onverskillige optrede en voortgesette weiering om die Transvaalse onafhanklikheid terug te gee.
Die taak van die Volkskomitee sou met verloop van tyd groter word. Dit sou nie beperk bly tot die herwinning van die Transvaalse onafhanklikheid nie, maar die volk moes ook tot ’n georganiseerde en ’n eendragtige eenheid saamgesnoer word om, indien dit nie anders kon nie, wel vir die bevryding van hul vaderland die wapens op te neem.
Wat die samestelling, funksionering en organisering van die Volkskomitee betref, vind ons ’n treffende ooreenkoms met die Volksraad van die ou Zuid-Afrikaansche Republiek. Die Volkskomitee was in werklikheid niks anders as bloot die voortsetting van die Volksraad onder ’n ander benaming nie. In beide gevalle was dit ’n liggaam wat deur die volk ingestel is.
Die volkswil was die oppergesag in die besluite en werksaamhede van die ou Volksraad en van die Volkskomitee. Ten opsigte van die vroeëre Volksraad verklaar J A Vorster dat die beklemtoning van die gesag van die volkswil die vernaamste kenmerk van die Republikeinse konstitusie was. Dit blyk uit die terminologie waarvan die wetgewer hom bedien het:
“Voorstel van eene nuwe wet ... ter overdenking en beoordeling van het publiek voorgesteld door den Ed. Volksraad.” Hierdie gebruik vind ons ook by die Volkskomitee. Op aandrang van die Volkskomitee het sir Bartle Frere aan die Koloniale Sekretaris berig: “... what the Comitee states is the voice, not of delegates or representatives, but of the very great majority of the people.”
In ’n brief wat hy namens die volk aan die Volkskomitee gerig het, voer F Dreyer aan: ... dat het volksgevoelens niet genoegsaam door het Volkskomitee verstaan worden ...”
Die Volkskomitee word verder deur die volk versoek dat daar “gelet moet worden op die besluijten genomen op Wonderfontein 10 Januarie I879 ”.
Gedurende die eerste jare van die Zuid-Afrikaansche Republiek het die Volksraad nie noodwendig op ’n spesifieke plek vergader nie. Ook kon die raad na gelang van omstandighede sy ledetal met tydelike verteenwoordigers aanvul. Hierdie vergaderings is in die meeste gevalle vrywillig deur die publiek bygewoon wat gewoonlik rondom die raadsaal saamgedrom het. Hierdie selfde tendensie vind ons by die Volkskomitee. Die vergaderings was nie tot een plek beperk nie, en ook die Volkskomitee het by geleentheid sy ledetal tydelik aangevul. Sonder uitsondering het die publiek die Volkskomitee-vergaderings bygewoon. Dit kan as ’n moontlike verklaring aangevoer word hoekom die publiek, ten spyte van die verbiedende proklamasie, die Doornfontein-vergadering bygewoon het.
Van die vroegste tye af het die volksvergadering 'n prominente plek in die regeringswese van die land ingeneem. Sedert die tyd van die Groot Trek was dit gebruik om, waar belangrike sake op die spel was, ’n gesamentlike byeenkoms op te roep.
Die volksvergaderings soos by Wonderfontein (Januarie 1879), Kleinfontein (Maart - April 1879), Wonderfontein (Desember 1879) en Paardekraal (Desember 1880) was dus niks anders as ’n voortsetting van ’n gebruik wat onder die ou Republiek in swang was nie.
Waar sake van minder belang bespreek is, is ’n reeks kleiner publieke byeenkomste dwarsdeur die land gehou waartydens die stem waarmee die volk gepraat het, letterlik en figuurlik die landswet was. Ook hierdie tipe vergadering word onder die Volkskomitee voortgesit. J Scoble verklaar:
"Secret meetings were held during 1880 in almost every country village and district by the Dutch burghers ...” Hierdie vergaderings het nie noodwendig in die geheim geskied nie, maar beslis met ’n sterk anti-Engelse gesindheid. Voorbeelde van sulke vergaderings is volop en is nie beperk tot 1880 nie. Op 21 November 1879 het P J Joubert so ’n vergadering op Graskop gehou, wat gevolg is deur een op 3 Desember op die plaas Kalbasspruit. By hierdie plaaslike en distriksbyeenkomste was gewoonlik 'n verslag van die werksaamhede van die Volkskomitee tot op datum aan die orde en het die publiek die bywoning van die volgende volksvergadering gereël.
Die gebruik van memories en versoekskrifte tydens die era van die Volkskomitee was ook, net soos die meeste ander gebruike, slegs ’n voortsetting van ’n bestaande instelling. A N Pelzer en W A Kleynhans toon aan dat hierdie gebruik alreeds in 1845 ’n stelreël in die landsbestuur was:
“Geen raadsbesluit over landswetten zal vasgesteld worden by hunnenmzittingen, maar zal moeten aan het publiek bekind gemaak worden door den Veldcornets aan zyn wyk die gehouden zal zyn zoo de Tegenwerp by memories.” Nie alleen het hierdie wetgewing die gebruik van memories ingelui nie, maar daardeur is ook die absolute gesag van die volkswil bevestig. Buiten verskeie memories of versoekskrifte wat aan die Britse regering voorgehou is, is dit ook gebruik deur die volk om hulle wil of wense aan die Volkskomitee bekend te maak. Die invloed van memories word geïllustreer in ’n verslag wat deur ’n kommissie van die Volkskomitee tydens die Wonderfontein-vergadering in Januarie 1879 opgestel is:
“De Commissie, vernomen hebbende het gevoelens van het publiek, uitgedrukt in hunne memorien, en den uitgedrukten wensch van het volk."
Wat die interne organisasie van die Volkskomitee betref, was dit niks anders nie as ’n nie-amptelike voortsetting van die ou Republikeinse regering. Die verkiesing van W E Bok as sekretaris van die Volkskomitee kan gesien word as ’n voortsetting van die amp van Staatsekretaris. P J Joubert se aanstelling as kassier van die Volkskomitee - hy is later deur J H Schoeman vervang om die finansiële verpligtinge van die komitee te behartig, hou verband met die amp van Staatstesourier. Die Volkstem met Celliers as redakteur, het veral vanaf Desember 1878 niks anders as ’n mondstuk van die Volkskomitee geword nie en daardeur die belangrike en noodsaaklike funksie van amptelike nuusblad van die Volkskomitee vervul. Dieselfde funksie as die ou staatskoerant is deur De Volksstem vervul: notules van vergaderings, kennisgewings met betrekking tot vergaderings wat sal plaasvind korrespondensie met betrekking tot regeringsaangeleenthede en die bekendmaking van amptelike versoeke en opdragte is daarin opgeneem.
Die Volkskomitee kon nie belastings hef nie, maar sou sonder geldmiddele tog ook nie doeltreffend kon funksioneer nie. Die verpligte belastingstelsel is vervang deur die “vrywillige belastingstelsel” van kollektelyste. Die bydraes wat gelewer is, het sonder twyfel voldoen aan die behoeftes van die Volkskomitee. Nadat die Tweeds Deputasie teruggerapporteer het, was daar ’n bedrag van £495 14s. 6d. oor, wat bewys hoe mildelik die Boere bygedra het.
Die aantal verteenwoordigers in die Volkskomitee was die enigste afwyking in vergelyking met die ou Volksraad. Die konstitusie van die Zuid-Afrikaansche Republiek het bepaal dat die Volksraad uit 42 lede bestaan,77 terwyl die Volkskomitee geen beperking op sy ledetal gehad het nie. Oor die ledetal van die Volkskomitee bestaan daar uiteenlopende verklarings. J. F. van Oordt beweer dat dit uit 39 lede bestaan het,terwyl P J Viljoen die ledetal op 35 stel. Sir Garnet Wolseley en dr EJP Jorissen stel die ledetal onderskeidelik op 70 en “een zestigtal.” Wat duidelik is, is dat daar in geen stadium tydens die Volkskomitee telling gehou is van al die lede nie. Op 6 April 1878 skryf die Volkskomiteevoorsitter ’n brief aan Shepstone waarin hy verklaar dat die Volkskomitee tydens die Doornfontein-vergadering tot 37 lede aangevul is. Hoe foutief hierdie inligting was, blyk uit die volgende: Op 7 Januarie is 15 lede tot die Pretoriase kommissie verkies, op 28 Januarie is daar 15 persone tot die Potchefstroomse kommissie verkies en op 6 April tydens die Doornfontein-vergadering is die ledetal met 13 aangevul. Dit bring die ledetal van die Volkskomitee teen 6 April reeds op 43 te staan. Verdere toevoegings het ook tydens die daaropvolgende Volkskomitee-vergaderings voorgekom.
By ’n gebrek aan volledige verslae is dit moeilik om die presiese ledetal van die Volkskomitee te bepaal. Uit die bestudering van sy notules en verslae blyk dit dat dr Jorissen se verklaring dat daar “een zestigtal der voormannen van de Transvaal uitgekozen (was), om de belangen van het volk te beschermen,” die betroubaarste is.
Die verteenwoordiging van die 13 distrikte in die Volkskomitee was redelik proporsioneel, maar twee distrikte, Soutpansberg en Bloemhof, het geen verteenwoordiging in die Volkskomitee gehad nie. Die feit dat Bloemhof met sy 784 blanke inwoners geen verteenwoordiging gehad het nie, is redelik onverklaarbaar. Hoewel Bloemhof ’n ernstige probleem wat betref swartmense gehad het (daar was 91 swartmense vir elke blanke), moes daar tog iemand gewees het wat die dorp verteenwoordig.
’n Artikel in The Friend of the Free State berig dat: "In de districten Rustenburg, Marico en Bloemhof is de ontevredenheid zelfs nog grooter..."
'n Moontlike verklaring is dat sommige Boere van Makwassie soos A J Erasmus, R A Buitendag en C J Kampher wel van Bloemhofdistrik was. Die Boere in Transvaal se plase was groot en kon in twee distrikte val, terwyl baie Boere meer as een plaas gehad het. Waar Makwassie teen die jaar 1878 ’n bekende plek was en op die grens van Bloemhof gelê het, kan dit wees dat van die Bloemhofdistrik se Boere Makwassie as woonplek aangegee het om hulle pos vroeër te kon ontvang. Indien dit die geval was, is Potchefstroom se groot aantal verteenwoordigers op die Volkskomitee verstaanbaar.
Anders as in die geval van Bloemhof is Soutpansberg se afwesigheid in die Volkskomitee verklaarbaar. Hierdie distrik met sy inwonertal van 654 blankes het nie aan die versetbeweging deelgeneem nie. De Volksstem verklaar dat die hele volk betrek was by die versetbeweging tydens die Wonderfontein-vergadering (Januarie 1879) met die uitsondering van Soutpansberg. Die redes is voor-die-hand-liggend: Soutpansberg se Boerebevolking was uiters gering in getal. Hoewel die getal inwoners teen 1878 op 654 geskat is, is dit interessant om daarop te let dat ’n opname van 1877 deur die veldkornette aan die lig gebring het dat daar slegs 140 weerbare manskappe was. Hierdie distrik was ver geleë van die versetbeweging wat in hoofsaak beperk was tot Wes-, Sentraal- en Oos-Transvaal.
Vir hierdie Boere wat met die grootste swart probleem gesit het, (vir elke blanke was daar 450 swartmense) was dit bykans onmoontlik om hulle gesinne vir ’n onbepaalde tydperk alleen te laat. Die Engelse element was voorts sterk verteenwoordig en het 20 persent van die blankes uitgemaak, die grootste naas Pretoria. Ook was hierdie element ywerig aan die werk vir Britse oorname, want op 3 Februarie 1877 is ’n memorie met 94 handtekeninge ten gunste van konfederasie aan Shepstone gestuur.
’n Versetbeweging teen Britse gesag – vervolg...