Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Pyn, eensaamheid en angs dryf my na gebed met God. En wanneer ek bid, verdryf dit my pyn, eensaamheid en angs.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (9)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
'N VERSETBEWEGING TEEN BRITSE GESAG (3)
Die houding in die Britse kamp ná die Tweede Deputasie se verslag, toon ook die omvang van die Boere-verset aan. In sy skrywe aan Frere op 30 Januarie is dit duidelik dat Shepstone die ergste verwag het: “The belief here, even among those who have hitherto thought little of Boer threats and talk, is general that they will make the attempt and that Piet Joubert will do all he can to wize them to do it.”
Die Volkskomiteelede was dit almal eens dat die tyd nog nie ryp was vir die uiterste stap nie. Toonaangewende leiers soos Paul Kruger, P J Joubert, J P Mare en M W Pretorius was oortuig dat alle vreedsame middele nog nie uitgeput was nie. P J Viljoen toon in sy werk, Die Lewe van Paul Kruger, twee verdere redes aan vir die leiers se huiwering om tot die stryd oor te gaan. Die volk moes eers vasberade, eensgesind en absoluut vertroubaar gemaak word. Tweedens moes die wapen- en ammunisietekort aangesuiwer word.
Ook De Volksstem het ’n dringende beroep op die Boere gedoen om hulle te weerhou van geweld: “Op het oogenblik zou het meer dan ooit onpolitiek en zelfmoordend zijn wanneer zij tot geweld de toevlugt namen nu zij de vruchten van hun lijdzaam en grondwettig verzet reeds beginnen te plukken ... ”
Piet Joubert se besoek aan Frere was ’n vermorsing van tyd. Vasgevang in ’n oordrewe imperialistiese beleid, was die Britse gesag nie in staat om te besef dat ander volke ook bestaansreg het nie. Reeds op 30 Januarie, vyf dae voor die onderhoud tussen Joubert en Frere, het Shepstone die volgende in ’n brief aan Frere kwytgeraak: “The feeling is as bitter as it well can be, and there never was such danger ... of hostile action by the Boers as there will be a fortnight after Piet Joubert returns from Maritzburg.”
Buiten die toestand wat in Transvaal geheers het, blyk dit ook duidelik uit die brief in hoe ’n mate die Volkskomitee se beleid van lydelike verset, naamlik om hulle onafhanklikheid deur samesprekings te verkry, by voorbaat tot mislukking gedoem was.
Die onderhoud tussen Joubert en Frere in Pietermaritzburg op Dinsdag, 4 Februarie 1879, kan gesien word as ’n blote herhaling van die vorige onderhoude van 3 Junie en 28 November 1878. Vir die soveelste keer het Joubert vir Frere daarop attent gemaak dat die Boere nie die Britse gesag sal aanvaar nie. Frere se antwoord hierop moes vir Joubert al bekend
geklink het: Die anneksasie is “onherroeplik.” Die Transvalers kan hul onafhanklikheid terugkry, so groot as wat hulle wil hê, maar onder die Britse vlag. Al waarin Joubert belang het, was om die versekering van Frere te kry dat hy so gou moontllk die Transvaal sal besoek en ’n onderhoud met die Boereleiers sal voer.”
Op Maandag, 17 Februarie 1879, het Joubert aan die Volkskomitee verslag gedoen van sy sending na Frere. Hierdie vergadering wat gehou is ingevolge ’n besluit geneem “door het geheele Comity van het Volk,” het op die plaas Eendracht in die distrik Heidelberg plaasgevind. Nadat Joubert verslag gedoen het, is besluit om die hele volk op te roep vir die koms van Frere. Die vergadering sou op Dinsdag, 18 Maart, op Kleinfontein, die plaas van Jan Meyer in die distrik Heidelberg, gehou word. Aangesien Kleinfontein langs die grootpad tussen Durban en Pretoria gelee was, sou dit vir Frere geen moeite wees om die Boerekamp te besoek nie. Om te verseker dat Frere sy woord gestand doen, het die Volkskomitee ’n skrywe aan hom gerig. Die Volkskomitee se leedwese oor Joubert se mislukte Sending is daarin bekendgemaak, en die opregte wens is uitgespreek dat Frere hom so gou doenlik in hulle midde sal bevind.
Deur die Transvaal te annekseer, het Shepstone en die Britse regering die erfgename geword van ’n Transvaal - Zoeloelandgrens waar die toestande geleidelik op ’n gewelddadige konfrontasie afgestuur het. Ook sou dit Brittanje se opportunistiese optrede uitwys. In 1861 het Transvaal die grondgebied tussen Bloedrivier en Lynspruit van Ketswajo as losprys ontvang na die uitlewering van laasgenoemde se twee broers wat na die Republiek gevlug het. In 1875 het Ketswajo hierdie ooreenkoms ontken en op die gebied aanspraak gemaak. Hierin is hy deur Shepstone gesteun. Ná die anneksasie van Transvaal het die Britse gesag bevind dat die betwiste grondgebied wel aan Transvaal behoort. Vanwee die bevinding, tesame met die Sirayo-insident en die Britse ultimatum aan Ketswajo wat op die insident gevolg het, was dit teen Desember 1878 duidelik dat oorlog tussen Brittanje en die Zoeloes onvermydelik was.
Die argitekte van ’n verenigde Suid-Afrika het so ’n verwikkeling verwelkom. Die Zoeloe-oorlog sou dien as ’n middel tot ’n doel, naamlik om die Zoeloe-militarisme as teenfaktor in die weg van konfederasie uit die weg te ruim. C F Goodfellow ontleed die aangeleentheid soos volg:
“Frere, however, was by now reaching the conclusion that of the two elements in his design, the black and the white, the black must be settled first."
In sy stryd teen die Zoeloes was Brittanje aanvanklik oortuig dat hy die steun van die Boere sou kry. Op 15 Februarie berig Frere aan Hicks Beach dat “Mr P Kruger ... might be willing to take command of Transvaal Volunteers if any were required against the Zulus...” ’n Sterk Boere-kommando sou nie net alleen van militêre betekenis wees nie, maar sou ook negatief inwerk op die Zoeloes se moreel. Aan Joubert het Frere dit duidelik gestel dat die oorlog nie ’n oorlog tussen Brittanje en die Zoeloes is nie, maar ’n oorlog tussen “Ketswayo, as the ruler and champion of all native races, and the white races, Dutch as well as English.”
Die Transvalers het die aangeleentheid in ’n ander lig gesien: “Waarom zouden wij de Zulus gaan bevechten? Wij hebben geen twist met hen."
Tydens 'n vergadering wat op 28 Desember 1878 langs die Vaalrivier gehou is, het die aanwesige Boere hulle almal uitgespreek teen hulp aan Brittanje. Daar was ook sprake van ’n onderlinge ooreenkoms tussen Ketswayo en die Boere. Shepstone het aan Frere berig dat daar sprake is van ’n onderneming van Boerekant teenoor Ketswayo dat hulle nie aan vyandige optrede teen hom sal deelneem nie. In hierdie stadium was die ontevredenheid onder die Boepe so groot dat “it was doubtful what part they would take in the event of war between the British and Zulus.”
Vir Brittanje wat seker was van die Boeresteun, was hierdie verwikkelinge ’n ontnugtering. Nog Kruger nog Pretorius het gehoor gegee aan die oproep om hulp. Die slag van Isandhlwana op 22 Januarie 1879 het nie net vir Brittanje ’n militêre neerlaag beteken nie; maar in Transvaal is daar nou met ’n ander oog na die Britse soldaat gekyk. Vir baie Boere was dit goeie nuus en ’n aanduiding dat die Britse soldate glad nie onoorwinlik was nie.
Op 30 Januarie 1879 het Shepstone aan Frere berig: ... now that Her Majesty’s Troops are beaten, and your Exellency’s hands full, is the time for the Boers to take up arms and fight for their independence.” Ook sir Owen Lanyon wat Shepstone sou opvolg in Transvaal, het aan sy vader geskryf hy vrees dat die Boere die moeilikhede aan die Zoeloelandgrens sal uitbuit. Hierdie vrees wat Brittanje gekoester het, is bevestig toe dit rugbaar gemaak is dat Ketswayo die Boere versoek het om hom teen die Engelse te help.
Beweerde uitlatings soos dié van Volkskomiteelid Piet Joubert, het Brittanje laat vrees dat die Boere wel aan Ketswayo se versoek gaan voldoen.
Volgens Shepstone het Joubert verklaar: “Well, if our friends the Zulus enter Natal and exterminate every English man, woman and child I shall say that the Lord is righteous.” Hoewel dit sterk te betwyfel is of Joubert so iets kwyt sou raak, is dit nie ter sake nie. Shepstone het verklaar dat Joubert dit gesê het, en dit is as juis aanvaar. ’n Grondige vrees het ontstaan dat, as Joubert so ’n standpunt huldig, daar aanvaar kan word dat die Boere die wapen teen Brittanje sal opneem. Onder baie Boere het die idee posgevat om saam met Ketswayo die Engelse in die see te jaag.
Die standpunt van die Volkskomitee in hierdie verband leer ons nie uit die bronne ken nie. Aangesien ons geen amptelike besluit van die Volkskomitee oor die aangeleentheid het nie, sal ons moet volstaan met die standpunte en optredes van Volkskomiteelede.
Soos reeds vermeld, het Frere op 28 November 1878 Kruger versoek om Brittanje te help. Kruger se antwoord aan Frere het sonder twyfel die Volkskomitee se standpunt weerspieel. Kruger het hom bereid verklaar om met 500 man rus en vrede in Zoeloeland te bring, mits Transvaal sy onafhanklikheid kan terugkry. Aan Shepstone, wat ook sy hulp ingeroep het, het Kruger duidelik te kenne gegee dat hulpverlening onmoontlik is.
Kruger het aangevoer dat die wyse waarop Brittanje die Boere behandel, onenigheid tussen die twee groepe gebring het en samewerking onmoontlik maak. Daar is geen ag geslaan op die Boerevolk se dringende versoek om sy vryheid terug te kry nie en daarom kan daar nie sprake van hulp aan Britanje wees nie.
Ook M W Prelorius wat hom bereid verklaar het om ’n kommando van 500 man op die been te bring, het nie daarmee steun aan Brittanje bedoel nie. In ’n brief aan De Volksstem verklaar M W Pretorius sy uitlating soos volg: “Aangezien het reeds in de couranten heeft gestaan dat de barbaren invallen hebben gemaakt op onze eigen menschen, heb ik wel privaat gezegd dat ik gewillig ben om onze eigen menschen tot hulp te komen.”Uit die brief blyk dit hoekom hy as voorsitter van die Volkskomitee hulp aan Engeland geweier het. Hy verklaar dat hy nie Engeland kan of sal help nie, aangesien hy nie sy “onafhankelijkheid daardoor wil prijs geven.”
Waar die Volkskomitee hulp aan Engeland geweier het, en ook nie van plan was om Ketswajo teen ’n ander blanke volk te help nie, ontstaan die vraag of die Boereleiers ’n beleid van absolute neutraliteit sou handhaaf.
Kruger se optrede en houding is aanduiding dat dit nie die geval was nie. Hoewel hy nie daadwerklik hulp wou verleen nie, het hy as Christen Brittanje met raad bygestaan in laasgenoemde se stryd teen die Zoeloes.
Op 29 November het hy en lord Chelmsford, die Britse krygsowerste in Natal, met ds George Stegmann as tolk ’n onderhoud gevoer.77 Na aanleiding van hierdie onderhoud het Stegmann verklaar: “Mr Kruger gave him much valuable information as to Zulu tactics, and impressed upon him the absolute necessity of laagering his waggons every evening, and always at the approach of the enemy.” Die noodsaaklikheid van die uitstuur van verkenners is ook deur Kruger beklemtoon.
Die optrede van die Volkskomiteelede tydens Brittanje se Zoeloe-episode is ’n treffende bewys dat hulle hul doelwit langs ’n konstitusionele en vreedsame weg wou bereik. Onder geen omstandighede wou die Boereleiers van geweld gebruik maak nie. Op ’n eerbare maar ondubbelsinnige wyse wou hulle deur hul optrede die Britse respek afdwing en sodoende hul vryheid terugkry.
Die stem van die volk (1) – vervolg...