Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Laat eensaamheid jou met hartseer na ander mense se samesyn kyk? Daar kom 'n draaipunt wanneer jy besef die HERE se teenwoordigheid is vir jou genoeg; wanneer jy besef dat alleentyd kosbare werkstyd is. Dan ervaar jy slegs dankbaarheid, geen eensaamheid nie.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (13)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
DIE VOLKSBESLUIT
In breë trekke het die besluit daarop neergekom dat, aangesien Brittanje nie gehoor gegee het aan hul roepstem nie, die volk van die Zuid-Afrikaansche Republiek besluit het om self stappe te doen. Hulle ontken dat hulle ooit Britse onderdane was en besluit dat die Regering, wie se werksaamhede so lank gestaak is, so spoedig moontlik heringestel sal word. Aangesien die volk bloedvergieting wil vermy, word daar van die ou Volksraad van 1877, wat weer opgeroep sal word, verwag om sodanige stappe te doen dat ’n vreedsame oplossing bereik word. In die Volksbesluit vind ons ten slotte ’n sprekende voorbeeld van hulle Godsvertroue:
“Zoo Waarlijk Helpe Ons God Almagtig.”
Aangesien daar heelwat tyd nodig sou wees om maatreëls te tref om die ou regering weer in te stel, is besluit om die volgende Volksvergadering op 6 April 1880 op die plaas Paardekraal te hou. Tydens dié vergadering sou die Zuid-Afrikaansche Republiek herstel word.
Op Woensdag, 17 Desember 1879, is aan ’n kommissie bestaande uit C J Joubert, J Mare, P J Joubert, S J P Kruger en M W Vorster opdrag gegee om die nodige reëlings vir die vergadering van April 1880 te tref. Die meeste historici beweer dat Wolseley se eerste reaksie op die Volksbesluit was om Pretorius en Bok te arresteer. Volgens ’n aantekening in Wolseley se dagboek op 20 Desember 1879 is dit egter duidelik dat hy aanvanklik ’n gematigde houding aangeneem het: “...l am prepared to meet them (die Volkskomitee) half way ... .” Eers nadat daar niks van hierdie vergelyk gekom het nie, het Wolseley oorgegaan tot drastieser stappe.
Op advies van prokureur-generaal C G Maasdorp het Wolseley die voorsitter en sekretaris van die Volkskomitee onderskeidelik op 5 en 3 Januarie 1880 op ’n klag van hoogverraad (crimen laesae Majestatis) laat arresteer. Wolseley het Hicks Beach op 2 Januarie per telegram verwittig van die voorgenome arrestasies: “Proceedings have been instituted here for treason against the two men whose signatures were appended to a letter transmitting to me copies of some of the resolutions passed by the Boers at the recent meeting.”
Die Natal Mercantile Advertizer was sulke stappe te wagte, maar was verwonderd dat W E Bok gearresteer is: “In zijne publieke hoedanigheid is hij enkel bekend als Secretaris van het Volkscomite en er zijn stellig voormannen van het volk meer prominent dan bij.“ Bok is kort na sy arrestasie op borgtog van £3 000 vrygelaat op voorwaarde dat hy nie Pretoria mag verlaat het nie.
Met M W Pretorius was dit ’n ander geval. Na sy arrestasie, waartydens hy nie eens sy vrou kon gaan groet nie, is borgtog hom geweier. Drie dae lank het hy in die Potchefstroomse tronk gesit voordat borgtog toegestaan is. Die borgtog van £3 000 het aan Pretorius veel hoofbrekens besorg. Hy was ’n arm man en kon slegs sekuriteit van ’n £1 000 bied. Sekuriteit vir ’n verdere £2000 sou maklik gevind kan word as dit nie was vir ‘n bepaling dat dit verskaf moet word deur “mannen van onbesproken gedrag die geen actief deel in die bijeenkomst gehad hebben en zweren kunne geene rebel te zijn..." Dit eers na veel moeite dat C J Muller en A J Pienaar gevind kon word om vir die uitstaande bedrag borg te staan.
Die rol wat Pretorius na sy arrestasie het, kan omskryf word as naïef en dubbelsinnig. Dr E J P Jorissen noem dit " ’n uiterst vreemde rol.” ’n Aanbod deur Wolseley van ’n pos in die Uitvoerende Raad teen ’n vergoeding van £300 per jaar is deur Pretorius voorwaardelik aanvaar.
Hy wou egter eers die saak met die res van die Volkskomitee bespreek:
“... he did not like officially to accept my offer until he had spoken to his friends, for, said he, if I did so my friends would not listen to me, whereas by seeing them first, I hope to exercise some influence over them," berig Wolseley in sy dagboek oor die voorval. Hierdie bewering van Wolseley kan nie heeltemal as ’n versinsel afgemaak word nie. Dit lyk in die Gedenkskrifte van Paul Kruger dat .. hy (Pretorius) hom bereid verklaar het om ’n reis deur die land te onderneem om ’n kennisgewing van die Engelse regering voor te lees, wat die burgers sou oortuig van die verkeerdheid van hulle handelwyse.”
Dit klink byna onwaarskynlik dat die Voorsitter van die Volkskomitee op hierdie wyse sou optree. Daar moet egter onthou word dat Pretorius nie ’n besonder intelligente man van diep politieke insig was nie. Die ware leier en dryfkrag agter die bevrydingsbeweging was Paul Kruger. Pretorius se gedrag getuig van vrees of onstabiliteit. Dit is bekend dat hy gedurende die Tweede Vryheidsoorlog by die Vredeskorps aangesluit het en die Boere probeer oorreed het om hulle verset te staak. ’n Mens vind ’n verklaring dus in sy psigologiese gesteldheid.
Die arrestasie van Pretorius en Bok het die gemoedere van die Boere hoog laat loop. Piet Joubert vertel soos volg: “Dat gaf eenegzens beroering en brag byna een botzeng te weeg, ... het volk en hunne Commetee sit ewenwel niet stil.” Onder leiding van P A Cronje het 300 gewapende burgers by Mooirivier in die Potchefstroomse distrik vergader om Pretorius te gaan bevry. Dit was weer eens Kruger wat met sy gematigde optrede ’n kalmerende invloed uitgeoefen het. Na ’n lang redevoering te Naauwpoort het hy die groep oortuig om van hulle planne af te sien.
Juis op Naauwpoort het Pretorius tydens sy rondreisery om die Boere tot ander insigte te bring, vir Kruger en ’n aantal Boere aangetref. Die versoek van die Britse regering dat die burgers hulle moes onderwerp, waarna hulle selfbestuur sou kry, is met minagting van die hand gewys.
Hierna het Pretorius sy eie siening verander en die volgende dag aan Wolseley geskryf dat hy besluit het om van sy reis af te sien. Vervolgens meld hy dat die burgers so vasbeslote is om hulle onafhanklikheid terug te kry dat dit nutteloos sal wees om hulle tot ander insigte te probeer bring.
Die brief wat Pretorius aan die Boere moes voorlees, waarin aan hulle selfbestuur belowe is, het Wolseley se sogenaamde “Royal Letters Patent” van 8 November 1879 bekend gestel. Dit het op die daarstelling van ’n Uitvoerende en Wetgewende Raad neergekom waarin die Transvaalse inwoners deur slegs ’n geringe aantal benoemde lede verteenwoordig sou word.
T F Carter se siniese opmerking in 1900 oor die “Royal Letters Patent” was: “Was this the full measure of representative institutions which sir T S promised? To the Boers, one and all now, here was something obnoxious and hateful, and diametrically opposed to all their notions of representative Government.”
Wat Carter nie besef het nie, is dat die Boere in hierdie stadium geen konstitusie sou aanvaar waarin hulle onafhanklikheid nie duidelik omskryf is nie. Die oë van die Transvaalse Boere was op 6 April 1880 gerig.
Gladstone bring hoop vir onafhanklikheid: Vervolg...