Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
“Here, ek bid nie vir ‘n algehele kalmte van gees of dat my swaarkry dadelik einde sal kry nie. In hierdie wêreld sal daar altyd pyn en probleme wees. Ek bid slegs dat u Gees, u liefde en u genade my met soveel uithouvermoë sal vul, dat ek enigiets wat oor my pad mag kom, sal kan geniet of verdra”.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (19)
Paardekraal: Eensydige herstel van die onafhanklikheid
J E H Grobler en prof C M Bakkes
In die eerste week van Desember 1880 het burgers van oor die hele Transvaal met die oog op ’n volksvergadering na die plaas Paardekraal op die wapad tussen Pretoria en Potchefstroom (Krugersdorp beslaan dit vandag) opgetrek. Die Britse Administrateur van Transvaal, sir W Owen Lanyon, was van mening dat die Boere weens die kort kennisgewing meestal te perd sou moes gaan, en dat hulle gevolglik nie veel oorlogsbenodigdhede sou kon saamneem nie. Tog is talle ossewaens oppad na Paardekraal opgemerk. Dit was vir Britse spioene duidelik dat die Boere swaar bewapen was en gereed om te veg. ’n Enkele spioen het berig dat hy in Wes-Transvaal gesien het hoe die Boere voorberei vir of ’n lang reis of ’n lang verblyf in die veld, want hulle het op groot skaal biltong gemaak en beskuit gebak. Wat daardie spioen gesien het, was die laaste voorbereidings vir oorlog. Die burgers het reeds sedert 1879 ammunisie begin opgaar.
Winkeliers is in sommige gevalle gedwing om aan burgers wat nie oor die nodige permitte beskik het nie, kruit en perkussiedoppies te verkoop.
Tydens ’n Volkskomiteevergadering op Wonderfontein in Maart 1880 is formeel besluit om ’n wapenreserwe op te bou. Feitlik elke Boer het ’n perd en ’n geweer besit. Veel ander stoflike behoeftes het die Boere op kommando nie gehad nie.
In ’n koerant van die tyd is die Boer as krysman so beskryf: “Enkel met een regenjas of dunne kombaars voor op den zadel, een band met van 70 tot 100 patronen en een Westley Richards of Martini-achterlader in de hand, snelt hy vlug na de slagveld heen ... Hy is tevreden met een stuk vleesch van den os, die 10 minuten tevoren doodgeschoten is. Dit stuk vleesch, op zyn laadstok tegen het vuur gehouden of op de kolen gelegd, dient hem voor den ganschen dag; of een of meer koppen van groen mielies geven hem kracht voor het ryden van den geheelen dag. Geen beslommering van bagagetrein, enz., enz; geen tenten, geen kamp ...”
Terwyl duisende burgers by Paardekraal saamgetrek het - volgens Jorissen was daar naderhand tussen 8 000 en 10 000 byeen - het die Volkskomitee sy eerste sitting daar op 9 Desember gehad. Aangesien verskeie lede nog nie opgedaag het nie, is die werksaamhede voorlopig uitgestel. Die volgende aand, by die tweede sitting, is Lanyon se proklamasie van 6 Desember behandel en is besluit om dit direk aan die volksvergadering voor te lê. Dit is die volgende oggend gedoen. Die reaksie van die volk was ’n versoek dat die Volkskomitee die Wonderfontein-volksbesluite van 15 Desember 1879 moes uitvoer. Dit het daarop neergekom dat die Volks- komitee versoek is om af te tree sodat die eertydse regering van 1877 as regering herstel kon word. Die Komiteelede het na diepe beraadslaging dieselfde middag besluit om die volksversoek te gehoorsaam en te ont- bind. Dieselfde aand nog is briewe vir die byeenroeping van ’n buitengewone Volksraadsitting op Maandag 13 Desember aan die lede van die 1877-Volksraad gestuur.
Die Sondag tussen die Volkskomitee se sittings op 9 tot 11 Desember en die Volksraadvergadering wat vir 13 Desember bepaal is, is deur die burgers as rusdag benut. Die enigste aktiwiteit was ’n erediens, gelei deur ds N J van Warmelo van Heidelberg, waarby feitlik die hele volksvergadering teenwoordig was. Van Warmelo was die enigste predikant wat saam met die volk na Paardekraal opgeruk het. Hy het die geleentheid gebruik om die burgers tot geesdrif vir hul saak, maar ook terselfdertyd tot berusting in die Goddelike wil op te roep. Volgens Jorissen het hy op daardie dag die volk op hul knieë gebring “in een volkomen vertrouwen op de Voorzienigheid.”
Die Volksraad het op Maandagoggend, 13 Desember, die eerste keer sedert 1877 vergader. In die afwesigheid van pres T F Burgers het Paul Kruger, wat tot met die anneksasie in 1877 vise-president van die Zuid- Afrikaansche Republiek was, die openingsrede gevoer. Soos die groot Kerkhervormer Martin Luther, het Kruger geglo dat hy ’n instrument in die hand van God was: dat hy in opdrag van God die volk moes lei.
Daarvan getuig sy eerste treffende woorde: “Ik sta hier voor uw aangezigt, geroepen door het Volk: In de Stem van het Volk heb ik gehoord de Stem van God, den Koning der Volken, en ik gehoorzaam ..."
Kruger het voorgestel dat, ten einde die volksbesluit om die regering te herstel uit te voer, die bestuur voorlopig aan ’n driemanskap opgedra moes word. Die Volksraad het ingestem en Kruger self, oudpresident M W Pretorius en P J Joubert is as lede van die Driemanskap gekies. Voorts is J P Mare tot lid van die Uitvoerende Raad, wat die Driemanskap, die Staatsekretaris (W E Bok) en die Staatsprokureur (E J P Jorissen) ingesluit het, verkies. Daarop het die Volksraad se buitengewone sitting verdaag.
Die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek was herstel. Dit het nie beteken dat die Republiek self herstel was nie. Die Britse gesagvoerders was steeds in Pretoria. Oorlog tussen daardie gesagvoerders en die herstelde Republiek was, na die mening van die Driemanskap, geensins ’n noodwendige gevolg van hul optrede nie. Daar is dus nie onmiddellik op oorlogsmaatreëls besluit nie.
Die aand ná die Buitengewone Volksraadsitting het daar ’n gesamentlike vergadering van die Uitvoerende Raad en ’n Volksraadskommissie plaasgevind. Daardie vergadering het besluit dat ’n proklamasie opgestel moes word; “die breedvoerig de goede regten van de Republiek uiteenzet, van af de Conventie van Zandrivier, de annexatie, de protesten, en eindelijk de laatste proclamatie van 6 Desember van Sir Owen Lanyon.”
Jorissen en Bok het onmiddellik die besluit uitgevoer en na drie uur was die sogenaamde Eerste Proklamasie opgestel. Die gesamentlike vergadering van vroeër die aand het die Proklamasie met enkele wysigings goedgekeur en daarop verdaag om informeel oor die publikasie daarvan te besin. Om 09h00 die volgende oggend, 14 Desember, is besluit om dit onder die bewaking van ’n sterk patrollie na die drukker J P Borrius op Potchefstroom te stuur, waar dit dan gedruk kon word. Die patrollie moes nie aanvallenderwys optree nie, maar moes toesien dat die Proklamasie gedruk word, of die Britte by Potchefstroom dit vreedsaam sou toelaat of nie. Kmdt Piet Cronjé is in bevel van die patrollie geplaas.
Een van die treffendste volksoptredes tydens die vergadering by Paardekraal het plaasgevind nadat die besluit finaal geneem is om die Republiek in ere te herstel. ’n Groot skare burgers het rondom die vlagpaal, waaraan die Vierkleur gewapper het, gestaan. Piet Joubert het ’n beroep gedoen op elke burger wat die Republiek herstel wou sien om ’n klip aan te dra en langs die vlagpaal neer te sit. Die groot klipstapel wat gevorm is, moes dien as gedenkteken van die stilswyende verbond wat die burgers, deur die klippe wat hulle daarop geplaas het, in die naam van God met mekaar gesluit het om die onafhanklikheid te herstel, “tot bewijs, dat men aan elkander trouw gezworen had om te vechten tot den dood toe.”
’n Ander belangrike volksaktiwiteit by Paardekraal was die verkiesing van krygsoffisiere. Kommandante en veldkornette vir die distrikte Makwassie, Schoonspruit, Mooirivier en Marico is op 10 Desember gekies, en die Boerevoorman, Piet Cronjé, is as kommandant oor hulle almal saam aangestel. Piet Joubert is op 13 Desember formeel deur die burgers tot kommandant-generaal verkies, en vanaf daardie aand is die titel die eerste keer voor sy naam gebruik. As kommandant-generaal het hy van die reg gebruik gemaak om onder die krygswet wat ingevolge die Eerste Proklamasie oor die hele land afgekondig is, assistent-generaals en assistent-kommandante vir spesifieke take te benoem. So is die militêre organisasie van die Boere op die vooraand van die Eerste Vryheidsoorlog in werking gestel.
Die laaste belangrike Uitvoerende Raadsbesluit wat by Paardekraal geneem is, was dat die volksvergadering op 15 Desember sou ontbind en dat die laer, soos die burgers op kommando genoem is, na ’n vaste punt sou vertrek om die Vierkleur daar te hys en dit die tydelike setel van die regering te maak. Die vaste punt waarop besluit is, was die dorpie Heidelberg op die wapad tussen Pretoria en Standerton. Dit kon maklik beset word, want daar was geen Britse garnisoen nie.
Om ’n moontlike Britse troepebeweging uit Pretoria teen Heidelberg in die kiem te smoor, is daar op die dag van die ontbinding van die volksvergadering aan veldkt D J E Erasmus opdrag gegee om met 200 man in die rigting van Pretoria te beweeg.
Om ongeveer 16h30 die middag van 16 Desember het ’n Boeredeputasie, gevolg deur 800 ruiters ’n halfuur later, Heidelberg te perd binnegery.
Die landdros was op daardie stadium in die distrik met ’n hofsaak besig, met die gevolg dat die landdrosklerk, D C Nabal, die Boere te woord moes staan. Die Driemanskap het in die naam van die Zuid-Afrikaansche Republiek die sleutels van die landdroskantoor opgeëis. Nabal het geweier om dit te oorhandig. Aangesien hy besef het dat weerstand nutteloos sou wees, het hy egter die sleutels in die deur gesteek en verklaar dat wie ook al die deur sou oopsluit, dit op eie verantwoordelikheid doen. Die Boere het daarop die kantoor beset. Teen sononder is die Vierkleur onder groot gejuig gehys. ’n Proklamasie waarvolgens verklaar is dat die Republiek herstel is, is voorgelees. Die Boere het niemand skade of kwaad aangedoen nie. Wagte is uitgeplaas. Die telegraafkantoor is beset, maar aan Nabal se sorg toevertrou, omdat hy onderneem het om in belang van die dorpsmense sy werk as posmeester voort te sit. Hy het berigte oor al hierdie gebeure na Pretoria gestuur.
Op die dag van die Boerebesetting van Heidelberg het die eerste skote van die Eerste Vryheidsoorlog op Potchefstroom geklap. Kmdt Piet Cronjé, vergesel van ’n kommando van 400 perderuiters, het gedurende die middag van 14 Desember vanaf Paardekraal na Potchefstroom vertrek.
Hy het vroeg die volgende middag sy bestemming bereik en is reguit na Borrius se drukkery, waar hy opdrag gegee het dat afdrukke van die Eerste Proklamasie gemaak moes word. Burgers is aangesê om die drukkery te bewaak en die drukwerk het spoedig ’n aanvang geneem. Cronjé het ’n nota van die Driemanskap aan Lanyon se spesiale kommissaris, maj M Clarke, van Paardekraal af na Potchefstroom saamgeneem, waarin Clarke ingelig is oor die heroprigting van die Zuid-Afrikaansche Republiek en meegedeel is dat die Republiek ’n belangrike dokument wou laat druk. Clarke is gevra om laasgenoemde toe te laat, omdat publikasie van die dokument bloedvergieting kon verhoed. Cronjé het nie daardie nota aan Clarke oorhandig nie, omrede daar, volgens hom, geen geleentheid was om dit te doen nie. Hy het skynbaar nie moeite gedoen om ’n geleentheid te skep nie. Clarke, aan die ander kant, het dit sy plig geag om ’n nota aan die drukkery te stuur waarin Borrius gewaarsku is om nie ondermynende of onwettige stukke te publiseer nie. Cronjé se enigste reaksie op die waarskuwing was om die Boerewag by die drukpers te vergroot. Die voorbereidings om die Eerste Proklamasie te druk, het voortgegaan.
Daar was op daardie stadium altesame 213 Britse soldate onder bevel van lt-kol R W C Winsloe in Potchefstroom aanwesig. Hulle was in ’n fort gestasioneer, sowat 300 meter wes van die dorp. Clarke het reeds voor die verskyning van Cronjé se kommando nuus uit Paardekraal ontvang en op ’n potensiële konfliksituasie begin voorbereidings tref. Hy het Winsloe by die fort gaan waarsku, waarop een afdeling soldate na die landdroskantoor in die dorp self en ’n tweede afdeling na die tronkgebou tussen die fort en die dorp gestuur is. Voorts het Clarke ’n openbare kennisgewing uitgevaardig dat, sou dit gebeur dat die Boere skiet of ’n aanval op die Britse troepe loods, dit met kanon- en geweervuur beantwoord sou word. Die Boere het na hul aankoms op Potchefstroom opgemerk dat die Britte besig was om die fort, die landdroskantoor en die Algemene Boerewinkel in ’n staat van verdediging te bring.
Die werksaamhede by die drukkery was teen die oggend van 16 Desember nog nie afgehandel nie, met die gevolg dat Boerewagte steeds uitgeplaas was om te verseker dat dit vreedsaam kon voortgaan. Een van die wagoffisiere was waarnemende kmdt J F (Frans) Robbertse van die wyk Swartruggens, distrik Rustenburg. Hy het deur die loop van die oggend beurtelings sy wagposte besoek. Na ’n besoek aan ’n wagpos op die westelike dorpsrand het hy, vergesel van vyf burgers, om ongeveer 9h00 te perd suidwaarts langs die dorp afgery. Dit was in ’n rigting wat hom naby die Britse fort verby sou voer.
’n Deel van die garnisoen was op daardie stadium buite die fort – onder andere Winsloe wat ’n entjie daarvandaan ontbyt genuttig het. Winsloe het Robbertse se nadering as uittarting beskou en agtien berede troepe onder luit Lindsell gestuur om hom weg te keer. Die Britte se reaksie het Robbertse laat wegdraai, tussen die fort en die tronk deur en ooswaarts in Wolmaransstraat af. Terwyl die Boere die dorp inbeweeg het, is skote op hulle geskiet - die eerste skote van die Eerste Vryheidsoorlog. Robbertse was die enigste ongeval. Hy is in sy regterelmboog gewond.
Terwyl die Britte op hul perde na die fort teruggalop het, het twee of drie burgers hul kommandant na die plaaslike dokter gehelp sodat hy verpleeg kon word, terwyl die res vir Cronjé oor die skietery gaan inlig het.
Sowel die Boere as die Britte het van meet af ontken dat dit een van hulle was wat die eerste skoot afgetrek het, en die ander kant daarvan beskuldig. Verskeie skrywers het in die verlede op grond van die een of ander verklaring positief beweer dat die een party eerste geskiet het. Bellairs, Nixon, Carter en Little beweer dit was ’n aantal Boere wat agter ’n muur langs die straat geskuil het wat dit gedoen het. Van Coller, Cachet, Leyds, Kotze en Le Roux beweer dit was die Britte. Skrywers soos Van Dam, Lehmann, Ransford en Brinton weier om in die polemiek betrokke te raak.
Dit is nie vir die historikus moontlik om met absolute sekerheid te verklaar dat die of daardie die eerste skoot gevuur het nie. Daar bestaan nie voldoende getuienis vir ’n beslissende uitspraak nie. Wat wel duidelik is, is dat albei kante gretig was om die sneller te trek, want die eerste skoot is binne ’n paar uur opgevolg deur ’n algemene skietery, wat op sy beurt weer oor die hele Transvaal uitgekring het tot ’n stryd tussen Boer en Brit.
Die Boere het hulself, soos aangetoon is, in ’n mate op ’n oorlog voorberei. Hoe goed was hulle in werklikheid vir ’n lang wapenstryd teen een van die magtigste leërs in die destydse wêreld voorberei? Wat was die Boere se militêre posisie op die vooraand van die stryd?
Aangesien daar nie lyste van dienspligtige burgers opgestel is nie, kan daar nie presies bepaal word hoeveel Boerekrygers vir die stryd beskikbaar was nie. Die historikus is op skattings van die tyd aangewese om tot ’n antwoord te kom. In hierdie verband is die opgawe van kmdt-genl Piet Joubert, wat bereken het dat daar minstens 7 078 Boere onder wapen kon wees - mense wat nie burgers was nie, maar by die Boeremagte aangesluit het, uitgeslote - seker die betroubaarste. Paul Kruger se skatting van ongeveer 7 000 man klop daarmee. Ingevolge die Transvaalse Wet voor den Krijgsdienst van 1876 was elke burger in die ouderdomsgroep 16-60 jaar oud krygspligtig, hoewel die veronderstelling was dat meestal net die burgers tussen 18 en 50 opgeroep sou word. Volgens Britse berekening was daar in 1880 naastenby 34 000 Transvaalse Afrikaners. Dit is onwaarskynlik dat veel meer as 7 000 van daardie mense mans van tussen 16 en 60 jaar oud was. Skrywer hiervan aanvaar op grond van bogenoemde dat die potensiële Transvaalse krygsmag uit ongeveer 7 000 burgers bestaan het.
Daardie 7 000 Boerekrygers was nie soldate nie. Hulle het geen paradewerk of geweerdril gedoen om hulleself vir ’n oorlog paraat te kry nie.
Hulle het geen uniforms gedra nie, maar was gekleed in hul gewone plaasdrag. Al wat hulle na krygsmanne laat lyk het, was die bandoliers oor hul skouers. Dieselfde geld vir hul offisiere.
Die gebruik om offisiere uit eie midde te kies, soos wat by Paardekraal gedoen is, was ’n swakheid in die Boere se militêre stelsel. Die burgers was nie altyd gehoorsaam aan die persoon wat hulle gekies het nie. Hulle moes geloof hê in die saak waarvoor hulle moes veg, en vertroue in die persone onder wie hulle geveg het, voordat hulle hul beste sou lewer. Swak dissipline was die grootste probleem waarmee die burgeroffisiere gekonfronteer is.
’n Tweede swakheid van die Boere as krygers was dat hulle altyd weggeskram het van swaar ongevalle. Hul onwil om verliese te ly, was omrede van hul beperkte mannekragbronne. Feitlik die hele volk was tydens die Eerste Vryheidsoorlog onder die wapen. Daar was nie troepeversterkings wat gemobiliseer kon word om die geledere na swaar verliese aan te vul nie. Die burgeroffisiere moes poog om sukses te behaal sonder te veel ongevalle.
Daarom het hulle nooit bajonette gebruik nie. Vir ’n nasie van skerpskutters, soos die Transvaalse Afrikaners, sou dit sinloos wees om bajonette te gebruik, want dit het swaar verliese geïmpliseer. Dit was ook vir die burgers verkieslik om in ’n hopelose situasie eerder op die vlug te slaan as om in ’n heroïese verdedigingspoging die lewe te laat. ’n Oorledene se vrou en kinders sou waarskynlik sorgbehoewendes en armlastiges word.
Daarom was vlug vir die burgers, anders as vir die Britse soldate, geen skande nie. Van die konvensies van beskaafde oorlogvoering het hulle nie veel geweet nie. Die hoofdoel was om die vyand die grootste moontlike skade te berokken en self so min as moontlik verliese te Iy.
’n Belangrike deel van die Boerekrygsman se toerusting was sy perd.
Die burgers het ’n groot voordeel bo die Britte gehad wat perde betref, en dit was dat eersgenoemde se perde geleer was om nie weg te hardloop wanneer daar geskiet is nie. Dit was dus nie nodig dat ’n onmisbare aantal burgers altyd aan die vuurlinie onttrek moes word om perde vas te hou nie.
Die burgers se vernaamste wapens was hulle gewere. Met die enkelskoot-agterlaaiers wat destyds gebruik is, kon hulle tot 12 rondtes per minuut vuur. Hulle het normaalweg in verspreide orde posisie ingeneem en nie in sarsies gevuur, soos die Europese infanteriste van destyds se gebruik was nie, maar as skerpskutters elkeen op sy eie tyd geskiet.
Wanneer ’n vyandelike posisie aangeval moes word, het die voorste burgers met hul gewere inbeweeg terwyl die ander burgers op ’n lang afstand dekkingsvuur verskaf het. Daardie dekkingsvuur was gewoonlik so akkuraat dat die verdedigers dit nie kon waag om na vore te tree om die aanvallers af te slaan nie. Anders as die Britse soldate, het die Boere feitlik altyd korrel gevat voordat hulle geskiet het. By baie burgers is die beginsel dat elke skoot moes tel, omdat ammunisie skaars en duur was, van kleins af ingeprent. Hul kennis van die veld, omdat hulle daagliks daaroorheen beweeg het en omdat baie van hulle jagters was, het hulle in staat gestel om afstand akkuraat te skat. Daarby het hulle geweet hoe om hulself in die veld feitlik onsigbaar vir ’n menslike oog te maak. Kamoeflering was vir hulle iets natuurliks.
Wat kanonne betref, het die Boere met die uitbreek van die oorlog slegs oor enkele stukke beskik. Die grootste deel van die republikeinse staatsartillerie het met die anneksasie van 1877 sonder slag of stoot in Britse hande geval. Slegs die volgende ouderwetse stukke het in Boerebesit gebly en is gedurende die oorlog wat gevolg het, gebruik: ’n koperkanonloop wat oorspronklik aan A W J Pretorius behoort het in die Lydenburg-distrik bewaar is; die Voortrekkerkanon “Ou Griet” wat op Potchefstroom begrawe was; twee skeepskanonne - ’n 6-ponder en ’n 4-ponder - wat uit Fort Dahl naby Marabastad afkomstig was.
Gedurende die oorlog het Marthinus Nicolaas Ras, ’n burger van die Rustenburg-distrik wat bekend was vir sy smidswinkel op die plaas Bokfontein, uit wabandyster twee kanonne vervaardig. Dit was die totaal van die veldstukke waaroor die Boere beskik het, en waarvoor daar in die meeste gevalle nie voldoende ammunisie was nie.
Vervolg..