Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Speel jy die lotto? Of doen jy besigheid op Sondae? Of dalk bly jy sommer saam met iemand sonder om God se seën in 'n huwelik te verkry het; of glo jy dat homoseksuele geregverdig voor ons HERE staan? Dalk dink jy dat aborsie nie verkeerd is nie? Die 'deugniete' in jou land wat al hierdie sondes gewettig het en wat jou hierdie afgode laat aanbid moet met die swaard doodgeslaan word, sê God, sodat jy weer sy Gebooie sal hou en Hom dien en Hy sy toorn van jou en jou volk sal wil afwend – Deut 13.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (23)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Beleëring van die Brits garnisoene (2)
J E H Grobler
Op Standerton,60 op die hoofweg tussen Newcastle, Wakkerstroom en Pretoria, is die nuus oor die herstel van die Suid-Afrikaanse Republiek op 19 Desember ontvang. Op daardie stadium was daar een kompanie van die 94th Regiment in die dorp gestasioneer. Twee dae later het nog twee kompanies van dieselfde regiment en een kompanie van die 58th Regiment in Standerton opgedaag. Kapt George Froom het as senior offisier die bevel oor al die troepe op hom geneem. Hy kon geen kontak met Pretoria maak nie en het geen instruksies gehad waarvolgens hy moes optree nie. Gevolglik het hy op eie inisiatief die dorp begin verskans en vrywilligers begin werf.
Maj W E Montague het op 24 Desember uit Pietermaritzburg in Standerton aangekom om as bevelvoerende offisier by Froom oor te neem.
Die totale garnisoen het uit agt offisiere en sowat 370 man bestaan. Die soldate was in ’n verskanste gebou, later Fort Alice genoem, wat op ’n hoogtetjie sowat 1,6 kilometer suidwes van die dorp gelee was, gehuisves.
’n Paar honderd meter suid daarvandaan het die Vaalrivier ’n natuurlike verdedigingslinie gevorm. Montague het die verskansing van die hele dorp voortgesit en al die weerbare inwoners gedwing om as vrywilligers by die Britte aan te sluit.
Op Kersdag 1880 het kmdt-genl Piet Joubert op Heidelberg gehoor dat die Britte begin het om Standerton te verskans. Dit het hom haastig gemaak om met ’n groot mag in daardie rigting te beweeg.
Op 27 Desember het die Boerekommando van 800 man uit die tydelike hoofstad na die Natal-grens vertrek. Twee dae later was hulle by Standerton en is besluit om die Britse garnisoen se verdediging te toets. ’n Skermutseling het gevolg waarvan die uitslag onbeslis was. Aangesien Joubert haastig was om Natal te bereik, het hy nie langer by Standerton vertoef nie. Hy het 100 burgers onder kmdt Lombaard daar gelaat met die opdrag om die dorp te beleer. Ten einde die Britte doeltreffend te bespied, het Lombaard sy burgers drie posisies laat inneem: een groep suid van die Vaalrivier agter ’n lae, plat heuwel, die tweede noordwes van die dorp agter Standerskop en die derde oos van die dorp. Hy was nooit van plan om die Britse garnisoen te laat bestorm nie, want dit sou te veel menselewens eis. Die beleërders en die beleërdes het vanaf 29 Desember 88 dae lank onverpoos op mekaar geskiet. Die afstande was so groot dat feitlik geen skade aangerig is nie. Aan Boerekant was die enigste ongeval een burger wat gewond is, terwyl daar aan Britse kant vyf gesneuweldes en nege gewondes was. Die Britse verliese was deels te wyte aan skermutselinge wat Montague met die Boere uitgelok het, waartydens sy soldate op kort afstand aan die burgers se vuur blootgestel is.
Die laaste skote van die beleg is op 11 Maart geskiet. Dit was die dag waarop die nuus oor die wapenstilstandooreenkoms wat op 7 Maart by die Drakensberge gesluit is, daardie dorp bereik het. Twee weke later is die amptelike berig oor die vredesooreenkoms aan Montague oorhandig, waarop die beleg tot ’n einde gekom het. Die beleërdes kon hul verskansings verlaat en die beleërders se taak van dag en nag in weer, wind en koue verkenningsposte beman, was verby.
Wakkerstroom was die naam van ’n distrik in Suidoos-Transvaal waarvan die landdrossetel amptelik as Marthinus Wesselstroom bekend gestaan het. Die dorp het egter mettertyd die distrik se naam oorgeneem. Dit was geleë in ’n vallei omring deur berge. Die klein militêre klipfort het sowat 1,6 kilometer buite die dorp op ’n heuwel gestaan. Dit is op 16 Desember 1880 deur twee kompanies (sowat 120 man) van die 58th Regiment onder kapt H M Saunders beman. Teen 24 Desember, toe dit uit verskillende berigte vir Saunders duidelik was dat sy garnisoen gekonfronteer sou word, is voorbereidings met die oog op die verdediging van die dorp getref. Vrywilligers is gewerf en soldate is uit die fort gestuur om saam met hulle die landdroshof te beset en te verskans. Dieselfde lot het die kerkgebou te beurt geval.
’n Boerekommando onder kmdt Van Staden het teen die einde van 1880 daartoe oorgegaan om Wakkerstroom in te sluit. Klompies-klompies burgers het plaashuise in die omgewing, waarvan sommige deur hul eienaars verlaat is, beset. Kmdt-genl Piet Joubert het vroeg in die nuwe jaar daar besoek afgelê en persoonlik die klipfort op ’n afstand van 400 meter bespied. Dit het vir hom so sterk gelyk en die Britte so deeglik verskans, dat hy besef het dat die Boere die Britte nie sonder ’n goeie kanon daar sou kon uitskiet nie. Hy het dit dus nie raadsaam geag om die garnisoen aan te val nie.
Heelwat skermutselinge het by die fort plaasgevind. Die Boere het gewoonlik die hoogtes noord en oos daarvan, vanwaar hulle hoër as die verdedigingskanse was, beset en van daar af op die garnisoen gevuur.
Voorts het die Boere elke nou en dan strooptogte onderneem in pogings om perde, muile, beeste of skape uit die dorp te buit. Dit het gewoonlik met ’n oor-en-weer skietery gepaard gegaan. Die enigste noemenswaardige skermutseling het op 22 Februarie plaasgevind. Die Boere het onder bevel van N Vermaak en A Laast gestaan en het geen verliese gely nie.
Aan Britse kant is twee soldate vroeg in die skermutseling gewond.
Manskap Osborne het sonder aarseling oor ’n afstand van tussen 200 en 300 meter onder swaar vuur te perd uitgery en sy een gewonde makker in veiligheid gebring. Sy dapper optrede is ná die oorlog met die toekenning van die gesogte Victoria Cross beloon.
Die beleërdes by Wakkerstroom het op 3 Maart van die Britse nederlaag by Majuba gehoor. ’n Week later het die wapenstilstand daar van krag geword, en op 24 Maart was die beleg verby met die koms van die amptelike vredeskennisgewing. Kapt Saunders het hom na genl Wood se mening tydens die beleg so goed van sy taak gekwyt dat hy vir bevordering aanbeveel is. Die ongevalle van sowel die beleërdes as die beleërders was minimaal.
Uit die individuele bespreking van elk van die belegte word die indruk tuisgebring dat elk ’n epiese episode in eie reg was. Elk het gepaard gegaan met heldedade, met tragedies, met opofferinge en met ondernemingsgees. Die Boere het, getrou aan die aard van hul militêre taktiek, nooit probeer om een van die garnisoene stormenderhand te verower nie, en die Britte het nooit probeer om die las van beleëring af te skud nie.
Hoewel sowat een derde van die potensiële Boeremag by die beleërings betrokke was en hul hoofmag by die Drakensberge noodwendig kleiner was as wat wenslik geag is, het die beleëring van die garnisoene ’n belangrike rol in die verloop van die oorlog gespeel. Dit het naamlik die Britse hoofmag in Natal gedwing om telkens tot die offensief oor te gaan, en so tot die ondergang van daardie hoofmag by Laingsnek, Schuinshoogte en Majuba bygedra. Daardie veldslae word vervolgens behandel.
Die Britse terugslag by Laingsnek: vervolg...