Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Een van die wonderlikste ervarings in gelowiges se lewe is dat hulle in tye van beproewing deur ʼn God van liefde vasgehou word. Christus het nie gekom om ons leed weg te neem nie, maar om ons lewe met sy Teenwoordigheid te vul.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (24)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Britse terugslag by Laingsnek
J E H Grobler
Die aanloop tot die slag van Laingsnek
Kmdt-genl Piet Joubert het reeds tydens die volksvergadering by Paardekraal besef dat ’n wapenstryd tussen Boer en Brit ophande was. Daarom het hy toe reeds reëlings getref om te voorkom dat Britse troepe uit Natal Transvaal sonder weerstand sou kon binnekom deur ’n waarnemende kommandant oor die grensgebied aan te stel. Die verwagte wapenstryd het enkele dae later gevolg. Joubert se voorsorg teen ’n Britse inval vanuit Natal in Transvaal was ook geensins ongegrond nie. Dit was daardie poging om Transvaal binne te dring wat tot die veldslae by Laingsnek, by Schuinshoogte en by Majuba gelei het. Daardie drie veldslae word in hierdie en die volgende aflewerings behandel.
Die Britse leëraanvoerder in Natal en Transvaal en Goewerneur van Suidoos-Suid-Afrika, genl-maj sir George Pomeroy Colley, was om redes wat aanstons bespreek sal word, nie in staat om voor die einde van Januarie 1881 tot die offensief oor te gaan nie.
Die gevolg was dat Joubert tyd gegun is om ’n kommando byeen te bring en self na die Drakensberge te vertrek, en daar persoonlik die bevel oor die strategies uiters belangrike posisie by Laingsnek oor te neem. Boerepatrollies is reeds teen Oujaar 1880 op die Natalse grens opgemerk, en wagposte is naby Laingsnek en Wakkerstroom in stand gehou, maar Piet Joubert het eers op 27 Desember met ’n mag van 800 perderuiters uit die tydelike hoofstad, Heidelberg, na die Natalse front opgeruk. Hoewel die geesdrif vir die komende stryd volgens Christiaan de Wet, die latere hoofkommandant maar toe gewone burger, soos ’n onblusbare vuur gebrand het, het die kommando maar stadig gevorder. Op 29 Desember was hulle by Standerton, waar die kommando in ’n onbesliste skermutseling met die Britse troepe wat in daardie dorpie beleër is, betrokke geraak het. Vier dae later het hulle op die plaas van twee handelaars, die gebroeders Meek, bokant Laingsnek afgesaal. Dit was langs die kortste wapad tussen Newcastle en Transvaal, en aangesien Joubert vermoed het dat die Britse mag die kortste pad sou volg, het hy sy kamp in daardie omgewing, net binne die Transvaalse grens, laat opslaan. Gerugte het Joubert bereik dat die Britte nie na Transvaal sou opruk voordat hulle 2 000 tot 3 000 man in Newcastle saamgetrek het nie.
As voorsorg teen ’n verrassingsbeweging deur die Britte is daar egter elke aand ’n brandwag van 25 man na die Laingsnekpas, binne Natalse gebied, gestuur. Van daar af kon hulle op helder dae ver in die Britse kolonie in sien. Alhoewel die Boerekommando by die Drakensberge in die loop van Januarie telkens deur die aankoms van burgers uit verskillende dele van Transvaal versterk is, het die kommandant-generaal in talle briewe teenoor vise-pres Kruger gekla dat hy te min manskappe gehad het.
Kruger het geantwoord dat as daar, soos Joubert op 31 Januarie berig het, op die Drakensberge en rondom Wakkerstroom en Standerton slegs altesame 1 000 burgers was, dit beteken het dat daar mense was wat vanaf Heidelberg na Joubert gestuur is en wat langs die pad weggedraai of gedros het. Minder burgers het inderdaad opgedaag as wat gekommandeer is, en daar het gevalle van drostery voorgekom.
Die kommando het dit ook wat patrone betref nie breed gehad nie. Boonop is tydens swaar reën vanaf 24 Januarie talle van die patrone wat hulle gehad het, beskadig. Hulle het ook nie oor patroonvorms beskik om self patrone te vervaardig nie en 100 000 patrone wat Kruger uit Heidelberg belowe het, het nie gou opgedaag nie. Die gevolg was dat Joubert op die vooraand van die eerste geveg op 28 Januarie geen reserwepatrone gehad het om uit te deel nie. Elke Boer was aangewese op die hoeveelheid patrone wat hy persoonlik by hom gedra het. Elke burger het naastenby oor 75 patrone beskik. Joubert het geen ammunisie uit die Oranje-Vrystaat ontvang nie.
Terwyl kmdt-genl Piet Joubert sy Boerekommando bo Laingsnek vir die naderende stryd voorberei het, het genl-maj Colley aan Britse kant geen gras onder sy voete laat groei nie. Hy was in die Natalse hoofstad Pietermaritzburg toe hy die eerste nuus in verband met die besluite wat tydens die volksvergadering by Paardekraal geneem is, ontvang het. Die inhoud daarvan het hom genoop om te beveel dat ses kompanies infanterie, vier kanonne en berede infanteriste gereed gehou moes word om binne enkele ure na Transvaal op te ruk. Op 19 Desember is die gerugte oor die Boereoptrede finaal bevestig en het Colley die Koloniale Kantoor in Londen in kennis gestel dat hy na Transvaal moes vertrek.
Hoewel Colley optimisties was dat sy troepe teen 20 Januarie 1881 by Standerton saamgetrek kon wees, was hy militêr gesproke bekommerd oor twee Britse troepekolonne wat in Transvaal aan’t verskuif was, naamlik Anstruther se kolonne tussen Lydenburg en Pretoria en die troepe van die 58th Regiment tussen Wakkerstroom en Pretoria. Hy het die 58th Regiment onmiddellik beveel om by Standerton te halt en die dorpie te help verdedig. Anstruther was egter buite bereik van ’n telegraafdraad deur middel waarvan hy aangejaag kon word. Colley het gevrees dat die Boere hom sou aanval (soos gebeur het) en dat dit die Britse militêre posisie in Transvaal ’n knou kon gee.
Op 24 Desember het die eerste verslae oor die geveg by Bronkhorstspruit Pietermaritzburg bereik. Dit het onder die Britse troepe daar ’n onmiddellike wraakvoorneme laat posvat, ’n houding wat Colley glad nie aangestaan het nie. Hy het ’n algemene bevel laat uitreik waarin hy gepoog het om die wraakvoornemens te bekamp. In daardie bevel is voorts die vertroue uitgespreek dat die eer van die Britse mag wel herstel sou kon word. Onderteken deur Generaal sir George Pomeroy Colley.
Hoewel Colley dus, volgens sy biograaf Butler, die Boere wou gaan straf omdat hulle dit gewaag het om op die Britse troepe te skiet, het hy nie uitgesien na die naderende veldtog nie. Hy was inderdaad bitter ongelukkig oor die verloop wat sake geneem het. Hy het wel gevoel dat daar geen twyfel oor die finale uitslag van die oorlog kon bestaan nie – dat die Boere ’n hopelose stryd aangepak het - maar hy was bang dat die gevegte tot buite Transvaal kon uitkring, en het pres Brand van die Oranje-Vrystaat versoek om hom te help om dit te voorkom. Hy was tereg seker dat Brand ook alles in sy vermoë sou doen om ’n algemene Suider-Afrikaanse stryd tussen Hollandssprekendes en Engelssprekendes te help voorkom, maar gerugte van aktiewe Vrystaatse steun vir die Transvaalse Boere het hom erg bekommerd gestem.
Colley was van plan om in Newcastle by sy troepemag aan te sluit sodra dié gereed was om as ontsettingskolonne na Transvaal te beweeg. Intussen is kol B M Deane as bevelvoerende offisier van die ontsettingskolonne, die Natal Field Force, na Newcastle gestuur om in bevel van die vorming van daardie kolonne te gaan staan. Deane het op 30 Desember op Newcastle aangekom. Terwyl alle beskikbare imperiale troepe in Natal na Newcastle gestuur is, is daar in Brittanje en in Indië reëlings getref om versterkings na Natal uit te stuur. Teen 28 Desember het ’n infanterie-regiment Gibraltar reeds op pad na Natal verlaat en twee dae later was daar ’n kavallerieregiment en ’n artilleriebattery uit Brittanje sowel as versterkings uit Indië na Suider-Afrika onderweg. Colley het beplan om die versterkings uit Gibraltar en Brittanje aan die Kaap te laat ontskeep van waar hulle oor Griekwaland-Wes na Transvaal gestuur kon word. Die War Office het egter onbevestigde berigte ontvang dat Boere-ondersteuners in die Kaap van plan was om die spoorlyne daar die lug in te blaas eerder as om toe te laat dat dit deur imperiale troepe teen die Boere gebruik word. Dit het Colley se plan die nekslag toegedien.
Sir George Strahan, die Kaapse Goewerneur, het in oorleg met die senior Britse offisier in die Kaap die mening uitgespreek dat dit militêr geregverdig was, maar dat die Kaapse Afrikaners ernstige beswaar daarteen sou hê. Sprigg, die Kaapse premier, se mening was dat dit nie gedoen moes word nie, behalwe as daar geen ander uitweg oop was nie.
Onder die eerste versterkings wat Colley van buite Natal bereik het, was ’n afdeling vlootsoldate wat, bo en behalwe hul normale wapentuig, ook oor Gatling-gewere en vuurpyle beskik het, en op 6 Januarie in Durban ontskeep is. Hulle het so spoedig moontlik gevolg in die spore van die troepe wat reeds na Newcastle op pad was. Daardie troepe het gesukkel om oor die weg te kom. Dit was die warmste deel van die somer, en wanneer die son nie geskyn het nie, het dit gereën. Die riviere wat oorgesteek moes word, was meesal aan ’t afkom, en dit het die pas vertraag.
Daarby was die paaie swak - buite die dorpe was dit niks meer as blote spore oor die veld nie. Dit was vol gate en die reën het dit modderig gemaak. Die Britse transportreëlings was buitendien ook nie goed gedoen nie: die muile was swak, die harnasse verrot, en die swartmense wat as drywers gehuur is, onbetroubaar.
Colley het geweet dat daar sedert vroeg Januarie ’n Boerekommando onder Piet Joubert op die grens tussen Transvaal en Natal bokant Laingsnek was. Terwyl hy sy bes gedoen het om die indruk te skep dat hy geensins ongemaklik oor die Boere se opstand was nie, het hy moeite gedoen om perde en muile bymekaar te kry en deeglik beplan aan die aanstuur van versterkings en mediese voorrade. Toe sy voorbereidings sover moontlik afgehandel was, het hy op 10 Januarie self na Newcastle vertrek om daar oor die troepekonsentrasie te gaan toesig hou. Hy het die volgende dag sy bestemming bereik en dadelik opgemerk dat kol. Deane deeglike voorbereidings vir die komende veldtog getref het. Gedurende die volgende paar dae het die laaste troepe wat Newcastle in Januarie sou bereik, daar aangekom, en teen 20 Januarie het Colley oor die volgende mag beskik: 1146 infanteriste, 191 kavalleriste, 6 kanonne, 3 vuurpylbuise en 2 Gatlings.
Hierdie mag van Colley was ’n sameflansing van vegsmanne eerder as ’n homogene militêre eenheid. Dit het elemente van die 58th Regiment, 21st Regiment, 60th Regiment, 94th Regiment, Royal Artillery, King’s Dragoon Guards, Army Service Corps, Natal Mounted Police en vlootsoldate bevat. Colley self het dit genoem “as queer a mixture as was ever brought together, I think.” Die Natallers het nie verwag dat hy met so ’n klein mag teen die Boere sou optrek nie. Tog het hy besluit om met die veldtog te begin, want hy was bekommerd oor die moontlike behandeling wat Britse troepe by die beleërde garnisoene in Transvaal, wat gedwing kon word om oor te gee, sou ontvang. Hy wou hulle dus so gou moontlik gaan ontset. Veral Potchefstroom was na Colley se mening in ’n treurige toestand. Die Britte daar het skaars genoeg voedsel vir ’n maand gehad, het hy gereken.
Geen belangrike versterkings kon Newcastle voor die helfte van Februarie bereik nie en ’n opmars na Potchefstroom sou dan nog 20 dae duur. Teen daardie tyd sou alles verlore wees. Hy moes dus so gou moontlik opruk om die garnisoen te gaan ontset. Daar moet onthou word dat, indien Potchefstroom sou moes oorgee sonder dat hy probeer het om die garnisoen daar te gaan ontset, hy vir die oorgawe geblameer kon word; hy wat met meer as ’n duisend troepe onder hom nie kans gesien het om sy pad tussen ’n klomp ruwe plaasboere deur oop te veg nie.
Die Natal Field Force het Newcastle op 24 Januarie verlaat en tot ’n paar kilometer buite die dorp gevorder voordat vir die nag gehalt moes word. Die volgende dag is deur die vallei van die Imbazanerivier gevorder.
Groepies Boere is opgemerk. Die opmars is op 26 Januarie voortgesit en hoewel Boerepatrollies soms sigbaar was, het hulle nie die opmars probeer opponeer nie. Die lang konvooi het deur die vallei van die Ingogorivier getrek en die waens is, nadat hulle met ’n feitlik onbegaanbare wapad langs die bult noord van die rivier bestyg het, sowat 1600 meter regs vandie pad en ongeveer ses kilometer onderkant Laingsnekpas in ’n laer getrek. Dit is bo-op ’n rantrif gedoen, ’n rantrif wat die Boere Kokshoogte en die Britte Mount Prospect genoem het. Colley wou die Boereposisies op Laingsnek die volgende oggend, 27 Januarie, aanval, maar swaar reën en digte mis het ’n voortsetting van sy opmars onmoontlik gemaak. Die aanval is dus tot die volgende dag uitgestel.
Finale Britse voorbereidings – vervolg...