Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om die waarde van die anker te besef, moet ons eers die storm ervaar.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (26)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Die geveg by Schuinshoogte
J E H Grobler
1. Die Britse posisie ná Laingsnek
Die Britse mag by Mount Prospect het direk na afloop van die mislukte aanval op Laingsnek uit slegs 1 100 soldate bestaan. Daar was dus geen sprake van ’n onmiddellike hervatting van die veldtog nie. Tog het diebevelvoerende generaal, sir George Pomeroy Colley, nie na Newcastleteruggekeer nie, maar Mount Prospect, en dus ook ’n lang kommunikasielyn, behou. Die Boere was nie geleerde taktici nie, maar geen militêre genie was nodig om in te sien dat daardie kommunikasielyn verbreek kon word nie. As hy na Newcastle teruggetrek het eerder as om daardie verbindingsroete van 20 kilometer in stand te hou, sou Colley nie aan die Boere die geleentheid gebied het om sy lewenslagaar af te sny nie. ’n Terugtog sou beteken het dat die omstandighede wat tot die geveg by Schuinshoogte gelei het, nie sou ontstaan het nie. Colley se besluit om nie na Newcastle terug te trek nie, was dus indirek vir daardie geveg verantwoordelik.
Voor dit bespreek word, moet eers aan die Britse en Boereposisies tussen die twee gevegte aandag gegee word.
Colley het sy kamp direk ná sy terugslag by Laingsnek verdedigend ingerig. Op 1 Februarie is die hele kamp na ’n gesonder plek op Mount Prospect verplaas, en twee dae later was daardie nuwe kamp in telegrafiese verbinding met Newcastle. Die Britse Minister van Oorlog het intussen vir Colley nog meer versterkings as die wat reeds op pad was, aangebied. Colley moes net sê of hy een of twee regimente wou hê of nie. Sy antwoord was dat die versterkings wat op pad was na sy mening genoeg was. Die eerste groep versterkings - ’n infanteriebataljon, ’n kavallerie-regiment en ’n artilleriebattery - het reeds op 25 Januarie uit Indië in Durban aangekom. Twee volle infanterieregimente, waarvan een die 92nd (Gordon Highlander) Regiment was, het vier dae later gearriveer. Veralvan die Highlanders (of Bergskotte, soos die Boere hulle genoem het), wat kort tevore ’n prominente rol in die veldtog in Afganistan gespeel het, is baie verwag.
Nog skepe met versterkings het spoedig opgedaag.Nie net regimente is as hulp vir Colley uitgestuur nie, maar ook bekwame offisiere soos eerstens brig-genl sir Evelyn Wood, die veteraan van die Anglo-Zoeloe-oorlog van 1879. Wood was in senioriteit bo Colley op die Britse offisierslys, maar het ingestem om as sy tweede-in-bevel tedien. Ander prominente offisiere wat spesiaal uitgestuur is, was maj Barrow, kol Redvers Buller en lt-kol Herbert Stewart. Colley het bereken dat die versterkings ho binne sowat twee weke kon bereik en dat Wood twee weke later sou volg. Ongure weer het egter die opmars van die versterkings vertraag.
2. Die Boereposisie ná Laingsnek
Kmdt-genl Piet Joubert se sukses teen die Britse magte by Laingsnek het hom nie met groot optimisme oor die Boere se posisie aan die Natalse front gevul nie. Hy het besef dat die Britte bloot teruggetrek het maar nie verslaan is nie. Daarom het hy onmiddellik ná die geveg, en in talle briewe daarna, vise-pres Kruger gesmeek om met ’n klomp burgers na die front te kom om hom van hulp en raad te bedien, veral omdat Kruger ’n groot kennis van krygsake gehad het. Ook aan Piet Cronje by Potchefstroom is direk geskryf dat hy soveel burgers as moontlik as versterkings moes aanstuur.
Aan die begin van Februarie het Joubert deur middel van spioene wat tot naby Newcastle deurgedring het, berig ontvang dat ’n groot aantal troepe as versterking vir Colley in Pietermaritzburg aangekom het. Joubert het sy krygsoffisiere bymekaargeroep en in oorleg met hulle is ’n plan uitgewerk om die opkomende Britte te belet om hulle met Colley te verenig. Die uitvloeisel daarvan was dat ’n patrollie van 205 man onder veggeneraal Nicolaas Smit om 18h00 op Saterdagmiddag, 5 Februarie, die Boerekamp verlaat het om die Britse versterkings te gaan stuit. Geheimhouding van hul ekspedisie het dit aanvanklik gebiedend noodsaaklik gemaak om net in die nag te beweeg, en die patrollie het noodgedwonge stadig gevorder.
Smit en sy patrollie was op Sondag, 6 Februarie, op Vrystaatse grondgebied, waar simpatieke Vrystaters by hulle aangesluit het. Die burgers het hulleself die nag in ’n kloof in die Drakensberge versteek en die volgende oggend steeds daar skuilgehou. Teen die middag het ’n twintigtal van Smit se manne by twee geleenthede die Britse verbindingslyn tussen Mount Prospect en Newcastle lastig geval. Dit het begin toe ’n ossewa met proviand wat na Colley op pad was, bespeur is. Planne is dadelik gemaak om dit te buit toe die Boere onverwags op Schuinshoogte op ’n agttal Britse posryers, wat almal berede was, afgekom het. Die posryers was, met ’n paar berede infanteriste as geleide, na Newcastle op pad, maar het kortom gespring en op hul beter perde weggejaag, terug na Mount Prospect. Die Boere het tevergeefs probeer om hulle te vang en hulle toe maar op die proviandwa toegespits. Dit was hoofsaaklik vol drank gelaai. Die grootste deel daarvan is oor die grond laat uitloop en slegs ’n paar bottels Franse brandewyn is vir die toekomstige behandeling van gewondes gehou.
3. Die reakie op Smit se patrolie
Colley het spodig berig ontvang van wat gebeur. Die posryers het vertel dat tussen 50 en 100 Boere hulle voorgekeer het. Diesellfde aand nog het die Colley ook gehoor van sy proviandwa wat gebuit is, en Smit se patrollie wat daarop uit was om sy kommunikasieroete te ondermyn en waens en ander goedere tussen hom en Newcastle te buit. Hy het onmiddellik besluit om deur middel van ’n magsdemonstrasie met ’n sterk kolonne sy verbindingsroete bo alle twyfel van Boere te suiwer. In ’n brief aan sy vrou het Colley sy optrede so verdedig: “I was bound not to submit to be blockaded without an effort to open the road, otherwise fifty men might blockade an army, and having no sufficient cavalry force - my cruel want in these last few days - could only move as I did with a fairly strong infantry and artillery force.”
Hoewel die verbinding nie ernstig bedreig was nie en die telegraaf nog gewerk het, was die saak vir Colley so ernstig dat hy die patrollie persoonlik vergesel het. Dit is te betwyfel of hy, soos in destydse koerante beweer is, besluit het om persoonlik saam te gaan in die hoop dat ’n geveg met die Boere afgedwing sou word, want opdrag is gegee dat middagete vir die patrollie om 15h30 by Mount Prospect gereed moes wees. Daar is ook nie ’n waterkar of rantsoene saamgeneem nie. Boonop het luit Bruce Hamilton, Colley se aide-de-camp, drie dae na die geveg geskryf dat hulle geensins op ’n geveg voorbedag was nie. Die Britse generaal wou bloot deur ’n magsdemonstrasie toesien dat die pos tot ten minste halfpad na Newcastle sonder probleme vorder, en dan terugkeer met ’n konvooi wat hy uit Newcastle verwag het. Dit was ’n helder, onbetrokke dag en die Britse troepe se moreel was hoog.
Die Britse patrollie het uit sowat 400 man bestaan. Dit was saamgestel uit 280 infanteriste van die 60th Rifles, 38 berede troepe en vier kanonne met hul bemanning. Mount Prospect is tussen 8h00 en 9h00 verlaat.
Hamilton beweer dat die Britte, toe hulle sowat drie kilometer suid van Mount Prospect was, ’n paar Boere ver weg op hul linkerflank gesien het. Daardie Boere was waarskynlik Smit se verkenners. Smit se patrollie het die vorige nag onder die Drankensberge langs die Ingogorivier deurgebring. Die oggend het hulle daar vertoef tot hul verkenners berig het dat daar ’n groot klomp Britte met kanonne van Mount Prospect suidwaarts op pad was. Die burgers is dadelik beveel om op te saal en na Schuinshoogte te beweeg om die vyand daar in te wag.
Terwyl die Boere na Schuinshoogte beweeg het, het die Britse kolonne by die Ingogorivier aangekom, waar die eienaar van ’n klein hotelletjie daar vertel het dat daar die vorige dag Boere was, maar dat hy die oggend nog geen teken van die vyand gesien het nie. Colley het daarop besluit om ’n kompanie van die 60th Rifles en twee kanonne op ’n prominente heuwel bo die rivier te laat stelling inneem. Van daar af het hulle ’n goeie uitsig oor sowel die drif en die pad na Mount Prospect, as oor ’n voetpad ooswaarts die berge in, gehad. Dit was om ongeveer 9h30. Die res van die patrollie het die dubbele drif oor die Ingogorivier en ’n sytak daarvan met gemak deurgewaad, want die water was skaars kuithoogte.
4. Die begin van die geveg
Na ’n kort halt is die berede troepe deur verkenners vergesel padlangs verder suidwaarts deur ’n breë vallei en teen Schuinshoogte uit, ’n heuwel sowat drie kilometer van die rivier af waarteen die pad uitgekronkel het.
Die infanteriste, met die kanonne in die agterhoede, het in skermutselorde gevolg. Terwyl die Britse verkenners teen Schuinshoogte opgery het, het hulle ’n aantal berede Boere op ’n ander heuwel, sowat ’n kilometer regs van die pad opgemerk. Die Boere het ’n paar skote op die Britte gevuur, waarop die berede soldate vinnig na die voetsoldate teruggekeer het. Laasgenoemde het Schuinshoogte sonder weerstand bereik en dit al om die rand van die noordekant af begin beset. Daarop is die kanonne na die middel van die heuwel gesleep.
Van bo-op Schuinshoogte af was sowat 200 berede Boere duidelik sigbaar. Hulle was op ’n heuwel wes van die pad, deur ’n laagte van die skerp rand van Schuinshoogte geskei. Die Boere was besig om in die laagte in te beweeg. Genl Smit se verkenners het kort tevore aan hom berig dat daar sowat 300 tot 400 Britte met twee kanonne was. Smit het besluit om aan te val. Oor sy motiewe, wat nie direk opgeteken is nie, kan slegs gespekuleer word. Weilbach en Du Plessis stel die saak so: “Kans om te retireren was er genoeg; maar de eenmaal eendragtig geworden burgers van die Z A Republiek gaven hem het moedig woord in den mond om nader bij de kanonnen te stormen en zoo scherp mogelijk op die kanonniers en paarden te schieten.”
Terwyl die Britse infanteriste posisies rondom die kruinrand van Schuinshoogte beset het, en die kanonniers hul twee veldstukke slagvaardig gekry het, is die burgers beveel om uit te sprei en op die vyand af te jaag. Dit was naastenby op die middaguur. Die stormjaag is onverskrokke uitgevoer en die verspreiding het vanself geskied, omrede sommige Boerperde so flou was dat hulle skaars kon galop, met die gevolg dat die hele vlakte spoedig vol burgers was. Die kanonniers het met hul vuurmonde op die aanstormende Boere losgetrek, maar oor hulle geskiet. Volgens die Boere was die enigste uitwerking van die kanonvuur dat dit hul perde aangespoor het om vinniger te hardloop.
Aan die voet van Schuinshoogte het die burgers van hul perde afgespring en te voet boontoe geklim. Na gelang die agterste burgers opgedaag het, het hulle al om die heuwel versprei. So is ’n dubbele omvleueling uitgevoer. Elke Boer het hom in sy aantog deur die beskikbare dekking, hetsy rotse of lang tamboekiegras, laat lei. Daar was feitlik geen taktiese beheer van die kant van die Boere-offisiere nie. ’n Linie van individuele skerpskutters is gevorm. Die Britse infanterie het vervaard, maar wild en sonder merkbare sukses, op daardie linie geskiet.
Met die Boere se onverskrokke stormloop het hulle die inisiatief in die geveg wat gevolg het verkry, en hulle het dit dwarsdeur die dag behou.
Hulle het getoon dat hulle bereid was om die Britte aan te val sonder dat hulle noodwendig oor ’n getalsoorwig beskik het. Alhoewel die vyand twee kanonne gehad het, het die Boere op hul eie vermoë vertrou om die kanonniers deur akkurate kleingeweervuur buite aksie te stel.
5. Die stryd op die kruin
Die heuwelkruin was ovaal van vorm en plat, met die middelpunt skaars hoër as die rande. Die totale oppervlakte was minder as ’n halwe vierkante kilometer. Die Britse infanterie was al om die rand van die plat heuwelkruin versprei. Die een kanon was aan die noordoostekant en die ander een aan die suidwestekant. Die berede troepe was in die middel. Die Boere het van tussen gras en klippe uit so akkuraat moontlik op al wat Britwas, en veral dié by die kanonne, gevuur. Die oomblik nadat ’n kanon afgevuur is, het die Boere opgespring en op die bedieners geskiet. Die burgers was so naby dat die kanonniers selfs met skroot op hulle gevuur het, maar sonder veel sukses, want na ’n kwessie van minute was 14 van die 25 kanonniers in die Britse kolonne dood of gewond. Infanteriste moes gebruik word om met die bediening te help. Die kanonperde is telkens getref en verwarring is geskep deur gekweste perde wat verskrik tussen die soldate rondgalop het, talle van hulle omgestamp en op die gesneuweldes en gewondes getrap het.
Colley het ná die geveg geskryf dat sy gebrek aan ’n doeltreffende berede mag hom duur te staan gekom het. Hy het die ruiters in sy kolonne vroeg in die geveg beveel om deur middel van ’n stormloop die Boere teen die noordelike rand van Schuinshoogte te gaan verdryf. Die offisiere het die ruiters oor die kruinrand gelei, maar voor hulle kon begin storm, was sowat die helfte van hulle perde reeds platgeskiet, waarop hulle na die kruin teruggeval het.
Die bewese swakheid van sy kavallerie het dit vir Colley onmoontlik gemaak om na Mount Prospect terug te val. Hy het dus besluit om Schuinshoogte tot die aand te behou, en gehoop dat die Boere so veel verliese sou ly dat dit hulle veglus sou demp. Dan wou hy die inisiatief oorneem.
Na sowat ’n uur in die geveg was die Britte so ver teruggedryf dat die Boere die grootste deel van die heuwelrand in besit gehad het. Hulle het toe ook gebruik kon maak van die dekking van klippe wat oor die hele kruin versprei gelê het. Weilbach en Du Plessis se pittige opmerking daaroor lui: “Eerst hadden de onzen die klippen aan de eene zijde blaauw van het lood geschoten, toen de vijand daar achter zat, en nu moesten de stomme klipsteenen weer aan de andere zijde door den vijand met lood betakeld worden.”
Aan die westekant het die burgers ’n posisie beset van waar hulle op ’n lang afstand op elke Brit wat op die heuwelkruin beweeg het, kon skiet. Colley het besef dat dit sy posisie onhoudbaar kon maak en het opdrag gegee dat ’n kompanie gestuur moes word om daardie Boere te stuit. ’n Kompanie het uitbeweeg en inderdaad die burgers teruggedryf, maar ’n swaar prys is in die proses betaal, want hulle het te ver beweeg. Die offisiere is doodgeskiet en die soldate is die res van die middag deur Boerevuur vasgepen en het swaar verliese gely.
Nieteenstaande hul beheer oor die geveg op die kruin van Schuinshoogte, kon die burgers nie daarin slaag om die vyand heeltemal te omsingel nie. Die rede was dat diegene wat dit aan die noordekant van die heuwel gewaag het, vanaf die noordekant van die Ingogorivier onder skoot gekom het. Daar sal onthou word dat Colley ’n kompanie van die 60th Rifles met twee bergkanonne op ’n heuwel noord van die Ingogorivier laat stelling inneem het. Elemente van die 58th Regiment het later by hulle aangesluit.
Teen 15h00 het hulle opgemerk dat enkele Boere besig was om tussen hulle en die vegtendes op Schuinshoogte in te beweeg. Die Boere was sowat drie kilometer van hulle af, maar hulle het met die bergkanonne en gewere op hulle losgetrek. Daarop het die Boere die wyk geneem.
Op die suidwestelike front het ’n aantal burgers sowat 100 meter van die Britse kanon af agter ’n hoop klippe wat as baken gedien het, stelling ingeneem en die kanonniers onder skoot geneem. Colley het onmiddellik opdrag gegee dat die kanon ingetrek moes word, ’n Klomp Britte het die Boere tydelik agter die klipstapel weggedryf, die kanon teruggeskuif en weer heftig op die Boere gevuur. Die kanon-ammunisie het egter mettertyd begin skaars raak, waarop die kanonniers hulle begin toelê het op aankomende Boereversterkings wat van ver af sigbaar was.
Die hewigheid waarmee die Boere aan die begin van die geveg op die Britte gevuur het, het na sowat twee uur begin afneem. Soldate wat hulself blootgestel het, het steeds onmiddellike vuur ontlok, en aangesien geen enkele plek op die hele heuwelkruin veilige skuiling verskaf het nie, het Boerekoeëls deurentyd ’n groot verlies onder die Britte veroorsaak, maar oor die algemeen het die Boere minder en minder geskiet - as gevolg van ’n tekort aan ammunisie en waarskynlik ook weens fisieke uitputting. Dit was ’n warm dag en daar was geen luggie om die kruitdamp te verdryf nie. Water was aan weerskante skaars, en dors het aan Boer en Brit geknaag.
Terwyl die geveg gedurende die middag die vorm van ’n oor-en-weer skietery na spesifieke teikens aan weerskante aangeneem het, is daar deur albei kante allerhande planne beproef om die ander te uitoorlê. ’n Voorbeeld van ’n Boereplan wat suksesvol was, was die volgende: ’n Hoed is versigtig agter ’n klip uitgesteek om ’n skoot van die oorkant af uit te lok. Wie ook al die skoot geskiet het, het sy posisie deur die kruitrokie verraai. Die hoed is dan weer uitgesteek, en wanneer ’n Britse helmhoed op die verraaide plek verskyn het, het ’n koeël daar geklap. Die Britte het dieselfde taktiek toegepas. Die feit dat hulle teen die horisonlyn gelê het, terwyl die Boere vaal gras agter hulle gehad het, het waarskynlik in die Boere se guns getel.
Britse ooggetuies het ná die geveg aangeteken dat die Boere dapper geveg het. Hulle het ook baie akkuraat geskiet: ná die geveg is ’n helmhoed met vyf koeëlgate op die slagveld opgetel. Die burgers het tydens die geveg vir hulself lae skuilings van klip gepak waardeur hulle hul geweerlope gesteek en dan geskiet het. Andere het onder die dekking van die rantjies in die omgewing gebly. Die Boere se vermoë om die effense dekking wat die natuur bied ten beste te benut, is dus hier duidelik bewys.
Ook die Britte het dapper geveg. Een van die Boeredeelnemers aan die geveg, P C Joubert, het in sy herinneringe gemeld: “Die vyand het hom met onverskrokke dapperheid verweer en van agter die klippe uit het hulle net so netjies en met ervaring en oorleg geskiet as wat die Boere ooit kon begeer om te doen.”
Volgens Britse bronne het daar tydens die geveg tot soveel as 800 of 1 000 Boere by die vegtende burgers aangesluit. Die werklike getal Boere wat as versterkings opgedaag het, was waarskynlik egter kleiner as 100.
Die enigste moontlike bron van versterkings was die Boerekampe op Laingsnek. Piet Joubert het, toe die eerste tekens van die geveg opgemerk is, 50 man van daar na genl Smit uitgestuur. Voorts is nege waens met benodigdhede om die gewondes te versorg, rondom die Majuba- en Nkwelo-berge na Schuinshoogte gestuur. Eers teen sononder het Joubert besluit om Smit met 200 man te hulp te snel. Hy het egter net tot by die voet van Majuba gevorder, en die nag daar deurgebring. Die burgers wat wel gedurende die geveg as versterkings by Schuinshoogte opgedaag het, het vanaf sowat ’n uur voor sononder begin opdaag.
Marling beweer dat die Boere om ongeveer 17h40 ’n wit vlag gehys het, waarop die Britse beuels dadelik die staakvuur geblaas het. Die Boere het toe van die kans gebruik gemaak om nader aan die Britte te beweeg. Aan Boerekant het genl Smit die oggend na die geveg oor daardie voorval geskryf: “De Engelschen ... Bliezen den Beugel tot staking van Vuur. Wy verstonden dat op het oogenblik niet en onze Burgers vuurden des te harder ..."
Carter, ’n Britse joernalis wat teenwoordig was, skryf dat dit Boere aan die westekant was wat ’n wit vlag gehys het, waarop die Britse beuels dadelik die staakvuur geblaas het. Binne twee of drie minute het al die Britte opgehou skiet, en so ook die Boere aan die westekant. Van die oostekant af het die burgers egter aangehou skiet, waarop Colley beveel het dat die geveg hervat moes word. Dit wil voorkom asof die Boere aan die een kant nie geweet het wat die aan die ander kant gedoen het nie.
6. Die laaste fase van die geveg
Ná die lang, warm Dinsdag van 8 Februarie 1881 het onweerswolke teen die laatmiddag begin opsteek, en kort na 17h00 het dit skielik gietend begin reën. Dit het ’n skielike einde aan die geveg help meebring. Die algemene skietery het eers met die koms van die donker, om en by 19hl5 opgehou. Selfs ná donker het enkele Boere nog, wanneer weerlig die slagveld verlig het, skote in die rigting van die Britte afgevuur. Die duisternis en swaar reën, en ook oorvermoeidheid het egter die Boere gedwing om hulle aanval te staak.
Om te voorkom dat die burgers in die donker op mekaar sou skiet, het genl Smit sy manne beveel om ’n entjie terug te trek om die volgende oggend die stryd te hervat.
Direk na die skietery opgehou het, het die Britte in alle erns gepoog om hulle dooies en gewondes te versamel. Alle waterdigte seile, komberse en groot jasse is gebruik om die gewondes so gemaklik moontlik in te rig. Dit was aandoenlik om te hoor hoe die gewondes om water en kos gesmeek het. Daar was geen kos en ook nie water nie, want daar is geen waterkar op die patrollie saamgeneem nie, en die inhoud van die flesse wat saamgedra is, is vroeër reeds deur die eerste gewondes gebruik. Die swaar reënbui van die laatmiddag en aand was maar ’n skrale lafenis, en na donker het die steeds vallende reën ’n skielike koue veroorsaak wat die gewondes se lyding vererger het.
Nadat die meeste gewondes op ’n sentrale plek op die slagveld byeengebring is, het Colley sy soldate opdrag gegee om weer hul posisies op die heuwelrand in te neem in afwagting van ’n hervatting van die geveg die volgende oggend. Die kanonne is na die middel van die slagveld gesleep en voorsorg is getref om dit te verniel eerder as om dit in bruikbare toestand in die Boere se hande te laat val.
Teen 21h00 het Colley egter besluit om na Mount Prospect terug te beweeg. Hy self het die volgende redes vir sy besluit genoem: Eerstens die feit dat hy nie voorbereid was op ’n nag in die veld nie; tweedens dat dit duidelik was dat die Boere die geveg die volgende dag met ’n groot getalsoorwig wou voortsit; en derdens dat hy bang was dat die Boere die kanonne in die hande sou kry. Daarby kan gevoeg word die moontlikheid van ’n Boere-aanval op Mount Prospect wat, solank Colley by Schuinshoogte was, feitlik onbeskermd gelaat was en ook die gevaar dat die aanhoudende reën die riviere so sou laat afkom dat ’n latere onttrekking nie uitgevoer sou kon word nie.
7. Die Britse onttrekking
Die bevel om in die middel van die kruin van Schuinshoogte aan te tree, is in fluistertoon onder die manskappe versprei. Die ongewonde perde is versamel en daar was slegs genoeg om twee voor elke kanon en voor een ammunisiewa in te span. Gewere en ammunisie wat nie saamgedra kon word nie, is sover moontlik gebreek en in erdvarkgate begrawe. Weens ’n gebrek aan perde kon een van die artillerie-ammunisiewaens nie saamgesleep word nie. Hierdie ammunisiewaens en saals was die belangrikste goedere wat agtergelaat is en is, soos verwag is, deur die Boere buitgemaak.
Colley se manne wat nog kon beweeg, het tussen 21h00 en 22h00 die gevegstoneel begin verlaat. Hulle was daarvan oortuig dat die Boere hul terugtog sou belemmer. Daarom is ’n blok gevorm met die kanonne in die middel en die infanteriste aan die vier sye. Geen ligte is gebruik nie.
Naby die Ingogorivier gekom, is verkenners na die drif gestuur om seker te maak of die Boere dit nie beset het nie. Na ’n uur het die verkenners berig dat daar nog vriend nog vyand by die driwwe was, maar dat die rivier kwaai aan’t afkom was. Daarop is die nagmars voortgesit.
By die dubbele drif het die Britse kolonne te staan gekom voor ’n watermassa wat weens die swaar reën byna skouerhoogte diep gestroom het. Hoewel almal aan mekaar vasgeklou het om te kon deurkom, het ses soldate wat deur die stroom meegesleur is, verdrink. En terwyl hulle deur die driwwe gesukkel het, het die Britte verwag om enige oomblik deur die Boere aangeval te word.
Die Britte was verniet bekommerd, want die Boere het nie verwag dat die vyand in swaar weer en in die stikdonker nag sou probeer om die vol Ingogorivier oor te steek nie. Dit het hulle ’n groot oorwinning gekos. Geluk het wat die weer betref vir Colley bevoordeel.
Die swaar reën en stikdonkerte het nie net uitstekende dekking verskaf nie, maar het ook meegehelp dat die Boere nie geskikte wagte uitgeplaas gehad het nie. Inderdaad kon Colley homself gelukkig ag dat die Boere nie behoorlik wag gehou het nie.
Die Britse kolonne het nadat hulle die Ingogorivier om ongeveer middernag oorgesteek het, met enkele elemente van die 58th Regiment wat uitgegaan het om Colley te gaan help, kontak gemaak. Die gevaarlikste deel van die terugtog was teen daardie tyd agter die rug, maar die moeilikste deel het voorgelê, want dit was opdraand oor die laaste paar kilometer na Mount Prospect.
Eers teen 5h00 het die kolonne die kamp begin bereik. Toe kon die Britse soldate weer eet en rus. Vir hul bevelvoerder was daar nie veel ruskans nie. Hy moes reël dat die dooies begrawe word, dat die gewondes van die slagveld verwyder word en dat boodskappe, telegramme, briewe en verslae uitgestuur word.
9. Februarie 1881
Die Boere het die nag na die geveg in groot ellende deurgebring. Hulle was deurnat en het niks gehad om hulle mee te verkwik nie. Geen vuur kon gemaak word om iets warms te ete voor te berei nie. Bewend van die koue het die burgers die koms van die dag gesit en afwag. Hulle het nie agtergekom dat die Britte terugval nie. Baie vroeg die oggend van 9 Februarie, toe genl Smit nog gemeen het dat die geveg voortgesit sou word, het hy ’n notatjie aan Piet Joubert gestuur om ammunisie te vra, “zoo veel as mogelyk van alle zoorten patronen.” Met dagbreek het daar ’n digte mis oor die vorige dag se slagveld gehang. Toe dit opgeklaar het was daar geen teken van Britse soldate sigbaar nie.
Verkenners met wit vlae is uitgestuur met terugverslae dat daar net gesneuwelde en swaar gewonde Britse soldate oor was.
Die gewonde Britse soldate het ook ’n ellendige nag deurgemaak. Verskeie van hulle het gedurende die nag gesterf - mense wat waarskynlik sou gelewe het as daar vir hulle skuiling en behandeling was. Daar was ’n dokter by hulle, maar verpleging kon eers begin toe toegeruste veldambulanse uit Mount Prospect op Schuinshoogte opgedaag het. Dit het gedurende die oggend van 9 Februarie gebeur. Colley het skriftelik van die Boere toestemming gevra om sy dooies en gewondes van die slagveld te verwyder, en die versoek is toegestaan. Terwyl die gewondes na Newcastle afgevoer is, en die lyke van gestorwe offisiere na Mount Prospect geneem is om daar begrawe te word, is die gesneuwelde soldate in massa-grafte op die slagveld ter ruste gelê.
Piet Joubert het in die loop van die oggend na die geveg op die slagveld opgedaag. Hy was deur meer as 100 burgers met 9 waens vergesel. Hulle het onmiddellik alles wat bruikbaar gelyk het, buitgemaak en op die waens gelaai; veral patrone. Hulle het ook die kanonwa wat deur die Britte agtergelaat is, gevind. Aangesien die kanonlope nêrens te vind was nie, is aanvaar dat die vyand dit in die Ingogorivier gegooi het, wat beteken het dat die Boere dit miskien nog in die hande sou kon kry. Die jong manne wat kon swem, het vervaard in die rivier na die kanonlope gesoek, maar aangesien dit gedurende die nag ná die geveg na Mount Prospect gesleep is, is daar natuurlik geen teken daarvan gevind nie.
Britse en Boereverliese by Schuinshoogte
Soos met die geveg by Laingsnek, was die Britse ongevalle by Schuinshoogte in verhouding tot die van die Boere hoog. Vier offisiere het op die slagveld gesneuwel, een het tydens die terugtog verdrink en vier is gewond, van wie een aan sy wonde beswyk het. Van die manskappe is 70 doodgeskiet, en 63 gewond. Een Brit is krygsgevange geneem. Die totale Boereverlies was agt man gesneuwel, twee as gevolg van wonde oorlede, en sewe man gewond.
Nabetragtings oor en gevolge van die geveg
In die eerste berigte oor die geveg by Schuinshoogte wat Londen bereik het, is gemeld dat Colley die Boere aangeval en verslaan het en dat laasgenoemde swaar verliese gely het. Kimberley, die Britse Koloniale Sekretaris, het spoedig besef dat dit nie so was nie, en teenoor die Minister van Oorlog die volgende mening gelug: “It won’t do for us to be continually beaten by the Boers, which seems to be what the fighting amounts to practically so far.” Butler, genl Colley se biograaf, redeneer met oortuiging dat die geveg, tegnies gesproke, ’n gelykop uitslag gehad het aangesien nog die Boere nog die Britte hul teenparty oorwin of verdryf het. Hy voeg egter by dat geen geveg meer gedoen het om die Britte te ontmoedig en die Boere te verbly as juis daardie een nie.
Wydverspreide kritiek is in die Britse pers deur radikaalliberale joernaliste op Colley se veldheerskap uitgespreek. Die fout is by Colley se oorspronklike opmars uit Newcastle gesoek. Sy hantering van die veldtog het hom egter nie net kritiek op die hals gehaal nie.
Daar is daarop gewys dat die Boere as kinders van die veld die bes opgeleide skerpskutters in die wêreld was. Voorts is verklaar dat Colley bloot ongelukkig was, maar dat die feit dat hy aggressief gebly het, hom die inisiatief laat behou het en dat hy die beste van ’n slegte saak gemaak het. Sy inisiatief het, so is geredeneer, die druk op die beleërde garnisoene verlig. Dit was inderdaad die geval.
Die Britte het tereg heftige kritiek op die Boere se hantering van die geveg gehad. ’n Klein bietjie inisiatief sou tot die oorrompeling van die Britse posisie gelei het. As hulle verkenners op die rante in die omgewing uitgeplaas gehad het, sou hulle geweet het waar die swak plekke in die Britse verdediging was. Die Britse kompanie met die twee bergkanonne op die heuwel noord van die Ingogorivier behoort hulle ten prooi te geval het. Dan kon hulle die Britte by die driwwe voorlê en Colley tot onvoorwaardelike oorgawe dwing. Hulle het egter nie die geleentheid gebruik nie, blykbaar omdat hulle nie gedink het dat die Britte die slagveld sou verlaat nie.
Soos in die geval van die geveg by Laingsnek, het die uitslag van die slag van Schuinshoogte ’n groot uitwerking op die Boere se selfvertroue gehad.
Die geveg kan, na die oordeel van die Britse krygshistorikus John Selby, as ’n kleedrepetisie vir die geveg by Majuba minder as drie weke later beskou word: 300 Britte op ’n heuweltop wat deur feitlik net soveel Boere omring is en met kleingeweervuur afgemaai is. Was dit die uitslag van die geveg by Schuinshoogte wat die Boere die moed gegee het om so dapper aan te val soos by Majuba?
Slag van Majuba – vervolg...