Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Met watter rede kan ons aanspraak maak dat God hierdie afgedwaalde Afrikanervolk hoegenaamd sal spaar en nie heeltemal sal uitwis deur die hand van ons huidige verknegters nie? Ons kan iets leer hieroor in 1 Konings 10:18: "Maar Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nié voor Baäl gekniel en elke mond wat hom nié gesoen het nie". Ons het steeds dieselfde God vandag, die God van Israel, Wie altyd dieselfde bly...
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (27)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Die Slag van Majuba
J E H Grobler en C. M. Bakkes
27 Februarie 1881
Die aanloop tot die geveg
Om Joubert die loef af te steek, kon Colley ná die geveg by Schuinshoogte een van twee weë volg: hy kon òf die Boere, wat Laingsnek steeds beset het, ontwyk deur vanaf Newcastle na regs in ’n oostelike rigting oor Utrecht met ’n syweg na Wakkerstroom op te ruk, dus agter hul rug in te beweeg, òf hy kon die gebaande weg oor Laingsnek volg en frontaal deurbreek. Die tweede uitweg het beter verbindings met sy basis by Newcastle verseker en was die kortste roete, maar het deur die mins toeganklike terrein geloop.
Op die bergketting weerskante van Laingsnek was die Boere steeds besig om hulle linie na die ooste en na Majuba in die weste uit te brei.
Uit die oorwinning wat die Boere by Laingsnek behaal het, het Colley twee verkeerde afleidings gemaak: die eerste was dat die dae van die bajonetstormloop verby is en dat troepe in besit van ’n kruin ’n beslissende voordeel geniet oor aanvallers wat hulle probeer bestorm.
Gladstone het ondertussen Evelyn Wood na Suid-Afrika gestuur om onder meer heelwat van Colley se militêre pligte oor te neem. Die Britse regering se pogings om met die Transvalers tot ’n vreedsame vergelyk te kom in plaas van hulle te verslaan, het Colley egter gefrustreer. Dit was nog meer die geval ná sy terugslae by Laingsnek en Schuinshoogte. Hy had nou sy persoonlike eer en dié van die Britse leer om te herstel.
In sy geskut was Colley diep teleurgesteld. Teen die Boere wat so vinnig en verspreid beweeg en gemaskeerde stellings kies, was sy beperkte artillerie skynbaar nutteloos. Dit sou hom beïnvloed om geen artillerie met hom teen Majuba uit te sleep nie. Colley het teen hierdie tyd reeds ’n deeglike besef van die Boere se beweeglikheid, waagmoed en skerpskutterstalent gehad. Hy was egter ewe oortuig van sy soldate se standvastigheid en stewige gevegsmoreel.
Op 17 Februarie 1881 het Colley en Wood wat ondertussen in Natal aangekom het, mekaar op Newcastle ontmoet. Twee dae later het Colley Wood op ’n lang verkenningstog in die rigting van Wakkerstroom uitgestuur met die doel om vas te stel of die Boere in besit van Laingsnek nie deur middel van so ’n omvleuelingsmars bedreig sal kan word nie.
Op 21 Februarie het Colley Wood na Pietermaritzburg gestuur om die troepe wat van Durban na Newcastle op pad was, langs die weg tot groter haas aan te spoor. Wood was vir Colley ’n verleentheid. Hoewel Colley se senior, was hy bereid om onder hom te dien.
Uit Londen het lord Kimberley aan Colley ’n telegram gestuur waarin die Britse regering die versekering van ’n bevredigende skikking aan die Boere gee, op voorwaarde dat hulle hul onderwerp en nie langer hulle gewapende verset voortsit nie.
Colley het die vredesvoorstelle van lord Kimberley aan die Boerevoormanne op skrif gestel, te wete dat al die burgers hulle wapens onverwyld moet neerlê voordat ’n koninklike kommissie ’n raamwerk vir vrede kan uitwerk. Vir die aanvaarding daarvan is die Boerevoormanne slegs 48 uur toegelaat. Colley het die brief drie dae lank oorgehou en dit eers op 24 Februarie aan genl Smit deurgestuur.
Op dié tydstip was Kruger na Rustenburg oppad. Smit het Colley onmiddellik (26 Februarie) laat weet dat nog langer uitstel nodig sou wees. Gedurende daardie nag sou Colley egter teen Majuba uitbeweeg. Dit is deur genl Joubert op 27 Februarie vertolk as ’n Britse handeling van kwade trou.
Met die “ultimatum” in sy sak het Colley aan die spits van die vars troepe in ’n kolonne van 1 800 uit Newcastle na Mount Prospect, die Britse kamp teenoor Laingsnek, en Majuba vertrek. Hy kon daarmee geen ander plan gehad het nie as om hulle vir verdere aanvalle teen Laingsnek te gebruik terwyl Wood en nog troepe in Newcastle beskikbaar sou wees vir ’n afleidingsbeweging teen die Boere as Colley Laingsnek aanval.
Op 22 Februarie 1881 het Colley kamp opgeslaan by Ingogo en daar verneem dat die Boere hulle verdedigingswerke rondom Laingsnek aansienlik versterk het. ’n Frontale aanval sou dus ’n hoë tol aan Britse lewens verg. Baie onwillig het hy toe aanvaar dat die Britse hoofbeweging liefs van Newcastle oor Wakkerstroom onderneem moes word met die troepe by Mount Prospect in ’n mindere rol as vaspenningsmag.
Colley het gevolglik op 25 Februarie die tweede bataljon van die 60ste regiment asook die meeste van die Hussare teruggestuur na Newcastle.
Met die Hooglanders het hy egter die mars na Mount Prospect voortgesit. Hulle taak was om die staande kamp te beveilig.
Terwyl hy op 23 Februarie 1881 met die pad onderweg was, is hy opnuut getref deur Majuba wat alle terreinformasies in sy omgewing oorheers het.
Besit van Majuba kon moontlik lei tot die omvleueling van die Boerestellings rondom Laingsnek van die linkerkant af om. Dit was ’n korter toegangsweg en les bes geleë op die strategiese flank van die Boereposisies.
Sukses langs daardie roete sou hom in staat stel om die Boere se terugtog makliker af te sny. Wat aanvanklik ’n vlietende gedagtevlug was, het geleidelik in Colley se gemoed begin groei tot ’n vaste besluit wat toe uitgebou is in ’n omvattende plan van optrede.
Aanvanklik het Colley die besetting van Majuba slegs moontlik geag as daar eers meer troepe uit Newcastle nader gebring word, dog namate hy nader aan Laingsnek gekom het, het hy gemerk dat die Boere se stellings en verskansings reeds besig was om na die helling van Majuba op te kruip.
Aangesien Majuba binne Natal geleë was en nie deur die Boere permanent beset was nie, het hy die besetting van die berg nie as ’n vyandelike daad van Britse kant beskou nie. En as dit gou uitgevoer word, sou dit sonder enige bloedvergieting deurgevoer kan word, het hy geredeneer. Hy het dan ook die War Office by sy aankoms by Mount Prospect laat weet dat hy nie sonder goeie rede ’n hernieude krygsoperasie teen die Boere van stapel sal stuur nie, maar het tog getelegrafeer dat hy moontlik die terrein tussen Mount Prospect en Laingsnek sal moet beset wat tot dusver nog nie deur een van die twee vegtende partye benut is nie.
Op 24 Februarie 1881 het hy die “ultimatum” na die Republikeine se hoofkwartier in die Nek gestuur en onder geleide van ’n klein eskort van Hussare tot ver in Transvaal tot agter die Boerestellings gery om die verste kant, dit wil se die noord-oostelike helling van Majuba, op ’n afstand te bekyk. Sy indruk was dat die berg van daar amper net so afgrondelik steil was as die kant van die berg teenoor Mount Prospect. Hy het tot die slotsom gekom dat as tussen 300 en 400 van sy soldate die kruin van Majuba beset, hulle hul in ’n onaantasbare posisie sou bevind wat die Boere sou verplig om Laingsnek te ontruim.
Gedurende die terugrit het Colley vas besluit om Majuba gedurende die nag van 26 en 27 Februarie te beset. Die tydsbeperking van 48 uur sou dan ook verstreke wees. Dit sou lei tot die terugtog van die Boere uit Natal en sy militêre reputasie herstel voordat die politici ’n eerlose vrede sluit.
Colley het tot die beslissing gekom sonder ewewigtige besinning. Hy het dit vir homself in eerste instansie nie uitgemaak of hy oor die logistiese vermoë beskik om hierdie operasie uit te voer nie.
Oor Colley se geestestoestand op die vooraand van die slag op Majuba is daar in die loop van tyd al wyd gespekuleer. Daar was diegene wat beweer het dat hy sy geestelike balans kwyt was (William Butler); dat hy nie meer homself was nie (Rider Haggard); dat sy gesonde oordeel versteurd geraak het as gevolg van verwytende selfkritiek en die verwyte in die korrespondensie afkomstig van sy vrou (Vuliamy) en so meer.
Ransford kom tot die slotsom dat Colley se vrees dat hy vir die res van sy lewe as gevolg van sy militêre terugslae by Laingsnek en Schuinshoogte gebrandmerk sou staan as ’n mislukking, hom teen die einde van Februarie in ’n haas ondraaglike spanningstoestand laat beland het en dat sy gevoel van verydeling hom sy geduld en gesonde oordeel gekos het.
Die Britte beset die berg
Vir die Britte in die kamp by Mount Prospect was 25 Februarie 1881 ’n rustige dag. Genl-maj sir George Pomeroy Colley het slegs vir lt-kol H Stewart vertel van sy voorneme om Majuba op die nag van 26 Februarie te bestyg, waarna hulle soos twee samesweerders die besonderhede van die beweging uitgewerk het.
Strategies gesien was die beweging bedoel om die Boere se regterflank te bedreig en hul besetting van Laingsnek onuithoudbaar te maak. Dit moes deur middel van ’n waaghalsige nagmars verwesenlik word.
Colley was bewus van ’n patrollie wat die Boere bedags op die berg uitgestel het, maar was onseker of daar snags ’n brandwag op die berg was. Om te probeer vasstel of dit die geval was, is ’n Zoeloespioen die Vrydagnag op die berg uitgestuur met die opdrag om op Saterdag, 26 Februarie, terug te rapporteer.
Op 26 Februarie het in die Britse kamp ’n opgeruimde stemming geheers. Regimentsorkeste het gespeel en die soldate het oorlogsliedjies gesing en krieket gespeel. Colley en Stewart was verdiep in ’n studie van die berg deur hulle verkykers.
Majuba, 2 000 meter bo seevlak, is ongeveer 5 km van Mount Prospect en 600 meter hoër as Mount Prospect self. Majuba (berg van die duiwe), onder die Boere bekend as Spitskop, is ’n indrukwekkende terreinformasie en troon 600 meter bokant Laingsnek uit. Die uitsig van die berg af is na die suide die Natalse heuwelveld en na die noorde die Transvaalse Hoëveld.
Gedurende die middag van 26 Februarie het die Zoeloespioen teruggerapporteer dat hy gedurende die nag geen Boere op die kruin gewaar het nie, en dat daar water op die kop is. Laatmiddag is die geheim van die voorgenome besetting ook aan maj R E Fraser toevertrou.
Kort voor 20h00, net na die aandete, is daar skielik mondelinge bevele uitgereik aan drie kompanies van die 92nd Highlanders onder bevel van maj F C Hay (180 man, 2 kompanies van die 3rd Batallion 60th Rifles onder bevel van kapt Smith (140 man); twee kompanies van die 58th Regiment onder kapt A W Morris (170 man) en ’n afdeling Naval Brigade onder bevel van kmdor F Romilly (64 matrose). Ten minste agtien bykomende offisiere sou verder die taakmag vergesel asook drie militêre dokters en vier mediese ordonnanse, dus altesame 579 man.
Daarbenewens was daar ook ’n paar swart gidse en swart baardraers. ’n Aantal Husare met twee kanonne wat saam met die hoofmag vertrek, dog weer teruggekeer het, en ’n verdere kompanie van die 3rd Batallion 60th Rifles is later agterna met reserwe-ammunisie.
Die aanvanklike Britse mag in die kamp was 4 000 man. Colley het hom in sy tent teruggetrek en ’n laaste brief aan sy vrou geskryf.
Die beuel is geblaas dat alle ligte gedoof moet word. Dit is tot in die Boerelaer gehoor. Daarmee moes die indruk bevestig word dat alles in die Britse kamp volgens die gewone daaglikse roetine verloop. Colley het na die paradeterrein gestap waar sy heterogene mag van ongeveer 600 soldate en matrose opgestel was, en die bevel oor diegene wat agterbly, oorgedra aan kol B Bond. Hoewel die gevegsdrif hoog was, was dit ‘n gevegsmag sonder ’n eenheidsgees en sonder ’n gestruktureerde bevelshierargie.
Colley het geen artillerie, Gatling-masjiengewere of vuurpylbuise teen die berg uitgesleep nie. Vir die vervoer van kanonne of die Gatling-masjiengewere was die toegangsweg te steil en onbegaanbaar, maar dit sou nie onmoontlik gewees het om vuurpylbuise en vuurpyle saam te dra nie. Colley het nietemin daarteen besluit. Sy taakmag het uitsluitlik uit infanterie bestaan, aangesien die ander twee gevegsdienswapens, die artillerie en die kavallerie, deur die terrein uitgeskakel is.
Met sy staf aan die spits van die kolonne, gelei deur twee Zoeloe-gidse, het Colley om tienuur daardie onbewolkte donkermaannag Mount Prospect verlaat. Die koers was reg wes, dwarsoor die wapad wat Newcastle met Laingsnek verbind het. Dit het gelei tot teen Nkweloberg suid van Majuba. Daarvandaan is die koers reg noord verander en daar is met die helling van Nkwelo langs gevorder in die rigting van ’n nekkie wat die twee berge verbind. Die pad, sowel as O’Neill se plaas, is vermy om kontak met Boerepatrollies sover moontlik uit te skakel.
Twee kompanies (140 man) van die 3rd Batallion 60th Rifles is onder kapteins Smith en Henley agtergelaat om die kolonne se verbinding met sy basis (Mount Prospect) te beveilig.
Die nagmars is hervat totdat ’n uitloper aan die voet van Majuba bereik is waar die kolonne ’n uur lank halt moes roep om verdwaaldes in te wag.
Honde op O’Neill se werf het begin blaf. Dit het die vermoede gewek dat hulle aanwesigheid teen die berg verraai is. ’n Kompanie (60 man) van die 92nd Highlanders onder kapt Robertson is agtergelaat om hul in te grawe en die roete verder te beveilig. Die offisiere se perde en die muile wat 20 000 reserwepatrone vervoer het, is ook agtergelaat. Die derde kompanie, 60th Rifles (70 man) wat later onder kapt Thurlow uit die kamp agternagestuur is, het hul om 03h00 by Robertson aangesluit.
Die taakmag was nou ongeveer 4 km van sy bestemming en die steil suidwestelike Majuba-hang is in alle erns aangepak nadat die agterste gedeelte van die kolonne wat agtergeraak het, weer bygekom het. Elke paar tree moes die swaar belaste soldate rus.
Op een tydstip het die gidse hul koers byster geraak en het Colley gevrees dat sy taakmag teen dagbreek nog verdwaald teen die berghelling sou rondmaal. Na ’n geskarrel in verskillende rigtings het maj Fraser wat op die voorpunt was eensklaps op die kruin uitgekom. Dit was 30h40.
Die laaste man het eers twee uur later die kruin bereik.
Na haastige verkenning is vasgestel dat daar geen Boere op die berg was nie Colley, nog redelik uitgerus danksy die ligter skoene wat hy in plaas van stewels gedra het, het sy troepe al langs die kruinrand van die bergplato versprei met ’n spasie van twaalf tree tussen elke soldaat.
Min van die soldate was ywerig genoeg om skanse te bou. Die meeste het hulle aangewese posisies van tyd tot tyd verlaat en aangestryk na die noordelike helling en verkneukeld uitgetuur oor die liggies in die laer 600 tot 700 meter onder hulle, waar die Boere besig was met hulle oggendgodsdiens. Dit was Sondag, 27 Februarie 1881. Sedert 04h00 was enkele Boere-offisiere bedrywig om afdelings van iedere kommando in klaarstaan-houding in die Boerestellings om Laingsnek uit te stel.
Colley het volle vertroue in die natuurlike sterkte van Majuba se kruin gehad en het geen opdrag aan sy troepe gegee om hul in te grawe nie. Hy het sy mense voorts in die duister gelaat oor sy verdere oogmerke. Die totale mag wat hy op die kruin saamgetrek het, het bestaan uit 359 man, van wie veertien offisiere en 345 onderoffisiere en manskappe was.
Benewens drie verslaggewers en sewe lede van die mediese korps, was daar ook ’n klompie swartmense (gidse en baardraers).
Om aan sy magte onder Majuba kennis te gee van sy besetting van die kruin, het hy ’n seinfakkel aan die suidwestekant van die berghelling van waar dit vir die Boere onsigbaar was, aan die brand laat steek.
Teen dagbreek het Colley die plato-agtige terrein van 4,03 hektaar begin verken. Dit was ’n vlak driekantige holte met die hoogste verheffing aan die noordwestelike kant en die laagste gedeelte aan die suidoostelike kant van waar ’n mens uitkyk oor Mount Prospect. Die omtrek van die kruinholte is ongeveer ’n kilometer en word gevorm deur ’n duidelike kruinrand met rotsige uitsteeksels hier en daar. Die vloer van die kruinholte is ’n rotsbestrooide grasvlakte op plekke 13 meter laer as die kruinrand. Hierdie versakte plato word gehalveer deur ’n lae verheffing wat ongeveer ewewydig loop met die noordoostelike kam van die kruin.
Hierdie maanhaarriffie wat die plato verdeel, lê tussen twee koppies wat teenoor mekaar staan. Die westelike koppie, die hoogste punt van die plato, sou die naam kry van MacDonald se koppie en die oostelike verheffing, Hay se koppie, die name van die offisiere in bevel van die troepe op hierdie terreinformasies. Die laagste en mees verskuilde deel van die holte het onmiddellik suid van die verdelingsriffie gelê. Dit was ongeveer 350 meter lank en 150 meter breed. Daarbinne het Colley sy hoofkwartier ingerig en die militêre dokters hul verbandpos ingerig. Ook is twee putte gegrawe.
Colley het agtergekom dat die suidwestelike helling waarteen hy en sy troepe uitgeklim het, die moeilikste bestygbare deel van die berg was. Dit was so begroei dat die toegangsweë aan die berg se voet onsigbaar was vir diegene wat bo van die berg af gekyk het. Daarteenoor bestaan die noordelike kruin bokant Laingsnek, wat van MacDonald se koppie geleidelik daal tot by die kam van die plato-kom, van waar dit skerp wegval na ’n groot terras wat twee-derdes teen Majuba uitlê.
Omdat sy troepe van daardie deel van Majuba se kruin af nie die stygingsweë van die Transvalers vanuit die noorde sou kon beheer nie, is 'n handjievol Skotse Highlenders gelas om hulle natuurlike dekking op die plato te verlaat en ’n kaal grasbedekte koppie en later bekend as Gordon se koppie omiddellik buitekant dié van die plato-holte te beset. Hierdie koppie was met die kruinrand verbind deur ’n ruggie van ongeveer 100 meter. Vir die beveiliging van die bergkruin was hierdie posisie ’n sleutelstelling.
Die drie Britse eenhede wat die kruin beset het, is soos volg in stellings geplaas: ’n kompanie van die 92nd Regiment (Hooglanders) het van MacDonald se koppie met die kruinrand langs tot by Gordon se koppie en verder kruinlangs tot naby Hay se koppie stellings beman. Van Hay se koppie het ’n kompanie van die 58th Regiment (Rooibaadjies) die kruinrand tot naby Sailor’s Knoll (’n losstaande hoogte langs die bergpaadjie waarlangs Colley die kruin bereik het) beman, terwyl die matrose (in blou Uniforms) die kruinrand langs die oorblywende suidelike en suidwestelike deel van die plato-kam asook Sailor’s Knoll beset het. Die twee oorblywende kompanies, een van die 92th Regiment en een van die 58th Regiment, is saam met ’n afdeling matrose in reserwe naby Colley se hoofkwartier, nie ingegrawe nie.
Hier en daar is ’n paar slordige skanse gebou. Net die matrose het ’n stewige verskansing opgerig wat uitgekyk het oor die bestygingsroete.
Colley het nadat hy die kruin beset het, geen poging aangewend om die artillerie op die berg te kry nie, blykbaar omdat hy dit onnodig geag het.
Die skemer het intussen heeltemal gewyk voor die daglig. Die soldate se gevegsdrif was hoog en ’n groepie Skotte het aandag begin trek deur kordaat met uitdagende uitroepe vir die Boere onder in die laer vuis te wys. Wat hulle geskree het, was in die laers nie hoorbaar nie, maar hul wit helms en die rooi baadjies van die soldate van die 58th Regiment was sigbaar. ’n Offisier onder hulle, luit Lucy, het selfs ’n geweerskoot op ’n niksvermoedende Boerebrandwag wat ver buite trefafstand was, gelos.
Nog meer skote het gevolg.
Ondanks die geheimhouding vooraf, was dissipline aan die verslap terwyl Colley se offisiere besig was om die eenhede bo-op die berg te skik en te reorganiseer. Colley het weliswaar gelas dat daar vir eers nie verder geskiet moet word nie. Die verrassingselement wat aanvanklik so sorgvuldig gekoester is, is op argelose wyse prysgegee.
Die Britse soldate en offisiere op die kop het verwag om weldra ’n beweging van Mount Prospect teen Laingsnek onder dekking van ’n artillerie-bombardement te sien ontwikkel. Hulle het verwag dat hulle hul vanaf Majuba by die beweging sou aansluit deur die Boere se regterflank aan te val. Dit sou die Boere verplig om hulle stellings weerskante van die nek te ontruim. Niks sodanig was vir die onmiddellike toekoms beplan nie.
Colley, wat oor die plato rondgeloop het, het aan sy offisiere gesê dat die manskappe moet uitrus voordat skanse gebou word. ’n Ligte borswering teen geweervuur is al wat hy nodig geag het. Daar is origens niks gedoen om die hange onderkant die kam van die plato te verken nie. Die beeld wat die Britse bevel van die terrein gehad het, was vaag en van die toegangsweë na die kruin het hulle niks geweet nie.
Aan die beginsel van beveiliging het Colley en sy manne ooglopend min aandag gegee. Colley het van meet af aan gesondig teen die vernaamste oorlogsbeginsel, daar sy keuse van doelwit in stryd was met die gesonde beginsels van oorlogvoering. In plaas van die vyand te velde aanvallend aan te pak en te oorrompel, het hy ’n geografiese terreinformasie beset sonder om dit in te skakel by ’n groter gekoördineerde aanval. Lui-lui het sy soldate gelê en bak in die son, salig onbewus daarvan dat kmdt-genl Piet Joubert alreeds die teenaanval gelas het.
Ondertussen was Colley, ewe onbewus daarvan dat hy reeds die inisiatief verloor het, besig om sy soldate langs die kam van die plato te besoek. Op hulle vrae het hy geantwoord dat hy slegs van hulle verlang om die kruin drie dae lank te beset.
Die Boerereaksie
Genl Joubert, wat reeds op en wakker was, was besig om ’n antwoord op pres J H Brand se vredesvoorstelle te formuleer en vir genl P A Cronje te skryf toe hy daarvan in kennis gestel is dat die Britte gedurende die nag Spitskop (Majuba) beset het. Dit word beweer dat dit sy vrou was wat die boodskap eerste aan hom oorgedra het. Sy was by hom in die laer. Die mededeling het die onthutste Joubert uit die veld geslaan, want sedert 24 Februarie was genl Frans (Held) Joubert verantwoordelik vir die bewaking van die kop en was ’n brandwagpatrollie snags op Spitskop (Majuba) uitgestel. ’n Misverstand het egter aanleiding daartoe gegee dat die patrollie die nag van 26 tot 27 Februarie nie op die helling vernag het nie.
Die onoordeelkundige skote van die kruin af asook die wit helms en rooi en blou uniforms op die kruinrand het egter geen twyfel gelaat nie, en dit was nie nodig om dit verder rugbaar te maak dat die Britte op die kop was nie.
Joubert was ’n spoedige bombardement op sy laer te wagte. Sy eerste reaksie was dat alles verlore is. Burgers wat dieselfde mening toegedaan was, het die laers begin verlaat, ingespan en met hul waens begin padgee. Van die verwagte bombardement het egter niks gekom nie en die skok het begin vervaag. Die rustige Boerelaer van vroegoggend was nietemin in rep en roer en vanaf die hoë Majuba-kruin het die Britte die wilde geskarrel met groot genoegdoening aanskou.
Terwyl party burgers hul vee begin versamel het, het andere die loopgrawe langs die nek beset. Genl Joubert het op sy perd deur die laer gery om die burgers op te roep en vrywilligers vir die bestorming van Majuba te vra toe hy afkom op genls Nicolaas Smit en Frans Joubert. Skerp woorde het tussen dié twee geval oor wie se skuld dit was dat die Britte Spitskop beset het. Genl Joubert het die rusie stopgesit en vervolg: “Daar is die Engelse op die kop; julle gaan hulle nou daar afhaal.”
Ongeveer 150 vrywilligers het hul naby die kommandant-generaal se hoofkwartier versamel.
Dit het vir Joubert duidelik geword dat die Engelse voorlopig geen knyptang-aanval met troepe vanuit die kamp en vanaf die kop in die mou gevoer het nie, en dat die soldate op Majuba oor geen artillerie beskik het nie en slegs met gewere gewapen was.
Terwyl hy veggeneraal N Smit in bevel geplaas het van die vrywilligers wat die Britte op Majuba moes aanval, het Joubert self vertrek na die stellings rondom Laingsnek om die verdediging te behartig en die burgers in gereedheid te kry vir geval die Engelse vanuit die Mount Prospect-kamp’n deurbraak langs die wapad sou probeer waag. Voorts is twee ruiter-groepe gestuur, een oppad na Newcastle om verdere Britse versterkings voor te lê en ’n ander na Majuba se westelike voet om diegene op die berg te isoleer.
Genl Smit se taktiek vir die aanval teen Majuba uit was dié van vuur en beweging, dit wil sê terwyl ’n agterste vuurlinie heeltyd agter dekkingsvuur lewer, sou ’n voorste vuurlinie vorentoe beweeg totdat hulle dekking bereik en van daar vuur lewer sodat die agterste vuurlinie weer vorentoe kan beweeg, tot by dekking van waar die ander linie weer vorentoe kan gaan.
Sy aanvalsrede het Smit afgesluit met: “As julle nie lafaards is nie, volg my.” Die krysmoreel onder veral die jong vrywilligers was hoog. Die vrywilligers is verdeel in drie stormafdelings onderskeidelik onder kmdt Joachim J Ferreira, asst-vk Stephanus J Roos en asst-vk D J K Malan.
Ferreira wat bekommerd was dat die Engelse kanonne op Majuba sal ontplooi, was haastig, en was saam met Roos te perd eerste aan die noordelike voet van Majuba. Hulle is ’n rukkie later gevolg deur Malan, vergesel van Stephanus Trichard. Genl Smit was ook op pad. Hulle is die terrasvormige hang van die berg uit sover as wat dit met perde moontlik was en toe is hulle te voet hoër op.
Ander burgers, meestal ouer manne, het Smit ’n kordon rondom die voet van Majuba laat vorm om van daar oorhoofse vuursteun teen die kruinrand waaragter die Britse soldate hulle skuilgehou het, te lewer.
Die losse bestoking van die kruin wat kort na 06h00 begin het, was hewig genoeg om die soldate bo-op te verplig om agter dekking te skuil. Smit het egter alles in werking gestel om vuuroorwig op die slagveld te bewerkstellig. Ná ’n uur was die bestoking algemeen en was die vrywilligers besig om metodies en behoedsaam, heeltyd beskut deur blinde gebied, teen die helling uit te vorder. Dit sou vyf uur duur voordat hulle binne stormafstand van die vyand op die plato sou aankom.
Aanvanklik het die stormgroepe die noorder-helling bestyg, beskut deur ’n beboste klofie wat eindig aan die voet van ’n terras, die eerste hooftrap na die kruin.
Roos, met twaalf man, het eerste aangekom en later ook Ferreira. Hier is ’n rukkie gerus en water gedrink. Toe die getal tot ongeveer 80 aangegroei het, is hulle in twee groepe verdeel en die perde is agtergelaat. Daar is in skermutsel-orde versprei en die helling van die tweede hooftrap wat in kleiner terrasse verdeel is, is bestyg. Ferreira en sy groep sou Gordon se koppie vir hulle rekening neem en om hierdie koppie by die noordwestelike hang van Majuba probeer uitkom.
Roos sou met sy mense-reg teen die noordelike helling uitklim.68 Terwyl die vuur-en-beweging-taktiek binne elke groep toegepas is, sou hierdie twee stormgroepe mekaar oor en weer probeer losskiet, veral gedurende die laaste fase van die geveg. Malan en Trichard het na links beweeg en teen die oostelike helling na die kruin geklim.
Met die bestorming van bergvestings was die Boere as gevolg van talle grensoorloë goed vertroud en kris-kras het Roos en Ferreira se manne in groepies, met een voet altoos op die grond, van dekking tot dekking berguit beweeg, terwyl die een klompie ’n ander groep se vordering voortdurend met dekkingsvuur beskerm, en die Gordon Highlanders en die 58th Regiment bokant hulle neutraliseer en verplig om koppe en lywe skuil te hou.
Elke stukkie blinde aarde en skuiling wat die terrein gebied het, is benut; dog dit het nie verhinder dat Roos se groep ’n verlies van ses gewondes en een gesneuwelde gely het nie. Die probleem om sekuur bergaf te skiet, het verhinder dat die Britte die Boere nog groter verliese berokken.
Die tweede trap, waaruit die voet van Gordon se koppie groei, is bereik, en terwyl dekkingsvuur gelewer is van agter die buiterand van hierdie terras, het Roos se voorste vuurlinie hulle gereed gemaak om vinnig oor die terras te storm na die blinde terrein aan die voet van die kruinrand wat die laaste helling was tot op die plato waar Colley se taakmag gelê het.74
Ondertussen was die derde stormgroep onder Malan en Trichard besig om die berg van die noordoostekant in die omgewing van Hay se koppie te bestyg. Hier was die hang baie steil en van tyd tot tyd was hulle ondervuur van die 92nd Regiment en die 58th Regiment. Dit was ondertussen duidelik dat daar geen ondersteuning vir die Engelse op die berg van die kant van Mount Prospect aan die ontwikkel was nie, en meer burgers het hul by die kordon en by die stormgroepe aangesluit.
Die laaste steil klim na die rand van die plato het nog voorgelê. Roos se agterste groep het hulle oor die tweede trap begeef, onder meer na ’n blinde holte aan die voet van Gordon se koppie. Hier was die terras voor hulle op sy smalste. Dit was tussen 10h45 en 11h00. Ondertussen was Ferreira en sy stormgroep besig om behoedsaam om te beweeg langs die westelike berghelling om Gordon se koppie te voet vanuit die weste te bestyg.
Vir die soldate op Majuba het die Sondagoggend aanvanklik redelik vreedsaam verloop. Diegene langs die kruinrand het elke dan en wan tromp-op gevuur na figure wat hulle vir vlietende oomblikke tussen die plantegroei op die hange onder hulle gewaar het en telkens gerapporteer dat hulle die Boere ongevalle berokken. Hulle het die vermoë van die Boere om die kruin te bereik, onderskat.
Die reserwe soldate in die holte het redelik vry van die Boere se kwelvuur ontbyt genuttig en toe moeg na die nag se geklouter weggedommel, terwyl daar al om die halfuur ’n aflosgroep van 50 man uit hulle geledere gebruik is om 50 man in die vuurlinie ’n blaaskansie te bied. Colley het ondertussen boodskappe na benede gesein. Hy het ongeveer 08h00 laat weet dat Majuba, wat oor die Boerestellings uitkyk, suksesvol beset is.
Om 08h45 het hy opdrag gegee dat versterkings van Newcastle na Mount Prospect gestuur word. Om 09h00 en weer om 09h30 is gevra dat ammunisie en rantsoene langs die linie vorentoe gestuur word vir sy troepe op Majuba. Daar is ondertoe berig dat die Boere hul ammunisie mors en dat een soldaat in die voet verwond is.
’n Mislukte beweging van ’n afdeling Boere teen kapt Robertson se verskansing aan die suidelike voet van Majuba het meegebring dat hierdie burgers vuur begin lewer het teen die suidoostelike kruinrand waar die 58th Regiment en die Naval Brigade in stelling was. Versterkings is uit die reserwe getrek om die geledere van hierdie soldate aan te vul.
Alle soldate was egter nie ewe gerus nie. Daar was diegene wat gewonder het waarom daar geen opvolgaksie plaasvind of ’n gekoördineerde aanval op Laingsnek van stapel laat loop is nie. Daar was andere wat gewonder het waarom die vuurpylbuise en die Gatling-masjiengewere nie na die kruin gebring word nie. Deur ledig te sit en wag, kon tog geen beslissing te velde afgedwing word nie. Offensiewe optrede is ’n onverbiddelike eis vir sukses op die slagveld.
Wat Colley se verdere planne was, wis eintlik niemand nie. Wat hy wel laat blyk het, was dat hy die kop wou bly beset totdat meer versterkings sy kamp bereik. Daarvoor het hy drie dae nodig gehad. Dit was verder bekend dat hy na Mount Prospect wou terugkeer sodra sy taakmag Majuba deeglik beset het. Kmd Romilly sou dan in beheer van die kruin gelaat word.
Terwyl Romilly, Stewart en Fraser in die stellings van die vlootbrigade teenoor Sailor’s Knoll die bou van vestings op die koppies van MacDonald en Hay staan en bespreek het, het ’n Boereskutter oor ’n afstand van 900 meter na die groepie bo-op die kam van die berg gevuur en Romilly dodelik verwond. Dit was ongeveer 11h00. Hoewel hierdie gebeurtenis Colley versomber het, het hy hom steeds nie bekommer nie, want hy het die geskiet vertolk as dekkingsvuur vir die veilige onttrekking van die Boerelaer. Daar het egter niks gekom van die bou van verskanste vestings nie. Colley se selfversekerdheid was besig om te wyk voor pessimisme en swye. En van die onheil wat besig was om om hulle toe te vou, het nog Colley, nog sy troepe op dié tydstip enige besef gehad.
Tussen 11h00 en 11h30 het al meer burgers in die blinde terrein aan die noordwestelike, noordelike en noordoostelike voet van Gordon se koppie aangekom. Ferreira was met tagtig man verskuil aan die noordwestekant, terwyl Roos oos van Ferreira in posisie was. Albei was oorgehaal vir ’n gelyktydige aanslag op die front en linkervleuel van die Britte op Majuba. ’n Rukkie na 11h00 het Colley vir oulaas na benede laat sein. Daar is vermeld dat Romilly ernstig gewond is en dat die vyand hewig op die kruin skiet, dog hulle laers opruim en besig is om Laingsnek te ontruim.
Op hierdie stadium is die reserwes in die holte deur kol Stewart en maj Fraser al langs die maanhaarriffie tussen die koppies van MacDonald en Hay in stelling geplaas om ’n tweede linie ongeveer ewewydig met die noordelike en noordoostelike kruin te vorm. Hulle het egter voortgegaan om te rus.
Die stryd om die kruin
Kort voor 12h00 het die Bergskotte langs die noordelike kruinrand en op Gordon se koppie daarvan bewus begin word dat die omvang en akkuraatheid van die vuur op hulle aan die toeneem is. So suksesvol is hulle geneutraliseer dat al hoe meer groepies Boere veilig oor die terras onder hulle na die dekking van die blinde helling van die kruinrand kon snel. Luit Ian Hamilton het onder die Boerevuur uitgehardloop na die plato-holte om die hoofkwartier van die jongste verwikkeling op die hoogte te stel. Colley het hom nie aan Hamilton se waarskuwing gesteur nie, en toe nog ’n boodskapper, luit H Wright, met ’n soortgelyke berig opdaag, is hy teruggestuur met die boodskap dat hulle die stellings drie dae lank moet hou.
Vermoeid na die lang nag en oggend van spanning en bedrywigheid, het Colley hom uitgestrek om te dut en aan kol Stewart opdrag gegee om hom wakker te maak as die situasie verander.
Ondertussen was die bestormingsgroepe van Ferreira en Roos besig om teen die steil helling na die kruin van Gordon se koppie op te kruip. Dit was ’n kort klim. Volgens Hamilton se raming was daar op dié tydstip ongeveer 400 burgers voor en óm Gordon se koppie saamgetrek. Hy het ’n luitenant in bevel agtergelaat en weer van die kruinrand na die hoofkwartier in die holte teruggehardloop om te rapporteer. Daar het hy Colley aan die slaap gevind, aan lt-kol Stewart gerapporteer en ’n teenaanval voorgestel. Stewart het die voortvarende luitenant kortaf meegedeel dat die hoofkwartier weet wat aan die gang is. Hy het hom tevergeefs tot Hay van die 92 Regiment gewend en toe na sy stellings teruggekeer.
Dit was ongeveer 12hl5.
Die verdedigers van Gordon se koppie en soldate aan die kruinrand in onmiddellike omgewing moes regop staan om die Boere wat oor die terras onder hulle aan die naderkom was, te sien. Om hulle so bloot te stel, sou hulle duur te staan kom. Hulle is gevolglik aangesê om op bevel op te spring, ’n sarsie te skiet en plat te val. Ferreira, wat hierdie taktiek agtergekom het, het ’n teenmaatreël bedink en toe die verdedigers weer op bevel orent gespring het, het ’n vuurgroep wat vinnig ’n paar tree agteruit getree het, die Skotte se verskyning afgewag en met ’n goed gemikte sarsie die hele verdediging verlam.
Die van hulle wat oor was, is deur Roos se burgers vanuit die dwarste bestook en hulle weerstand is verkrummel. Die gaping wat hulle verdwyning gelaat het, is dadelik gevul deur ’n sestigtal burgers wat teen Gordon se koppie uitgeswerm en dit beset het. Die vuur van hierdie mense het die Britte verplig om die kruinrand teenoor Gordon se koppie te ontruim.
Hierdie burgers kon hierna ook die Britse reserwes in die tweede linie onder skoot neem. Dit was tussen 12hl5 en 12h30.
Met die val van die strategiese koppie van Gordon het Stewart twintig man, hoofsaaklik van die 92nd Regiment onder bevel van luit Hector O MacDonald gestuur om MacDonald-koppie wat nou van die uiterste strategiese belang geword het, te beset. Tussen MacDonald se koppie in die weste en Hay se koppie in die ooste, was die linie van reserwes nou geanker. Pas was Gordon-koppie in Boerehande of Malan en Trichard het met hulle aanval op die oostelike kruinrand begin.
Colley is blykbaar uit sy slaap gewek deur die hewige geskiet, dog dit was lt-kol Stewart wat die erns van die situasie die eerste gesnap het. Hy het vorentoe gehardloop en na die reserwes geskreeu om hom te volg na die bedreigde kruinrand. Dit was 12h30. Sewentig soldate, sommige nie ten volle geklee nie, het onseker, traag en weifelmoedig gereageer en onwillig vorentoe gebondel, verskrik dat hulle so sonder voorbereidende order uit hulle rus gewek is. Dit was ’n gemengde mag van Skotte, matrose en Rooibaadjies, aangevoer deur verskillende offisiere wat vir baie van hulle onbekendes was. Hulle kon die bres nie verseël nie.
Die skielike verskyning van die Boere het verdere paniek gesaai onder die soldate net binne die rand van die kruinkam. Tot op hierdie stadium het die Britte se verdedigingstellings op Majuba nog steeds hulle oorspronklike formasie behou, behalwe dat daar ’n bres in die noordweste geslaan is en die omtrek weg van die kruinkam na die sentrum van die plato gekrimp het.
Vanuit die pas verowerde stellings het Roos en Ferreira se mense die moorddadige vuur volgehou en binne ’n paar minute is meer as 40 soldate met kop- en borswonde neergevel. Dit het ’n terugtog tot gevolg gehad en die voorste verdedigers het teen die aankomende reserwes vasgevlug.
Koorsagtige verwarring het gevolg.
Roos het besef dat die momentum van die aanval gehandhaaf en MacDonald-koppie geneutraliseer moet word. Stewart en Fraser het op hulle beurt besef dat die Britse linkerflank teenoor die inbraakpunt herstig moet word. Ondanks al hulle pogings kon die Britse offisiere die stroom nie keer nie. Ook is ongeveer ’n kwart van die reserwemag binne ’n ommesientjie gewond of gedood. Die wil tot weerstand het begin kwyn en terwyl die Britte na die sentrale deel van die komvormige plato begin vlug het, het al meer Boere van Roos en Ferreira se stormgroepe oor die noordelike kruinrand van Majuba verskyn.
Die paniekbevange soldate het skoon by Colley verbygevlug en hy het verdwaas gestaar na wat om hom aan die gang was. Die situasie wou handuit ruk. Offisiere wat die verskrikte soldate sien terugvlug het, wou hê dat hulle op die regterflank van die Britse gevegslinie saamtrek en het uitgeroep: “Rally on the right!” (versamel na regs), dit wil sê by Hay se koppie.
Vir die vlugtende soldate was “na regs!” die ander kant en dus het hulle na die linkerkant agter die yl beskerming van die linkerflank in die vuur van die Boere-aanval soos skape saamgebondel. Dit was net na 12h30.
Die inbraakfase was afgehandel en die Boere het daarin geslaag om ’n vastrapplek bo-op Majuba te verower. ’n Swart bank kruitrook het oor die Britte in die holte gehang.
Ondanks die suksesvolle deurbraak was die Britte nog nie verslaan nie en het dit nog vir die Boere voorgelê om oor ’n onbeskutte grasplato die Britse soldate agter die natuurlike skuiling van ’n rotsrif aan te val. Met MacDonald se koppie en Hay se koppie nog beset, kon die Engelse hul aanvallers onderwerp aan frontvuur en aan kruisvuur vanuit die flanke. Dit het die Britse offisiere besef.
’n Verposing in die skietgeveg het die Britse bevel in staat gestel om orde in die gebroke geledere te skep. Terwyl lt-kol Stewart en maj Fraser die linkerflank gestabiliseer het, het kapteins McGregor, Hornby en Morris en luitenante Hill en Lucy die regterflank gekalmeer en aangemoedig. Colley, baie kalm, het die verposing gebruik om sy eie situasie te oorweeg. Sy posisie, hoewel baie onseker, was nog nie hopeloos nie.
Die maanhaarruggie dwarsoor die plato het redelike skuiling gebied, en was nog steeds aan weerskante in die strategies-geleë vestings van MacDonald se koppie en Hay se koppie geanker. Van die twee was Hay se koppie egter die skraalste beman en nie alleen die teiken van geweervuur afkomstig van Roos se magte nie, maar ook van die vuur van die burgers wat besig was om die oostelike kruinrand onder Malan en Trichard te bereik. Soldate het die stelling begin prysgee. Sou hierdie koppie in Boerehande val, sou die Britse linie agter die maanhaarriffie in die dwarste beskiet word en die posisie onhoudbaar gemaak word.
Voorts het ’n verdere gevaar Colley reg van voor bedreig. Die terrein tussen die maanhaarrantjie waaragter die Engelse gelê het en die noordelike kam van die kruin wat in besit van Roos se burgers was, het geleidelik weggeval in ’n vou in die aarde wat kruipende en bukkende Boere totaal verberg het vir die Engelse verdedigers.
Onder dekkingsvuur van agter en van die kante het die speerpunt van Roos se burgers steeds vorentoe gevorder. Hulle het daarin geslaag om hulle tot in hierdie holte in te wurm. Die Skotte op MacDonald se koppie kon nie hierdie infiltrasie verhoed nie, aangesien hulle aandag verdeeld geraak het toe Ferreira se groep verder langs die westelike hang ombeweeg en skuins agter hulle rug verskyn het. Ferreira se besit van die westelike kam van die plato het hom in staat gestel om Roos se burgers wat besig was met die frontaanval weer eens los te skiet. Op sy beurt het Roos se aksie die Britse front dermate gebind dat dit nie aan die bedreigde flanke aandag kon gee nie.
MacDonald is geneutraliseer en ook vir die Engelse op Hay se koppie was die druk uiteindelik te veel. Roos se speerpunt van ongeveer 70 burgers het met hewige en akkurate vuur volgehou en in die sentrum gevorder tot ongeveer 40 tree van Colley se linie wat in ’n lêende posisie was.
Die visiere van die Britte was op dié tydstip nog op 500 tree en meer gestel. Van die koeëls van Roos se groep het nou ook tussen die geledere van die 58th Regiment op Hay se koppie en in stellings op die oostelike rand van die plato begin val. Reeds ontsenu deur ’n stroom vlugtelinge uit die vuurlinie, het baie van hierdie jong en ondeurwinterde soldate ook die hasepad gekies, af met die steil bergpaadjie na Mount Prospect.
Colley se linie agter die maanhaarriffie het steeds weifelmoediger geword. Van waar hulle gelê het, kon hulle min van die vyand deur die digte kruitdamp sien - slegs die geweerlope oor die rand van die voutjie in die grond.
Daar was diegene onder die Britse offisiere wat ’n teenaanval met die bajonet as die enigste hoop op redding beskou het. Dit is gesien as die enigste antwoord op die bedreiging wat reeds tot so naby aan hulle stellings gevorder het. Luit Hamilton was een van hulle, dog sy versoek dat so ’n stormloop gelas word, is nie deur sy bevelvoerder, maj Hay, toegestaan nie. Hay was van mening dat die beskikbare mag reeds te min was vir so ’n teenaanval. Hamilton het hom tot Colley gewend. Colley wou egter wag totdat die Boere agter die skuiling wat die grond hul gebied het uitstorm voordat hy hulle met ’n sarsie en gevelde bajonette tegemoet gaan.
Die bevel om tot die bajonetaanval oor te gaan, is nooit gegee nie, want die vyand het vir die Britte onsigbaar gebly. Daar was slegs die opdrag om die bajonette te vel.
Die bedreiging in die Britte se regterflank het vinnig vererger. Meer burgers het hulle by Malan en Trichard se beweging teen Hay se koppie aangesluit. Swaar gekonsentreerde geweervuur van die burgers wat die suidoostelike kruin oorgesteek het, het op Hay se koppie begin reën en spoedig was al die verdedigers verdryf, en het Malan en Trichard die koppie beset. Desperate pogings deur Colley om die koppie te herower, was vrugteloos. Die offisiere se bevele het pleidooie geword en die getal soldate wat bereid was om in die rigting van die koppie te kruip, was te gering om iets te vermag.
Die gevegsdrif van die mengelmoes matrose, Skotte en Rooibaadjies was nou vinnig aan die afneem en Malan se vuur het steeds hewiger geword. Meteens het ’n kreet onder die soldate naby Hay se koppie opgeklink en terwyl die offisiere hulle vloekend probeer verhinder het om pad te gee, het die soldate hul gewere neergesmyt en vreesbevange begin vlug voor die burgers wat nou oor die suidoostelike kruin agter hulle rug begin uitswerm het en gehardloop in die rigting van waar hulle die kop die oggend bestyg het. Daarmee was Colley se regterflank vernietig. Die paniek was aansteeklik en spoedig het die verdedigers in die sentrum rondom Colley ook begin weifel. Hul het in drieë en viere, en later in groter groepe begin vlug.
Ondanks die pleidooie en beroepe van hul offisiere het die linie nou in sy geheel begin verbrokkel en na ’n verdere wanhoopskreet, dié keer uit die weste, het die linkerflank van die Britte hul ook by die wanordelike vlug aangesluit. Colley het in dié stadium sy soldate toegeroep om ordelik na die suidelike kruinrand terug te val en daar te versamel. Hulle wil tot verdere weerstand was vernietig en vrees was in hulle bloed.
Vandat die geveg om die plato in alle erns begin het, het slegs ’n halfuur verloop. Behalwe vir die Boere se jag op die verstrooides wat nog lank voortgeduur het, was die slag gelewer. Weliswaar het MacDonald se afdeling nog weerstand bly bied totdat agtien van die twintig buite geveg gestel is. Uiteindelik kon hulle niks meer vermag nie.
Colley was nog steeds op die slagveld. Hy het eensaam agter die maanhaarriffie in die oopte beweeg met kapt Maude, een van sy stafoffisiere, naby hom. Die dokters was nog steeds in die nabygeleë verbandpos besig om gewondes te behandel.
Die Boere, besig om in verspreide orde die vlugtende Britte te agtervolg, het uit die vuis geskiet op wat voor was. Sommige soldate het holderstebolder oor die rand van die berg gevlug. Party het die paadjie gehaal, ander het blindweg teen die steilte afgegly en gerol en ander het selfs oor die afgronde wat die kranse hier en daar vorm, gestort. Toe die burgers by die suidelike kam van die plato aanland, het hulle die vuur op die soldate wat oor die rand van die berg na benede vlug, volgehou, en die slagting voortgesit. Die helder kleure van hul negentiende-eeuse uniforms het van die soldate maklike teikens gemaak. Die meeste het egter verkies om oor te gee, terwyl ander in die plantegroei teen die hang weggekruip het. Alle weerstand was op ’n end.
Colley, in daardie stadium ’n verlate figuur, het in die doodsnikke van die geveg naby sy bevelspos agter die ruggie gesneuwel. Volgens sommiges se getuienis het hy stadig, met afgemete pas agter sy voortvlugtende troepe aangestap. Ander sê dat hy die Boere tegemoet gestap het en dat hy ’n wit sakdoek as teken van oorgawe gewuif het, terwyl ’n ander getuie beweer dat hy besig was om ’n wit sakdoek aan die punt van sy swaard of bajonet vas te knoop toe hy deur ’n koeël getref is. Die koeël het sy kop bokant sy regteroog binnegedring en ’n groot gat in sy agterkop oopgeruk. Sy dood was oombliklik. Die Boere het sy lyk later met militêre jasse bedek en sy gesig met ’n wit soldatehelm toegemaak. Nog later is hy na die laer by Laingsnek gebring.
Ná dié slag het genl Smit sy jubelende burgers tot orde geroep en die plundering waarmee hulle besig was, stopgesit. ’n Groep is aangesê om die Engelse wat hulle nog skuilgehou het, uit te snuffel. ’n Ander groep is aangesê om die krygsgevangenes na die Boerelaer agter Laingsnek af te voer, terwyl vrywilligers in ’n kommando georganiseer is om die Britse tussenposte langs die terugtog-roete aan die voet van Majuba aan te val, en die Engelse kamp by Mount Prospect te verower. Die kompanies van Robertson, Thurlow, Smith en Henley, langs Colley se aanmarsroete, is teruggedryf. Kol Bond, wat onder dekking van artillerievuur die vlugtelinge tegemoet gesnel het, is na sy kamp teruggejaag. In digte mis het die geveg egter doodgeloop en het die Britte Mount Prospect bly behou.
Om 18h00 was die slag verby. Die Britse verliese was drie offisiere en 93 manskappe gedood, agt offisiere en 109 man gewond en sewe offisiere en 49 manskappe kryggevange geneem. Aan Boerekant het een man gedurende die geveg gesneuwel, een is later aan sy wonde dood en vyf is gewond.
As die anneksasie van Transvaal en die oorlog van 1880 - 1881 die Afrikaners meer as ooit tevore van hulleself bewus gemaak het, dan was die oorwinning op Majuba die seël daarop. In Europa was die oorwinning groot nuus en vir die eerste keer is wêreldwyd van die Boere se bestaan en aspirasies kennis geneem.
Wapenstilstand – vervolg...