Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die volk in 1 Kor 10:6 se ondankbaarheid vir God se genadegawes het dit laat verander in oordeel. Dit verskil nie van ons volk vandag nie – in plaas van gehoorsaam te lewe uit dankbaarheid sondig ons volk steeds voort met dobbel, huweliksontrou, aborsie en alles wat die godlose owerheid aan ons voorhou as veroorloof.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (29)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Vrede
Dr Maria Hugo
Ofskoon Kruger sy misnoeë met die optrede van Joubert uitgespreek het, het hy besef dat daar vir die Transvalers in werklikheid geen ander keuse as die voortsetting van onderhandelinge was nie. In ’n brief aan pres Brand het hy onder meer geskryf dat die Transvalers alles wat moontlik was sou doen om Engeland tot toegeeflikheid te beweeg. Hy en dr Jorissen het onverwyld na die grens vertrek. Swaar reëns het egter hul reis vertraag en hulle het die Nek eers laat die middag van 14 Maart bereik waar hulle verneem het dat die wapenstilstand ondertussen tot 18 Maart verleng is, juis om hulle die geleentheid te gee om betyds vir die onderhandelinge aan te kom.
Die volgende dag is daar oor die plek van samekoms onderhandel en besluit om halfpad tussen die twee vyandelike kampe byeen te kom. Ondertussen het sir Evelyn Wood die grondslag waarop die Britse regering bereid was om tot onderhandeling in te stem, aan die Boereleiers voorgelê. Dit het daarop neergekom dat indien die Transvalers hul militêre stellings ontruim en huiswaarts keer, die Britse regering kommissarisse sou stuur om met gemagtigde verteenwoordigers van die Boere in verband met selfbestuur onder Britse susereiniteit te onderhandel. Verder was Brittanje bereid om volledige en onvoorwaardelike amnestie te verleen aan die vegtende burgers, behalwe aan persone wat hulle aan optredes skuldig gemaak het wat strydig was met die beskaafde manier van oorlogvoering.
Op 16 Maart is met die samesprekings begin. Die Transvalers is verteenwoordig deur S J P Kruger, M W Pretorius, P J Joubert, dr E J P Jorissen, C J Joubert, J Mare en D Uys. Die Britse militêre afvaardiging het onder andere bestaan uit sir Evelyn Wood, kol R F Buller en majoors T S Clarke en T Fraser.
Wood het duidelik die teenoorgestelde oogmerke as die Boereleiers gehad. Waar dit by laasgenoemde in alle eras gegaan het om tot ’n politieke ooreenkoms te kom, was die verlenging van die wapenstilstand vir Wood net ’n geleentheid om tyd te wen, met die doel dat die finale vredesluiting deur die kommissarisse bewerkstellig sou word. Vanselfsprekend was die Boere nie tevrede met die Britse voorwaardes dat hulle hul stellings by die Nek moet verlaat nog voordat tot ’n ooreenkoms gemaak is en dat daar slegs ’n eensydige kommissie benoem sou word waarin hulle geen sitting sou gehad het nie. Hulle het daarop aangedring dat die terugtrekking van die burgers van die Nek en die uiteengaan van die gewapende Boeremagte slegs uitgevoer sou word op voorwaarde dat die Transvalers in die kommissie in die verhouding van twee tot drie verteenwoordig sou wees en dat die Britse garnisoene voor die afloop van die sitting van die kommissie, Transvaal moet verlaat.
Die voortrefliker Britse diplomasie het nou duidelik na vore gekom:
Wood het die Driemanskap daaraan herinner dat die voorstel in verband met ’n Koninklike Kommissie in eerste instansie van Kruger self afkomstig was en dat hierdie voorstel inderdaad so deur lord Kimberley aanvaar is. Die Boereverteenwoordigers sou die kommissie slegs in ’n raadgewende hoedanigheid kon bystaan.
Die Transvalers was geensins daarvoor te vinde dat hul magte Laingsnek moet ontruim terwyl die verskillende Britse garnisoene nog op volle sterkte in Transvaal gehou sou word nie, maar Kimberley het voet by stuk gehou dat die Britse troepe daar moet bly tot die finale skikking getref was. Die Boere was bitter ontevrede oor die verloop van sake, maar in afwagting op die koms van pres Brand, het hulle op 18 Maart met Wood ooreengekom om die wapenstilstand met nog drie dae te verleng, dus tot 21 Maart en op die reaksie van Kimberley ten opsigte van hul besware te wag. Dit het duidelik geword dat die Britse regering wel vrede wou sluit, maar homself so min moontlik wou verbind. Fyn diplomaat wat hy was, het Wood die samesprekings so informeel moontlik gehou en getrag om ’n formele verdrag wat die Britse erkenning van die onafhanklikheid van Transvaal inhou, te voorkom. Die meer voortvarendes onder die Boere het gemeen dat die stryd eerder voortgesit moet word as om ’n eerlose vrede te sluit en dit is Joubert selfs verwyt dat hy ingestem het dat die wapenstilstand verleng word, wetende dat hul voorwaardes geweier is.
Daar is ook in die groot tent van Nicolaas Smit beraadslaag om die Vrystaat daadwerklik by hul vryheidstryd te betrek en samesprekings met die aanvoerders van die klein Vrystaatse kommando naby die Nek te reël.
Dit was onder hierdie omstandighede dat dr Jorissen op versoek van die Driemanskap die sogenaamde Derde Proklamasie opgestel het. Hierin is ’n oorsig gegee van die gebeurtenisse sedert Paardekraal en is daarop gewys dat die Transvalers tot ’n voortsetting van die stryd gedwing word, bloot deurdat Brittanje so op sy eie eer gesteld was. Ten slotte het die Transvalers ’n beroep op hul broers in Suid-Afrika gedoen om saam te stry vir waarheid en reg teen ’n gemeenskaplike tiran wat húlle op daardie oomblik, maar die ander later, sou vertrap.
Die Proklamasie is goedgekeur en daar is met die Vrystaters ooreengekom dat indien verdere onderhandelinge met die Britte sou misluk, die Vrystaatse kommando die Engelse in die rug sou aanval en die Britse magte in Noord-Natal van die troepeversterkings wat van Durban af sou opruk, sou afsny.
Ná sy aankoms op 20 Maart het pres Brand onmiddellik die erns van die situasie ingesien en ofskoon hy met die Boere se standpunt gesimpatiseer het, het hy steeds tot toegewing gemaan en by Jorissen aangedring om nie die Proklamasie te publiseer nie. Die volgende oggend het hy vooruit gery om vooraf met Wood te beraadslaag en direk na die begin van die samesprekings op O’Neill se plaas het Kruger hom bereid verklaar om af te sien van sy eis om die ontruiming van die Britse garnisoene en deelname in die Koninklike Kommissie. Dit was ’n baie groot toegewing, maar vredesonthalwe het die Transvalers geen ander keuse gehad nie. Ofskoon Wood daarna baie meer tegemoetkomend was ten opsigte van ’n aanvulling van die notule en ’n duidelike omskrywing van die begrip “susereiniteit” waarop die Boere aangedring het, was hy aanvanklik teensinnig om die ooreenkoms wat bereik is in ’n formele skriftelike vorm vas te lê. Jorissen het egter sterk by Kruger en die ander daarop aangedring dat ’n formele ondertekening van die ooreenkoms aangegaan moet word, sodat die basiese voorwaardes duidelik daargestel sou wees vir die Koninklike Kommissie. Eindelik is daar in die dokument wat deur sir Evelyn Wood en die Driemanskap, as gemagtigde verteenwoordigers van die strydende burgers, onderteken is, tot die volgende ooreengekom:
Die Boere was bereid om die susereiniteit van die Britse Koningin te aanvaar en ’n Britse Resident met sodanige funksies en magte as wat deur die Britse regering bepaal sou word. Grensbepalings en betrekkinge met buitelandse moondhede sou deur die suserein beheer word. Verder het hulle ingestem dat die Koninklike Kommissie voorsorg vir die beskerming van die belanghebbende swartmense kon tref.
Die Britse verteenwoordiger het die reg van die Transvalers op volkome selfbestuur, onderworpe aan die susereine regte van die Britse Koningin, erken en die Driemanskap het onderneem om van hul kant te help om diegene wat vir oorlogsmisdade verantwoordelik was, op te spoor.
Wood het op sy beurt beloof om nie militêre voordeel te trek uit die ontruiming van die stellings by Laingsnek deur die Boere nie. Die Transvalers het die hoop uitgespreek dat waar die land ondertussen deur die Britte bestuur sou word, hul eie regering so gou moontlik binne ses maande herstel sou word en dat daar gedurende daardie tydperk nie siviele eise ten opsigte van agterstallige belastings ingestel sou word nie. Wat betref die nuwe grensafbakenings van hul land, het hulle die vertroue uitgespreek dat indien die Koninklike Kommissie enige gebiedsafskeiding ten ooste van die 30ste lengtegraad noodsaaklik sou ag, dit nie méér sou wees as wat nodig geag sou word vir doeleindes vir die Britse politiek nie.
Wood het onderneem om te sorg dat die Koninklike Kommissie so spoedig moontlik sou vergader en dat die bestuur van die land so gou moontlik - nie later as na ses maande nie - aan die Boere oorgedra sou word. Die Boere sou hul burgermagte ontbind en ’n skikking deur die kommissie afwag. Alle Britse eiendomme wat tydens die oorlog deur die Boere in besit geneem is, sou teruggegee word en ook alle Republikeinse eiendomme wat deur die Britte tydens die anneksasie en gedurende die oorlog oorgeneem is, sou terugbesorg word.
Die oggend van 23 Maart het die Britse magtiging tot ratifikasie Wood bereik en dieselfde middag het hy ’n laaste samespreking met die Boereleiers gehad en is die verdrag formeel bekragtig en het die Driemanskap in 'n openbare verklaring aangekondig dat vrede gesluit en krygswet herroep is. Die volgende dag het Piet Joubert die krygsmag by die Nek ontbind.
Gladstone was tevrede met die verloop van sake, maar die gewone soldaat by Mount Prospect kon die Britse neerlae moeilik verteer. Vir baie was dit “a miserable ending to a miserable war.” Wood was egter in sy skik met wat hy bereik het. Aan Kimberley het hy laat weet dat die Britse diplomatieke oorwinning wat behaal is, hoofsaaklik aan sy persoonlike invloed by die Boere-afgevaardigdes toegeskryf moet word. In werklik- heid het hy nog gehoop op ’n beslissing deur die swaard. Hy het Childers meegedeel dat sy soldate teen die 24ste Maart kon begin beweeg, maar dat die opmars deur vol riviere vertraag kon word.
By die Boere was daar gemengde gevoelens, ofskoon die meerderheid gretig was om na hul plase terug te keer. Die oggend ná die vredesondertekening het ’n lang tou waens stadig oor die bulte deur die lang gras in ’n noordelike rigting voortbeweeg. Op 15 April is die Volksraad tot ’n buitengewone sitting op Heidelberg byeengeroep waar Kruger verslag gedoen het van wat gedurende die tydperk 13 Desember 1880 tot 15 April 1881 plaasgevind het.
Dit moes op hierdie tydstip vir die Boere reeds duidelik gewees het dat daar geen vooruitsigte was dat hulle weer die onafhanklikheidstatus wat die Republiek met die Sandrivierkonvensie verkry het, sou herwin nie. Want reeds op die grondslag waarop die vredesonderhandelinge aangegaan is, het hulle die soewereine onafhanklike status prysgegee, naamlik die reg van die emigranteboere ten noorde die Vaal om volle beheer oor hul eie sake te hê en hulle volgens hul eie wette te regeer, sonder enige inmenging van die kant van die Britse regering.
Skikking van die Koninklike Kommissie – vervolg...