Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons vra God in ons gebede soos Hy ons geleer het dat ons vergeef sal word, soos ons diegene vergewe wat teen ons oortree – nie omdat ons in staat is om die skuld van 'n vergryp of belediging te vergewe nie – maar net dat ons toorn, haat en wraaksug vrywilliglik uit ons hart verban kan word.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (32)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Steun vir die herstel van Transvaalse onafhanklikheid in die Kaapkolonie
D H Heydenrych
Die arbitrêre inlywing van die onafhanklike Transvaalse Republiek by die Britse Ryk wat ’n gevolg van die Groot Trek uitgewis het, het in die klimaat van Carnarvon se federasiestrewe tot ’n Suid-Afrikaanse kwessie geword wat polariserend tussen Boer en Brit gewerk het. Dit het die verbeelding aangegryp omdat daar sentiment op die spel was. Die was geleë in die gebeure om die Groot Trek, ’n goeie veertig jaar vroeër, maar ook in ’n etiese aspek, naamlik dat dit gelyk het of mag reg is.
Teenoor die Anneksasie van 1877, die stryd om die herstel van die onafhanklikheid wat daarna gevoer is en die oorlog van 1880-1881, kon niemand onverskillig staan nie. Die hele Suid-Afrika het standpunt ingeneem. Daar was Kaapse, Vrystaatse en Natalse Afrikaners wat van hulle laat hoor het asook Engelssprekendes, afgesien van die regerings.
Die Transvaalse onafhanklikheidstryd kan nie behoorlik begryp word sonder om dit in ’n Suid-Afrikaanse perspektief te sien nie. Daar word met die houding van die mense in die Kaapkolonie begin, waarna die Vrystaat wat so nou deur bloed, sentiment en status met Transvaal verbonde was, en wat so veel op die spel gehad het, aan die beurt kom; daarna Natal, gevolg deur ’n samevattende oorsig oor die houdinge en sentimente wat op Afrikanernasionalisme uitgeloop het - die vraag word ook beantwoord wat die reaksie in die buiteland op die Transvaalse Onafhanklikheidsoorlog was.
Die Kaapse Hollandssprekende koloniste het tot die laat sestigerjare nog onverskillig teenoor die politiek gestaan en weinig tekens van ’n nasionale bewussyn getoon. In 1857 het een van hul spreekbuise, De Zuid-Afrikaan, nog voorspel dat hulle op die duur hul identiteit in die Britsbeheerde kolonie sou verloor. Hulle het weinig kontak met hul stamgenote in die noorde gehad en republikeinse denkbeelde het by hulle ontbreek; hulle was inderdaad lojaal teenoor die Britse Kroon.
Teen 1881 het hierdie selfde koloniste reeds polities ontwaak. Hulle het begin om hulself te organiseer. Griewe teen die Britse bewind wat vroeër slegs op bedekte wyse geuiter was, is nou openlik verwoord. Hulle het begin aandring op politieke medeseggenskap in die land van hul geboorte.
In die woorde van die sekretaris van die Uniondale-tak van die Boerenbeschermings Vereniging: “... after upwards of 70 years we now for the first time lift up our heads and ask to have something to say in our own land.”
Hierdie nasionale ontwaking by die Kaaplandse Afrikaners is geleidelik teweeggebring deur die skokuitwerking van Britse optrede oor meer as ’n dekade in die binneland. Eers was daar die verklaring van ’n Britse protektoraat oor Basoetoland in 1868 en daarna die anneksasie van die diamantveld in 1871. In albei gevalle het aggressiewe imperiale Britse ingryping hul Britse koloniale regering in die oë van die Kaaplandse Hollandsprekende koloniste teenoor die belange van die binnelandse republieke staans gebring. Hulle het begin besef dat hulle lojaliteit teenoor die Koningin van die imperiale moondheid nie altyd te rym was met hulle simpatie vir hul republikeinse stamgenote nie.
Toe Carnarvon se federasieskema teen 1875 bekend word, het Kaapland se Hollandssprekende koloniste egter nog positief daarop gereageer.
Dit het ’n geleentheid geskyn te bied vir die Hollandssprekende inwoners van Suid-Afrika om te verenig ná die verdeling wat die Groot Trek meegebring het. Hulle het in so ’n mate geglo in die versoeningspolitiek van Carnarvon dat hulle die ware doel met die beoogde federasie nie begryp het nie. Juis as gevolg van hierdie goedgelowigheid was hulle ontnugter deur die anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek op 12 April 1877. Hulle het heftig gereageer op hierdie gebeurtenis en het intens meegeleef met die pogings van die republikeine om hul onafhanklikheid herstel te kry.
Toe die pogings op die Eerste Vryheidsoorlog uitloop, het hul uitings van meelewing geen perke geken nie. So het hul nasionalisme dan met die herstel van die Transvaalse onafhanklikheid in 1881 ’n hoogtepunt bereik.
Die drie invloedrykste mondstukke van die Kaapse Hollandssprekende koloniste, Het Volksblad, De Zuid-Afrikaan en Die Afrikaanse Patriot het almal hul misnoeë oor die anneksasie in April 1877 uitgespreek. Eersgenoemde was die eerste wat besef het dat Carnarvon se versoeningsbeleid iets van die verlede was en die blad het verraad gesien in hierdie aggressiewe daad wat op vriendelike en paaiende woorde gevolg het.
In De Zuid-Afrikaan het die redakteur, “Onze Jan” Hofmeyr, in ’n hoofartikel die anneksasie bestempel as ’n saak van droefheid eerder as verontwaardiging. Hy was teleurgesteld met Carnarvon se kortsigtigheid: die daad sou groot verbittering teen Brittanje meebring want “na een massa van mooie woorden heeft hy het land ingesluckt. Het is de geschiedenis van den wolf en het lam van voren af over.” Die koerant het die vrees uitgespreek dat indien die Hollandssprekende koloniste nie hul afkeuring tasbaar betuig nie, die Vrystaat spoedig ook ingelyf sou word.
In die Patriot het ’n korrespondent die Britse houding opgesom met: “Laat kom wat wil, mag is mos reg.”
Die Volksblad het hierna egter nog voortgegaan om die ryksregering se federasiebeleid te ondersteum en het daarom hierna in ’n minder mate as die ander twee koerante die Kaapse Afrikaners se siening verteenwoordig.
Op 8 Mei het die Kaapse staatskoerant die proklamasie van Theophilus Shepstone gepubliseer waarin hy die redes vir die anneksasie gegee het.
Die genoemde koerante was nie deur die argument oortuig nie. Hulle was maande lank reeds daarmee gevoer maar het geglo dat die werklike redes die teenwoordigheid van goud in die Zuid-Afrikaansche Republiek was en die vrees dat die land deur die verkryging van ’n nie-Britse hawe te sterk mag word.
Die Kaapse koloniste het egter ook ’n meer tasbare bewys van steun vir die herstel van Transvaalse onafhanklikheid as net persuitinge gegee. Onder die leiding van B J van de Sandt de Villiers, redakteur van Het Volksblad, en met die samewerking van die ander twee koerante, is ’n petisie met meer as 5 400 handtekeninge teen die anneksasie in Julie 1877 na die Koningin gestuur. Die Paarlse ondertekenaars was meer as dié van enige ander distrik, insluitend Kaapstad. Dit is nie te verwonder nie indien die rol van die Paarlse koerant, die Patriot, en dié van sy redakteur, ds S J du Toit, in aanmerking geneem word nie. In die daaropvolgende drie-en-’n-half jaar sou die kombinasie ’n toenemend belangrike rol in die volgehoue bepleiting van die Transvalers se saak speel.
De Zuid-Afrikaan het die Kapenaars aangespoor om hul protes teen die anneksasie duidelik te laat hoor, onder meer deur middel van openbare vergaderinge: “Afrikanen dien dus te handelen.” ’n Aantal protesvergaderings is in die twee maande na die anneksasie in die westelike distrikte gehou. Malmesbury was die eerste aan die beurt, en daarna die Paarl, Koeberg en Phisantekraal. By al die vergaderings is die anneksasie uitdruklik afgekeur. Die Kaapse Afrikaners is in hul protes teen die anneksasie in ’n mate gekniehalter deur hul Britse onderdaanskap. Maar hoewel dit ’n belemmering was, het dit hulle nie daarvan weerhou om hul met die Transvalers se saak te vereenselwig nie. Die voorsitter van die Paarlse vergadering het byvoorbeeld gesê “that he had always been a staunch supporter of British rule ... but that this did not prevent him from finding fault with such measures on the part of the British Government as were inconsistent with justice. ”
Gedurende die tweede helfte van 1877 het swart onrus op die Kaapse oosgrens die aandag van Transvaal weggetrek. Nogtans het verskeie aspekte van die Britse oorname in Transvaal kommentaar uitgelok. Daaronder was die beweerde aandadigheid van pres Burgers aan die anneksasie, die voortgesette wetgewing deur proklamasie, die aanstellings in die nuwe administrasie en die gesloer met die Delagoabaai-spoorwegskema.
Die jare 1878 en 1879 het minder reaksie uit die Kaap voortgebring. Die Galeka-oorlog op die oosgrens en die Anglo-Zoeloe-oorlog in Natal het die nuus oorheers. Die volksvergaderings van 1879 in die Transvaal het weer die staat se aangeleenthede in die Kaapse pers op die voorgrond gebring. In Februarie van daardie jaar het die Patriot sy frustrasie hartstogtelik uitgedruk dat daar nie iets daadwerkliks vir die Transvalers gedoen kon word nie: “Ag, as Oom Lokomotief hier kon losbreek, dan is hij binnen 14 dage self in Transvaal om same te deel in die lot van sijn medebroeders. Maar nou moet ons met ’n geskrewe raad tevrede wees.”
Die koerant het voortgegaan om welmenende raad te gee: “Moet nie veg teen die Engelse nie. Sit stil. Laat onse Liewe Heer vir julle stry. Blijf bij julle protes, en bepaal julle bij lijdelijk verset.” Hierdie advies, wat ook dié van die Zuid-Afrikaan was, was net betyds, want op die volksvergadering by Wonderfontein in Januarie het sommige van die Boere reeds aangedring op gewapende verset om die onafhanklikheid te herstel. By die daaropvolgende volksvergadering by Kleinfontein in Maart-April het dieselfde advies ook weerklank gevind. ’n Transvaler wat die vergadering bygewoon het, skryf: ...die raadgewing ... het Oom Paul so geheel ingeneem dat niemand in staat was om hom daarvan af te kry nie. Hij had die woorde ‘Lijdelijk verset’ so heeltemaal van buite geleer uit jou koerant, dat, al wou hy iets anders sê, hy hom gedurig verspreek en dan sê hy maar: ‘Lijdelik, lijdelik verset.’”
Dat die Transvalers veel waarde aan die steun van die Kapenaars geheg het, spreek duidelik uit ’n versoek opgestel by die Burgerkamp by Kleinfontein op 18 April 1879, dat die Kapenaars hul deur middel van memories moes steun. “Wy smeeken u om uwe hulp, komt uwe medebroeders en uwe stamverwanten te hulp. Die Kaapkolonie bekleed de eerste plaats onder alle Kolonies en Staten in Zuid-Afrika. De stem hare burgers, eerbiedig gebracht by hare Majesteit, zal een grooten invloed kunnen uitoefenen.”
Die oproep was nie tevergeefs nie. ’n Tweede petisie is weggestuur, hierdie keer met 7 256 handtekeninge, waarin nog eens gevra word dat die onafhanklikheid herstel word. Ook gematigde Engelssprekende Kapenaars het ernstige bedenkinge oor die anneksasie gehad. In November 1879 het John X Merriman saam met J H Hofmeyr en 17 ander Kaapse parlementslede ’n onderhoud met die Kaapse Goewerneur en Hoë Kommissaris, sir Bartle Frere, gehad om hom te waarsku teen die gevaar van ’n opstand in Transvaal. Hulle het versoek dat ’n algemene volksvergadering en volkstemming in Transvaal gehou word sodat die Transvalers se eie gevoelens oor die anneksasie vasgestel kon word. Die versoek is egter van die hand gewys.
Vervolg...