Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons is nie almal gebore met 'n goeie sin vir humor nie maar dit kan ontwikkel word. Humor is die kuns om mens se verstand ewewigtig te hou en lyding te versag. 'n Goeie skaterlag kan verstandelike spanninge verslap en is goed vir die asemhalingstelsel. Dis meer as om net 'n grap te vertel: dis om 'n simpatieke gesindheid met ander se teëspoed te wys en nooit jou eie sukses of mislukking te ernstig op te neem nie. So bring ons sonskyn in ander se lewens. Bid dat God deur die Heilige Gees sprankel in jou lewe sit.
BROKKIES GESKIEDENIS (6)
Lees reeks by Brokkies Geskiedenis
Afrikaners veg teen Afrikaners
Soos Afrikaners vandag nog teen mekaar op allerlei wyses veg, so was dit die geval deur al die eeue. Neem nou maar die tydperk vanaf 1850’s. Politieke twiste was volop. Die propaganda dat Afrikaners gedurig verdeeld was onder mekaar, is ongelukkig waar. Daar was aan die begin geen sterk regering in Transvaal nie. Die boere het die kaal, koue vlaktes en bulte van die Hoëveld vir eers links laat lê en gaan woon in die warmer dele wat boonop voldoende swart arbeid gehad het. Die wit mense het ver van mekaar gebly, hoofsaaklik in Potchefstroom, Rustenburg-Marico, Lydenburg en Soutpansberg. Hulle was bitter arm - baie van hul vee was geroof, hul waens en meubels verniel deur die trek oor berge en riviere, kontantgeld uitgegee om lood en kruit en die nodigste ware van smouse te koop. Daar was geen markte vir produkte nie, en hulle het groot skades gely weens onbekendheid met die land. Duisende beeste het in 1851 aan longsiekte gevrek. Geelkoors was ‘n moordenaar. Perdesiekte en die tsetsevlieg het gereeld slagoffers geëis. In die Laeveld is baie mense dood aan malaria en geelkoors.
Die sentrale figure van ‘n groot twis was MW Pretorius, seun van Andries Pretorius, en Stephanus Schoeman, kommandant-generaal van Soutpansberg (sedert 1855 die florerende handelsentrum Schoemansdal). Pretorius wou graag die twee republieke verenig, maar het in Bloemfontein so taktloos opgetree dat die Volksraad daar hom gevra het om die land te verlaat.
Toe die nuus Potchefstroom bereik, was Pretorius se mense woedend, en hulle het met 'n kommando oor die Vaalrivier getrek. Pres. JN Boshoff van die Vrystaat wou weer "die invallers" verdryf, en Schoeman het die Vrystaters sy samewerking beloof. So het die Transvaalse en Vrystaatse kommando's by die Renosterrivier teenoor mekaar te staan gekom. Kommandant Paul Kruger van Transvaal het die twee partye egter oorgehaal om vrede te maak. Die twee state het mekaar se onafhanklikheid erken en daarna was daar nie weer ernstige rusie tussen hulle nie.
Maar in Transvaal was die verdeeldheid tussen verskeie faksies so groot dat 'n geveg van 7 tot 9 Oktober 1862 op Potchefstroom plaasgevind het tussen 'n Volkslegger met Schoeman se ondersteuners en 'n Staatslegger onder Paul Kruger. Schoeman en sy mense het na die Vrystaat uitgewyk, maar toe die Staatslegger weg is, het die Volkslegger weer die dorp beset. Pretorius het 'n tweede geveg voorkom.
Later is 'n valse gerug versprei dat Kruger die Gereformeerde Kerk tot staatskerk wou uitroep, en Jan Viljoen het Paul Kruger se Staatslegger verplig om uit Potchefstroom na die Vrystaat te vlug. Op 5 Januarie 1864 was daar 'n geveg tussen die twee groepe by die Krokodilrivier, waar Kruger die Volkslegger verslaan het. MW Pretorius het die vrede tussen die twee partye herstel. Hy is dan ook tot nuwe president gekies nadat hy as president van die Vrystaat bedank het. Daarmee was die burgeroorlog verby.
'n Mens kan 'n mate van 'n nasiegevoel bespeur in die besluit van die Volksraad in 1865 om 16 Desember tot openbare vakansiedag te verklaar. Die dag is later "Dingaansdag" genoem. Vir baie stedelinge was dit net 'n vakansiedag vir krieket en piekniek hou, maar vir Afrikaners het dit nasionale betekenis gekry. Maar selfs vandag is daar talle Afrikaners vir wie hierdie dag geen spesiale betekenis het nie en verdeel dit weer eens die volk.
Wat sal dit verg om ‘n volk wat vir eeue lank mekaar opponeer en nie kan wag om op sy volksgenoot te trap om sodoende sy eie son te sien opkom, dieselfde juk te laat trek?
Net God kan dit verander, en volgens alle logika sal dit die ergste van alle erge gebeure in ons volkslewe moet wees. Iets wat niemand ooit sal vergeet nie. Iets wat so ingrypend is dat niks in die oorblywendes se gemoed ooit weer dieselfde is nie. Iets so traumaties, dat dit elke volksgenoot sal terugruk tot die werklikheid van God se teenwoordigheid, sy almag, en veral ons afhanklikheid van Hom. Eers dan sal ons saamstaan en weet Hy is God, ons is sy volk, en as ons wil leef, sal ons Hom gehoorsaam bly die res van ons volksbestaan!