Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe lyk iemand wat die Here opreg dien? Ps 112 vertel ons: sy kinders en kleinkinders is ook Godvresend; sy besittings is altyd genoeg al is dit ook min; hy doen uit liefde barmhartigheidswerk; hy is altyd eerlik; sy vertroue op God laat hom alle storms moedig hanteer; hy deel God se liefde met ander; ander mense sien en praat oor sy liefde vir God.
AARDBEWING LAAT MENSE KERKTOE STROOM
BROKKIES GESKIEDENIS (7)
Lees reeks by Brokkies Geskiedenis
'n Aardbewing het die aand van 4 Desember 1809 'n groot indruk op die mense van Kaapstad en omstreke gemaak. 'n Skrikwekkende gerammel is plotseling gehoor "asof 'n honderdtal waens in volle galop die straat opgery, of liewer; met die snelheid van die bliksem daaroor gevlieg het" het 'n ooggetuie gesê. Terselfdertyd het die Kapenaars 'n aaklige skok gevoel wat alles laat wankel het. Die meeste huise is beskadig en op die skepe in Tafelbaai is sommige mense uit hul hangmatte geslinger. Met angs en ontsetting het mense uit hul huise gevlug, bevrees dat die mure op hulle sou instort. Baie het die eerste nagte daarna in tente deurgebring wat hulle op die Parade en ander pleine opgeslaan het.
Selfs die onverskilligstes was verskrik, en party het luidkeels geroep: "Bid vir ons! Bid vir ons!" Mense van alle ouderdomme, stande en kleure het mekaar verdring in kerke en ander plekke waar bidure gehou is. Die Groote Kerk kon die eerste Sondag na die aardbewing nie die menseskare bevat nie. Die predikante het hulle kans waargeneem om hul gemeentes op te wek tot bekering en heiligmaking. Lidmate wat in hul ywer verslap het, het opnuut verplig gevoel om vir die sieleheil van hulleself en van ander te werk. Party was gou weer afvallig, maar vir ander het die gebeurtenis "tot blywende seën geword" en 'n merkbare invloed gehad op die kerklike lewe, skryf die kerkhistorikus Adriaan Moorrees.
Tussen 1809 en 1811 was daar ses aardbewings waarvan die episentrum waarskynlik in die omgewing van die huidige Milnerton was. Die sterkste was na berekening 6,1 op die Richterskaal.
Latere aardbewings aan die Kaap was op 4 Desember 1920 en op 1 Desember 1932 (6 tot 6,5) naby Kaap St. Lucia. Die aardbewing in September 1969 naby Tulbagh het 6,3 op die Richterskaal gemeet.
Moorrees se beskrywing is een van 'n aantal uiteenlopende verslae oor godsdiens en sedes aan die Kaap. Ds. Meent Borcherds van Stellenbosch was van mening dat die "verderflike stelsel van die ongeloof" wat sy "slangenhoofd" in dele van Europa uitgesteek het, hier met afkeer ontvang is. Volgens Lichtenstein moes mense partykeer tot drie weke kerk toe en terug reis, "oor steil berge en deur diep en gevaarlike riviere, soos die Jode van ouds na hul tempel in Jerusalem, en op terugreis oordink hulle wat hulle gehoor het om dit dus vir hulle van nut te maak."
Aan die ander kant was daar 'n aantal gevalle van ontug op die Kaapse kerkregisters. "Some of the Dutch ladies are not all that they should be", het lady Anne Barnard beduie.
'n Besluit van groot belang vir die toekoms was die invoer van Gesange. In Nederland het Gereformeerde Kerk die Evangelische Gezangen op 1 Januarie 1807 in gebruik geneem. Aangesien die Nasionale Sinode van Dordrecht die sing van alle liedere behalwe die Psalms en 'n paar duidelike vermelde gesange verbied het, is die saadjie gesaai vir ontevredenheid en verset. Dit het later gelei tot skeurings in die Nederlandse kerk, wat sedert 1816 offisieël as die Nederlandse Hervormde Kerk bekend was, asook die Kerk in Suid-Afrika. Op die tweede Sondag van Januarie 1814 is die gesange in die gemeente Kaapstad in gebruik geneem, en kort daarna in buitegemeentes. Teen dié tyd was die NG Kerk, soms ook Hervormde Kerk genoem, een van die min Kaapse instellings met 'n Hollandse karakter. Daar was in 1806 sewe gemeentes: Kaapstad, Stellenbosch, Drakenstein, Swartland, Tulbagh, Graaff-Reinet en Swellendam.