Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy jou bure wil kwaad maak, vertel tog maar net die waarheid oor hulle...
VOORTREKKER-PIONIERS (17)
Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
DIE BUITELANDSE HANDEL MISLUK (4)
"De meesten onzer swerfen van het jaar 1835 tot 1837 in Afrika om: al onzen bezittingen door het moorden en plunderen der swart natiën byna geheel of gedeeltelyk verlooren hebbende en door de godloozen handelwyzen van het Engelschen Gouvernement gedurig verjaagd..."
Holland het gedurende hierdie periode ‘n politiek van versoening en vriendskap met sterker moondhede soos Engeland gevolg en nie geaarsel om te verklaar dat hy glad nie Smellekamp se doen en late goedkeur nie. Omdat die Hollandse regering dus geen ondersteuning aan die pogings van die private handelsmaatskappye gegee het nie en dit boonop nog teengewerk het, was sulke ekspedisies van meet af aan tot mislukking gedoem,
veral aangesien die gebied waar die Boere gevestig was geen ryke handelsveld gebied het nie en het die maatskappye wat die 'Brazilië', die 'Animo' en die 'Vasco da Gama' uitgestuur het sulke gevoelige verliese gelei dat daar nie kans gesien is om met die ondernemings voort te gaan nie. Selfs ‘n optimis soos Smellekamp moes uiteindelik moed verloor.Een van die faktore wat daartoe bygedra het om laasgenoemde se pogings te laat misluk, was die feit dat die skepe en die Boere-ekspedisies na die baai nooit op dieselfde tydstip in die hawe aangekom het nie. Gevolglik het dit die afhandeling van handelstransaksies aansienlik vertraag en so tot die geldelike verlies van die maatskappye bygedra.
Soos reeds aangetoon is, was ‘n groot gedeelte van hierdie roete met tsetsevlieë besmet, sodat elke tog na die baai gewoonlik met ‘n gevoelige verlies aan trekosse gepaard gegaan het. Die gedeelte van die pad tussen die Lebombo en die see was die ergste met hierdie dodelike insekte besmet sodat ‘n gedagte in 1851 gekoester is om ‘n pakhuis op te rig op die 'uiterste gezonde plaats, daar alle toevoer ontvangen en afgelevert kan worden en daar een iedere sonder verlies van ossen komen kan'. Goedere moes dan gedurende die nag met muile van die baai na die pakhuis gebring word.
Afgesien van die giftige vlieë, was die beskikbare drinkwater by die baai vir die vee nie gesond nie en was dit een van die oorsake waarom die ekspedisie van 1851 soveel trekosse in Lourenco Marques verloor het.
In hierdie laeveldstreek het die gevaar van malaria enige handelstog gedurende die somermaande geheel-en-al onmoontlik gemaak, afgesien van die moontlikheid om deur vyandige inboorlingstamme aangeval te word.
Toevallige hindernisse soos strawwe droogtes was soms die oorsaak dat daar langs die pad in "den afstand van twee dagreizens geen gras of bruikbaar water te vinden was nie en die trekosse van maerte gevrek het."
Die gebrek aan kontantgeld en geskikte handelsartikels het eweneens tot die mislukking van die handel bygedra, sodat die Trekkergemeenskap uiteindelik totale verarming in die gesig gestaar het. Die brief wat die Volksraad op 1 Oktober 1851 aan die maatskappy van Heemskerk, Knegt en Weimar ten Cate geskrywe het, gee ‘n baie duidelike beeld van die wanhopige toestand waarop die Boere op hierdie stadium na die herhaalde handelsmislukkings verkeer het:
"De meesten onzer swerfen van het jaar 1835 tot 1837 in Afrika om: al onzen bezittingen door het moorden en plunderen der swart natiën byna geheel of gedeeltelyk verlooren hebbende en door de godloozen handelwyzen van het Engelschen Gouvernement gedurig verjaagd; en in het bittersten onzekerheid gehouden wordende, hebben wy alles verteerd, de geldmiddelen zyn uitgeput, en het eenigste waarvan wy leven is het hoornvee, en eenigen landbouw om in de levensbehoeften van onzen huisgezinnen te voorzien. Den handel word byna uitsluitend gevoerd met den Kolonie Kaap de Goede Hoop, de gewoonen betaling geschied met slagtvee, ‘t welk de plaats van het geld vervangen heeft, ook wel met ivoor, maar door den bitteren armoede onder ons, is het selfs den welgesteldsten onder ons onmooglyk om sulks op te leggen en zoo te bewaren."
Aan die goewerneur van Mosambiek het die volksraad geskrywe: "Bystand of hulp is ons noch nooit bewezen, hoezeer wy denzelven ook behoeven. De Handel is niets verbeterd. Wy hebben gebrek aan alles. Kruid en lood is niet te bekoomen, zoo ook alle anderen artikelen, zeer tot ons naadeel."
Deur die droogte, inboorlingplunderings en die tsetsevlieg is hulle enigste betaalmiddel, die veestapel, met ongeveer ‘n vyfde gedeelte uitgedun, sodat hulle ekonomies ‘n donker toekoms tegemoet gesien het. Hulle het tog nog gehoop dat indien die handel met Holland oor Delagoabaai tot sy reg kon kom, daar baie gesinne nog veel nader aan die baai sou trek om die moeilikheid deur die groot afstand veroorsaak, uit te skakel. Hulle was ook seker dat indien die handelstoestand rooskleuriger was, daar nog ‘n paar honderd huisgesinne uit die Kaapkolonie by hul geledere sou kom aansluit, maar "de onzedkerheid waarin wy verkeeren schrikt hun als noch af."
Belangstellende vriende in Holland kon dus nie daarin slaag om ‘n gereelde handelsverbinding met die Boere in Transvaal te bewerkstellig nie, alhoewel professor Lauts nog tot 1854 onversaagd aangehou het om vir die belange van die Boere te pleit. Laasgenoemde se noodkreet aan hul viende in Holland, "Doet toch in den Naam des Heeren wat UW.Ed kan, en laat ons niet aan ons lot over; laat den Engelschen toch niet juigen over onzen ellenden", het gaandeweg verstom namate hulle moed verloor het en in 1853 het ds Van der Hoff aan Lauts geskrywe dat "over Delagoabaai met Transvaal te handelelen, beschouwd men hier algemeen als dwaasheid."
Die hoë verwagtings wat Andries Hendrik Potgieter en die Volksraadsparty ten opsigte van die handel met Delagoabaai gekoester het en wat die vernaamste beweegrede vir die stigting van Ohrigstad in 1845 was, het gevolglik heeltemal teleurgestel sodat die nedersetting geensins aan sy beoogde doelstellings beantwoord het nie. Daarom het die mislukking van die handel met die buiteland in die hand gewerk dat Ohrigstad ‘n ontvolkingsproses moes deurmaak en dat die swaartepunt van die republiek weer eens na die weste teruggeplaas is.