Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God het in die mens die sterkste krag op aarde geplaas - die krag van keuse en vrye wil. Die mens se lewe sou voortaan die produk van sy keuses wees. Soos hy besluit, sou sy lewe wees. As hy reg besluit, verloop sy lewe reg. As hy verkeerd besluit, dra hy die gevolge!
VOORTREKKER - PIONIERS (23)
Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
Versoeningspogings (3)
Op 23 Mei 1849 het al die belangstellendes in die republiek te Derdepoort vergader om die vereniging finaal te beklink. Hendrik Potgieter het nie opgedaag nie en die pasverkose volksraad het besluit om hom “aan te skryf” om by die volgende sitting van die raad wat gedurende September 1849 te Krugerspos sou plaasvind, te verskyn, ten einde alle verskille uit die weg te ruim.
Die volksraad het sitting geneem met ses Ohrigstadse lede teenwoordig en vyftien ander nuut-ingesworenes. Die 33 Artikels is eenparig as grondwet aanvaar en daar sou elke vier maande ‘n sitting van die volksraad plaasvind. Daar is verder besluit om ‘n Commissie Raad van vyf lede in die lewe te roep wat in dringende gevalle noodsaaklike besluite kon neem gedurende tye wanneer die volksraad nie sit nie, op voorwaarde dat die besluite later deur die volksraad bekragtig moes word.
Andries Pretorius is as voorsitter van die vergadering gekies en het in sy toespraak ‘n kragtige pleidooi gelewer vir vrede en eensgesindheid onder mekaar.
Engelbrecht beweer dat Pretorius vooraf verneem het dat Bührmann siek was en gevolglik die vergadering nie sou kon bywoon nie en daarom die vrymoedigheid gehad het om op die byeenkoms teenwoordig te wees, terwyl Potgieter nie van Bührmann se ongesteldheid geweet het nie en daarom nie opgedaag het nie.
Nietemin het op die vergadering te Derdepoort tog, ten spyte van die feit dat Potgieter en die Soutpansbergers nog ‘n afsydige houding ingeneem het, die langbegeerde ververeniging tot stand gekom met die oprigting van ‘n volksraad wat die bevolking van die Suid-Afrikaanse Republiek redelik goed verteenwoordig het. Die volk het gaandeweg geleer om die volksraad as hoogste gesag te erken en laasgenoemde het spoedig van sy eie waardigheid en hoë roeping bewus geraak en al hoe meer vasberade geword om sy gesag te handhaaf.
Tydens die raad se volgende sitting te Krugerspos in September 1849 is daar dan ook besluit dat daar 24 volksraadslede sou wees, twaalf lede vir Ohrigstad en twaalf vir die ander dele van die republiek. Ohrigstad of Lydenburg sou die “hoofd plaats” bly. Planne vir die aanlê van bogenoemde dorp was toe alreeds in wording.
Potgieter het hom aan die brief van die volksraad vanaf Derdepoort gladnie gesteur nie en nie te Krugerspos opgedaag nie. Daar moes iets aan die saak gedoen word en aanvanklik het die raad besluit om Potgieter en sy colegen deur middel van wapengeweld onder aanvoering van Adriaan Standers te gaan haal om verantwoording vir hul dade te kom doen. Die raad het hom egter bedink en besluit om Potgieter, Jan Valentyn Botha, HJ Potgieter, Andries Combrink, Frans van Dyk, Nicolaas Snyman en Jacobus Breet te dagvaar om in Januarie 1850 voor die hof van Landdros en Heemrade te verskyn om te kom rekenskap gee waarom die Olifantsrivierse besluit nie nagekom is nie. Voorts is besluit om Soutpansberg te blokkeer. Alle commenecatie, zoowel handel als anderzints, ten stelligste is belet. Persone wat hierdie maatreël verontagsaam sou swaar gestraf word.
Ten einde ‘n moontlike herhaling van die vroeëre hoofkommandant-volksraadstryd te voorkom, het die raad ook nog besluit dat die veldkornette in hulle wyke moes toesien dat geen vergaderings met die doel om ‘n hoofkommandant of kommandant-generaal te kies, gehou word nie en ‘n dag of wat daarna is bogenoemde amp geheel en al afgeskaf.
Hieruit blyk dat daar nog steeds gevrees is dat Pretorius miskien bogenoemde magsposisie kon verower en weer met die Engelse kon gaan heul. Op die vergadering het ‘n soort versoening tussen Pretorius en Bührmann plaasgevind, waartydens eersgenoemde moes beloof om afstand te doen van alle bemoeiing over de zes en twintigste graad.
In al hierdie pogings is die volksraad stellig gelei deur die Ohrigstadse afdeling van die raad wat hiermee nie net probeer het om Andries Pretorius teen te werk en enige moontlike aksie van sy kant af te kortwiek nie, maar hiermee ook ‘n poging aangewend het om aan Ohrigstad ‘n bevoorregte status in die groter republiek te besorg. Vandaar die bepalings in sake verdeling van die aantal volksraadslede, sittingstye en die naarstiglike vasklewing aan Ohrigstad as hoofplaas. In hierdie stadium was Ohrigstad se bevolking alreeds so skraal dat daar geen regverdiging vir hierdie eise gevind kan word nie. Buitendien het die volksraad ook nie besef dat die uitgestrektheid van die republiek ‘n sterk uitvoerende gesag in die persoon van ‘n kommandant-generaal noodsaaklik gemaak het nie.
Die jaar 1850 het aangebreek sonder dat daar veel vordering met die oplossing van die bestaande probleme gemaak is. Pretorius het sat geword vir beledigings wat voortdurend na sy hoof geslinger is soos dié van die weduwee van Thomas Dreyer wat hom daarvan beskuldig het dat dit aan sy lafhartigheid te wyte was dat haar man tydens die Boomplaasslag gesneuwel het. WH Jacobs het, soos vroeër uiteengesit is, voortgegaan om teen hom te agiteer na aanleiding van die Vrystaatse gebeurtenisse, totdat Pretorius hom naderhand genoodsaak geag het om ‘n lastergeding teen Jacobs aan die gang te sit, wat egter nie veel vrug afgewerp het nie. Jacobs het intussen lid van die volksraad geword en Pretorius hier nog verder opdraande gegee.
Die onenigheid tussen laasgenoemde en Bührmann het, ten spyte van die sogenaamde versoening te Krugerspos nog gladnie ten einde geloop nie. Alhoewel Stuart beweer dat die publiek letterlyk verblind waren in hun gevoelen omtrent de kennis, de magt en den invloed van Bührmann, het hulle sake al weer in die regte perspektief begin sien en hul verontwaardiging uitgespreek oor die feit dat ‘n vreemde persoon soos Bührmann toegelaat word om Andries Pretorius so te beledig.
Aangesien WH Jacobs as lid van die volksraad en mondstuk van die Ohrigstadse groep en Bührmann as sekretaris van die raad vanaf Januarie 1850 vir Pretorius die wêreld moeilik gemaak het, het hy as volksraadslid bedank en is dit begryplik dat daar gaandeweg tussen hom en Potgieter weer toenadering sou kom.
Potgieter het hom gladnie aan die dwangmaatreëls wat op hom toegepas is gesteur nie en die volksraad was magteloos. In November 1849 het C Rabe vanaf Soutpansberg aan Pretorius geskryf dat hulle verneem het dat laasgenoemde op las van die volksraad na Soutansberg sou kom maar dat hy verhinder is. Hy het Pretorius hartlik uitgenooi om wel te kom en het verklaar dat Potgieter en die hele Soutpansbergse gemeenskap hereniging begeer maar dat Potgieter alleen verlang om teen Bührmann se beledigings beskerm te word.
‘n Rukkie later het Potgieter self ‘n brief aan Pretorius gerig nadat Rabe ‘n gunstige antwoord van Pretorius ontvang het, waarin laasgenoemde van Bührmann se beledigings teenoor hom melding gemaak het. Potgieter het geskryf dat hy lankal begerig was om mond aan mond met Pretorius te praat maar die geleentheid nie kon vind nie. Sy afsydige handelwyse het hy verklaar deur na Bührmann te verwys: Wie kon onder een maatschappy buigen waar zoo een perzoon de heerschende magt in zyne handen neemt en als een dwingeland wil regeren. . . die onder een schyn van vredelievendheid de grootste tweedracht zaaid. . . . Waarom moeten wy ons nog langer van een dolsinnige Hollander by de neus laten leiden en (zo) veel insolentien van hem verdragen?
Pretorius kon egter nie geleentheid vind om die aangebode samewerking met ‘n besoek aan Soutpansberg te gaan beklink nie omdat hy voorlopig al sy aandag aan die kommandant-generaalkwessie gewy het.
In weerwil van die feit dat die volksraad hierdie amp afgeskaf het, het 168 persone die volksraad in Januarie 1850 versoek om Pretorius in hierdie amp aan te stel. Die raad het besluit om eers die gevoelens van die publiek te pols voordat ‘n beslissing gevel sou word. Gedurende die volgende drie maande is lyste ingesamel met handtekeninge wat die saak moes beslis. Bührmann was hiermee ywerig besig in ‘n poging om soveel handtekeninge teen die instelling van die kommandant-generaalskap te bekom. Gevolglik het die volksraad bevind dat die meerderheid van die republiek se inwoners daarteen was en het weer eens besluit dat zodanig een perzoon nimmer mogen aangesteld worden of het moet op een kommissie of kommando noodzakelyk bevonden worden, en dan ook niet langer als hetzelven duurt.
Swart onluste in die Maricodistrik het die raad egter laat besef dat die doeltreffendheid van die staatsmasjinerie in oorlogstyd onbevredigend was as gevolg van die afwesigheid van ‘n uitvoerende gesag en het toe vier kommandante aangesê om die saak op te los. Moontlik het hierdie gebeurtenis ook daartoe bygedra om die volksraad in Oktober 1850 te laat besluit om Andries Pretorius in tydelike hoedanigheid as kommandant-generaal aan te stel en weer die gevoelens van die publiek te pols in sake permanente instelling van hierdie amp.